Skrywers oor hul nuwe boeke: Anna Emm vertel van Die storieverteller se boek.
Anna Emm – is dit jou regte naam? Ek kon ook gevra het: Het jy hierdie naam gekies, en indien wel, waarom?
My eerste naam is Anna. My tweede naam begin met 'n M – ek is dus eintlik Anna M. Toe ek destyds 'n bietjie televisiewerk gedoen het, moes ek besluit watter naam ek in die titels wou gebruik. Ek was pas geskei, so ek wou nie my getroude van gebruik nie, en ek wou nie teruggaan na my nooiensvan toe nie. 'n Vriend stel toe voor ek maak 'n van van my tweede voorletter. Die naam val lekker op mense se lippe, so dit het gebly!
Jy is bekend vir jou uitgewersmaatskappy wat kinderverhale uitgee. Vertel asseblief heel eerste van jou maatskappy.
Ek skryf al my hele lewe lank stories – dis al wat ek wou doen vandat ek kan onthou. In 'n poging om genoeg geld te genereer om vir myself die luukse van skryftyd te gee, het ek destyds 'n klomp kinderstories op CD opgeneem om te verkoop. Die oorspronklike plan was nooit om 'n groot maatskappy te bou nie, maar daar was so 'n groot behoefte in die mark vir kwaliteit-kinderstories in Afrikaans dat mense net aanhou vra het vir nog. So het ons uitgebrei na nóg en nóg produkte, en uiteindelik het 'n paar bekendes ook gevra om te kom stories voorlees. Die ding het net ge-"sneeubal" tot waar ons vandag die grootste vervaardiger van Afrikaanse kinderstories in die land is. Ons versprei glad nie deur winkels nie, maar het 'n netwerk van meer as 400 Anna Emm-agente wat ons produkte landwyd versprei. Daar is op die oomblik so 250 produkte in ons katalogus (boeke en CD's vir kinders 2–15 jaar), en ons is voortdurend besig om nuwe titels uit te gee. Ek het so al skrywende oor die jare op my tweede groot passie afgekom: entrepreneurskap! Ek is mal oor die sakewêreld, en geniet die besigheid-ding baie. Amper meer nog as die skryf!

Anna Emm (foto verskaf)
In jou agtergrondinligting op jou webwerf, sowel as in jou boek se persverklaring, skryf jy dat jy stories wou skep wat die wêreld sou verander. Glo jy elke storie het daardie krag? Watter stories het jy in gedagte (gehad)?
My storie met stories is 'n lang storie! Maar ek was altyd baie gevoelig vir die impak van woorde – die krag wat hulle het om te bou of af te breek. Stories gaan waar preke en medisyne nie kan gaan nie. Dit gaan deur mense se skanse – veral kinders s'n. Ek het lank terug al besluit dat daar sekere stories is wat ek nooit sal skryf nie. Daar is baie skrywers en besighede wat baie geld maak met sensasionele stories – stories wat ontstel en bangmaak en jou met 'n gevoel van depressie laat. Ek glo as jy die talent het om te kan skryf, moet jy dit gebruik om te genees en te inspireer. Die lewe is donker en "despressing" genoeg! So ja, elke (goeie) skrywer het die mag om te skep en te verander met sy woorde. Dit is sy keuse wát hy wil skep. Ek sê altyd 'n goeie storie kan dieselfde uitwerking op 'n mens se siel hê as 'n massering of 'n mooi uitsig of 'n ongelooflike stuk musiek. Dit kan inspireer en motiveer, dit kan voed en ook genees. Dit is waarom so baie sielkundiges stories gebruik wanneer hulle met kinders se einas werk. Dieselfde geld vir grootmense.
Jy, skrywer en skepper van stories, het ook ‘n storie. ‘n Ware een. Waarom dit neerskryf in Die storieverteller se boek?
