Skote in die nag: ’n Spiesmerk in Jesus se sy

  • 1

Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.

Kleinboer (Foto: verskaf)

Kleinboer is die skrywer van die romans Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis. Sy debuutdigbundel verskyn binnekort.

........

En ek dog Yeoville (waar ek woon) is gevaarliker as Melville!

Die geskietery op mense in Poppy’s in Melville vanuit ’n donker BMW in die eerste uur van vanjaar het my verras, eerder as geskok. Twee vroue is dood en verskeie mense is gewond.

Ek het tevore gereeld in Xai-Xai gedrink – dis skuins oorkant Poppy’s, ook in Sewende Straat. Ek is half bevooroordeeld teenoor Poppy’s oor dit meer van ’n jazzplek is; ek verkies Xai-Xai se rock. En ek het ’n vermoede, dalk ongegrond, dat van Westbury se gangsters in Poppy’s drink, en nie die ander wang sal draai indien daar ’n geskilletjie ontstaan nie. Twee groepe het glo appels geswaai op die sypaadjie buite Poppy’s op Oujaarsaand, en iemand het gedreig “I’ll be back!”

Dit was nie ’n holle dreigement nie. Onskuldige mense verdien nie om geskiet te word nie, selfs wanneer die jazz opruiend raak en die drank vloei, maar dit het gebeur.

Ek het nog nooit geweld in Sewende Straat aanskou nie. Wel gereeld gehoor van handsakke en selfone wat in restaurante en op die sypaadjie gesteel word. Mens sien die polisie selde in daai straat, en die enigste “sekuriteit” is selfaangestelde karwagte, ’n motley crew met smerige, gekreukelde klere en alkohol en/of dagga op die asem, en hulle raak ergerlik indien mens nie kleingeld het om te gee nie (daar is een of twee uitsonderings; elke Gomorra het sy Noag).

In ’n ander deel van Melville, terwyl ek in ’n tou by Spar staan, is my selfoon wragtig eenkeer helder oordag van agter uit die drasak aan my sy gesteel. ’n Vermetele, uiters handvaardige fokker het die ritssluiter oopgetrek en my foon ongemerk uitgelig. Ek is reeds ’n paranoïese mens, en sedert daai insident is dit erger. Selfs wanneer ek my in ’n lowerryke, noordelike, sogenaamde veiliger buurt bevind, gryp ek kort-kort na my drasak, trek die ritssluiter oop en voel vervaard: Here, is my foon en beursie steeds hier?

Yeoville is wel gevaarliker as Melville. Daar is ’n rewolwer onder my bed. (Die koeëls is voor 1994 se verkiesing gekoop en was toe onnodig, maar buskruit hou glo langer as die tydperk tussen die twee Boereoorloë.) Daar is ’n panga met ’n vet lem ook onder my bed vir ingeval, en boonop ’n moersleutel. Hier was al lelike insidente, dinge wat my tipe patologie vreeslik voed. Wanneer ek snags nie kan slaap nie, lê ek nie en skape tel nie, maar verbeel my hoe die bad guys lelik op hulle baadjie kry.

In 1999 het ek een aand tuisgekom in die beter ryding wat ek destyds nog kon bekostig, ’n nuwerige Toyota Corolla. In die oprit is daar toe skielik drie tsotsi’s, een met ’n pistool op my gerig, wat my kar wou kaap. Ek het die sleutels dadelik oorhandig, maar is nogtans op die neusbrug en mond gemoer met die pistool. Ek het my tande hoor kraak. My gille het die aandag getrek van ’n besoeker wat toevallig in die sitkamer was, die bestuurder van ’n minibustaxi wat by my vrou se niggie kom kuier het. Hy het uitgekom en ’n skoot gevuur wat die gewapende fokker skrams getref het. Die pistool het op die sement van die oprit geval en die drie van hulle het weggehol. Bloed het oor my gesig gestroom en ek het geskok heen en weer geloop terwyl my vrou my probeer kalmeer. ’n Driekwartier later was die polisie daar, en het gesê die pistool was leeg. “Jy is gelukkig, jy sou geskiet gewees het.” (Die litteken van daai koeël wat deur die rampokker se sy gevlieg het, is nou nog in die muur, soos ’n spiesmerk in Jesus se sy.)

Daar was ander Yeoville-wedervaringe ook, maar ruimte ontbreek hier.

Wanneer ek nie kan slaap nie, verbeel ek my ’n ongewapende ou tannie wat op haar eie woon. Een nag hoor sy ’n gevroetel by ’n venster (sy is darem nog nie heeltemal doof nie). Sy staan op en loop kyk. ’n Ruitjie is reeds uitgestamp, en ’n hand is deurgesteek en probeer die vensterknip met ’n stuk draad bykom om dit van binne oop te druk.

Sy skuifel so vinnig as moontlik kombuis toe en skakel die ketel aan. The kettle boils as the woman watches and prays. Sy vat die ketel, loop na die gevaarsone, en sien die hand met die draad wat pas die vensterknip oopgekry het. Sy gooi al die kookwater in die ketel op die poot uit. Die velle waai en die stoom rys en die man skreeu, pluk sy arm terug en hardloop na die heining.

Wanneer ek nie kan slaap nie (fok sagmoedige skape tel), verbeel ek my ek hoor hoe iemand my agterdeur probeer oopforseer. Ek haal my rewolwer onder die bed uit, loop in die donker kombuis toe en vuur ’n skoot deur die agterdeur, omtrent kniehoogte (nie borshoogte nie, want in dié land word mens maklik van moord aangekla wanneer jy jouself of jou eiendom verdedig). ’n Gil, dan ’n ver-van-vrolike gehuppel na die grensmuur. Ek sal die agterdeur later polyfilla.

Dis wat Johannesburg, die “world-class African city”, aan mens doen. Selfs indien ek die Lotto wen en na kalm Stockholm verhuis, sal ek hierdie paranoia en vergeldingsdrang seker eers ná ’n hele ruk kan afskud. (Ek besef ek kla met die witbrood onder die arm; Bagdad en Kaboel is veel gevaarliker en die lewe daar meer traumaties.)

Nuwejaarsdag se noodlottige skote in Melville gaan ek besweer deur binnekort in Xai-Xai én Poppy’s te drink, met my drasak mooi langs my bier gebalanseer, reg voor my oë. Sien sommige van julle hopelik daar.

Lees die ander bydraes hier: 

Skote in die nag

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top