
Foto: Chrizane van Zyl
Het jou pen opgedroog en klink jou lirieke nie eers goed genoeg vir ’n spookasem-popnommertjie nie? Danie du Toit, die hoofsanger van Spoegwolf, deel met ons ’n paar liriekskryfwenke.
1. Moenie 'n liriek in jou eie bloed skryf nie. Die liriek is gemaak om uit te staan, op te staan, teen te staan of mee af te staan. Om vir almal te vertel hoe sleg jy voel, deug nie. Behalwe as jy Johnny Cash is wat Nine Inch Nails se “Hurt” cover. Moenie sink in jou eie hartseer oor daai ou of meisie wat jy nie kon kry en die kanker wat dit meegebring het nie. Luister in die algemeen meer Bob Dylan. Soos ou Loftus Marais (nou buite konteks) sou skryf: staan in die algemeen nader aan vensters.
2. Hou 'n boekie en 'n pen naby. 'n Werklike liriek kom vinnig, soos 'n siek jakkals, verby. Indien jy nie gou genoeg spring nie, kry jy dalk net die stert beet. Jy wil die jakkals in die bek gryp: jy wil kan eerlik skryf oor wat jy sien, voor al die vooropgestelde idees van liriekskryf die taak moeiliker maak. Luister in hierdie verband meer na Valiant Swart of David Kramer.
3. Wyk, soos van die Satan, van nostalgiese terme soos “coffee shop” of “Brooklyn Mall” of “Sally Williams Chicken Nugget”. You are fooling no one. Skryf sonder om te dink: “Hoe gaan ek almal kry om te 'associate' met my?” Skryf liewer oor goed wat jou regtig raak. Luister 'n bietjie meer Zinkplaat – hulle skryf oor goed wat hulle raaksien.
4. Tiener-angs was cool toe Fokofpolisiekar op die scene gekom het. Daar is nou al 'n boek en 'n fliek uit, Hunter Kennedy het baie geld gemaak, en al hul meisies en vrouens bad nou in melk in groot wit huise op Clifton. Jy kan dit nie ook probeer doen nie. Wees eerlik met jouself. Weer eens, staan in die algemeen nader aan vensters.
5. As jy Afrikaans is, hou op Engels skryf. Nee, dit is nie makliker nie – jy kopieer net al jou Engelse helde. Dit gaan nie oor geld nie, dit gaan oor wat jy bydra. Dra by met die talente (Afrikaans is een) wat aan jou gegee is. Jou lirieke sal sommer gou eerliker en sterker oorkom.
5 en 'n half:
Gebruik minder groot woorde. Jy moet dit verstaan voor jy dit gebruik. Dieselfde met temas wat voorskryf hoe jy dink mense moet leef. Dink aan 'n groot geweer wat gegee word aan 'n Bobbyjaan van Jaarsveld.

