Skote in die nag: ’n Duisend en iets nagte later

  • 1

Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.

Izak du Plessis (Foto: verskaf)

Izak du Plessis is ’n oudinwoner van Melville en die skrywer van Boereverneukers.

........

Twee duisend en iets nagte gelede het die lewe my ingesluk en uitgespoeg in die skoot van Jozi. Daai wispelturige minnares, allemansvrou met haar uitdyende skoot waar alle verstotelinge lêplek kan kry.

Ek het die volgende oggend wakker geword op ’n groen bank in Tweede Laan, Melville, net om die hoek van Sewende Straat. ’n Herdershond het sy warm asem oor my geblaas. Neffens sy kop, op ’n koffietafel, het ’n asbakkie gestaan, oortrek met sigaretstompies, regop soos ystervarkpenne. My jillende, tierende dronkmansverset van die vorige dag in Xai-Xai teen die lewe en sy konvensies was ’n blinde, kloppende herinnering.

*

“Ek sien jy is op ’n selfmoordsending,” sê die man met die Panamahoed, swart jas en blinkswart skoene by die tafel langs my terwyl ek die skroefprop van my tweede bottel Tall Horse-merlot laat oopknars.

Hy vlegkruis sy bene oormekaar. In sy linkerhand met die palm na bo smeul ’n sigaret onderstebo; in sy regterhand ’n kort whiskeyglas vol rooiwyn.

“My soort ken jou soort,” sê hy. Hy bring die smeulende sigaret effens teatraal nader aan sy mond en suig diep daaraan. Met die uitblaas van die rook lag hy byna geluidloos. Die enigste aanduiding dat hy lag, is sy skouers wat skud, sy wye mond waaruit sagte snakgeluide ontsnap en sy oë wat spot.

“Hallo, ek is Charles Visser, total failure en die ateïstiese monnik van Melville,” sê hy tussen die stil lagbuie deur. “Ek ken jou soort. My aftreeplan is ’n pistool met een koeël in die loop. Joune is klaarblyklik te veel drank, te veel kos en kettingrook.”

*

Ek het ’n paar rand in my sak gehad en het deur die loop van die aand nog ses bottels Tall Horse bestel, wat ek met Charles gedeel het. Charles met sy aweregse lewensfilosofie, gegeur met Tourette-maniërismes, het my nuuskierigheid geprikkel en my terselfdertyd laat ril.

Dit was die begin van ’n vreemde vriendskaplikheid wat my uiteindelik van myself gered het. Daardie aand en talle aande daarna het ek deur die oë van sy selferkende mislukkings na my eie lewe kon kyk. Hy het my ingelei in die geheime van ’n liefdesverhouding met Jozi.

Benewens sy belesenheid was Charles ook redelik berese. Hy het oor ’n nimlike kruheid beskik wat mense van regoor die wêreld na hom gelok het, daar in sy hoekie op Xai-Xai se stoep. Jy kon gril soveel as wat jy wou, maar hy was die middelpunt van talle besoekers en Melville-inwoners se oomblik in Jozi se kosmopolitiese skoot.

Charles het ruimtes binne en om my oopgeskiet. Ek het kort daarna werk by die SAUK gekry, opgehou rook, en selfs matiger gedrink. Vir baie lank daarna het ek vir Charles wyn bly koop – uit dankbaarheid vir sy rol in my nuwe lewe.

Anders as Charles se blinde lojaliteit teenoor Xai-Xai, het ek veral tydens my beginjare in Melville dikwels by ander plekke in Sewende Straat gaan kuier: Six, waar die Black Diamonds Sondagaande uithang; Ratz, die oudste aktiewe kuierplek in Melville; en Poppy’s, waar ek my verkyk het aan die blink modes van Johannesburg se bruin gemeenskap terwyl hulle jazz kom luister het.

Ek wou die diversiteit en Melville se matelose aanvaarding van almal indrink en vashou, die reuke en die geure van my nuwe kunssinnige minnares inadem, die allemansvrou myne maak. Jozi, en spesifiek Melville, was so anders as die benepe Faerie Glen van my verlede.

Kyk, jou selfoon is nie veilig in Melville nie, nie eers in jou diepste sak nie, so ook nie jou Toyota nie. Daar was al voorheen moorde. En jy durf nie laatnag huis toe stap nie, Uber is die beste. Maar in my tyd in Melville was dit die ergste vorme van misdaad waaraan mense blootgestel was.

Om weer op sy voete te kom, het Charles ’n Uber-bestuurder geword. Maar hy het te veel gedrink ná vyf in die middae. Sy wederopstanding was dus nie ’n suksesverhaal nie, en hy was weer die óú Charles.

Toe gaan tree hy af, op ’n selfs groter skaal as wat hy beplan het … gasbottels in sy kar, ’n sigaretaansteker vasgeplak in sy hand. Die knal waarmee hy homself des moers geblaas het, het in ons harte geruk, selfs al het ons onsself getroos dat dit sy keuse was.

Skielik was Melville nie meer dieselfde nie. Vir ons binne Charles se vriendekring was daardie knal net te groot.

*

Dis net ná middernag, Nuwejaarsoggend 2020, in Rooihuiskraal, Centurion. My liefdesverhouding met Jozi is al sowat twee jaar verby.

Langs my haal my vrou diep asem, onbewus van die horlosie se wysers wat onverbiddelik die toekoms intik. Hoër op in die straat knal ’n sarsie vuurwerke soos die skote van ’n geweer. Ek skrik vir die honde wat histeries blaf en wens iemand wil ’n klapper tussen die oortreders se bene laat ontplof.

My selfoonskerm flikker; ek sit my bril op.

Skielik is ek dankbaar oor die lewe en sy konvensies, want daar op die skerm kom die nuus deur: Melville sal nooit ooit weer dieselfde wees nie, dis nou net te veel skote.

Lees die ander bydraes hier: 

Skote in die nag

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie vir jou aanhaling "Poppy’s, waar ek my verkyk het aan die blink modes van Johannesburg se bruin gemeenskap terwyl hulle jazz kom luister het."Dankie dat jy die woord bruin en nie kleurling gebruik nie. Kleurlinge word by Plascon
    gemaak - die woord het nog altyd geklink soos 'n paint catalogue!
    Ons is nou maar een maal so. Ons dress UP wanneer ons uitgaan. Jy sal nooit onder ons kan sien wie is arm of versukkeld nie wat so maklik te bespeur is by van die ander groepe. Jy sien 'n Akkermans en PeP van ver af.
    Ek is so bly JY is een van die skrywers wat gevra was om jou gedagtes te deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top