Soe lyk die toekoms van kuns: ’n onnerhoud met Cohnwille Swarts

  • 3

Cohnwille Swarts (foto verskaf)

Vandag praat Olivia Coetzee met Cohnwille Swarts, ’n jong kunstenaar van Abbotsdale, Malmesbury.


Ôs praat oo sy kuns, sy ma, en sy grootste vrese, en dan nog oo dit en dat. Kô ontmoet vi Cohnwille, en voel die trots wat ek voel om te wiet die jongmens is ôs toekoms. 

Kan djy my meer van jou vetel, wie djy is, en uit watter gemeenskap kô djy?

Ek is Cohnwille Swarts. Ek is 19 jaar oud en is van Abbotsdale, ’n dorpie buite Malmesbury. Ek is ’n baie teruggetrokke persoon, hou van teken, kreatiwiteit en positiewe dinge wat my motiveer om sukses te behaal en ’n goeie mens te wees teenoor anders.

Hoe oud was djy toe djy begin tieken/skets het?

Ek was omtrent nege jaar oud, ek was in graad 3 wat ek begin teken het, maar voorheen het ek ook geteken, maar dit was maar nog kleintyd, maar soos ek opgegroei het, het ek baie tegnieke aangeleer, en het aanhou teken en ek het verbeter in my kuns.

Waa het djy geleer om soe goed te tieken/skets?

Ek het nie eintlik geleer teken. Ek voel en ek weet dat dit ’n gawe van ons hemelse Vader is, want ek het besef toe ek sketse begin teken en myself sommige tye gevra het of dit rêrig ek is wat dit geteken het.

Hoekom het djy “Armoede” as tema gekies vir jou finale kunsprojek?

Ek het “Armoede” gekies, omdat ek weet dat dit ’n sosio-ekonomiese kwessie is wat mense daagliks onder moet ly en omdat ek gevoel het dat in my gemeenskap, Abbotsdale, baie mense swaarkry, dat dit raakgesien moet word, en dat ek dit wel wil uitbeeld in my kunswerke.

Hoekom dink djy is daa soe baie armoede in jou gemeenskap, en in die algemeen in bruin gemeenskappe?

Omdat as gevolg van werkloosheid, tekort aan vaardighede en opleiding. Mense kan dalk ’n werk doen, maar het nie genoeg vaardigheid en opleiding vir die werk nie.

En wat dink djy kan ôs gemeenskappe uit armoede uit bring?

Werksgeleenthede, vaardigheids- en opleidingsprogramme waar mense opgelei kan word en hul vaardighede kan verbeter.

Kunstenaars sien die wêreld met geweldige detail – sê my, wat is die mooi wat djy sien in jou gemeenskap?

Die feit dat mense mekaar bystaan, vir mekaar omgee. Ten spyte van die armoede is mense nog altyd daar vir mekaar en dat hulle almal mekaar uit hierdie omstandighede wil help.

Ek het gelies dat ’n paar universiteite soek jou om by hulle jou kuns verder te vat. Watter een het djy toe gekies om by te gan studeer, en hoekom?

Stellenbosch-universiteit, omdat ek baie goed is in my kuns en dat ek wel kan spesialiseer in Fine Arts by daardie universiteit.

In een van jou anner onnerhoude sê djy dat djy wil eendag ’n famous artist wies, maa djy is klaar een. Hoe het djy gevoel toe jou finale kunsprojek viral gegan het?

Vir my was dit baie opgewonde, ek was baie bly omdat ek wel kan sien dat my gemeenskap, familie, vriende, almal kan trots wees op my en kan sien wat ek met my talent kan doen.

Kan djy my ’n bietjie van jou ma vertel? Wat is haa naam, en wie was sy?

My ma se naam is Roseline Swarts. Sy was ’n baie vriendelike, vrolike, liefdevolle persoon. Sy was baie lief om vir my te sê dat ek ’n sukses moet maak met my lewe. Sy was ’n persoon wat altyd die seer in ander kon sien, en ander wil help omdat sy ’n baie goeie mens was. Sy was ook baie, baie lief vir my en my ander broers. Sy was rêrig my, ons, alles. Sy was rêrig ’n baie, baie goeie mens.

As daa ’n boodskap is wat djy an anner jong mense kan gie, wat sal dit wies?

Ek wil net vir vandag se jongmense sê dat moet nie jou omstandighede blameer om nie ’n sukses te maak van jou lewe nie, en dat jy moet glo in jouself dat jy wel ’n sukses kan maak en moet nooit opgee nie, want dit wat jy saai sal jy maai.

Wat is jou grootste vrees vi jou toekoms?

My grootste vrees is dat ek miskien nie eendag so suksesvol dalk sal wees soos ek gedink het nie, ten spyte van alles wat sover met my gebeur het. Ek vrees dat dalk sal ek misluk in dit.

Djy sê vi my “respek goes a long way”. Hoekô gloe djy in dit?

Omdat dit wáár is dat respek goes a long way, en my ma het altyd my geleer om respek te hê, nie net vir myself nie, maar vir almal met wie ek ook al sal kommunikeer, of sal ontmoet. Omdat ek glo as jy nie respek vir ander mense het nie, het jy nie respek vir jou ouers nie.

Is daa ienige kuns wat djy huidig an wêk, of beplan djy ienige niewe projekte voo djy begin met Uni?

Daar is ’n paar nuwe kunswerke wat ek nog aan werk en ek is nog steeds besig met my armoede-tema, maar ek wil ook net bietjie uitbrei deur van ander sketse, mense gebruik te maak, byvoorbeeld mense uit my gemeenskap, ensovoorts.

Wat is jou grootste hoop vir jou toekoms?

Om eendag suksesvol te wees, en om ’n beroemde kunstenaar te wees, en ook ’n baie groot uitstalling in die Rupert-museum te hou, en ook om net die beste van my lewe te maak.

Baie dankie dat djy die tyd gevat het om te lies oo Cohnwille se storie. Vi ienige vêdere inligting oo Cohnwille se kunswêk, of as djy wil wiet hoe djy vi Cohnwille op sy pad as student kan onnersteun, kan djy vi Cohnwille se skooljuffrou, Celeste Arendse, ’n e-pos stuur op [email protected].

Baie dankie, en veilig bly.

  • 3

Kommentaar

  • Ek wens jou alle sukses en 'n voorspoedige toekoms toe Cohnwill, onthou bly altyd positief te alle tye, jy is gese 137nd met 'n wonderlike talent, dien jou gemeenskap en wêreld daarmee, dis immers waarvoor die Here dit jou gegee het. Glo my, iewers is daar iemand wat dit wil doen wat jy het. So, ja laat jou planne aan die Here oor dat Hy dit vir jou kan uitvoer. Surely you are blessed.

  • Avatar
    Olivia Skippers

    Mooi so, Cohnville, ons staan agter jou! Hope liefde uit Abbotsdale. Van my, mnr Skippers en die kinders, xxxx

  • Avatar
    Diego Claasen

    Baie geluk, Cohnville. Jy motiveer my baie. Ek haal my hoed af vir jou, my vriend. Alle voorspoed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top