Skrywersonderhoud: Anel Heydenrych oor Die afloerder en haar liefde vir stories

  • 1

Verslaggewer Anje Bruwer verruil die gevaarlike strate van Johannesburg vir ’n rustiger lewe in Colesberg om ’n misdaadroman te skryf.  Maar die platteland is allermins rustig: Daar is ’n menseslagter los wie se gruweldade Anje se kop laat duisel. Sy loop haar in sy web vas wanneer sy vir die plaaslike koerant oor sy moorde begin verslag lewer. Kaptein Siegfried Scholtz – ’n man wie se skuldgevoelens hom ry – kan nie anders nie as om Anje by die ondersoek te betrek. Gaan hulle daarin slaag om te keer dat die moordenaar nog ’n lewe wreed in ’n bloederige swartsak verpak? Die afloerder  is ’n sielkundige riller so koud en donker as kan kom.

Remona Voges het met Anel Heydenrych oor Die afloerder gesels. 

Anel Heydenrych (Foto: verskaf)

Die afloerder
Anel Heydenrych
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904328

Anel, jy het in 2016 met ’n erotiese riller, Malhuis, gedebuteer. Die afloerder word as ’n sielkundige riller beskryf. Van waar jou liefde vir dié genre?

Ek dink dit het met die spanning en die pas te doen. Van kleins af het ek gesukkel om "liefdesverhale" te lees, omdat dit vir my vervelig en voorspelbaar was. Ek is verslaaf aan boeke met ’n vinnige pas en "stewige spanningslyn".

Ek ly erg aan die "verveeldheidsiekte"; dinge verveel my gou. Ek dink ’n mens probeer maar boeke skryf waarvan jy sal hou om te lees. Die sielkunde en wat mense motiveer om dinge te doen fassineer my baie. Reeksmoordenaars, en veral "wat hulle gemaak het wat hulle is", is iets waaroor ek baie dink. Ouers en grootmense in die algemeen weet nie wat die effek van hulle dade (en woorde) op kinders is nie. Om dié aspek te ontgin is vir my baie opwindend.

Ek hou van rillers omdat dit mens aan die wonder hou en selfs bang maak. Ek glo die leser moet wil aanhou blaai, en ’n riller bied die ideale geleentheid. Ek dink die genre word toenemend gewild omdat mense wil ontsnap van hulle eie "rillers"/realiteite en met ander s’n identifiseer.

Ek wil ook graag boeke skryf wat mense oor die lewe, of ’n aspek van die lewe, laat dink. Ek dink dié genre bied hierdie geleentheid (vir my in elk geval).

Daar is ’n reeksmoordenaar in Die afloerder ter sprake. Kan jy bietjie meer oor hom vertel?

Die afloerder is gebore uit die báie boeke wat ek oor reeksmoordenaars gelees het. Hoe meer ek oor hierdie mense (en dié wat met hulle werk of hulle moet vang) gelees het en oor hulle navorsing gedoen het, hoe meer het ek  besef dat daar ’n gemene deler is. (Natuurlik is daar altyd uitsonderings.) Die reeksmoordenaars oor wie ek navorsing gedoen het, is byna deur die bank om een of ander manier mishandel as kind. In Die afloerder het ek probeer om die karakter so uit te beeld dat die leser insig moet kry in sy psige. Wat maak mense wat hulle is?

Die afloerder is ongelooflik wreed en die boek het grusame tonele wat nie maklik is vir sommige lesers om te hanteer nie. Maar ek het hom so geloofwaardig as moontlik probeer uitbeeld. In sy kop probeer kom. Hy is ’n voorbeeld van hoe hierdie wreedaards ’n dubbele lewe kan lei. Dikwels hier onder ons neuse. Ek was soms bang wanneer ek laatnag aan die boek gewerk het. 

Hy is hoogs intelligent, maar het geen insig in sy eie probleme nie. Hy wil die mag wat hy as kind verloor het, terugkry deur die "god" van lewe en dood te word.

Hy loer vroue (dikwels met ’n verkyker) af en soek een om te verkrag en te vermoor. Hy is arrogant en geslepe en glo dat die polisie nie bevoeg is om hom te vang nie. 

Ek wil nie veel meer sê nie, anders verklap ek dalk te veel!

Jy was vir lank ook ’n verslaggewer in Johannesburg. Vind jy dat jou ervarings as joernalis in jou verhale manifesteer?

Ek dink beslis so. ’n Joernalis is uiteraard nuuskierig, maar word ook met die lelike kant van menswees gekonfronteer. Dit maak dikwels ’n diep indruk op mens. Jy dink meer oor mense en hulle motiewe omdat jy ook met die donker kant van die lewe gekonfronteer word. Ongelukkig is daar nie net rose en liefde nie, maar ook pyn en wreedhede. Die samelewing is maar siek, en ’n joernalis word gedwing om wyd te kyk, anders kan jy ook nie ’n joernalis wees nie. Jy leer gou om alles te bevraagteken, al het jy self nie noodwendig die antwoorde nie.

