Nadat die ekonomie amper in duie stort, word die Suid-Afrikaanse regering gedwing om die land met ’n buitelandse rekenaarstelsel te regeer. Die rekenaarstelsel werk op kunsmatige intelligensie en reguleer feitlik elke aspek van mense se lewens. Selfs hofsake word deur ’n rekenaar behartig. Alleen onder die maan vertel die verhaal van Jaco, ’n 80-jarige individualis wat krities is oor hierdie totalitêre bestel, en sy seun, Pieter, wat as sy beroep rekenaarspeletjies toets en nie besef hoe die stelsel persoonlike vryheid bedreig nie.
Remona Voges het met Willem Krog oor sy roman gesels.
Alleen onder die maan
Willem Krog
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781776190119.
Hallo Willem en baie geluk met jou nuwe roman, Alleen onder die maan.
Jy is ’n praktiserende advokaat en het in 2011 met Jacobus gedebuteer. Jy het egter in ’n skrywershuis grootgeword. Hoe was dit? En waarom het jy eers op ’n later stadium in jou lewe vir die eerste keer fiksie gepubliseer?
Skrywershuise is nie magical plekke nie, en met vyf kinders was daar oorgenoeg gewone dinge. Wat jy wel besef, is dat skrywers spasie (tyd) nodig het. Ek het eers later in my lewe sulke spasie gevind asook die terapie wat dit meebring.
Daar is twee hoofkarakters in Alleen onder die maan. Kan jy ’n bietjie meer oor hulle vertel asseblief?
Vir my is daar net een hoofkarakter – Pieter Malan. Hy is gelukkig in sy omgewing wat in die toekoms afspeel waar hy video games toets vir ontwikkelaars. Sy lastige pa, wat oor alles ’n opinie het en aanhoudend skop teen gedane sake, is ’n beslommernis vir hom maar soos dit ’n goeie burger betaam, verdra hy sy pa.
Hierdie vraag sluit ’n bietjie by my vorige een aan: Kan jy vertel in hoe ’n mate jou nuutste boek ’n voortsetting van die karakter Jacobus (of Jaco in die nuutste boek) se lewe is?
Daar is wel ’n voortsetting van die karakter Jaco Malan in Jacobus in Alleen onder die maan. Dit is nou net baie jare later met baie wat verander het.
Daar word aan die begin van elke hoofstuk uit Herbert Marcuse se One-dimensional man aangehaal. Waarom dié keuse?
Marcuse het in sy boek voorspel hoe veral tegnologie die mens gaan verskraal in sy dimensies sodat hy niks meer as ’n enkeldimensie is nie. En soos jy weet, is ’n enkeldimensie eintlik amper onsigbaar. Alleen onder die maan probeer om die eendimensionaliteit te verwoord.
Jy skryf in die roman oor ’n familieplaas in Kroonstad. Ons weet ook dat jy regtig op ’n plaas in Kroonstad grootgeword het. Wat is dit van hierdie plek wat die verbeelding so aangryp?
Om op ’n plaas groot te word was ’n reusevoorreg, maar ’n ontsettende onreg teenoor die baie grondloses in ons land. Dit is hierdie teenstrydigheid wat die fassinasie bring, want hoekom is so ’n idilliese plek dan ook ’n onreg? Ons leer tog (in sprokies of die Bybel) dat onreg reggestel moet word en dat dit wat die onreg veroorsaak, oorwin moet word. Maar tog is dit die plek wat jou die sin van die lewe bedien het.
En hoe lyk die plaas in jou roman?
Die plaas in die roman is onpersoonlik en funksioneel – dit verskaf kos en daar is nie ruimte vir die persoonlike nie.
Jy verkies die term spekulatiewe fiksie eerder as wetenskapfiksie. Waarom?
Wetenskapfiksie vereis ’n goeie kennis van die wetenskap, want dit het gewoonlik ’n wetenskaplike identiteit wat óf as tema óf as motief vir die fiksie dien. Alleen onder die maan spekuleer bloot oor die toekoms sonder om wetenskaplik daaroor te wees.
Die roman kon in ’n sekere opsig nie op ’n beter tyd die lig gesien het nie, juis omdat die verhaalgebeure nie so ver van die werklikheid verwyderd voel in hierdie tyd van korona nie. As jy moet spekuleer: Hoe dink jy gaan Suid-Afrika en die wêreld ná korona lyk?
Ek dink nie korona gaan baie aan menslike gewoontes verander nie – dit sal vinnig herstel en sal ons weer kuier ens. Wat dit wel gaan verander, is die ekonomie. Die maatreëls wat afgekondig is, gaan besighede wat marginaal funksioneer tot niet maak en kompetisie verminder. Goed gaan duurder word en die rykes ryker en die armes armer.
Daar het ook al ’n digbundel van jou die lig gesien. Verkies jy om fiksie of gedigte te skryf? En waarom?
Ek het nie regtig ’n voorkeur nie – albei is ewe moeilik. Die dissipline van fiksie is wel anders as die consuming natuur van gedigte.
As jy moes kies, wat sou jy sê is die boeke wat die grootste invloed op jou as mens en skrywer gehad het?
Feitlik elke boek wat ek gelees het, het ’n invloed gehad, maar op my as mens sal dit die One-dimensional man wees en op my as skrywer is dit ’n Duisend stories oor Johannesburg van Harry Kalmer.



Kommentaar
Jy beweer in jou onderhoud, dat toe jy van julle plaas praat, dat onreg reggestel moet word en dat dié wat onreg gepleeg of veroorsaak het, oorwin moet word. Wat bedoel jy hiermee?
Middag!! Is besig met 'n graad 11-taak ... Vraag: het Willem Krog enige toekennings ontvang?
Goeiedag! LitNet het onlangs die volgende artikel oor die Afrikaans-navorsingstake geplaas: https://www.litnet.co.za/die-literere-navorsingstaak-vir-afrikaans-huistaal-graad-4-9/. Hier word bronne aangedui waar jy kan soek na inligting oor skrywers. Ons het ook 'n indeks van vraestelle wat hier beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Sterkte met die navorsing! Groete, die LitNet-redaksie