Slim Jannie se Rooi Eed

  • 0
jansmuts650

Jan Smuts (foto: wikipedia)

Vandeesweek se hofsaak, Broodryk teen Smuts,[i] handel oor die vernietiging van 'n kontrak waar een van die partye deur die ander gedwing is om die kontrak te sluit.

Ene mnr Broodryk het op 24 Junie 1940 te Piet Retief die sogenaamde Rooi Eed onderteken, hoewel hy 'n ondersteuner van die Nasionale Party (NP) was en – soos die NP - teen die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gekant was. Met sy ondertekening van die eed het hy hom daartoe verbind om in enige deel van Afrika saam met die Unie-weermag militêre diens te doen. Broodryk het daarná verskeie kere probeer om hom aan die Rooi Eed te onttrek, maar die Unieregering het telkens geweier. In Desember 1940 is hy opgeroep vir militêre diens en is hy met geweld na ‘n militêre kamp geneem, waar hy met twee pond (destyds R4,00) beboet is omdat hy geweier het om sy oproepbevel vrywillig na te kom. Twee pond destyds was nie kleingeld nie ...

Broodryk het daarna 'n aksie teen genl Jan Smuts in sy hoedanigheid as eerste minister en minister van verdediging ingestel waarin hy die hof versoek het om die ooreenkoms wat hy met die Unieregering gesluit het toe hy die Rooi Eed onderteken het, ter syde te stel.

Hy het aangevoer dat hy die eed onder dwang van twee regeringsamptenare onderteken het. Hulle sou hom gedreig het dat as hy die eed nié sou onderteken nie, hy sy werk as staatsamptenaar sou verloor. Hy sou ook geïnterneer of in die gevangenis gestop kon word. Aan die positiewe kant het die amptenare beloof dat as hy die eed wel sou onderteken, hy nie vir militêre diens opgeroep sou word nie. Ter wille van sy vrou en kind het hy toe maar geteken.

Die hof het beslis dat 'n party tot 'n ooreenkoms vyf dinge moet bewys voordat die ooreenkoms op grond van vreesaanjaging en dwang ter syde gestel kan word.

Die eerste is dat daar werklike geweld op die persoon toegepas moes gewees het, of dat hy aan 'n redelike vrees vir geweld onderwerp moes gewees het.

Die tweede vereiste is dat sy vrees die gevolg moes gewees het van 'n ernstige bedreiging vir hom of sy gesin.

'n Derde vereiste is dat daar 'n dreigement van 'n onmiddellike of onvermydelike nadeel vir hom moes gewees het.

Die vierde is dat die bedreiging onregmatig en teen die goeie sedes van die gemeenskap moes gewees het.

En die laaste vereiste is dat die druk wat op die party toegepas is, hom skade moes berokken het.

Genl Smuts se advokaat het aangevoer dat g'n redelike mens die dreigement van internering sou geglo het nie, maar die hof was van mening dat dit tog nie so vergesog was nie. Die hof het daarop gewys dat terwyl hy nie die bevoegdheid gehad het om in oorlogstyd in te meng met die staat se reg om iemand te interneer nie, die staat op sy beurt nie iemand met internering kon dreig as daardie persoon nie 'n gevaar vir die veiligheid van die staat was nie. Om Broodryk met internering te dreig bloot omdat hy geweier het om militêre diens te doen, was volgens die hof contra bonos mores, dit wil sê teen die goeie sedes; met ander woorde: die gemeenskap se gevoel van wat goed en reg is.

Die feit dat Broodryk die Rooi Eed as gevolg van dwang en vreesaanjaging onderteken het, het volgens die hof verpligtinge op hom geplaas wat hy nie andersins vrywillig sou aanvaar het nie. Dít was voldoende om die laaste vereiste – naamlik dat hy skade moes gely het – te bevredig.

Broodryk het dus geslaag in sy eis om vernietiging van die kontrak, want dwang en vreesaanjaging tas die hart van 'n ooreenkoms aan, naamlik die vrye wil van al die betrokke partye om hulle kontraktueel aan mekaar te verbind.

[i] Broodryk v Smuts N.O. 1941 TPD, 47

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top