Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 6

  • 1

Hier is al die inskrywings vir Week 6. Die weekwenner word Woensdag aangewys. Skryf nou in vir Week 7 en wen R2 000! 


Kompetisiebesonderhede:

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!



Rohan Magerman

De Lille sê sy gaan die land regruk
en jou stem t’ruggee as sy misluk
maar al doen sy haar bes
klink haar belofte nes
die waarborg van ʼn Samsung-produk



Francois Taljaard

Social Grant

Na al die Gupta sameswering,
Is ons land mos arm na bewering?
Maar bekommer jou nie
eis bloot kompensasie
of welsyn van die regering.



Madi Hanekom

Die advokaat

Klein Shamila Batohi skrik vir niks
Sy is hier om die groot kroeks te wiks
Die land wag en ril
Want die girl is te stil
Spies daai spul, doen dit fluks, dis die kruks



Emmie Smit

Malema braak dood en haat repliek
Ongeskoolde stemme skree kritiek
ʼn Werklose plakkerslegioen
Hongerloon en sonder skoen
Word misbruik vir goedkoop politiek



Bradley Joseph Kamfer

Fluit-fluit
Die waarheid is uit
Bosasa ondersoek
Wieʼt almal geëet aan die koek
Nou gaan die hof besluit



Koos Holtzhausen

Die man in die middel

Wie tog is die man in die mirril
Weet jy dan nie sy naam is Cyril?
Julius stoot hom na links
Regs is Mmusi ’n sfinks
En bo hom: Zuma se swaard wat dril



Reinette Thiart

Peper

Ons mensekleure maak nie saak.
Stel politiekery aan die kaak
dit voed haat en nyd.
Probleme bly wyd en syd;
baklei en stry gaan ons sieker maak.



Johan Runhaar

Bathabile word nou nog gehuldig
Al is sy voorwaar duid(e)lik skuldig
Dis die mag van die vrou
Wat haar nou eers daar hou
Sit gáán sy, wees net geduldig



Johann Engelbrecht

Malusi ons pierewaaier-sensasie
Deel graag intieme informasie
So stuur hy ʼn selfoonbriefie
Oor sy bedeeldheid aan sy liefie
nouʼt ons insae in Gigaba se peterjasie



David S Loubser

Bosasa en kaders, skelm die lot
Saamgesweer in korrupte komplot
ʼn Konkelry om vinnig geld te maak
En in die proses die staat te kaap
Zondo sê dit vrot want die land is bankrot



Jan Huysamen

Met Patricia Delila en Helen Godzilla
Is verkiesing vanjaar ʼn regte riller
       Want van alle gevegte
       Is catfights die slegste
Twee vroue wat veg vir Leeuwenhof-villa.



Stewie Theron

Ek weet nie of ek gaan stem nie
geen party kan ek vertrou nie
A! dalk ʼn goeie party
wat ek selwe kan lei
sê GRONDWET dan nie ek kan nie?



Morne Wessels

My fok, Marelize

Jy sê ons moet stem, Cyril PLEEZE
Die politici ry tandem op ʼn trapeze
Die ligte is af, die steenkool is vrot
Almal behalwe die kroeks is bankrot
Vir WIE wil jy stem, my FOK Marelize?



Rouxanne Opperman

Ramaphosa is verstom oor Eskom.
Dink hy regtig mense is so dom?
Smeer heuning om die bek
en hou ons vir die gek.
Kalkoenseisoen is mos aan die kom.



Corneels Snyman

Amptenare laat my soms wonder
Glad nie gepla met skop-skiet-en-donner
      Al wat hul kwel
      is om hul miljoene te tel
terwyl die land verarm en verhonger



Jeannette Strydom

Die Kaap is vir jollifikasie
ʼn Kuierplek vir onse nasie
Nou verander die saak
Om te KAAP word ʼn taak
Hul kaap selfs die staat per okkasie



Marlene Malan

’n Gryskop genaamd Alan Winde
erken hy’s ’n selfsorggesinde:
ˮProvince soek eie mag
oor treinry en krag –
vir als-breek is ons nié te vinde!”



Adriaan Brand

Gordhan het ʼn hoofpyn by Medupi
Groot en baie erger as ʼn boepie
Zuma kon nog sing en dans
Cyril vat met stap sy kans
Pravin sit steeds met dieselfde groupie …



Githa Meyer

My liewe meneer Ramaphosa
Stry u nog steeds oor Bosasa?
Wees rustig, my Cyril
Geen kind sal wil kibbel
Hul kosblikke vol van die dagga



Annalie Cooper

Politieke valse akkoorde
Beloftes uit alle oorde
Eskom hik
Bosasa verstik
En Jan sonder lig of woorde



Lesley Meyer

In Suid-Afrika ons kleurvolle land
Word soveel fondasies gebou in sand
Sommige begeer om te lewe
Terwyl ander een ding nastrewe
Om elke dag iets anders af te brand ...



Lucille Kriegler

Swaai-arm, spoegspat beloftes om guns te wen
Werk, huis, grond vir almal wat vir hulle stem
Water, sonder reën
Krag, salf en ook seën –
Maar nou’t jy dit klaar met jou spoeg kondêm



Jan Beyers

Daar staan toe ewe in die Parlement
ons eie Cyril, die land se President
Maar hoe het ek dit nou!?
Die TV se Daily Show?
Hy groet dan vir Noah, die pittige vent!