Kan jy ’n bietjie meer oor die karakters Anje en kaptein Scholtz vertel?

Anje verruil haar loopbaan as misdaadjoernalis in Johannesburg vir ’n rustiger lewe op die platteland. Tydens ’n roadtrip ontmoet sy ’n mediese dokter op Colesberg, raak verlief en besluit om te trou en in die rustigheid van die Karoo haar tweede misdaadroman te skryf.

Maar na ’n artikel wat sy oor "Die afloerder" vir die koerant skryf, begin hy vir haar notas laat en betrek haar by sy siek speletjies.

Alhoewel waaghalsig en avontuurlustig, ervaar sy dat vrees ’n wrede tronk is.

Aanvanklik maak sy kontak met kaptein Siegfried Scholtz, wat aan die hoof van die ondersoekspan staan, bloot om inligting/stof vir haar artikels en roman te kry. Maar daar bly dit nie ...

Die dokter met wie sy getroud is, wys gou sy ander kant en word self ’n verdagte in die ondersoek. Alhoewel sy emosioneel mishandel word by die huis, besluit sy om nie ’n slagoffer te word wat nie haar doel kan bereik nie. Haar vriendskap met Victoria Seekoei (of Ma Vic) help haar om perspektief te behou en staande te bly.

Scholtz het probleme van sy eie. Hy worstel met ’n skuldkompleks oor sy aandeel in sy kind se dood. Sy vrou het weens die dood van hulle kind in ’n diep depressie verval. Sy baas dwing hom om ’n sielkundige in Bloemfontein te spreek, maar dit doen weinig om die skuld te negeer en hom te help om op die saak te fokus.

Hy is ’n goeie en toegewyde speurder met ’n passie vir geregtigheid, maar sukkel om in die "nuwe polisiewêreld" sy voete te vind. Hy worstel met ongemotiveerde en agtelosige kollegas. Te midde hiervan gee hy om vir die vroue wat deur die afloerder vermoor en "verpak" word. Maar sy huwelik wat uitmekaar val en die spoke van die verlede maak van hom ’n man wat weerloos is en sukkel om staande te bly.

Die titel van jou roman is interessant, omdat mens as leser ook eintlik karakters se lewens "afloer", nie waar nie?

Jy is inderdaad reg. Ek het eers so in die helfte van die roman besef dat die leser ook die karakters "afloer". Aanvanklik het ek hom gesien as die een wat op meer as een vlak "loer". ("Peeping Tom" in Engels is nie so mooi soos "afloerder" nie.)

Die titel sê ook iets van die gewetenlose wyse waarop hy mense afloer en homself die reg aanmatig om hulle lewens binne te dring. Asof hy die reg het om op verskillende vlakke te kan kyk.

Miskien het hy self ook te veel gesien of "afgeloer" as kind?

Ons woon in ’n land waar geweld aan die orde van die dag is. Hoekom dink jy is rillers en misdaadromans, wat vir ontspanning gelees word, steeds ’n genre wat die verbeelding van Suid-Afrikaanse lesers so aangryp?

In die joernalistiek sê ons mos: "If it bleeds, it leads." Mense is geskok oor geweld en bloed, maar ook gefassineer daardeur.

Ek dink dit is enersyds om tydelik van hulle eie wrede realiteite te ontsnap. Maar andersyds word die mens sedert die vroegste tye deur die donker kant van die lewe gefassineer.

Die karakters wat ons skep is so anders as gewone mense (nie almal nie; gewoonlik net die antagonis, soos die afloerder) en mense is nuuskierig om uit te vind hoe die skurk vasgetrek gaan word. Maar nie alle boeke in die genre het "gelukkige eindes"  nie. Maar mense hou van spanning en dat die booswig uiteindelik aan die kaak gestel word. Die "good versus evil"-beginsel sal (glo ek) altyd ’n gewilde onderwerp vir verhale bly.

Ek wil dit ook waag om te sê dat elke mens ook ’n donker en gewelddadige kant het. Die meeste leef dit nie uit nie, omdat dit nooit wakker gemaak is nie, of onderdruk word. Maar oorloë en mense wat byvoorbeeld gekyk het hoe sogenaamde hekse verbrand word, is bes moontlik ’n aanduiding dat elke mens ’n skadukant en gewelddadige neigings het.  

Wat is jou skryfproses? Volg jy ’n streng roetine?

Omdat ek so min tyd het om te skryf, kyk ek baie min televisie. Ek probeer veral naweke soveel as moontlik skryf. Ek is nie juis ’n roetinemens nie, so ek moet ook maar soms geïnspireer voel om te skryf. Wat ek wel geleer het, is dat my muse tussen my bas en die stoel is. Baie skrwers luister na musiek om hulle in ’n skryfbui te kry. Ek moet net op my bas sit, dan kom die idees (bruikbaar of nie). Baie nuwe idees kom terwyl ek skryf.