Jong, dis 'n storie wat ek nie wou skryf nie. Wanneer 'n mens iets groots in jou lewe oorkom het wat baie moeilik en baie seer was om te oorkom, dan wil 'n mens nie teruggaan en dit herbeleef nie. Maar met die aanloop tot my 40ste verjaardag hierdie jaar het daar baie goed gebeur wat my laat voel het dit is tyd om hierdie storie te skryf. Ek het gevoel dat ek een keer weer moes teruggaan en dit alles gaan bymekaarmaak en in 'n boek neerskryf – vir myself en vir ander wat dit lees. Dit was 'n manier van sê "Dit is nou klaar." As iemand weer vir my vra oor my storie, kan ek sê: "Daar is die boek – lees dit." En ek hoef nie meer daaroor te praat nie. Ek kan aangaan met 'n nuwe storie.
Kan jy die kern van hierdie storie oordra sonder om alles daarvan te verklap?
Die storieverteller se boek is die storie oor die ongelooflike rol wat stories in my lewe gespeel het – hoe dit eintlik op 'n manier my lewe gered het. Dit gaan oor die pad wat ek moes loop om uiteindelik uit te kom by wie ek is en wat ek veronderstel was om te doen – my “roeping”. Dit is ook die storie agter die maatskappy Anna Emm wat my naam dra. Die "hoekom" van ons doen wat ons doen. Vir dié wat wonder.
Hoe reageer mense op jou storie – en dink jy sommige mense dink dalk jou ware verhaal rym nie met kinderstories nie?
Die reaksie op die boek was, en is steeds, vir my 'n bietjie oorweldigend. Die boek was oor 'n naweek meer as 1 000 keer van Amazon afgelaai nadat ons dit daar beskikbaar gestel het, en almal wat die boek gekoop het, vertel hoe hulle dit aangee vir vriende. Ek kry soveel boodskappies elke dag van mense wat húlle stories met my deel en vertel hoe 'n impak die boek op hulle gemaak het. Dis soms moeilik om te lees – mens dink altyd maar jou seer is net jou eie. Dat jy alleen was in jou seer. Dis oorweldigend vir my om te hoor hoeveel soortgelyke stories daar is, hoeveel mense skryf en sê "Maar dis dan mý storie!" Ons kom uit 'n generasie, ons ouerhuise, waar daar nie gepraat is oor goed nie. Daar is nou soveel mense wat skryf en sê "Dankie dat jy die moed gehad het om te praat." Die besef dat my lewe so oop voor mense lê, voel soms nog 'n bietjie ongemaklik! Dan sê ek vir my man: "Ek staan kaal voor die wêreld!" Sy antwoord is gewoonlik: "Jy bedoel ons staan kaal voor die wêreld!" Om die tweede deel van jou vraag te beantwoord: ek dink juis dat my storie geloofwaardigheid verleen aan wat ons maatskappy doen – aan ons kinderstories. My boek sê vir mense: "Dit is wie ek is, dit is hoekom ek doen wat ek doen, dit is waar my passie vir kinders vandaan kom". Die boek vorm nie deel van ons katalogus nie, maar mense kan dit op aanvraag by ons bekom, of dan nou van Amazon aflaai.
Ons almal beweeg deur verskillende vertrekke in ons lewens, maak deure oop en toe, gaan vertrekke binne, vermy ander, skop geheime deure oop. Hoe lyk jou kamer waar jy jou nou bevind?
Ons is op die oomblik in 'n opwindende tussentyd waar dinge rondom ons baie vinnig aan die verander is. Ons is nie meer 'n klein "start-up" maatskappytjie nie, maar ons is ook nog nie 'n reusagtige rolspeler in die bedryf nie. Ons is besig om van die een na die ander te beweeg, en dit bring pynlike groeiprosesse en opwindende veranderinge mee. Dis "scary", maar dis ook baie bevredigend. Ons werk al meer as tien jaar lank baie hard aan sekere deurbrake wat ons nóú sien gebeur. Ek is baie opgewonde om te sien wat kom.

