
Die voormalige joernalis, nou vryskutskrywer en bemarkingskonsultant, Emile Joubert, het pas sy derde kortverhaalbundel, So byna blou, deur Protea Boekhuis die lig laat sien. Maryke Roberts gesels met hom oor skryf, storie-idees en navorsing.
Die persvrystelling wat saam met die boek van Protea Boekhuis arriveer, vertel dat die “deurlopende tema in hierdie 10 verhale, afstand tussen mense en die onvermoë om werklik kontak met ander te maak, is.
“Daar is verwysings na talle noodlottige liefdesverhoudings, affairs, vreemdelinge wat mekaar in ’n hotel ontmoet, etes in duur restaurante, bloedskande, die Seepunt-promenade, Kaapstad, Parys, vergiftiging op ’n portplaas in Portugal, die wreek van ’n geliefde se dood. Elke karakter is in wese ’n geïsoleerde figuur wat ’n waterskeidingsoomblik beleef waarin sy of haar lewe onvermydelik verander.”
Ek geniet dit dat elkeen van sy kortverhale met ’n kinkel eindig, wat jou noop om lank daarna nog aan die storie te herkou en nie sommer net om te blaai na die volgende verhaal nie.
Hy het ook verlede jaar die omvattende boek Kanonkop – The story of a South African legend – oor die geskiedenis van die ikoniese Kanonkop-wynlandgoed buite Stellenbosch voltooi. As fiksieskrywer het hy in 2000 gedebuteer met die kortverhaalbundel Die aptyt van Anna Blow, gevolg deur die bundel Kouefront, asook twee niefiksiepublikasies oor onderskeidelik hengel en wyn.

Emile Joubert (foto: verskaf)
Jy was vir jare ’n dagbladjoernalis – by Die Burger en Beeld – voor jy bemarkingskonsultasie jou voltydse beroep gemaak het. Watter elemente bring jy van elkeen van hierdie twee bedrywe na jou skryfwerk en benadering tot stories-maak?
Met my eerste gesprek oor die jongste bundel met Rentia Bartlett-Möhl, my nuwe redakteur, het sy onmiddellik ná die lees van die manuskrip gesê: “Ek kan sien jy’s ’n joernalis.” Niemand kan dus die vraag beter beantwoord nie. Ek dink die algehele oplettendheid wat toegepas moet word in die joernalistiek, asook die dringendheid van my skryfstyl, is oorblyfsels van die joernalistiek. Dis dinge wat ek seker nooit sal afleer nie. In my huidige professionele lewe, voel ek, het ek my mensekennis verbreed. Die joernalistiek kan eng wees, want ek het heeltyd met kunstenaars en selebriteite gepraat en oor hulle geskryf. Nou bring ek elke dag deur met sakelui, plaaswerkers, wynmakers – en joernaliste! Gooi my oplettendheid by, en ek suig ‘n klomp waarnemings op wat as wegspringplek vir stories gebruik kan word.
Waar kom die idees vir jou kortverhale vandaan? Is dit mense wat jy ontmoet wat jou fassineer of is dit storiebrokkies wat jy optel?
Deon Meyer, een van ons briljantste skrywers, het eenkeer vir my gesê dat skryf vir hom ’n “oerdrang” is. Ek voel ook so iets in my. Dus, as jy ’n drang het om te skryf, waarmee ek dink ek gebore is weens my ouers se joernalistiekberoepe, soek jy iets om daardie drang te bevredig. Klein flenters van die alledaagse lewe, gedagtes, gebeure ... dit steek vas, iewers. En dan, as die drang opduik, word hulle gepluk. Die storie “Die beitel” is ‘n goeie voorbeeld. Ek het my vriend Anthony Hamilton Russell op sy wynplaas besoek in die Hemel-en-Aarde-vallei. Hy gryp toe ’n bottel sjampanje en lei my na ’n rots, hoog bo ’n rant wat uitkyk oor Hermanus en Walkerbaai. Op die rots is ’n kruis wat die Portugese seevaarders daar uitgebeitel het in die 15de eeu. Ek meen, probeer dink hoe en waarom daardie mense in daardie tyd hierdie onherbergsame gebied betree het om hul merk te laat, wat steeds daar staan – dis iets wat ek nie kon laat verbygaan nie. Dit moes ’n storie van my verbeelding word.
Loop jy met ’n notaboekie rond en pen idees neer of kom die storie meer volledig by jou op?
Nee, hier is ek baie swak. Ek tel fragmente op in my kop en stoor dit. Besonderhede kan te veel van ’n hindernis wees vir die verbeelding. As ek feite wil naspeur en bevestig, doen ek dit agterna.
Baie van die stories het dele van jou lewe in: toere na Portugal; wynplase; werk by dagblaaie. Gebruik jy jou eie ervarings as basis omdat dit geloofwaardigheid gee, of is dit vir jou veiliger om van iets konkreets af te begin?
