Skrywersonderhoud: Karen de Wet oor die bloemlesing Vers & vrou

  • 4

Foto van Karen de Wet: verskaf

Vers & vrou
Karen de Wet (samesteller)

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180665
Epub ISBN: 9780798180672

Hallo Karen. Baie geluk met die verskyning van Vers & vrou. Dit is ’n omvattende en indrukwekkende bloemlesing. Die bloemlesing word beskryf as “’’n Versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef.” Wat het jou laat besluit om hierdie enorme projek aan te pak?

Dankie, Remona. Ek hoop jou woorde word waar – dat die gedigte in die bloemlesing indruk maak, dat dit lesers nie net raak nie, maar ook beïndruk.

Daar was verskeie aanlope tot die projek. Ek het begin kyk na verteenwoordiging in bloemlesings, waarvan ons ’n stewige tradisie in die Afrikaanse poësie het, van die omvangryke literêr-historiese titels tot die uiteenlopende tematiese versamelings. So die vraag was: wie word opgeneem in hierdie bloemlesings? Soos wat ek begin kyk na watter vrouedigters opgeneem word (en dus natuurlik ook gekanoniseer word), besef ek dat daar ’n bibliografie vir digbundels bestaan, en ’n tematiese lys vir beeldgedigte, en tematiese bloemlesings, maar daar is nie ’n bron wat vrouedigters lys nie. Daar is geskryf oor vroue in die Afrikaanse letterkunde en in die prosa het meer as een bundel verskyn waarin verhale deur vroue byeengebring is – maar nie in die poësie nie. Dit is egter natuurlik ook ’n kunsmatige onderskeid om van vrouedigters te praat. Baie digters beskou hulself as digters en stel dit ook so. So die idee met die samestelling was nie in die eerste plek gefokus op ’n verteenwoordiging van digters wat vroue is nie, dit was ’n tematiese fokus. Wat word geskryf oor vroue, en dan eers die déúr vroue ook. In die poësie word ’n besonder eerlike blik op die vrou gegee. Wie is sy, daardie vrou? Hoe lyk die vroue in die poësie wat vroue skryf. Hoe lyk die wêrelde, die leefwêreld, maar ook die bewussyns- en beleweniswêrelde van die vrou – en hoe lyk dit in die gedigte van digters wat ook vroue is. Natuurlik skryf digters wat mans is ook gedigte oor vroue, maar dit bied dan ’n heel ander perspektief: interessante stof vir nog ’n versameling! Maar die keuses in Vers & vrou wou ’n boek bied wat rapporteer oor vroue en wat hulle raak en beleef. Die bundel gedigte is soos legkaartstukkies wat deel word van die vroulike blik, not the male gaze, as jy wil. Dit word ’n weergawe van die representasie van vroue in die Afrikaanse poësie. En die waarheid is dat, ook in vroeëre literatuurkritiek, verse deur vroue wat oor sake wat as behorende tot die domein van die vrou gesien is, nie noodwendig as “ernstige” of “goeie” of “intellektuele” poësie beskou is nie. Natuurlik is die aanslag en aard van die “soort” gedigte in ’n tematiese bloemlesing heel uiteenlopend, maar ek hoop die gedigte praat namens hulleself en neem stelling in teen sienings wat dit “minder”ag, of selfs minag.

Hoe gaan ’n mens te werk met so ’n groot aantal gedigte deur soveel verskillende skrywers? Hoe lank het dit jou geneem en wat was jou proses?

Mens lees. Jy lees van voor tot agter en van kant tot wal. Aanvanklik het ek aan die projek gedink as ’n blik op die eietydse, die stemme van vroue ná 2000 dus. Dit was die uitgewer wat voorgestel het dat die projek by die begin van die vrouedigters gehaal word. Ek kan eerlik sê dat ek elke enkele bundel deur vrouedigters wat ek kon opspoor deurgelees het. En dit was in die orde van 350 bundels – bietjie meer, bietjie minder, heelwat dikker, dan weer dunner. Ongeveer 50 hiervan was selfpublikasies of uitgawes wat gepubliseer is deur uitgewers wat nie primêr in die letterkunde of poësie spesialiseer nie, en hier en daar moes ek staat maak op ’n bundel versamelde gedigte waarvan ek nie die oorspronklike onder oë kon kry nie. Maar dit is min of meer hoeveel digbundels deur vroue in Afrikaans geskryf is. Die aantal vrouedigters is moeiliker om te tel – wanneer sluit mens ’n digter in? Volgens die tradisionele siening van eers wanneer ’n solobundel gepubliseer is? Waar trek mens die streep? Selfpublikasies? Digters wat in tydskrifte publiseer? Digters wat kindergedigte publiseer? Digters wat in die vele verskillende soorte bloemlesings opgeneem word? Maar ek sou sê mens kyk na ’n getal vrouedigters in Afrikaans van tussen 100 en 150 – afhangende waar jy die grense vir die definisie van “vrouedigter” trek. Deur die loop van 85 jaar. Dit is hoe jonk die vrou aan die woord in die Afrikaanse poësie  is, dit is hoeveel stemme daar is.

