Skrywersonderhoud oor Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas

  • 2

Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas het onlangs op die rakke verskyn. Remona Voges het met die skrywers, Anemari Jansen en Stefaans Coetzee, oor die boek gesels. 

Titel: Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas.
Skrywer: Anemari Jansen en Stefaans Coetzee
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776094707

Hallo Anemari en Stefaans. Baie geluk met jul boek Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas. Vertel ons asseblief ’n bietjie meer oor julself en jul onderskeie agtergronde. Vanwaar jul gemeenskaplike belangstelling in Suiker Britz? 

A: Stories en woorde is my passie. Ek het laat in my lewe begin skryf, moes seker eers lewensondervinding opdoen, en my debuutroman, Glipstroom is in 2014 deur Human & Rousseau gepubliseer. In 2015 verskyn Eugene de Kock: Sluipmoordenaar vir die Staat en Eugene de Kock: Assassin for the State.

My hart se punt is my drie kinders, Rohan, Christian en Carina. Ek glo persoonlike narratiewe en gesprek kan ’n versoenende rol in die huidige diskoers in Suid-Afrika speel. Ek wil graag in 2020 my volgende manuskrip voltooi en meer reis agter stories aan. Ek het ook ’n skryfterapie-kursus ontwerp, om mense te help om hulle lewensverhale te kan neerpen.

Suiker en Annatjie, sy vrou, het my tydens ’n boekgesprek oor Eugene de Kock: Sluipmoordenaar vir die Staat, ’n jaar of wat gelede, genader en gevra of ek sy biografie sal skryf. Ek wou die boek uit ’n ander hoek benader en het toe pas vir Stefaans ontmoet. Omdat hy ook ’n woordmens is en ’n heel ander perspektief kon bring, het ek hom gevra om saam te skryf.

S: Kortweg, ek is ’n voormalige verregse bomplanter en het met my vrylating bykans die helfte van my lewe in die tronk spandeer. Baie gelees. Baie geskryf. Ek doen sedert my vrylating liefdadigheidswerk en beywer my as ’n aktivis vir versoening om brûe te bou. Ek bied gereeld mannekampe aan en is diensbaar by #leefliefde.

Kan julle asseblief vir die wat nie weet nie kortliks ’n bietjie meer oor die legendariese Suiker Britz vertel?  Wie was hy en waarvoor staan hy bekend?

A: Karel Johannes Britz is op 3 Junie 1944 in Vredefort gebore. Van kleins af was die jong Karel vlug van begrip. Op skool was sy bynaam aanvanklik “Karel Kop” – juis omdat hy alles kon onthou nadat hy dit net een maal gehoor het. “Ek is toe in 1961 op sestienjarige ouderdom Polisiekollege toe,” vertel Suiker ons. Daai dae het elke speurder en lid van die Veiligheidstak wat sy sout werd was,’n safaripak, ’n welige snor en ’n kam in die kous gehad.

Die groot rede waarom Suiker by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit het was omdat hy ’n speurder wou word, al van tienjarige ouderdom af.

Suiker was by die Moord- en Roof-eenhede betrokke waar dit sy taak was om moorde, gewapende rooftogte en verkragtings te ondersoek. Hy word bevorder tot die rang van kaptein en in Januarie 1980 word hy, met die rang van majoor, as bevelvoerder van die Pretoria Moord- en Roof-eenheid aangestel.

Suiker bly die bevelvoerder tot in 1991. Onder sy bevel bou die eenheid ’n reputasie op as die beste in die land. In dieselfde jaar word Suiker as nasionale bevelvoerder van alle Moord- en Roof-eenhede in Suid-Afrika aangestel, en hy verwerf die rang van brigadier. Ná die politieke verandering van 1994, word hy bevorder tot generaal-majoor en aangestel as nasionale bevelvoerder van die komponent Ernstige- en Geweldsmisdade.

Gedurende sy polisieloopbaan was Suiker betrokke by ’n magdom opspraakwekkende sake. Telkens tydens ons gesprekke beklemtoon hy egter dat speurwerk nooit ’n "eenmanvertoning" is nie. Hy het sy span speurders met die hand uitgesoek en het daarby volstaan dat dit ’n spanpoging verg om misdadigers suksesvol vas te trek.

Wat is vir julle van die mees fassinerende sake waarby Suiker Britz betrokke was? 