Thomas Deacon

ʼn slapgat klomp prinse van Eskom
sê alles sal weldra weer regkom
maar hulʼs lekker gebek
lieg en praat deur hul nek
en so sal hul altyd weer wegkom



Marika Thomatos

Kiesers kla

Aan die voetsool van sonland Afrika
sukkel nasies om mekaar te verdra
dit raas, moor, brand en baklei
wie dan die mooie land moet lei
sodat almal agterna sáám kan kla!



Pieter Strauss

Mmusi Maimane wil nie net kla nie
Maar Zille kan hy nie verdra nie:
        Sy twiet alte veel
        Wil sy kollig steel ...
Vir hóm is sy nie meer ʼn ma nie!



Riette Salzmann

Voormalig ahem ...

Motsoeneng kug en suig Halls
Hy vertel van sy Bosasa calls
Die enigste voorspelling
Vir hierdie bestelling:
Hlaudi with a chance of meatballs



Gerrit Theron

Die rooi gevaar

in die praathuis dra hul rooi
maar hul maniere is nie mooi
        en kan hulle nie vorder
        met hul ˮpoint of order”
begin hulle vrot eiers gooi



Louise du Plessis

Nkandla

Eens was daar ʼn man van Nkandla
Geld gevat sonder om te vra.
Hyʼt riethuisies laat bou,
Vir elke mooi trou-vrou.
Sy toekoms is donker, my bra.



Marlene Ontong

eers was dit Zuma
hyʼs laat loop deur sy eie duma
skielik het Malema ook drome
al is sy verstand so leeg soos die bome
sy voetjies stomp gehardloop met sy puma



Gerhard Visser

Oom Trevor vertel graag die storie,
van Fikile se oomblik van glorie:
hoe in die Guptas se ʼcourt’
hy geslaan is tot Ridder van Sport,
met Oupa Jacob in ʼn staat van euforie!



Riaan le Roux

Verdomp! is ʼn feit soos ʼn koei
Toenemend word réde verfoei
Eish, fóppers se fonds
Is sakke van óns
Geknou in ʼn knyptang van knoei



Elna Kruger

Stemdag

Beloftes oor hemel en aarde
sonder substansie of waarde
pragtig opgedis
binne vrot gegis
moenie stem vir sulke standaarde!



Johann Rossouw

Daar onder, daar heel ver, daar suid
Staan ons oopbek, en sonder geluid
ons is almal gekroek
ons skatkis is soek
die keiser het alles gebuit



Willie Smit

Daar is ʼn man Ramaphosa
Wat vry na die stem van Boer, Brit en Xhosa
Oom Nelson het geleer, vir tiewie, yskas en vleis
Kyk net na bo en watch the space
En jive saam met Zuma die rietdansritme van Shosholoza



Elsa Wessels

Wêla-Kapêla

Dit brand in die land van Mandela
Vlamme en koeëls dans ʼn Kwêla
Almal kry mos gratis geld en grond
die politici het belowe - hand en mond
Trek net daai kruisie - Wêla Kapêla!



André Skeen

Kô lat ons stem . . .

Vrinne, lat ons die Grondwet oepeslaan
en lat ons mooi lies wat daarin staan
alvorens ons daai kruisies viʼkiert trek
en almiskie almal van hongerte vrek
Kô lat ons bid en sing en same staan.

(Met apologie aan Adam Small)



Jannie Wessels

ʼn Seun met die naam Malema
Het gedroom om te pie soos sy pa
Hy kies toe politiek
En maak polemiek
Maar toe sien ons hyʼs net soos sy ma!


 
Bertie Wiid

As jy ooit oorweeg om die politiek te betree
Dink tog weer ʼn keer of twee
Want dit sal jou gou
Tog seer berou
As die opposisie die vloer met jou vee.



Marné Kleinhans

Kiesers lewe van gom,
en die land se base van mammon,
nou moet ons weer stem,
wie dinge verder gaan afrem,
terwyl politici vir mekaar glimlag en grom



Nanette Botha

ʼn Herder met die naam Bushiri
en sy kerkraad kom nie van hier nie.
Profeet of profyt?
Is sy lidmate nou spyt?
Nee, die kuddes vertrap die hof se opinie.


 
André Barnard

ˮHet djy gewiet hoe hul ons land besteel my bru?
Soos slange lê hulle vir ons en loe
Dis Zuma en dis Gupta,
dis Jooste en Bosasa
Net die Jirre wiet hoe gaat ons hier yt kan roer.ˮ



Hein Augustyn

Die regerende party is korrup en laf
Eskom sit alweer die ligte af
Maak die ekonomie sterk
Kry mense aan die werk
Stem, skei die koring van die kaf


 
Christo Meyer

Auw, Peter, ek sien djy het opgestaan
Soes ʼn athlete is djy terug oppie baan
Wil wee mayor word
Genoeg trane gestort
Nogal met ʼn Vryheidsfront-baadjie aan


 
Eleen van Deventer Vorster

Hanswors

Die Parlement se hanswors is daar
Brigadier se rooi span is gevaar
manne moet net bedaar
mekaar sterk ingevaar
glasstuk het moeilikheid verklaar


 
Annette Wessels

Oppie-spel

Daarʼs iets in Mei wat kwel
wie gaan ons lei, wie de hel
Ta Helen is bitter
Mmusi vry al witter
good is beter as beste ou pêl.


Kompetisiebesonderhede:

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jannie Kraakbeen

    Swart Eerste - Wit Tweede
    Land eerste - Huis tweede
    En tussen twee stede,
    Sluip ons agteruit na die verlede.
    En daar vind ons day Apartheid,
    het nou ń nuwe velkleur onderlede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top