Skote in die nag: Is Joburgers nou lafaards?

  • 0

Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.

Willem Krog (Foto: verskaf)

Willem Krog woon in Johannesburg. Sy jongste boek, Alleen onder die maan, verskyn in Maart 2020 by Jonathan Ball.

........

 

Al gewonder hoekom die selfstandige naamwoord “lafaard” is, wat te doen het met die aard van die persoon wat laf geword het, maar die woord se byvoeglikenaamwoord- of bywoordvorm meer op hart dui as op aard?

Joburg het ’n ryk geskiedenis van misdadigers wat sedert die stad se ontstaan nog altyd in sy vesel teenwoordig was. ’n Gangster’s paradise.

In hierdie booming myndorp wat fabelagtige rykdomme geskep het, was die onderwêreld eweneens parallel aan die ontwikkel met figure soos Joseph Silver en Jack McLoughlin, wat vir Charles van Onselen genoeg stof vir monumentale werke gegee het. Tussen die Foster-bende – Suid-Afrika se eie Bonnie and Clyde-storie – en die Stander-bende van die 1980’s, met sy eie Hollywood-tipe drama, was bendegeweld deel van Joburg se narratief. Kort Boy is seker die bekendste figuur uit Sophiatown se swanky bendekultuur. Berugte moordenaars soos Moses Sithole en Cedric Maake het die “nuwe Suid-Afrika” herinner dat ’n donker kant baie na aan die oppervlak lê.

Wat Joburg se onderwêreld gedoen het, was om konstant ’n spieël op te hou sodat inwoners weet dat die blink en goud ook ’n donker kant het. Dit het dieselfde karaktertrekke as die suksesverhale gehad – dit was net aan die verkeerde kant van die wet. Die onderwêreld was immers net so vindingryk, heroïes, brutaal en magsbehep as die sogenaamde suksesverhale van die stad. Sithole en Maake is maar net spieëls van ’n Suid-Afrika waar gendergeweld onder die dekmantel van manlike paternalisme endemies is.

Die ander spieëlbeeld was dié van toegewyde polisielede. Van Manie Maritz wat Joseph Silver aan die pen laat ry het, tot Piet Byleveld wat uiteindelik vir Moses Sithole vasgetrek het, was daar ’n hele kommando polisiemanne wat hulle werk toegewyd gedoen het.

Wat Johannesburgers nooit was nie – in die bo- of onderwêreld – is lafaards. Moorddadig, brutaal en genadeloos, ja, maar nooit lafaards nie. As jy hier wil bly, moet jy dapper wees.

Om te skiet op onskuldige mense wat tydens Oujaarsaand op ’n sypaadjie staan of feesvieringe bywoon, is die werk van lafaards. Om dan in ’n gekloonde kar weg te jaag, weerspieël ’n vlak van lafhartigheid wat Joburg se gesoutste misdadigers in hulle grafte sal laat omdraai. Van Joseph Silver tot Moses Sithole het eienaarskap van hul dade geneem. Hulle was genadeloos en brutaal, maar hulle was nie lafaards nie.

As dit ’n hit was op die mense, was dit nie lafhartig nie, want dit verskaf ’n motief en ook ’n leidraad. Selfs psigopate wat moor, verskaf leidrade met hul modus operandi. Maar die mens wat sinneloos op weerlose onskuldige mense skiet en dan wegjaag, is waarskynlik die lafhartigste tipe denkbaar. Selfs die skoolskieters in Amerika jaag nie weg nie.

Suid-Afrikaners het nog altyd veilig gevoel wanneer hulle tussen ’n klomp mense is. Dit was ten spyte van Sharpeville, die handelsmerk van die verset teen apartheid. Sedert die reeks aanvalle in Frankryk het Marita van der Vyver gesê dat die Franse nou bang is om tussen groot groepe mense te wees, uit vrees vir ’n terroriste-aanval.

Gaan Joburgers nou bang raak vir skares? Die verskil tussen die aanvalle in Frankryk en die Oujaarsaand-aanvalle demonstreer ook dat die lafhartigheid van die Oujaar-skieters hulle moreel nog laer plaas as terroriste. Die terroriste maak hulleself ten minste in die proses dood.

Die menslike tragedie, à la Charlie Hebdo, raak ons almal, al is ons van die persoonlike tragedie verwyder. Maar in hierdie lafhartigheid is daar ’n vakuum. Niemand kan behoorlik daaroor skryf sonder om die mense in die tragedie persoonlik te na te kom nie. Dit sou vulgêr weer om byvoorbeeld ’n samesweringsteorie rondom die skietery uit te werk of ’n speurverhaal daaruit te weef. Die vakuum wat deur die lafhartigheid geskep is, ontneem ons van woordeskat.

Lees die ander bydraes hier: 

Skote in die nag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top