Ek het gewoonlik ’n basiese plot/storielyn, maar dit ontwikkel en verander soos wat ek tik. Karakterkaarte is belangrik, maar dit ook is belangrik om ’n karakter in sy eie rigting te laat groei. Ek is nie goed met formele prosesse nie. Ek kan nie eers ’n resep volg sonder om dit te verander nie!

Ek skryf ook nie eintlik chronologies nie. Ek spring dikwels tussen tonele rond soos wat die idees kom. En dan is dit soms ’n stryd om die chronologie later uit te sorteer.

Mens moet maar net skryf, die woorde in die pot gooi, roer en kyk wat jy opkook (soos wat Henning Pieterse altyd sê). Maar elkeen se skryfproses is waarskynlik anders.

Hoekom skryf jy?

Die kort antwoord is dat ek so mal soos ’n haas is. Wanneer jy die hoeveelste keer ’n toneel moet oorskryf, besef jy dit terdeë. 

Ek skryf omdat dit vir my regtig lekker is. Ek het in die VSA twee vlugte op een dag verpas omdat ek op die lughawe geskryf het (met oorfone aan) en nie die aankondigings gehoor het nie. Ek moes die aand sonder my bagasie (waaronder uiteraard ’n tandeborsel!) in ’n nare hotel slaap.

Toe ek op skool was, het die Afrikaans-onderwyseres, na aanleiding van ’n opstel, gesê dat ek ’n skrywer kan word, en net daar het ek besluit dis dalk moontlik.

Ek dink skryf is ’n manier om uiting te gee aan kreatiewe frustrasie. Dit is ’n manier om uitdrukking te gee aan al die waansinnige dinge wat in my en moontlik ons almal se kop aangaan. ’n Paar van ons "dapperes" waag dit om dit op papier te sit. Die wêreld is waansinnig en min dinge maak regtig sin. Miskien gee  skryf vir my die geleentheid om ’n bietjie struktuur te skep – orde in die chaos?

Ek het nie kinders nie, so ek skryf ook maar boeke om "iets agter te laat". Boeke as nalatenskap?

Skryf is vir my ’n passie – miskien omdat ek so verlief is op boeke en woorde. Van kleins af het ek elke geleentheid moontlik gebruik om te lees (dikwels ook skelm by ’n kers onder die bed dwarsdeur die nag). En kilometers ver na die naaste biblioteek te stap omdat ons nie veel goeie boeke in die huis gehad het nie.

Ek is verslaaf aan lees en kan glad nie slaap as ek nie gelees het nie (ongeag hoe laat in die nag of vroeg in die oggendure).

Ek dink nie dit is die skrywer (of enige kunstenaar) se werk om "lesse te leer" of noodwendig "boodskappe" in sy/haar werk te hê nie, maar ek dink kunstenaars hou tog ’n spieël op vir die samelewing om hulleself te sien.

En boonop is ek verlief op stories.

Wie is jou gunstelingskrywers van rillerverhale?

Daar is ’n paar. Die Japannese skrywer Natsuo Kirino is beslis een van my gunstelinge, omdat sy so uiters onortodoks is. Ander oor wie ek gaande is, is Isabel Allende en Colleen Cross. Maar die meeste "riller"-verhale wat ek lees, is op ware verhale gebaseer of gevallestudies oor wreedaardige mense en moorde.

Ian Rankin is my gunsteling-misdaadskrywer. Ek lees ook soms James Patterson.

Wat lees jy tydens die inperkingstyd?

Ek lees sommer baie – watter lekkerte! Ek lees baie boeke gelyktydig:

  • Fruit of a poisoned tree – Antony Altbeker
  • The tender bar – A memoir – JR Moehringer (briljante boek)
  • Written in blood – A history of forensic detection – Colin Wilson
  • A novel of Zelda Fitzgerald – Therese Anne Fowel (fassinerende boek)
  • Sielsiek – Henk Swanepoel en Carla van der Spuy
  • Characters & Viewpoint – Orson Scott Card
  • Swart swaan – Wilken Calitz
  • Bloed op haar hande – Carla van der Spuy
  • The eye of the naked – Litha Hermanus
  • Karaktermoord – Carina Diedericks-Hugo
  • Limerence – Vincent Pienaar (nog nie op die rak nie)

Ek skryf tans aan ’n storie wat in die tronk afspeel – die titel (in dié stadium) is Stomgeslaan. Ek lees dus ook baie oor gevangenisse. 

Lees ook:

Malhuis – ’n gesprek met Anel Heydenrych

  • 1

Kommentaar

  • Yolande Wiese

    Anel, jy is wonderlik, jou boeke wat ek nou op oplees is binding, vandag koop ek hulle en verdiep my hierdie naweek. Lief vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top