S: Ek wil graag sê al sy sake. Hy het regtig ’n rits hoë profiel sake oorsien. Selfs die wat nie in die boek bespreek word nie soos Robert McBride en die sluipmoord op Johan Heyns. Die Kerkstraat-bomontploffings van 19 Mei 1983 staan beslis uit, asook die Wit Wolwe, Barend Strydom en Hendrik Groenewald.

A: Van die stories wat Suiker na aan die hart gelê het was die stigting van die eenheid vir verkragtingslagoffers, asook ’n eenheid gemoeid met die aankeer van reeksmoordenaars. Suiker het ook met deernis die besonderse verhaal van die jong skoolseun, Natie Chinner, vertel.

Julle skryf in die boek nie net oor sake waarin Suiker ’n kernrol gespeel het nie, maar ook oor sake waar hy op periferie gestaan het. Hoekom het hierdie sake julle so geïnteresseer?

A & S: Naas die suksesverhale in Suiker Britz se roemryke loopbaan, was daar natuurlik ook polities sensitiewe sake waar oortreders dikwels nie aangekeer is nie – ’n aspek wat die skrywers van die boek veral geïnteresseer het. Suiker was in daardie opsig 'n produk van sy tyd en deel van die staatsmasjinerie van die apartheidsregering. Daarom fokus hierdie boek nie net op sake wat suksesvol afgehandel is nie, maar ook oor sake waar daar leemtes in die speurwerk was.

Dikwels word sake aan die bod gestel waar Suiker Britz ’n sentrale rol gespeel het, maar by ander gevalle wat in hierdie boek gedek word, het die baasspeurder dikwels ’n bydrae vanaf die periferie gelewer – hier, byvoorbeeld, sy toevallige ontmoeting en gesprek met Gert van Rooyen en sy kortstondige verbintenis met die pedofiel, Dirk Prinsloo, toe Prinsloo hom in 2003 gevra het om hom te help met ’n ondersoek, waar hyself en sy huismaat, Cezanne Visser, wat ook ’n advokaat is, op ’n aantal klagtes gearresteer in.

Julle het talle persoonlike onderhoude met Suiker gevoer voor sy dood in 2018. Wat was jul persoonlike ervaring van hom?

A & S: Kyk, Suiker het jou deeglik deurgekyk en hy het nie nonsens gevat nie. Die gesprekke met hom was altyd interessant, vanweë sy vertellings oor die magdom sake waarby hy betrokke was en die suksesse wat die moord- en roofeenheid onder sy bevel behaal het. Hy het groot respek vir die speurders wat saam met hom gewerk het, gehad. Annatjie het ons altyd getrakteer met koffie en eetgoed.

Hy was depressief oor sy liggaam wat hom toenemend in die steek gelaat het, asook persoonlike probleme met sy twee kinders. Ons het verkies om op sy loopbaan, eerder as die familieprobleme, te fokus.

Voor die publikasie van die boek het Suiker homself om die lewe gebring. Hoe moes julle verder met jul navorsing te werk gaan?

A & S: Reeds voor sy dood kon of wou Suiker nie al ons vrae beantwoord nie – en ná sy selfdood was ons aangewese op sy uitgebreide argief, wat bestaan uit lêers van elke saak waarby hy gedurende sy loopbaan betrokke was, asook plakboeke met koerantknipsels van sake ─ etlike honderde knipsels is ’n understatement.

Suiker het tydens sy loopbaan onder fel kritiek deurgeloop. Wat was die grootste redes vir die kritiek?

A & S: Die kritiek was as gevolg van polities sensitiewe sake wat nie opgelos is nie, waarvan die moorde op die mediese dokter en politieke aktivis, Fabian en sy eggenoot, Florence Ribeiro vir ons van die mees aangrypende was.

Wat baie mense nie weet nie is dat Suiker eintlik ’n voorstander van vroueregte was. Hy het byvoorbeeld ’n vroue-eenheid vir verkragtingslagoffers gestig.  Kan julle, in die lig van die huidige fokus op geslagsgeweld, ’n bietjie hieroor uitbrei?

