Skrywersonderhoud: Kobus van der Westhuyzen oor Landbouweekblad: Hart tot hart

  • 0

Kobus van der Westhuyzen praat met Naomi Meyer oor sy grootdrukboek, Landbouweekblad: Hart tot hart.

Titel: Landbouweekblad: Hart tot hart
Skrywer: Kobus van der Westhuyzen
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321916

Kobus, die boek is geestelike bepeinsinge vir elke dag van die jaar. Is die boek net vir boere bedoel, of wie het jy in gedagte gehad toe jy die boek geskryf het?

Ek het aanvanklik met die ander boeke wat dit vooraf gegaan het, Die aarde nuut en vry en Daar is geen einde aan sy liefde nie, gefokus op die boere, want dis stukkies wat ook in Landbouweekblad verskyn het. Die groter leserstal is mos maar boere. Toe was daar so ’n goeie reaksie van mense wat nie boere is nie, maar met ’n sterk boere-agtergrond. Dit is vir my opvallend as jy met mense gesels, jy gesels nie lank nie dan sien jy daar is ’n boere-agtergrond. Toe besluit ek om dit oop te maak. ’n Boer se behoeftes is baie keer ook ’n ander mens se behoeftes. Toe ek hierdie boek geskryf het, het ek nie net aan boere gedink nie. Ek het meer gedink aan aktuele aangeleenthede wat ons almal raak. Wat vir my, soos ek ouer geword het, al hoe meer geraak het.

Wat dink jy lê boere die naaste aan die hart? Mens sou amper kon dink dat ’n mens nie ’n boer sou kon wees sonder om geloof te hê nie, of hoe? Waaroor bekommer hulle hulle die meeste, na jou mening? Is dit grondhervorming, droogte, of siekte of gevare weens isolasie op ’n plaas, of geld? Of wat is alles in hulle gedagtes, as jy dink aan gesprekke wat jy met boere het? 

Die groot ding wat maar die afgelope paar jaar die boere vasdruk, is die droogte-kwessie. Ek dink ook ’n bietjie die grondkwessie tot ’n mate. Hoewel die ingeligte boer besef hulle kan nie té rof aangaan met die grond nie, want die grond moet kos gee vir die land. Ek dink hulle besef dit. Grondhervorming is nie in my ervaring so ’n groot bekommernis by boere nie, maar jy kan nie baklei teen die natuur nie. Jy moet vandag heeltemal ’n nuwe denkwyse oor die boerdery hê as jy wil aanhou boer. Tewens, as jy kyk hoeveel naweekboere daar is – dit is mense wat lankal besef het hulle kan nie op die boerdery alleen leef nie. Daar is mense wat dink dit is ’n lekker betalende beroep, maar boerdery is nie vir sussies nie. Die boere kry swaar. Die kleiner plasies is al met die jare uitverkoop. As jy nie vandag op grootskaal boer nie, dan moet jy tweekeer dink oor boer. Jy kan gaan speel as jy die geld het, maar jy moenie dink jy gaan lewe daaruit nie.

As ek met boere praat, en ek het familie en ’n seun wat boer, en ek sien wat hulle moet spandeer om net die diere aan die gang te hou. Dis nie meer soos in die ou dae waar ’n skaap is ’n skaap en ’n bok is ’n bok nie. Die mense werk deesdae met kwaliteit vee. Asjy daardie goed verloor wat deur ’n geslag opgebou is, waar gaan jy dit weer kry? So die boere besef jy moet die goed aan die gang hou en maar kos koop en as daar nie geld is nie, moet jy skuld maak. Jy kan ook net tot op ’n sekere punt skuld maak, dan wil die ouens ook nie meer vir jou geld leen nie. Dit is ’n ander vorm van lyding waarmee hulle te doen het. Hoe staan ek vanoggend op? Hoe gaan slaap ek vanaand as ek nie weet hoe gaan 1 000 of meer skape, ooie en bokke kos kry as jy dit nie het nie? Dit is ’n diere-bekommernis en ek dink daar is baie boere wat vandag hulle grond sal verkoop as hulle net ’n ordentlike prys daarvoor sal kry. 

