So was dit – ope brief aan Johan van Wyk

  • 0

Titel: So was dit
Skrywer: Johan van Wyk
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624055839

 

Koop So was dit by Kalahari.com.

 

 

 

 

Beste Johan

LitNet het my gevra om ’n resensie oor jou boek te skryf, maar voor ek enigsins kon begin lees, het die voorblad het my al gevang. Ek het lank na die omie, en veral die gehalte en amperse sepia-gevoel van die foto, gekyk. Dit was duidelik dat die foto al redelik jarig is en dat daar daai tyd al baie moeite daarmee gedoen is. Die feit dat jy dit vir ’n voorblad gekies het, spreek boekdele (hmmm...).

Nog meer so toe ek oopblaai en sommer heel voorin lees die oom op die voorblad is oom Theuns van Zyl, toue- en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus, en hy was op Die Landbouweekblad van 2 Mei 1967 se voorblad. Die manier waarop jy hom aangehaal het, het my dadelik laat verstaan watter soort boek Soos dit was gaan wees. En jou mooi byvoegseltjie vir perspektief dat die tydskrif tóé agt sent gekos het. Soos dit was ...

Jou stories lees lekker en wat ek die meeste van hou, is dat alles eintlik daar was, en soms nog net so daar is, in die meeste van ons se lewens. Toe ek nou byvoorbeeld jou Koning van die Kombuis lees, laat dit my laat dink aan eenkeer toe ek nog laitie was en ons wintertyd jagveld toe is.

Ons is so agtuur die aand uit Johannesburg weg en ons klomp kinders het al vier agterin die ou Jeep-stasiewa gelê en padkos knibbel en stoei en koeldrank mors. Naderhand is ons deur die gedreun van die uitlaatpyp onder ons weggesus droomland toe.

Ounag het ek wakker geword. Die uitlaat se dreun was stil, maar ek het stemme gehoor. Stemme saam met die rinkink van melkkanne soos die plaasvolk gesels en laai. Ek moes piepie en met die uitklim was dit vrek koud, want ons was iewers op die Hoëveld in die middel van Julie. Ons het oorgestaan om vir Oupa te kom haal.

Oor my straaltjie sien ek ligte brand in ’n huis so honderd treë van die kar af. Ek hol kaalvoet oor die ryp soontoe en draai ongestoord die deur oop. Wat ek die beste onthou, was die reuk. Linoleumvloer, koffie wat stadig warm bly, en bowenal die groot, liggroen Aga se hittereuk. ’n Tuiskoms ...

Ek het afgedwaal, maar dis wat jou stories doen, Johan. Jou nostalgie, herinneringe en beskrywinge daarvan ontlok elke keer iets soortgelyks in ’n mens se eie lewe. Mens onthou jou eie Agas, boorgate, baaisiekels, skaapboude en waatlemoene. Jou eie ou ooms en tannies en kattekwaad. Jou eie vreugde, jou lag, jou huil. Jou stories is baie spesifiek, maar nostalgie is universeel.

Met die lees van  Die pad na Tranedal kon ek sweer jy vertel my storie, maar my passasier het net duskant Lesotho aan die huil gegaan. Wat ook lekker is, is dat ry en reis so ‘n groot deel uitmaak van wat jy skryf. Ek hou van jou stelling in See toe met ’n Chev op voco: “Petrol bly altyd ’n bargain al kos dit wat, want rylus het mos soos brandewyn nie brieke nie.”

Dis lekker dat jy mens na mooi veraf plekke toe vat. Daar’s die Hantam, jou heimat en Tankwa, die Groot Karoo en Swartbergpas. Van daai tyd tot nou se tyd.

Wat my ook baie beïndruk het, is hoe jy, met die verloop van die boek, jouself elke keer ampers in ’n ander tydgleuf plaas teenoor die inhoud. En ook hoe jy nader na die einde toe baie meer persoonlik betrokke raak waar die eerste stories amper meer ander mense – ’n vroeëre generasie selfs – se stories is.

Johan, ek sou sê jy skryf oor die goeie ou dae. Dan sal baie mense nou wil reken dis toentertyd se dae wat vir ewig verby is. Ek weet nie so lekker nie, want ek skryf ook graag oor die goeie ou dae, maar as ek nou so ’n vinnige som moet maak, was jy al ’n joernalis toe ek nog skoolopstelle probeer skryf het. Daar sal altyd goeie ou dae wees.

Ja, jy kén jou mense. Jy ken jou plekke. Jy vertel dit mooi. Baie dankie vir So was dit. Ek sien uit na die volgende boek en hoop ek en jy kan eendag om ’n vuur iewers sit en murgbene uitstamp.

Groetnis

Gerrit

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top