Skrywers is uit die aard van hulle wese outsiders, die intellektuele kommentators wat rapporteer en soms kritiek lewer op dit wat hulle raaksien.
Dis ’n broodnodige funksie. Insiders, juis omdat dit hulle alledaagse realiteit is, is soms blind vir die vreemdhede wat die outsider optel en weerkaats. Natuurlik, omdat ons verskil, meen nie alle skrywers dat dit hulle funksie is om ’n spieël aan die samelewing voor te hou nie. Sommige glo dat hulle daar is om met ’n lag en ’n traan te entertain, en dis al wat hulle hoef te doen.
Die dapperes wat wel die mantel van profeet optel, dié wat die spieël optel en vir die keiser sy naaktheid ontbloot, word ’n bedreigde spesie. Speaking truth to power is nie die manier om invloedryke vriende te maak nie. Dwarsoor die wêreld is daar al hoe meer gevalle van skrywers, joernaliste en bloggers wat tot tronkstraf veroordeel word, liggaamlike geweld aangedoen word en in sommige gevalle selfs vermoor word omdat hulle kritiek lewer teen ’n onregverdige en in sommige gevalle selfs illegitieme status quo.
Dis maklik vir ons om terug te sit in die veilige wete dat ons ’n grondwet het wat ons beskerm. Ons het mos darem persvryheid, ons kan skryf wat ons wil en sê wat ons wil.
Maar hoe verklaar ons dan die reaksie op Eusebius McKaiser se rubriek verlede week? ’n Leser het gevra, in reaksie op die klug van die staatsondersteunde Nkandla-verslag, hoekom die “goeie ouens” in die ANC niks doen nie. McKaiser se antwoord was eenvoudig: Zuma regeer nie in ’n vakuum nie, hy word ondersteun deur die ANC en die afleiding moet gemaak word dat die “goeie ouens” niks doen nie omdat daar nie “goeie ouens” in die leierkorps is nie. Ongeag of mens met sy ontleding saamstem of nie, dis tog sy demokratiese reg om ’n beredeneerde mening uit te spreek, nie waar nie?
Behalwe dat McKaiser in die dae wat gevolg het, gevind het dat verskeie uitnodigings om op radio en in die media verder in gesprek te gaan hieroor, teruggetrek word. Die keiser moet teen sy eie naaktheid beskerm word, en die media, dié wat tradisioneel die spieël vashou, is onverklaarbaar skielik die eerste line of defence. Wie het nodig om secrecy laws in te stel as jy die media kan koop en hulle selfsensuur kan laat toepas?
Daar is toenemend ook pogings om die internet, die Wilde Weste van vrye informasie, te polisieer. In Egipte en ander lande, met die sogenaamde Arab Spring uprising, het bloggers gou gevind dat toegang tot die internet en sosiale-media-instrumente soos Twitter deur die regering oorgeneem en onderbreek was. Ons het ons eerste voorsmakie daarvan gesien met die opening van parlement. Daar’s wetgewing in die pyplyn wat moontlik selfs instansies soos LitNet aan bande kan lê indien dit goedgekeur word.
Wat is skrywers se rol dan? Nog steeds om die massas te entertain, of moet ons ons funksie as publieke intellektuele ernstiger begin opneem? Het dit nie tyd geword dat ons in erns begin kyk na die maniere waarop ons stilgemaak word nie? Meer belangrik, het dit nie tyd geword dat ons krities begin kyk hoe ons van binne eie geledere stilgemaak word nie?
Dit stel natuurlik ook Thando Mgqolozana se kritiek in ’n ander lig. Literêre feeste word deur wit mense bygewoon. Dit was meesal nie bevraagteken nie, tot hy die spotlight op die unbearable whiteness of being geskyn het. Maar hoekom is dit so? Ek het jare lank gedien as trustee op die 1820 Settlers Trust, die trust wat verantwoordelik is vir die National Arts Festival (NAF), Sasol Scifest, die Shakespeare Festival en ander. Dit was opvallend met die NAF dat alhoewel die fees oor die algemeen goed geïntegreer is, daar enkele areas van opvallende skeiding was. Die Jazz Festival en die Fringe-fees het groot getalle swart besoekers getrek, terwyl die ballet, die klassieke musiek en die literêre komponent, wat natuurlik net ’n klein komponent van die groter fees is, lelieblank was. Hoekom is sommige kunste so intimiderend vir swart mense? Wat kan gedoen word om dit te demystify?
Dis ’n mite om te dink swart mense lees nie – gaan kyk maar by enige openbare biblioteek. Kan dit wees dat die NAF soveel sukses het omdat hulle fees uitgesprei is oor die hele Grahamstad, en nie net beperk is tot die universiteit nie? Sou feeste soos die Woordfees en Vryfees groter getalle swart besoekers lok as hulle ’n groter deel van hulle programme weg van universiteitsgronde aanbied? Sou dit help indien hulle ’n groter fokus op advertensies in gemeenskapskoerante en kerke en gemeenskapsorganisasies plaas?
