Max Bialystok (Alan Committie), was eens dié Broadway-vervaardiger wat die wêreld – en vele vroue – aan sy voete gehad het. Maar die ster se glans het verdof en dis toe ’n boekhouer, Leo Bloom (Richard White), ontdek dat daar geld in sy boeke weg is; dat ’n onwaarskynlike plan tot uitvoering kom. Leo se opmerking dat ’n teatervervaardiger meer geld kan maak as sy teaterstuk ’n mislukking is, plant ’n saadjie by Max. Veral toe hy hoor Leo se droom is om eendag ’n Broadway-vervaardiger te wees.
Dit kos oorreding, maar Leo se voorspelbare, ongelukkige bestaan by die boekhouerfirma is die laaste spyker in die doodskis en hy sluit by Max aan.
Die soektog na die “wêreld se goorste toneelstuk” begin en hul paaie kruis met die ex-Nazi Franz Liebkind (gespeel deur Schoeman Smit) en sy produksie Springtime for Hitler, waarna hulle die goorste akteurs begin soek. Die twee is oortuig dié stuk is beslis die grootste flater waarvoor hulle kan vra.
Hul laaste besoek is aan ’n regisseur, wat hulle in Roger De Bris (Terence Bridgett) vind, wie se verhoogstukke só sleg is dat dit tydens kleedrepetisies ten einde loop. Op die ou einde dring Liebkind daarop aan om in sy eie blyspel te sing, maar op openingsaand gryp die noodlot in.
Die gehore storm toe nie uit nie; hulle gee staande ovasies. Die koerantresensente is in vervoering. Max en Leo se drome van groot geld maak met ’n mislukking is na die maan. Max sê ’n paar keer: “Ek het die verkeerde toneelstuk; die verkeerde regisseur; die verkeerde akteurs gekies, waar het ek só reg gekies?”
Hulle beland albei na vele draaie en swaaie in die tronk. En dis hier waar vriendskap seëvier.
Die storie, wat deur Mel Brooks geskryf en geregisseer is, het in 1967 met Zero Mostel as Max, Gene Wilder as Leo en Kenneth Mars as Liebkind op die silwerdoek begin draai. Dit was Brooks se regiedebuut en besorg hom ’n Academy-toekenning vir die beste draaiboek. Die film is later deur Brooks en Thomas Meehan as musiekblyspel aangepas, wat op sy beurt weer in ’n film verwerk is.
Hoewel die Suid-Afrikaanse weergawe so effens van die 1967-storielyn afwyk, is dit steeds so skreeusnaaks en donker soos meer as 50 jaar gelede. Jy kan nie anders as om net oor te gee aan die lag en absurditeit nie.
Alan Committie kom tot sy reg as Max – skewe, vuil pruik en kussing vir ’n boepmaag en al. Leo met sy paniekaanvalle wil-wil simpatie by jou ontlok, maar dit word só komies hanteer dat die gehoor skaterlag.
Terence Bridgett as die powere regisseur trek egter al die aandag elke keer as hy op die verhoog kom, hetsy as regisseur of as die hoofspeler in die finale produksie. En mense het letterlik trane afgevee vir Schoeman Smit as die effe mal ex-Nazi wat regtig glo die toneelstuk is wêreldklas en nie vermoed wat die pierewaaiervervaardigers se plan is nie.
En ek moet byvoeg: Ek het nog nooit gesien dat looprame vir bejaardes só ingespan kan word nie. Daardie ou tannies is dalk nie so flink op hul eie nie, maar met looprame word hulle weer tieners.
Toe ons ná die vertoning wag vir die uitverkoopte teater om stadig leeg te loop, hoor ek hoe die vrou in die voorste ry vir haar vriendin sê: “Ek verstaan nou hoekom jy dit twee maal hierdie week kom kyk het. Ek kom ook weer.” Sela.
The Producers
Met: Alan Committie, Richard White, Raquel Munn, Terence Bridgett, Schoeman Smit, Earl Gregory, Devin Butterworth, Nathan Muller, Philip Schnetler, Joshua van Niekerk, Nicolette Fernandes, Michele La Trobe, Chloe Perling, Nadine Suliaman en Claire Glover.
Regie: Joseph Pitcher
Kostuums: Penny Simpson
Choreografie: Duane Alexander
Musikale regisseur: Garth Tavares
Stelontwerp: Michael Mitchell
Theatre on the Bay, Kampsbaai
4 Februarie 2020 tot 28 Maart 2020
Kaartjies deur Computicket of die teater by (021) 438-3301.
Pieter Toerien se Montecasino Teater van 3 April 2020 tot 31 Mei