Die blootstelling aan verskillende geografiese landskappe, kulture, mense, reuke, geure, klanke ... dit kleef aan my, en daarvoor is ek dankbaar. Die storie-idee kom altyd eerste. Dan besluit ek waar dit gaan plaasvind, en met wie. Fiksie moet vir my genot wees om te skryf, en baie keer laat ek die storie in ’n vreemde plek afspeel – nie om windgat te probeer wees om te wys dat ek daar was nie, maar omdat ek voel dat die milieu die storie toelaat om tot sy volste reg te kom.
Jou stories eindig almal met ’n kinkel, iets onverwags, maar meestal ingrypend wat met ’n individu gebeur. Is dit hoe jy die lewe sien en ervaar – iets skuil altyd aan die einde van die pad?
Ek is te bang ek verveel die leser om nie ’n besliste einde te verskaf nie. Skrywers soos Koos Prinsloo, Raymond Carver, Alice Munro en Etienne van Heerden hoef dit nie altyd te doen nie, omdat hulle briljante prosastiliste is wat veelvlakkige verhale vertel. My storie moet ’n begin, ’n middel en ’n einde hê. As die leser verder daaroor wil nadink, dan is dit ’n bonus.
Hoe verskil hierdie bundel van jou vorige twee?
My werk is vir my moeilik om self te beoordeel. Maar ek dink dat ek nou uiteindelik meer vertroue in my skryfwerk het, en met ’n meer sekure hand skryf. So byna blou het ook langer stories in waar ek probeer om meer te toon en te vertel, sonder om – hopelik – die leser te verveel.
Werk jy aan ’n roman, of verkies jy kortverhale? Indien laasgenoemde, wat in kortverhale trek jou so aan?
Om ’n roman te publiseer is ’n ambisie en ’n droom. En ek het skouspelagtig mislukte pogings wat hier langs my opgestapel in ’n leë wynboks lê. Kortverhale stel nie – vir my altans – die strukturele vereistes van ’n goeie roman nie. Dit laat my toe om ’n storie te vat en, soos Raymond Carver gesê het, “get in and get out”. Miskien sal my aandagspan eendag verleng word wat my daartoe in staat sal stel om ’n storielyn vir 80 000 woorde te behou. Ek hou van kortverhale skryf, want as ek eers die gedagte en storie het, is die hele ding binne twee of drie dae klaar en sit ek met ’n voltooide stuk werk. Dit pas my onrustige en soekende geaardheid.
Is dit nie moeilik om elke keer met ’n unieke stel karakters vorendag te kom nie? Sou dit nie makliker wees om ’n paar te kies en hulle dan interessante goed te laat ervaar nie?
Baie interessante vraag, en miskien moes ek begin skryf het toe ek ’n skaam en ingetoë 22-jarige was. Deesdae word ek egter omring deur mense van alle herkomste en kulture en met diverse persoonlikhede, in die meeste waarvan ek ’n inspirerende interessantheid bespeur. So, as ek die gedagte vir die storie het, is daar geen gebrek aan fiksionele menstipes om die narratief mee te dryf nie. Maar soos op die vorige vraag geantwoord, sou ek graag dat ek langer en dieper skryf met minder karakters. Dis ’n uitdaging, en ek glo ek moet altyd een hê. Ek werk daaraan.
Het een van jou vorige of huidige kortverhale al weer by jou kom aanklop en gevra om ’n volledige roman te word?
Ja. Ek stel die afgelope paar jaar baie in die Kaapse geskiedenis belang, hoofsaaklik weens Dan Sleigh se skrywes. In my vorige bundel, Kouefront, speel ’n storie af in die VOC-tyd. Dit gaan oor ’n VOC-soldaat wat ’n ontsnapte slaaf moet jag, en verlief raak op die weduwee van ’n Franse wynboer op Stellenbosch. Ek herkou die ding, en miskien kom daar iets van.
Het jou kortverhale ’n tema of boodskap vir die leser? As jy wil, ’n lewensles?
Met respek aan SJA de Villiers: Lees en geniet; maak daarvan wat jy wil.
Lees jy graag kortverhale en leer jy daaruit?
Ek herlees Herman Charles Bosman, Raymond Carver, Ernest Hemingway en Somerset Maugham. Elke verhaal gee my dieselfde gevoel as wat ’n glas goeie chardonnay of cabernet sauvignon gee: bevoorreg dat daar sulke goed in die mensdom is, en met dank vir die sielsverryking daarvan. Asook die belang van duidelike sinskonstruksies.
As jy nie geskryf het vir ’n lewe nie, watter ander beroep sou jy kon geniet?
Wel, ek kan ongelukkig nie vir ’n lewe skryf nie. Maar ’n ander beroep wat my moontlik sou aanstaan, is dié van stand-up comic. Ek hou daarvan om mense te laat lag.
Hoe lyk die lessenaar of ruimte waar jy skryf – chaoties, georden, donker ...?
