Wat ons hierdie afgelope tyd ondervind, is gelykstaande ’n yslike w reldoorlogsituasie. Baie soek nog na die “escape”-knoppie op die jaar 2020 se toetsbord. Harties-mense, daar is nie ’n terugkeer na hoe dinge was of “die goeie ou dae” na hierdie katarsis nie. Dis oral waar jy kyk in die media. Duisende haweloses lê op die rand van die samelewing gestapel. Wie kan die grootskaalse bekamping in Strandfontein ignoreer? Dis maar een vergelyking, en soos ons weet kry die armes dit eerste en word ook die swaarste getref. Quite intense, veral met die social ills, soos die mishandeling van vroue en ander grudade tydens hierdie bekampingspoging, wat soos ’n jakkals in ’n hoenderhok rondvreet. Ek kry soema flashbacks as ek kyk na die eNCA-nuusflits van die situasie in Mitchells Plain waar die gemeenskap bors teen bors met die polisiemag gestaan het oor kospakkies. Kyk die video hier:
Dit voel soos in die dae van toe massa-optogte die orde vannie dag was. Tydens al die verwarring en vrees neem chaos in ander dele vannie Kaapse Vlakte toe, waar lede vannie gemeenskap by plaaslike winkels en malls inbreek en die insidente op selfone gedokumenteer word. Die strewe na kollektiewe en sigbare eenheid is voor die hand liggend, maar die toepassing daarvan is in ’n wanbalans. Skole word spookhuise met talle onderwysers wat verspringende migrasie na digitale platforms probeer implementeer, soos WhatsApp-klasse vir leerders. Waar is die tegnikusse wat sit met oplossings? Groot korporasies kan nou hier intree en ’n verskil maak deur hulle te onderskraag.
Soos comedian Mark Lottering sê: Jy moet die Sondagnuus met ’n glasie wyn digest voor jy ’n hartaanval kry. Dis die volle waarheid!
Vryheid is op byna alle vlakke van ons ontneem en teen so ’n vinnige spoed dat ons nou eers agterkom hoe vasgevang ons werklik is. Jy moet ’n nuwe asemhalingstegniek ontwikkel wanneer jy innie shopping mall rondskarrel op soek na rantsoene vir die komende dae, met sekuriteitsbeamptes wat gereed staan met handreinigingsmiddels sodra jy die winkel betree of verlaat. Terselfdertyd is daar ook diegene wat as soldate gekamoefleer is om beweging te vergemaklik vir brood oppie tafel. Ongelukkig is hierdie strategie tevergeefs met uitgeslape polisiebeamptes wat baie kansvatters ontklee tydens uitskudparades oppie sypaadjie.
Alhoewel die petrolprys gedaal het, vind baie min dit voordelig, aangesien mense tuis moet bly in die stryd teen die verspreiding van COVID-19. Depressie heers soos miljoene se onbetaalde rekeninge terwyl hulle werkloos op hulle rusbanke wegkwyn. Dis hier waar ek my hoed afhaal vir die optimiste en die yweriges tussen ons wat nuwe vaardighede ontwikkel om hulself bekwaam te maak vir ’n meer winsgewende werklikheid in hul nabye toekoms.
Daar broei nuwe hoop op Planeet Vermaak danksy die skok wat COVID-19 onder die algemene bewussyn gebring het. Die potensiële uitwerking word bepaal deur een belangrike keuse: om anders te dink en te beweeg. Dis die brandstof vir die moderne mens se drange. Elke aanlynplatform word deur elke lid van die vermaaklikheidsindustrie ge-download en ingespan om nader aan hul gehoor te bly. "Tuisnaars" kry dan so hulle vermaak regstreeks vanuit die kunstenaar se persoonlike ruimte. Praat van up close and personal. My gunstelingbands en -kunstenaars stroom na YouTube en social media terwyl familielede en geliefdes gereeld op Zoom en Skype kuier. Die sofa innie sitkamer is weer eens die front-row seat tot die res van die pandemie-geteisterde wêreld (vir liefhebbers en aanhangers van die internet). Ek is die afgelope tyd nuuskierig oor in die nuwe strategieë ten opsigte van die vrystelling van nuwe musiek en albums onder die huidige omstandighede. Kry jy jou CD en poster van die konsert pasella wanneer dit na ’n woelige optrede deur die kunstenaar geteken word, of is dit nou een maal vergete? Dis onbevare waters vir onafhanklike kunstenaars wat hulle denkbeeldige skip op dreef moet hou tydens die verskuiwing van wat voel soos tektoniese plate, met ’n alreeds enorme fratsgolf wat so pas die industrie in die vorm van duisende toer-en feeskansellasies getref het.
Tydens die dawn van ’n siekteveranderde omgewing wil dit blyk dat die speelveld gelyk gevee is. Dit wil ook blyk dat ons almal in dieselfde skuitjie vertoef. Skynbaar nie. Talle spaza shops kry die finansiële doodskoot terwyl Shoprite- en Usave-trokke townships binnedring met essentials om om te sien na die massas se alledaagse behoeftes. ’n Billike aanname vir die afname in wins vir baie besighede kan gemaak word deur die feit dat mense nou hul belange herprioritiseer. Dat die focus meer op behoeftes geplaas word in plaas van luxuries. Dis hier waar die opportunist ’n kans kan vat om nuwe innovasies te skep. Ek let op daar’s meer interaktiewe platforms en programme wat op die proef gestel word vir onderhoude op die internet. Nuwe gesondheidswenke is nou weer aan die voorrang van populêre kultuur. Transformasie is ’n werklikheid, masekind. Jy moet aanhou innoveer om te oorleef.
Ons kan definitief baat vind by ’n progressiewe samewerking tussen accountable leierskappe in alle sektore op ’n nasionale skaal. Daar’s hopeloos te veel wat nie digitally ingeskakel is nie, wat lei tot die vergroting van die gaping tussen dié wat dit kan bekostig en dié wat nie kan nie. Tans is hierdie verbintenis gelykstaande aan die brug tussen onmiddellike verdoemenis en onkunde, en verligting.
Die geveg teen eensaamheid en isolasie is ’n ernstige een, veral nou. Hoeveel te meer met die toespassing van fisiese distansiëring!? Dink jou in hoe die toekoms sal lyk: breër sypaadjies en allerlei toebehore om sosiale afstand te enable, Gucci-maskers vir die modebewustes … So ’n toekoms kan net onmin en wantroue kweek, nogal in die naam van kollektiewe welstand. Die gebrek wat dit sal veroorsaak, sal ons vermink tot in ewigheid. Dit voed die global amoeba van die mensdom. In kultuur en in gees.
Sjoe, ek mis die geroep van die taxi guard op die main road en die alledaagse woordspeling van smouse by hul vrugtestalletjies …