A & S: Die stigting van die verkragtingseenheid was vir Suiker ’n trotse oomblik:

“Ek het daardie hele mandaat laat verander. Jy kan nou gaan vra – bel enige ou staatsaanklaer by die prokureur-generaal se kantoor, dan vra jy hom oor Suiker en sy verkragtingspan. Hulle het by die prokureur-generaal se kantoor onder mekaar baklei om ons dossiere deur die hof te sit, want hulle het geweet daar gaan nie fout wees nie,” vertel hy. “Jan d’Oliveira, prokureur-generaal van Transvaal, het een aand gesê as hulle in die hele Suid-Afrika net veertig Moord- en Roof-manne en vroue het soos wat Pretoria het, gaan ons nie weer ’n moord sien nie, want ons het hulle geskiet en ons het hulle gevang.”

Volgens Sharon Schutte, ’n lid van dié span, het Suiker besef dat die manier waarop verkragtingsake deur die polisie hanteer is, ver van ideaal was. Dit was nie ’n geval dat manlike speurders onbevoeg was om die sake te hanteer nie, maar ’n spesialiseenheid met polisievroue wat 24 uur per dag beskikbaar was, sou baie meer effektief wees.

Dié eenheid het 32 polisiestasies oor die hele Pretoria bedien, en werksaamhede het nou aangesluit by die pligte van die moord- en roof-speurders onder Suiker se bevel. Schutte verduidelik: “Die moord- en roof-ouens was altyd daar, hulle was altyd op die lug as jy bystand nodig gehad het. Ons werk was eintlik meer gefokus op die slagoffers.”

Stefaans, jy hoef nie te antwoord as jy nie wil nie. Jy was self betrokke by die berugte Wit Wolf-groep, waaraan ’n hoofstuk in die boek gewy word en jy self ook ’n boek geskryf het. Het jy ooit in hierdie tydperk self met Suiker te doen gehad? En indien wel, wil jy dalk iets daaroor vertel?

A: As ek namens Stefaans hier mag antwoord: Stefaans het my ongelooflik baie gehelp met die aanvanklike navorsing oor verregse groepe en die Israelvisie. Ons het egter besluit dat daardie gedeelte van Stefaans se lewe in sy biografie, Wit Wolf,  gedek is en met die skryf van ons boek oor Suiker Britz het dit ’n nuwe era in sy lewe ingelei, ’n paadjie weg van sy vorige lewe. Ons wil dus volstaan daarmee dat hierdie boek uit ’n nuwe perspektief geskryf is.

Is daar soortgelyke figure wat julle interesseer vind en wat julle in die toekoms ook graag in boekvorm tot lewe sal wil bring?

S: As jy wil weet watter speurders legendes is, vra gevangenes, hulle weet. Ek sou bitter graag Slang van Zyl of Mike Bolhuis in ’n boek tot lewe wou bring. Ek het ook tot dusvêr vir Marlon Appollis en Stephen Adams (sover as moontlik) gevolg; die twee is legendes.

A: Ek wil dalk eers wegfokus van polisie-aangeleenthede en wil my hand aan ’n ander skryfprojek waag.

  • 2

Kommentaar

  • Het saam met Suiker Brits as tikster gewerk vir 5 jaar, en het talle sake wat nie tot vorendag gekom het tot die sake in die hof voorskyn het nie, in die veiligheid van my huis verklarings getik sodat niemand weet wat word ondersoek en teen wie die ondersoek is. Dit was lekker, opwindend en geheimsinnig, tot my man mag nie geweet het wat ek tik nie. Alhoewel hy ook in die polisie was, moes dit 'n geheim bly. Ek het respek vir hom gehad as bevelvoerder, en het na ek weg is by Moord en Roof, altyd sy kaliber as 'n bevelvoerder gesoek en moet ek sê, daar was niemand wat sy integriteit, lojaliteit en respek vir sy personeel in sy skoene kon volstaan nie. Briljante man. Ek het ook die misdaad album begin, die tas huis toe gevat en alle fotos en verklarings by mekaar gebring om sodoende die briljante werk wat deur die Moord en Roof-eenheid ondersoek word in 'n album kon saamvat. Daar was dae dat die tas en boek onder die bed ingestoot is want dit was emosionele foto's en verklarings, en na 'n week of twee weer uitgehaal word om dit verder saam te vat. Dit is 'n tyd in my lewe wat ek altyd sal onthou. Het nog glad nie die boek gelees nie, en sal graag die boek wil bekom om ook my geheue te verfris in my tyd as personeellid in die Moord en Roof-afdeling te herleef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top