So is dit nou deur Johan van Wyk is op pad

  • 9

By die bekendstelling van So was dit in 2013: Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese.

Toe die dominee langs die graf “amen” sê, begin die grond onder hom verkrummel. Die herder raap hom op. Met fladderende togapante vlieg hy – ribbok se moses – bo-oor die gapende graf. Toebroodjietyd kom vra 'n familielid: hy wil presies so begrawe word, asseblief; met "simboliese triomfsprong" oor die dood en al!

Ou vastighede verkrummel deesdae onder die ouer garde met stormgeweld. Ons wil ook spring. Maar waar, o waar, is terra firma? Al vastigheid lê agter – by die bekende simbole van die "goeie ou dae". Voordat die wêreld begin het om "elke oggend gatoorkop te slaan".

Aldus die deurwinterde skrywer-joernalis Johan van Wyk.

Op pad na die Keisie met sy nuwe Triumph. Foto: Tobie Wiese

Van Wyk is bemind oor die geleide herinneringstoere waarop hy sy lesers terugvat. Na die Hantam waar hy gebore is. Na die era van windpompe wat tsjierie-tsjierie; gloeiende Agas; skuurdanse; konsertinas; koue skaapnek; hardgekookte eiers in gevlegte padkosmandjies; warm plaasbrood en vyejêm, die "lekkerste jêm" …

Dié kollega ken die kuns om nostalgie vleuels te gee. Goeie skryfwerk beskou hy as ‘n “beleë kuns”, soos “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”. Op 'n "beleë" 77 is hy lank nie meer die stroomop-karnallie van die ’80's nie. Juis sy beleënheid het sy geskrifte vir lesers 'n broodnodige stukkie terra firma gemaak.

Die son sak by Sutherland. Johan op sy nuwe Triumph. Foto: Tobie Wiese

'n Persoonlike gunsteling is die innige onthoustorie oor sy verswakte 85-jarige pa se afskeid van sy vervreemde geboortegrond, Sandkraal, by Calvinia:

By sy vader, my oupa, oorlede in 1921, se eenvoudige graf, nou net 'n hopie uitgewaste grond, omring deur ‘n stukkende heining met 'n skewe hekkie tussen gannabosse, het hy sy hoed afgehaal, met sy een hand bewend op die verweerde tuisgebeitelde kopklip van ruwe sandsteen moeisaam op 'n knie neergesak en 'n handvol grond opgetel. Trane het oor sy wange gerol ... Dit was een van die roerendste, hartseerste, en tegelyk mooiste, mees deernisvolle oomblikke van my lewe. Toe gooi ek vir ons 'n Mellowoodjie vir versterking en toe eet ons die koue skaapnek daar langs die ou voorvader.

"Afskeid van Sandkraal" was later, gepas, die slothoofstuk in sy debuutbundel, So was dit – stories van gister en vandag (Tafelberg, 2013). Binnekort volg, ook by Tafelberg, 'n langverwagte tweede: So is dit nou (subtitel nog onbekend).

By sy getroue ou Gold Wing by Matjiesfontein. Foto: Tobie Wiese

Van Wyk (die "Oom") het 'n kwarteeu elke dag "Stop van Myne" in (Die) Volksblad geskryf – 'n asemrowende 6 000 rubrieke, of vier miljoen woorde. Sy resep het hom ikoonstatus besorg. Van sy uitdrukkings het volksbesit geword. Dink aan “ohopoho” wanneer dinge rof raak. Of "Hef 'n siegret" ("Ingels" vir "Stop van Myne"). 'n Keer het hy 'n dokter toegeroep: "Hef 'n bedpan." Dié het dit letterlik vertolk en sterk aanstoot geneem.

Ryk prokureurs is gereeld geroskam oor hul mooi huise, karre en liefde vir geld. Hulle melk 'n mens behoorlik, het Van Wyk bevind: "soveel vir 'n hoes, soveel vir 'n nies en soveel vir 'n dinges!" Hoofregter Pierre Rabie het gevoel die eer van die beroep raak aangetas. Die redakteur is vir 'n nie alte welwillende geselsie nie ontbied. PW Botha het Van Wyk 'n "skermonkel" genoem. Raak vinnig van hom ontslae, was sy "vaderlike" advies ná 'n relletjie oor "vet boervroue wat op tjoeps op Maselspoort se swembad ronddobber".

Johan van Wyk en Hennie van Deventer in (Die) Volksblad se braaispan in 1986. In die middel staan wyle Johan Uys van Spoornet.