Mens lees natuurlik met jou tematiese bril. Dit maak nie saak hoe skitterend of aangrypend of bekend of tipies ’n gedig van ’n spesifieke digter presenteer nie, as dit nie oor die tema handel nie, kon dit nie oorweeg word nie. Die wonderlike ding is dat daar op hierdie manier ’n prent van die landskap van die poësie oor vroue voor jou, die leser, se verblyde oë ontstaan. Mens word dus meer as ’n versamelaar – jy organiseer, jy teken op, jy begin notas by gedigte maak oor die inhoud, oor die temas en as jy terugstaan, lê die skildery daar. Die gedigte meld die temas aan, dit is die gedigte wat die representasie van die vrou in die Afrikaanse poësie illustreer.

Die uitdaging is natuurlik dan dat daar ’n beperkte aantal bladsye beskikbaar is waarin mens ’n beperkte aantal gedigte aan die woord kan stel. Mens kan die inhoudsopgawe van ’n hele tweede bundel opstel met gedigte wat ook ’n opinie en ’n wonderlike lees en ’n eie sê oor die onderwerp het. Hierdie versameling is nog lank nie die enigste illustrasie wat van die tema gemaak kan word nie.

Kan jy meer oor die struktuur van die bundel vertel? Hoe het jy die gedigte ingedeel?

Terwyl ek gewerk het was ek diep onder die indruk oor hoe daar uit die gedigte van letterlik generasies vroue, en wat in lewensiening en ars poetica selfs hemelsbreed van mekaar verskil, hierdie duidelike representasie van ’n verskeidenheid vroue na vore gekom het. So teen die tyd dat die aantal gedigte vasgestel was wat in 300 bladsye sou pas, het mens begin kyk na samehange en dan tree jy weer terug en kyk uit vir ’n geheelindruk. Waaroor skryf die vroue? En dit het dan ook uit die gedigte geblyk: Oor uitdagings wat hulle, spesifiek as vroue, in die gesig staar, soos oor hoe om vrou en ma te wees, hoe om digter en ma, hoe om digter en vrou en huisvrou te wees. Wat om aan die geliefde te sê – mooi woorde en afsê woorde en woorde van bevryding. Die bewussyn van die vrou as oermoeder en as matriarg is ’n ander uiterste hiervan: die see is ’n vrou, die aarde is ’n vrou, vroue is die oermoeder. Dit is ook nie verniet dat ’n studie van sogenaamde laatwerk gedoen word nie: Digters skryf oor sake wat nou hulle aandag verg of wat hulle interesseer in die hier en nou van hulle lewens. As dit verliefdheid of die liefde is, daaroor. As dit erotiek is, dan die gedigte oor die Venusse en die Aphrodites, die verleidsters, die minnaresse, die vele gedaantes van die femme fatale. Dalk is die gedigte waarin die geliefdes beskryf en besing en beswadder word, van my gunstelinge in die bundel. Ja, dit spreek verhoudings aan, of druk erotiek of onderdrukking of misbruik uit, maar ’n mooi liefdesgedig bly ’n aangrypende lees.

Dan is daar gedigte wat verslag gee oor oorgangsrites – al daardie, amper sê ek magiese, al daardie sensitiewe, magiese, gedigte oor jong meisies, virgo’s kan mens sê, op die rand van vrouwees of volwassenheid. Natuurlik dan ook gedigte oor kinders, of die ingrypende van nie kinders te wil of kan hê nie. En dikwels is daar gedigte oor die self: Ek is hier, ek is bly, ek is op die rand van ’n afgrond, ek is te na gekom, ek moet veg teen wat my wil verswelg of misken of mishandel of verwerp. Ek is ’n ma, ek het ’n ma, ’n ouma, ’n kleinkind. Ek het ’n pa. Interessante groep gedigte daardie, oor die vroue en hulle pa’s. ’n Verdere uitloper van bewussyn as vrou, kom met die ouderdom: my liggaam faal my – ek word siek, ek word oud, ek word deur die dood gekonfronteer. So, ja, mens sou kon sê dat lewensfases waardeur vroue beweeg enigsins die afdelings in die bundel gerig het, maar nee, nie uitsluitlik en rigied nie. Dit is waarom daar nie afdelingstitels is nie, maar wel motto’s. ’n Paar reëls wat iets suggereer van die gedigte waarna die leser in daardie afdeling op soek kan gaan. Natuurlik laat gedigte hulle ook nie somaar van etikette voorsien en netjies verpak nie. ’n Gedig oor ’n ma kan ook ’n gedig oor die dood wees, ’n gedig oor ’n huisvrou kan eroties wees.