Illustrasie: E Lanie
Dalk sluit hierdie vraag daarby aan: Jou oudste dogter is bekend vir haar illustrasies. Jou jongste dogter is bekend vir haar gesprekke oor die lewe, soos deur jou op Facebook geskryf. Vertel ons lesers van ma-wees?
Haha! Ma-wees is vir my een van die moeilikste rolle in my lewe – ek maak nie 'n geheim hiervan nie. Ek is bitter baie lief vir my kinders, maar ek is nie 'n natuurlike ma nie. Ek is nie een van daardie vrouens wat genoeg bevrediging uit ma-wees kry dat hulle niks anders hoef te doen nie. Ek moet gedurig my ma-wees balanseer met my ambisie en droom om iets groots hier te bou. Wanneer daardie twee wêrelde sáám begin sin maak, soos met Elanie wat vir ons begin illustreerwerk doen, dan raak dit vir my makliker. Ek is ma, ja, maar ek is ook Anna Emm. Na jare van skuldgevoelens en kritiek het ek besef dat ek die "regte" kinders gekry het vir wie ek is, en dat my kinders ook die "regte" ma gekry het vir wie hulle gaan word. Dis nie “óf ... óf” nie. Dis alles deel van een storie.
Waarom kinderboeke in Afrikaans uitgee? Is daar belangstelling, is daar ‘n toekoms?
Die Afrikaans is toevallig. Op die oomblik is dit waar die grootste behoefte in die mark lê, en ons voorsien in daardie behoefte so goed ons kan. Maar ek is net so gemaklik in Engels, en het nie 'n voorkeur nie. Ons het 'n paar Engelse produkte in ons katalogus, en die belangstelling is hier beslis besig om toe te neem – veral onder ouer kinders. Ek voorsien dat ons in die toekoms ook heelwat meer Engelse stories dal uitgee. Dis die storie wat belangrik is – die taal waarin jy hom vertel is bloot soos die pen waarmee jy hom skryf. Dis net die instrument. Daar is beslis 'n baie groot toekoms vir kinderstories – enige stories – want die wêreld is seer en stukkend, en stories is 'n pleister vir daardie seer. Maar ek dink die stories wat nie meer relevant is nie, die stories wat nie voed en inspireer en 'n positiewe bydrae maak nie, gaan uitgedien raak. Mense het nie meer tyd of lus vir rondsoek nie. Tye is moeilik en mense is op soek na betekenis en waarde. As jy dit kan bied met wat ook al jy vervaardig, is daar beslis 'n toekoms vir jou.
Watter boek/projek waarmee jy op die oomblik besig is, roer jou die meeste?
Ek was lanklaas so opgewonde oor 'n projek soos ek oor ons nuwe reeks Ansofie Plak-boeke is! Dis 'n splinternuwe reeks vir 3–9-jariges, en dis geskik vir voorlees of selflees. Die stories is heeltemal nuut en modern, maar dit het ook dieselfde onderliggende "magic" as baie van daardie ou boeke wat ons as kinders so geniet het. Dis die eerste boekereeks wat ons spesifiek vir hierdie ouderdomsgroep uitgee en daar is 'n groot behoefte hier. Dit is so 'n "tussen-in" groep wat altyd afgeskeep word. Die Ansofie Plak-reeks bied baie meer as net prentboeke, maar dit is makliker as die klomp jeugboeke wat in die mark beskikbaar is. Heelwat skole het ook al navrae gedoen om hierdie reeks as leesboeke in die klas te gebruik, so ons sal sien waarheen Ansofie Plak oral gaan reis! Die eerste drie boeke verskyn 30 Augustus, maar ons werk reeds aan nog titels in die reeks. Ek skryf dit self, en Elanie doen die wonderlikste illustrasies wat my tone laat omkrul! Dis 'n baie, baie lekker projek. Gewoonlik werk dit so – hoe meer ons dit geniet om iets te doen, hoe lekkerder is die storie vir die kinders ook! "It rubs off!"
Kommentaar
Baie dankie Litnet en Naomi Meyer vir hierdie mooi artikel.
Beterder en beterder! Uitstekende onderhoud.