Dit gaan egter ook dieper as net blote teenwoordigheid by feeste. Zakes Mda het genoem dat hy by Suid-Afrikaanse feeste soos ’n “dancing monkey” voel. Dit gaan selfs dieper as die tipe gehore wat swart skrywers lok. Dit begin by die keuse van boeke om te publiseer, en wanneer dit uiteindelik gedruk is, die hoeveelheid publisiteit wat ’n skrywer kan verwag om te kry.
Swart* skrywers kry eenvoudig net nie dieselfde blootstelling as wit skrywers nie. Hulle kry nie ’n tweebladsy-onderhoud in Rapport nie. Hulle kry nie dieselfde aantal resensies vir hulle boeke nie. Om hoegenaamd blootstelling te kry in die media, moet hulle iets gewaagd of skandalig doen. Wit skrywers kan fokus op skryf, rustig in die wete dat hulle meesal wel genoeg blootstelling sal kry. Dis natuurlik nie waar van alle wit skrywers oral nie, maar dié met ’n greintjie talent sal wel blootstelling kry. Swart skrywers moet egter twee keer so goed wees om die helfte soveel blootstelling te kry. Dit word nie bevraagteken nie, dis mos hoe dit is.
Is dit egter moontlik dat daar ’n mate van sensuur van die swart stem plaasvind deur bloot net nie blootstelling aan hulle werk te gee nie, ongeag of dit bewustelik gedoen word of nie? Hoe kan wit kopers, en swart kopers, ’n swart skrywer se werk koop as hulle nie gereeld herinner word aan die werk nie? Hoe kan ’n swart skrywer ’n huishoudelike naam word as hulle nooit publisiteit geniet nie? Soms is die magspeling juis in die stilte oor ’n skrywer se werk. Is dit ’n blote oorsig, onbewustelik, of is daar ’n meer concerted poging om die swart stem stil te hou? En as daar is, moet swart skrywers uitstap en weier om verder deel te neem aan die klug, of is dit juis hulle taak om die sisteem van binne te beveg? As hulle kies om uit te stap, is hulle nie juis besig om hulleself in ’n ghetto van hulle eie keuse te plaas nie?
En waar pas die leser in? Is hulle bloot die passiewe ontvanger van inligting, of kan hulle ’n meer aktiewe rol speel deur aan te dring daarop dat daar meer resensies en onderhoude met swart skrywers moet wees?
Elke stuk skryfwerk is ’n gesprek. Dis eerstens ’n gesprek van die skrywer met hom/haarself, maar terselfdertyd ook ’n gesprek met die leser. Elke keer wanneer ’n stuk gepubliseer word, stuur die skrywer hulle werk soos die baba Moses op die Rietsee, in die hoop dat daar iewers ’n veilige hawe gevind kan word.
Ons taak as skrywers is om te bevraagteken deur ons kuns, om die leser hopelik ’n glimps te gee van iets anders as net die bekende, onbevraagtekende milieu waarin hulle beweeg. En dan? Dan is dit die leser se taak om dit te oordink, om tot ’n besluit te kom en hopelik die baton op te neem en om te help om die spieël blink te vryf en op te lig. Skrywers kan dit nie alleen doen nie, dis altyd ’n collaboration.
Al wat ons kan doen, is om die gesprek te begin en te hoop dit lei tot aksie.
* Ek het nog altyd protes aangeteken, en gesê ek wil gesien word as ’n skrywer, nie ’n swart skrywer of ’n vroulike skrywer nie, dat die blote feit van ’n kwalifiserende byvoeglike naamwoord ons in ’n ghetto plaas, een waarteen ek met alles in my veg. In die woorde van Hemingway, egter: “The world breaks all of us, and afterwards some of us are stronger in the broken places.”


Kommentaar
Alle skrywers is nie buitestanders nie. Ons kan ook nie alles kwytraak wat ons wil nie. Byvoorbeeld, deesdae is allerhande woorde "rassisties". Dit is nie 'n geval van "optel" as iets raakgesien of waargeneem word nie. Nie "in erns" nie; liewer "ernstig". Waarom kan elkeen nie maar toegelaat word om sy voorkeur uit te leef nie? As daar hoofsaaklik swartes by 'n jazz-uitvoering en hoofsaaklik blankes by een van klassieke musiek is, waarom beswaard daaroor voel? Ek is al hartlik moeg vir die storie dat swartes twee keer beter as blankes moet presteer voordat hulle dieselfde erkenning ontvang. In die nuwe Suid-Afrika is dit algemene praktyk dat blankes maar so goed moontlik kan wees en tog word daar steeds teen hulle gediskrimineer. Swart skrywers word nie (noodwendig) benadeel nie. Wat Wyngaard skryf, sal vir my meer aanvaarbaar wees as sy haar daarvan weerhou om aanstoot te gee met die oorvloedige gebruik van onnodige Engelse woorde in 'n teks wat veronderstel is om Afrikaans te wees.