Ek kom al hoe meer agter die ouens boer omdat dit vir hulle ’n liefhebbery is. Hulle kan nie loskom nie, hulle is verslaaf daaraan. Dit is amper soos ’n diamantdelwer. Jy kry dalk nie vandag ’n diamant nie, maar dan gaan jy maar more weer terug en dan sif jy maar weer deur daardie grond, want jy leef in die hoop dat jy dit eendag gaan kry. 

“Die groot reën kom nog,” is die gesegde waarmee boere mekaar moed in praat. “Toemaar, die groot reën kom nog.”

Landbouweekblad is 100 jaar oud. Wat dink jy het oor die jare verander en wat het dieselfde gebly? In boere se lewens, en as dit kom by geestelike sake?

As ek nou terugkyk op my eie lewe, wat nou ook al ’n klompie jare strek en ek kom ook self van ’n plaas af, ken ek die soet en die suur van ’n plaas. Baie boere se seuns het nie verder gaan studeer nie en die pa het nie altyd besef dat hy nie die plaas, wat reeds nie ’n groot ekonomiese eenheid is nie, gaan verdeel nie. Dan maak dit dit onmoontlik vir die kinders om te boer. Dit het nie altyd gebeur nie. So jy het op baie plekke gekry dat plasies klein was, dit was onekonomies en daar was nie kans om te ontwikkel en groot te gaan nie. Vandag is dit nie meer so nie. Vandag boer boere dikwels as deel van ’n groter eenheid.

Ook die kinders wat gaan boer, moenie dink hulle kan net plaas toe gaan, op ’n trekker klim en boer nie. Hulle moet kundig wees, Boerdery is vandag ’n wetenskap en as jy nie gewillig is om te leer nie en die beste metodes te vorm en die beste keuses te maak nie, dan gaan jy dit nie maak nie. Boerderye het gemoderniseer. Daar het wonderlike aanpassing plaasgevind. Ons het goeie boere in Suid-Afrika, regtig.

Rakende wat dieselfde gebly het kry ek by boere daardie sterk geloof. Jy kan nie boer as jy nie glo nie. Daar is sekeres wat nie so dink nie, maar die meerderheid is wel. Hulle is nie net aardsgebonde nie, hulle is ook Godsgebonde. 

Is daar verskillende temas ter sprake (boek se indeling)? Of hoe is hierdie boek saamgestel?

Ek het maar stukkies geselekteer wat ek gedink het aktueel is vir alle mense om te lees. Tog as jy oplettend lees sal jy op herhalende temas afkom. Daar was dinge wat my sterk aangespreek het, hoe ouer ek geword het. As iets jou innerlik aanspreek is daar die geneigdheid dat dit uitkom op ’n manier. Ek het die wonderlike voorreg gehad, wat Landbouweekblad my gegee het, om daardie dinge ook in hierdie rubriek te laat uitkom. 

Een ding was die swak bestuur van die planeet aarde wat God vir ons gegee het. Of jy nou glo in die skeppingsverhaal of nie, dit is ’n belangrike punt dat toe die Here die mens gemaak het, het Hy hulle totaal anders gemaak as enige ander skepping. Hy het vir die mens ’n redelike en ’n sedelike bewussyn gegee. Hy kan onderskei tussen reg en verkeerd. Hy het vir die mens ’n Godsbewussyn gegee en vir hom gesê dat die mens anders gemaak word. Hy het vir die mens ’n opdrag gegee en dit is dat die mens Sy verteenwoordiger op die aarde is. Jy kan in Genesis daaroor lees. God gee aan ons bestuurskap. Hy gee dit nie aan die primate of ander diere nie, maar die mens. Dit is ’n besonderse verantwoordelikheid en as ek nou vandag moet punte gee aan my geslag, my Homo sapiens, vir hoe hulle hierdie opdrag uitgevoer het, jong, dan gee ek hom ’n baie lae punt. Ons het werklik swak gedoen in ons verhouding tot die natuur. Ons het soveel verkeerde besluite geneem wat die aarde verniel het. As jy kyk hoe lyk ons riviere, hoe ons ontbos, ons water is besmet, ons grond is verspoel. Ek dink die Here huil as hy sien wat ons aangevang het. Dit is beslis ’n tema in die boek.

