Sleeper deur Mike Nicol: ’n boekresensie

  • 1

Sleeper
Mike Nicol
Umuzi 
ISBN: 9781415209738

Die minister van energie word vermoor. Die polisieman wat die moord ondersoek, is aan selfdood oorlede. Iraanse agente, uraan wat gesteel word; ’n wetenskaplike word gekaap; ISIS en die CIA is betrokke, en so ook die president van die land se skoonseun.

Spioenasie vorm ’n deel van die storie, maar die skrywer vleg soveel drade aanmekaar voordat jy agter die kap van al die byle kom.

Die boek begin waar die gewese spioen, Vicki Kahn, deur staatsekuriteit betrek word om probleme in die departement van energie te ondersoek. Dit word haar taak om die wetenskaplike op te pas. Die probleem vererger wanneer die man self omgekoop en gedwing word om saam met die skurke te werk.

Gelyklopend word die privaat ondersoeker, Fish Pescado, gehuur om die moord op die minister te ondersoek. Hy is in ’n verhouding met Caitlin Suarez, die vermeende moordenaar.

Nog hooi op Pescado se vurk is die selfdood van sy vriend, die polisieman Flip Nel, wat in die diepsee met ’n anker om sy lyf van Fish se boot afspring en ’n kriptiese boodskap nalaat. Fish word van die moord verdink.

As die leser se kop reeds draai, kom daar steeds meer en meer wendinge en karakters na vore. Soos die twee Iraanse spioene wat ’n blok verrykte uraan uit die land moet smokkel en die samewerking wat hulle kry.

’n Vroulike agent word aangestel om Vicki dag en nag te beskerm en hulle kan mekaar nie verduur nie. Fish beland in die tronk en word sonder ’n klag teen hom aangehou. 

Met hierdie storielyne dek Nicol die tafel vir ’n baie wydlopende misdaadroman wat nogal eise aan die leser stel.

Nicol se skryfstyl is die gebruik van baie kort sinne. Mense wat daarvan hou dat die skrywer ’n simpatieke aanvoeling vir karakters by die leser laat ontwikkel, gaan dalk teleurgesteld wees. Pescado is self ’n dwelmhandelaar en Vicki is ’n verslaafde dobbelaar wat vir die vuil werk ingetrek word om haar skuld te betaal. Selfs die twee CIA- agente is regte skarminkels. Die NVG-kommissaris is nog ’n ongure karakter. Daar is eintlik geen "goeie" karakter nie.

Die skrywer slaag daarin om jou met ’n paar beknopte en sinryke sinne in die middel van die aksie te plaas. Jy voel die pyn van ’n karakter wat gemartel word, jy ruik die wetenskaplike se vrees wanneer hy ontdek waarby hy betrek word. Nicol slaag ook daarin om jou met afwagting te vervul en daar is genoeg spanning. 

Die meeste aksie gebeur in en rondom Kaapstad en lesers wat met landmerke bekend is, sal plekke soos Vlaeberg, Chapmanspiek en talle ander herken.

Die resensent ondervind ’n probleem met talle “veelkarakterboeke”. Haas elke boek het ’n paar leë bladsye wat met ’n baie nuttige leeshulp gevul kan word. ’n Kleinerige lettertipe, ’n digte reëlverspreiding, ’n menigte karakters en ’n gebrek aan ’n karakterlys dra hiertoe by. Die leser moet dus maar self onthou of aanteken wie wie is soos hy lees – hy kan dit nie vinnig kry deur ’n karakterlys te raadpleeg nie.

Nicol het al vyf boeke geskryf. Dis die derde een waarin Fish en Vicki die hoofkarakters is en dit getuig van die skrywer se aanhang. As misdaadoman is daar genoeg intrige vir ’n goeie slaagsyfer. Dis egter nie ’n skrywer vir wie hierdie resensent, om Langenhoven aan te haal, sal kerse brand nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top