Hoekom dan “Oom”? Van Wyk het 'n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: "‘Dankie, Oom. Dit was lekker."

Min joernaliste val die eer te beurt dat hul eie publikasie 'n hoofartikel oor hulle skryf. Hy het. By (Die) Volksblad was geen twyfel nie "dat geen ander rubriekskrywer só gelees, só bespreek, só bemin en só gehaat word nie". Die weeklikse "Potjiekos" in Beeld het hy agt jaar so saam-saam behartig. Later word hy sinoniem met Landbouweekblad (waarin van sy blinkste juwele verskyn), en begin hy toenemend ook in Weg en Die Burger 'n lojale korps bewonderaars opbou. Toe hulle eers "ge-sta, le, proe het, toe raak hulle meer erg." ""Van alle kante"-artikels vloei uit sy energieke pen, veel vinniger as wat Die Burger kan voorbly om dit te plaas!

'n Uiters vrugbare, uiters gewilde woordeman. Hoe dan dat hy eers in 2013 debuteer? Die antwoord is nie so eenvoudig nie.

By (Die) Volksblad het sestig-plus joernaliste al sowat 700 boeke geproduseer. Tydgenote van Van Wyk was oa Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg. Sy kollegas was vuur en vlam oor 'n Johan van Wyk-boek. Dit sou ‘n "moerse" boek wees, het Herman le Roux gemeen. Die uwe was dit eens, en het ‘n bundeling van uitsoek-"Stoppe" by Tafelberg loop aanbeveel. Die uitgewer was positief.

Een knoop: iemand sou die tamaaie oes moes sif. Van Wyk self? Nee, hy was min gebodder. Sy skaapboerdery (Tierpoort en Reddersburg), melkbeeste, monster van 'n Gold Wing en "Stop" het hom genoeg vasgevat, dankie. Niemand anders wou dit waag nie.

Van Wyk se tikmasjien (later, onwillig, rekenaar) het ná aftrede in 2000 kwalik spoed verloor. Teen 2012 was in sy arsenaal al 'n gedugte 7 400 rubrieke en vyf miljoen woorde.

Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese

Toe daag 'n ridder op 'n ysterperd op: Tobie Wiese, 'n jonger kollega en motorfietsmakker.

So saam op die grootpad het Van Wyk (wie se hartewens, terloops, is dat sy as in die Karoo uit 'n valhelm geskud word terwyl die Harley-Davidsons, BMW's en Gold Wings volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing: "There goes my everything") en Wiese op 'n raamwerk ooreengekom. Maar hulle sou nog 'n hele paar sakke growwe sout saam moes opeet –'n oefening wat soms glo maar gekners het. Oplaas is Wiese met 'n manuskrip na Tafelberg.

So was dit was op pad – onstuitbaar soos die Oranje-Snel in een van die stories op ‘n nagtelike jaagtog deur die Karoo "met ‘n John Waynerige treindrywer agter die deadman’s handle".

 ‘n "Fantastiese, wonderlike boek" het Nicol Stassen van Protea dit genoem. "Moers" inderdaad. Herman le Roux se woorde was profeties. Drukoplae is ingeryg.

Nóg, het almal gesmeek. In die Strand (Johan se aftreeplek) het egter 'n onheilspellende stilte gebroei.

Nou, uiteindelik, drie jaar later: heuglike nuus. Johan van Wyk se skare "fens" lek lippe af. Hulle is oorgehaal om "aan te smeer en te kom". Ek is in die voorste linie.

  • 9

Kommentaar

  • Ek was pas in Plettenbergbaai. Het Johan van Wyk se jongste boek, waarna almal uitgesien het, in die biblioteek raakgeloop. Wat 'n wonderlike ervaring. "Freeslik Fantasties" soos in een van sy anekdote aangedien word. Nog 'n uitgawe?

  • Avatar
    Hennie van Deventer

    Hannetjie, In John se boeke verskyn o.m. van sy rubrieke in Die Volksblad. Charles Smith het onlangs 'n boek oor Volksbladstories gepubliseer. In die volgende boeke van my is talle Volksbladstories opgeteken: Scoops en skandes, Flaters en kraters, Kroniek van 'n koerantman en In kamera. Almal al uit druk buiten miskien In kamera. Kroniek van 'n koerantman is in e-boek-formaat beskikbaar by De Novoboeke.

  • Daar's baie mense wat kan skryf maar bitter min wat só kan skryf ... Dis nie net lekker om te lees nie, maar ook goed vir jou "hart" en binneste ... Kan daar nie maar nòg hiervan gepubliseer word nie, asseblief? Dis kosbaar ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top