’n Ander ding wat jy ook sal optel wanneer jy die boek lees, is ons soeke na ’n oplossing vir ons probleme in Suid-Afrika. Ons het ’n land wat geweldige wonderlike potensiaal het, maar ons het ’n land wat so swak bestuur word dat ons nie by die werklike oplossing uitkom nie. Dit het vir my duidelik geword in my roeping as predikant, wat ten nouste met die opvoeding en onderwys saamgehang het. Ek was my lewe lank daarby betrokke en ek kan nie verstaan, en ek verstaan al minder, dat ons nie kan besef waar die probleem in ons land lê nie. Ons wil hier van bo af met mekaar baklei en waaroor? Ons baklei nie oor beginsels nie. Ons baklei oor belange. Ons politiek is belangepolitiek. Nou kom ons en ons soek na oplossings. Kyk hoe lyk ons onderwys. Ek kry ons kinders so jammer. Dit verbaas my nie dat hulle baie dinge aanvang wat my hare laat rys nie. 

Ek sê dit nie sonder my waardering vir die talle onderwysers wat wonderlike werk doen nie, maar daar is leerkragte wat nie eens betyds opdaag om vir die kinders skool te gee nie. Skole wat laat begin, mense wat nie ’n kundige op hulle vakgebied is nie, want onderwys is tog die oordra van die kundige tot die nie-kundige. As jy dit nie het nie, hoe dra jy dit dan oor? As jy gaan kyk na die statistieke, is dit absoluut skokkend. Dit is ’n tema wat jy ook sal raaklees. 

’n Laaste ding, wat my in my eie bediening soos ’n mislukking laat voel het en steeds voel, is hoe spreek jy die tema van lyding aan. Lyding is ’n werklikheid en dit verskil. Ander se lyding is dalk groter. Baie mense dink dominees moet die antwoorde hê en dalk moes ons die antwoorde beter gehad het. Ek het dit blykbaar nie goed gehad nie, want ek het so skuldig gevoel wanneer iemand na jou kom en vertel wat met hulle of hulle kinders gebeur het. Ek hoef nie eers stories te vertel nie. Jy kan net die koerant oopmaak dan kan jy sien die verskriklike goed wat met klein, onskuldige kindertjies gebeur. Dan kom mense na jou toe en hulle dink jy kan hulle help. Dan vra hulle jou: “Dominee, waar was God? Hoekom het Hy dit toegelaat?”

En dan moet jy antwoorde kry en jy het dit nie. Ek behandel dit ook in hierdie stukkies – nie dat ek ’n antwoord het nie, maar om te bely dat ek wel nie het nie. Ek weet nou nog nie. Miskien sal dit een van die eerste vrae wees wat ek eendag vir die Here sal vra wanneer ons van aangesig tot aangesig kom.

Wat is jou agtergrond en wat was jou betrokkenheid by boere en by die Landbouweekblad oor die jare?

Ek het ’n boere-agtergrond. Ek kom van ’n plaas wat ses geslagte in die familie was. Ek is gebore en grootgemaak op daardie plaas. My eerste twee gemeentes was ook plattelandse gemeentes. So ek het van kleins af met boere te doen gehad. Ek het nie net vir hulle gepreek nie, maar ek was saam met hulle in die veld.  Ek het saam met hulle gejag en baie dinge gedoen wat ons verhouding op ’n ander vlak geplaas het omdat ek self iets van boerdery geweet het. Ek het as student ’n kursus in graangradering voltooi en vakansies het ek gaan werk en dan werk jy met boere. Op ons eie plaas kon jy as student vakansie hou, maar jy moes deel hê aan die boerdery. Jy moes soggens die koeie gaan melk en ons het nie masjiene gehad nie. Met sulke en etlike ander dinge het ek ’n nou verhouding met boere gehad.

Boere sou my, byvoorbeeld, soggens vroeg bel terwyl ek nog slaap net om te sê hulle het ’n lekker reëntjie gehad. Dan wil hy praat, want hy is bly. Ek dink ek kan oor die boere praat omdat ek met hulle gepraat het en saam met hulle geleef het en toe ek die kans kry om vir Landbouweekblad die Hart tot hart-rubriek te behartig. Toe het die destydse redakteur vir my baie uitdruklik gesê ek moet tot die boere se harte praat sodat hulle my kan verstaan. Ek moenie vir hulle ingewikkelde preke gee nie. Hulle is nie lus daarvoor nie. Hulle wil uit die hart praat. Dit was ’n wonderlike voorreg wat Landbouweekblad vir my gegee het en die stuk of agt redakteurs met wie ek gewerk het. Dit het my gemeente seker die grootste in Suid-Afrika gemaak. Ek het mense leer ken al het ek hulle nooit gesien nie, maar ons het met mekaar gesels asof ons ou vriende is, want ons het dieslfde taal gepraat, letterlik en figuurlik. 