Watter vrouedigters het ’n groot invloed op jou as mens gehad en ook jou belangstelling in die letterkunde geprikkel? Is daar enige gedigte deur ’n vrou wat jy oproep as jy aan die begin van jou loopbaan dink?

In my honneursjaar het Tom Gouws die keuses gemaak wat my formeel tot die poësie sou inisieer – die vroue was die digters van Lady Anne, Die anatomie van melancholie, Groenstaar, Vir die bysiende leser, Liedere van land en see. Dit was die begin.

Dit is onmoontlik vir my om hier ’n lysie te begin maak, maar ek is bly jy verwys na daardie gedigte wat ’n invloed het op mens se sienings en menswees. Want dit is waartoe ek hoop die gedigte in Vers & vrou kan bydra. Gedigte wat uit die oeuvres van digters van baie dekades gelede tot nou, iets kom sê oor vroue – en dat dit hopelik ’n impak op ons sienings van vroue sal hê. Soos op ons menswees.  

Maar ek kan een insident deel. Ek was sestien en ’n plattelandse kind. En ja, soos vele kan ek daardie een onderwyser wat my bekendgestel het aan die poësie, noem: mevrou Regina Terblanche. So skryf sy my in vir die Afrikaans olimpiade. Kyk, ek het nie ’n benul gehad nie. Maar ek het gelees en ek het die liefde gehad. Tot vandag kan ek nie sê wat anders in daardie vraestel was en of ek pligsgetrou geantwoord het nie, maar ek kan die gedig opsê. “Virtuoos” van Antjie Krog. Ek was verstom – “plakkaat” is ’n werkwoord. Ek moes ten alle koste so gou as moontlik ’n klavieruitvoering bywoon. Waar ’n virtuoos speel. Ek moes sien en kon beleef wat maak dat ’n digter ’n reël kan opskryf soos “jou hande wat soos ’n fontein oopbreek en klanke laat spoel”.  Ek wou sien hoe die pianis opstaan “en aan die einde / ... die gehoor soos ’n mantel van (hom) gooi”.

Wat was vir jou van die grootste gewaarwordings in terme van gedigte oor vroue deur vroue oor die laaste paar dekades?

Die bevryding dat oor die geliefde en die liefde geskryf kan word soos wat dit is en beleef word – en nie net eufemisties, in verhulde gedaantes of volgens sogenaamde “verwagtinge” nie. Die bevryding en verruiming dat jong digters die durf het om stem te gee aan die stemlose. En ook dan stem gee aan die woede daaroor, oor daardie ylende verlies aan stemme wat nooit gehoor is nie. Dat hulle nie wegskram nie, is wat ons, as die armoedige lesers, verryk. Die in besit neem van die reg om ook onreg (apartheid, mishandeling, verkragting) te ontmasker, bloot te lê, in en deur die poësie te besê.

In hoe ’n mate het tendense onder vroueskrywers oor die afgelope paar dekades verander? Het jy gevind dat variasies op sekere temas jare later steeds weerklink, miskien net in ’n ander gedaante?

Ek sou graag sien dat die boek as ’n eenheid, ’n tematiese eenheid met verskeidenheid, indruk maak. Sodat uit die groot verskille in terme van generasies en sienings, tog ’n lewensgetroue representasie uit die woorde blyk, na vore tree. Beslis kan mens nie ontken dat sake wat vroue na aan die hart lê, of waarmee hulle gekonfronteer word omdat hulle mense is wat vroue is (met insigte en uitsigte, met beroepe en huishoudings, met geliefdes, voorgeslagte en nageslagte, en wat onderdrukking en bevryding en die verval van die lyf beleef, wat mismoedig of woedend word) deur generasies heen en in verskillende stemme bly voortklink nie. Dit sou mens dan identifiseer as ’n tema. Maar ek sou nie dink aan tendense onder digters wat vroue is nie, en veral nie in sogenaamde “periodes” nie: die verskille in benadering, styl, versvorm en inhoud is te groot. En natuurlik is daar die impak van al die uitstekende, ingrypende en aangrypende gedigte en soorte gedigte deur digters wat vroue is en wat nié oor vroue handel nie!

Hoeveel vrouedigters se werk is in Vers & vrou opgeneem? En is daar moeite gedoen om werk wat voorheen in ander bloemlesings opgeneem is, uit te laat en eerder plek te maak vir nuwe stemme? (Ek dink hier aan ’n gedig soos “Ma” deur Antjie Krog – jy verwys ook daarna in die voorwoord).

