Small maak voorheen verswygde stemme deel van die gesprek

  • 1

Tegnies gesproke is die uitgewer Nicol Stassen reg as hy kla dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nie reëlmatig was in die toekenning van vanjaar se Hertzogprys nie.

Dit volg nadat die Akademie dié prestigeryke letterkundeprys aan die swart Afrikaanse skrywer-digter-dramaturg-filosoof Adam Small toegeken het vir sy hele drama-oeuvre.

Small se bekendste en beste drama, Kanna Hy Kô Hystoe, het in 1965 verskyn. Volgens die reglement is dit duidelik dat slegs werke van skrywers wat die “vorige drie kalenderjare” nuwe, oorspronklike werke gepubliseer het, in ag geneem word by die toekenning van die prys. As die reëls streng toegepas was, sou Small nie die prys gekry het nie, omdat Kanna 47 jaar gelede vir die eerste keer verskyn het.

Reëls word gemaak en kan ook verbreek word.

As ’n mens wil kleinsielig wees, dan kan Stassen – soos die Akademie ook in die verlede – beskuldig word van ideologiese verbondenheid met Afrikanernasionalisme en die Nasionale Party wat dit moeilik gemaak het om Afrikaner-dissidente of niewit skrywers soos Small, PJ Philander en SV Petersen te bekroon. Die Akademie het toe – soos miskien nou Stassen? – sulke afwysende keuses deur allerlei amptelike en tegniese redes verbloem.

Dinge het egter verander, nadat die Akademie – soos Breyten Breytenbach aan my in ’n onderhoud in 2010 gesê het – “die amptelike kulturele vergestalting van ’n rassistiese en bekrompe ideologie was”.

Ook moet genoem word dat swart Afrikaanse skrywers soos Philander en Petersen reeds vanaf die 1940’s op die kortlys vir die Hertzogprys verskyn het. Selfs wit skrywers soos Jan Rabie het om politieke redes nooit die prys gekry nie. André P Brink het dit wel later gekry, en met Uys Krige het hulle ook gesukkel.

Bygesê, literêre pryse is dikwels omstrede, omdat dit, ten spyte van die aansprake op die teendeel, meestal die belange, oordele en vooroordele van ’n klein groepie keurders verteenwoordig.

In Small se geval verdien die Akademie egter lof omdat hulle die reëls verbreek het (of het hulle?) vir ’n groter saak – naamlik versoening. Ek verneem dat tydens die Letterkundekommissie (LK) se vergadering voorspraak gemaak was dat Small die prys lankal moes gekry het en dat dit versoening in die breë Afrikaanse gemeenskap sou onderskraag.

Dit is ook belangrik om te noem dat beide Small se poësie- en drama-oeuvres werklik literêre meriete beliggaam om enige prys te kan wen. Versoening en ook literêre maatstawwe was dus ingespan om te bepaal of hy die prys kry al dan nie.

Belangriker is die verduideliking van Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie, aan Die Burger: “Die LK het besluit om geeneen van die dramas wat voorgelê is aan te beveel vir die Hertzogprys nie. Hierdie bevinding is na die Akademieraad verwys. Die LK het wel ter oorweging aan die Raad deurgegee om die prys aan Small toe te ken. Die Akademieraad, as hoogste gesagsliggaam, het besluit, soos wat al in die verlede in sekere gevalle gebeur het, om die Hertzogprys aan Small toe te ken.”

Brink het jare gelede gesê Kanna was en is nog steeds die grootste en belangrikste drama in Afrikaans. Daarom, het Breytenbach in 2010 aan my gesê, verdien Small steeds die Hertzogprys. “Vir die gehalte van sy werk – sy oorspronklikheid, integriteit, sensitiwiteit, etiese krag, taal en beeldgebruik.”

Small se werk word steeds na waarde geskat en behoorlik bestudeer en beskryf, selfs nadat hy sedert 1997 stil is en nie meer in die openbaar verskyn nie. Dit veral vir sy sensitiewe hantering van sosiale en politieke kwessies.

Belangriker, Small het, soos baie ander swart Afrikaanse skrywers, voorheen verswygde (swart) stemme deel van die (Afrikaanse) literêre gesprek gemaak.

Lees ook Michael le Cordeur se brief oor die onderwerp.

Adam Small aanvaar die Hertzogprys.  

  • 1

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Uiteindelik iemand wat die breër perspektief bring rondom die toekenning van die prys, & ons wys waar Dawid die wortel begrawe het. Kan ons nou asseblief almal saam met Small bly wees? Die prys is toegeken, die prys is aanvaar. En nee, die Akademie gaan nie vlg keer 6 jaar se drama tekste in ag neem nie. Wet dreams may come.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top