Wat is die vreugdes van boerdery en die belangrikheid daarvan in Suid-Afrika?

Die vreugdes sal elke boer seker vir jou kan sê – dis mooi as jy ’n land gesaai het en dit staan pragtig, en as die sybokkies uit die diptenk gejaag word en hulle begin hardloop. Dit is ’n mooi gesig wanneer die veld groen is en die skape gaan uit en hulle speel wanneer die son ondergaan. Dan gaan staan ek daar om vir ’n tyd lank net die skouspel te aanskou. Dis mooi dinge van die boerdery.

Oor die belangrikheid van boerdery kan ek nie vir jou genoeg sê nie. ’n Land, veral soos ons s’n wat gebuk gaan onder armoede, gaan moeilik bestaan as mense nie iets kan eet wat hulle self produseer nie of as dit nie op ’n billike manier aan hulle verskaf word nie. Suid-Afrika het ’n besondere sterk behoefte aan ’n sterk landbou-sektor. Ons kan nie baklei oor grondhervorming en al sulke goed as ons nie eers seker maak dat daar genoeg kos vir die mense is nie.

Enige mens moet kan sien hoe belangrik boerdery is en die regering gee en doen bitter min. As jy sien hoe hulle in ander lande die boerderye subsideer, veral in moeilike tye. By ons is daar min daarvan.

Waarom vandag, in 2019, boer en ook elke oggend of elke dag ’n dagstukkie lees en daaroor nadink?

’n Mens kan nie lewe sonder voedsel nie. Daar is die voedsel wat ons almal ken en dis die kos wat jy eet. Maar daar is ook ander voedsel, daar is ook geestelike voedsel. As jy nie daardie voedsel kry nie, gaan jy swaar kry en nie weet waarnatoe nie. Elke mens soek ’n adres om by te gaan sê “help my” as jy voel jy gaan sink. Die stukkies in die boek het daarvan kennis geneem. Partykeer was dit net ’n geroep saam met die boere om te sê “Here, ons is in die nood, help ons”. Ek het ook baie wonderlike, waarderende reaksie van mense gekry, wat gesê het hulle was tot teen die grond gedruk en het nie geweet waarnatoe om te gaan nie. Toe maak hulle ’n Landbouweekblad oop en lees die stukkie wat ek geskryf het en kon weer opstaan en weet hulle het ’n God wat lewe en Hy sal hulle dra. Ek dink Landbouweekblad het op hulle eie manier ’n wonderlike bydrae gemaak om ons boere in tye van nood by te staan en aan te moedig. 

Moed, mense, hou moed:
Die kwaad sal verander in goed -
Die môrelig kom uit die duister!” 
 – C Louis Leipoldt (1980)

Wat is vir jou die diepere betekenis en sin van die lewe?

Ek dink dit word vir ons baie mooi weergegee in die samevatting van die Wet. Jy moet God liefhê bo alles en almal en jou naaste liefhê soos jouself. As ons dit doen, sal ons ’n wonderlike wêreld hê. Die liefde is so diep, dat jy jou lewe vir iemand anders sal gee. Ek kan niks beter kry as dit nie en dit was en is my strewe om te lewe volgens die eise wat die Here vir my stel en om iets vir my medemens te beteken. Om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak omdat my Skepper ’n verskil in my lewe gemaak het. Dat mense kan sê, hy het iets beteken, hy het ’n verskil gemaak, hy het iets probeer skep, hy het probeer heelmaak wat ander gebreek het, hy het probeer versoen waar ander kwaad gestook het. Ek kon niks dieper as dit kry nie. Jou menswees moet kwaliteit wees en die standaard van daardie kwaliteit gee Hy vir ons in sy Woord. Hy sê vir ons hoe om te lewe. Dan sal jy sien hoe dit van jou werklik die mens maak wat God wil hê jy moet wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top