Hoe graag sou mens nie gedigte oor hierdie tema deur al die vrouedigters in Afrikaans wou opneem nie! Maar dit kon nie. En ja, soos jy sê, dit was sinvol om daardie gedigte wat wel oor die tema handel, en dalk ook geliefd en bekend is, maar telkens in ander versamelings ook opgeneem is, te laat ruimte maak.

Vers & vrou is ook nie ’n literêr-historiese bloemlesing waarin verteenwoordiging, byvoorbeeld, voorop staan nie. Maar die feit dat ongeveer 71% van vrouedigters met enkelouteur-bundels in hierdie tematiese bloemlesing opgeneem kon word, die werk van 67 digters, is ’n groot bonus. Lina Spies het in 1999 ’n bundel verse deur vrouedigters saamgestel. In daardie jaar was daar, sedert Eybers in 1936, ongeveer 54 vrouedigters wat enkelouteur-bundels by hoofstroomuitgewers uitgegee het. Die verteenwoordiging van hierdie digters in die bundel was 43% – 23 digters is opgeneem. Mens kan nie die twee bloemlesings vergelyk nie – Spies se Sy sien webbe roer het nie die tematiese fokus van Vers & vrou nie, maar is dit nie wonderlik insiggewend nie om te besef dat, in die maar twee dekades sedert die nuwe millennium, die aantal vrouedigters in vergelyking met die vorige eeu se ses en ’n halwe dekades (1936 tot 1999) bykans verdubbel het tot ongeveer 100 (of 150 met selfpublikasies en nie-spesialisuitgewery ingesluit), en ook om te sien dat ’n groter persentasie van hierdie digters in Vers & vrou aan die woord kan kom.

As jy ’n paar móét uitsonder – watter jong vrouestemme maak jou opgewonde?

Is daar nie ’n anekdote dat ’n koningin gesê het ’n vrou hoef niks te móét doen nie?

Al die jong vrouestemme en al die nuwe laatwerk, maak my opgewonde. En ek sê dit nie in ontduiking nie. Vers & vrou is nie literêr-histories, insluitend, omvattend of evaluerend van aard nie. Dit is vir my baie waardevol om te beskryf – om te probeer wys wat mens kan sien, wat gebeur. So, sedert ons die nuwe millennium binne is, is daar inderdaad ’n hele aantal digters wat onder, of rondom, die ouderdom van dertig debuteer (interessant nè, dat ons “jong digters” sedert onlangs nou daardie ouderdom is) en vrou is en wat heerlike interessante werk lewer (kyk hoe mooi orden ek alfabeties!): Aniel Botha, Gaireyah Fredericks, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer, Juanita Louw, Jolyn Phillips, Shirmoney Roode, Bibi Slippers, Hilda Smits, Carina Stander. En dit woel in die geledere van Nuwe Stemme en Ons Klyntji – Angie Gallagher, Erentia Bedeker, Trudie Coetzee, Annami Mailovich, Ingrid Penzhorn, Donnay Torr, Elodi Troskie, Elmarie Viljoen-Massyn, Remona Voges, Chrystal Williams. Dit is twintig digters wat vroue is en wat sedert die nuwe millennium aan die dig en publiseer is. Daar is baie om te waardeer en baie om na uit te sien!

Wat is die rol van digkuns vir jou? Dien dit steeds dieselfde doel as ’n dekade gelede?

Ai, die poësie. Mens kan jou op die klassieke uitsprake verlaat, of op die verskeidenheid insigte in kunsteoretiese gedigte, mens kan die debat betree oor kuns ter wille van die kuns en kuns in diens van stryd, maar op die ou end is dit die persoonlike ervaring van ’n leser in wie se brein ’n ster verskiet, in wie se hart ’n splinter steek, deur wie se oë ’n heelal breek. Dit is wat die poësie doen. Van ons mense maak. Meelewendes, mede-verantwoordelikes, denkendes wat leef en voel. En dit is hopelik waarvoor die gedigte in Vers & vrou gelees wil word, voorgelees en oor gepraat kan word. ’n Boek om aan te gee.

  • 4

Kommentaar

  • Karen, van harte geluk met 'n bundel voortreflike verse en Remona, baie geluk met 'n
    skitterende onderhoud.

  • Avatar
    Zandra Bezuidenhout

    Karen, jy het 'n monument gebou wat nie gaan val nie. Veels geluk daarmee, en dankie vir jou ywer!

  • Zandra, baie dankie vir jou woorde! Ek hoop die bundel kry vlerke sodat die gedigte lesers kan bereik, in harte en breine kan kruip.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top