Deesdae is die ruimte mobiel ... tuis voor die televisie, in die leestafel by The Book Lounge in Kaapstad. Die lughawe. Ek skryf in grepe. Maar as my kop eers by my tikvingers inskakel, lewe ek net op een plek, en dit is die milieu van die storie.
Hoe hanteer jy skrywersblok?
Doen 50 opstote, rook ’n sigaar en luister na Steely Dan.
Na watter skrywers kyk jy op?
Kerneels Breytenbach se joernalistiek uit die 1970’s en 1980’s was waarskynlik die grootste invloed op my skryfwerk en my drang om te skryf. Ek herlees steeds baie van sy musiek- en fliekrubrieke. Hy was die eerste Afrikaanse skrywer wat die taal ’n deuntjie kon laat sing, waarvan ek nie genoeg kon kry nie. Met fiksie is daar Herman Charles Bosman, Ernest Hemingway, Jim Harrison en JM Coetzee. Ek is stilisties ingestel. Niemand skryf prosa soos Coetzee nie. In Afrikaans vind ek Deon Meyer en Etienne van Heerden se struktuurvaardighede verbysterend.
Hoe het jy by die skryf van Kanonkop – the story of a South African legend betrokke geraak?
Weens my ouers se vriendskap met Jan Boland Coetzee, Kanonkop se wynmaker in die 1970’s, was ek sedert 10-jarige ouderdom op die plaas. Sedertdien het ek vriende geraak met Johann en Paul Krige, die huidige eienaars, en is my hele lewe versot op die wyne wat op daardie stuk aarde gemaak is. Toe Johann en Paul ’n skrywer soek, het ek hulle van bakboord na stuurboord gestuur om iemand anders te kry. Ek was te na aan die plaas en die mense, en was bang ek neuk dit op in ’n boek. Maar na sowat agt jaar se soek en vra en pols, laat weet Johann en Paul net dat, wel, ek die boek sál skryf. Wat Kanonkop betref, het ek ’n rubberarm.
Dis ’n reusetaak om ’n plaas se geskiedenis na te vors. Hoe bly jy gemotiveerd met al daardie feite?
Sonder om verwaand te klink, dit was als nogal maklik. Ek luister, lees en bestudeer die plaas al vir 20 jaar, en besoek dit omtrent weekliks. Die feite wat ons vir hierdie spesifieke boek nodig gehad het, was al by my ingedril, grootliks weens my eie belangstelling.
Waar het jy begin, hoeveel navorsing doen mens en hoeveel val op die ou einde uit?
Die meeste navorsing was om deeglike gesprekke te hê met die drie wynmakers: Jan Boland Coetzee, Beyers Truter en die huidige man aan die stuur, Abrie Beeslaar. Aangesien my joernalistieke agtergrond my geleer het om te luister en die belangrike goed uit die gesprek te haal, was dit redelik eenvoudig.
Watter een boek het jou lewe ingrypend verander of ’n geweldige indruk op jou gemaak?
Ek lees elke jaar Jim Harrison se novelle The man who gave up his name. Skaars 100 bladsye se naatlose en presiese prosa oor ’n miljardêr wat als wat hy het, prysgee om in ’n visbraaikafee op ’n strand te gaan werk, die warm soutlug in te asem en met die plaaslike vrouens op die strand te dans. Ek is ’n powere danser, maar kan ’n moerse lekker visbraai aanbied.
Wat is vir jou belangrik met jou skryfwerk?
Om iets op papier te sit wat vir ander mense die moeite werd is om te lees, deur hulle te interesseer of te vermaak. En om tot die punt te kom.
Twyfel jy baie aan jou woorde; herskryf; begin van vooraf? Of is dit goed oordink en dan een maal skryf?
Oor die jongste bundel het ek heel tevrede met die manuskrip gevoel, totdat my briljante Rentia-redakteur dit onder hande gehad het. Sy het my gedwing om weer te kyk, gate te vul, dieper te dink. ’n Paar stories is heeltemal verander nadat sy my met nuwe oë na die situasie laat kyk het. Met my volgende boek sal ek beslis harder en dieper dink.
Waar kom die motivering vir jou boektitels vandaan?
Met al drie bundels het ek maar gekyk watter titel ek dink die beste op die voorblad sou lyk! In hierdie era van “click bait” is dit veral belangrik.
Waaraan werk jy volgende?
Ek krap-krap so aan memoires wat fokus op my blootstelling aan geure, van my kinderdae tot nou. Geure van kos en wyn. Waar ek dit ervaar het, wat die geure laat vassteek het dat ek tot vandag kan onthou hoe byvoorbeeld my eerste stuk melktert of gebraaide galjoen geproe het. Dis die geur van my lewe.
- So byna blou, Protea Boekhuis, ISBN 9781485311492 (gedrukte weergawe); 9781485311508 (e-boek)

