Skote in die nag: Drie maal om die blok

  • 0

Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.

Hans Pienaar (Foto: verskaf)

Die Johannesburgse skrywer Hans Pienaar se jongste roman is Die generaal.

........

Ons moet nuwe sekuriteit in ons straat in Auckland Park kry. Die laaste twee jaar of wat werk die huidige slapende wag in sy ZoZo-hut nie meer so lekker nie. Die skietery by Poppy’s skaars vyf blokke ver verleen ’n dringendheid aan die saak.

’n Sekuriteitsmaatskappy het ’n demonstrasie kom lewer in ons huis – ’n hele span. Voor die laatkommers opgedaag het, was daar meer van hulle as van ons. Hulle stel ’n node net daar op en ons kan oral in Melville rondkyk waar daar nou al kameramaste is. Is dit Piet Croucamp se groen Land Rover wat daar ry?

Dis net AI hier en AI daar – ook in Afrikaans is dit net AI. Maar wanneer ek die tegnikus vra hoe dit inmekaar steek, praat hy van reëltjies opstel. Soos as iemand te na aan die mure van die straat loop, sal ’n brommer in die kontrolekamer afgaan en ’n swart bakkie sal gaan kyk. Enigiets wat afwyk van die normale sal ondersoek word.

Dis waar die probleem lê. Melville en omstreke is vol eksentrieke mense wat ongewone dinge doen. Hulle het my byvoorbeeld geïnspireer om ’n roman te skryf, wat uiteindelik uitgeloop het op Te veel sorge, wat resensente as ’n bundel kortverhale beskryf het. Die hoofkarakter is ’n sakeman wat verneuk word wanneer hy met ’n klomp weduwees se geld ’n belegging in Nigerië doen. Dit was gebaseer op ’n ware verhaal waarvan ek nooit die feite kon vaspen as joernalis nie en wat dus nie gepubliseer is nie. Terug in Suid-Afrika kruip hy in Melville weg waar hy sy kop verloor, maar net halfpad. Hy vra mense om te vertel van hul eie sorge deur ’n velletjie daaroor in ’n koevert by ’n boekwinkel te stop. Wonder bo wonder werk dit. Maar die eienaar raak vies omdat daar te veel is en net in Afrikaans, en gooi die hele spul op die straat uit. Net ’n paar velle word gered, en die sukkelende skrywer Hans Pienaar word gevra om iets daaruit te probeer saamslaan.

Hy gooi naderhand tou op, want daar is net fragmente, en hy word nie genoeg betaal nie. Maar die fragmente word tog uitgegee deur die nis-uitgewery altoviolet, spelfoute en al. Resensente het hierdie aspek nie raakgelees nie, net paragrawe geskryf oor die manuskrip wat nie behoorlik nagesien is nie.

Die halwe werk van die fragmente was vir my kentekenend van Melville met sy talle kulinêre en ander projekte wat misluk of nie so lekker uitwerk nie.

Soos Poppy’s.

Een van die fragmente wat Hans Pienaar probeer red, handel oor ’n ware voorval sowat twee dekades gelede ’n blok van Poppy’s af. Die Griekse kafeebaas is in sy stoorkamer in ’n vlaag koeëls afgemaai ’n paar maande voor hy sou aftree. Uit protes het ’n lang stoet Melvillers drie maal om die blok gery. Die fragment handel oor ’n pastoor wie se gewete hom pla omdat hy die klomp belhamels op pad na die kafee nie gekeer het nie nadat hulle hom oorgeslaan het as teiken. Die vorige Sondag het hy nie genoeg geld na hul sin gekollekteer nie.

Die skietery by Poppy’s was erg en traumaties, maar nie onverwags nie. Die gangsters van Westbury het lank daar rondgehang en tussen 12 en 2 was die strate min of meer hulle s’n. Loop vroeër en jy is veilig; ons karwagte het ’n reputasie vir betroubaarheid, ook vir die handel in sekere bestanddele. Maar ons het gedink die gangsters het hulle vir ’n ruk lank stil gehou nadat ’n rugbyspeler met ’n byl in sy bors op ’n sypaadjie gekry is.

Die eksentrisiteit van Melville was te siene in die feit dat die land se voorste intellektuele kon karaoke sing by Poppy’s op Maandae terwyl ’n transaksie in die onderwêreld op ’n sypaadjietafel gesluit word. Daar het ek en Theuns Eloff al ’n drankie gedrink en het ek ook ’n paar eksemplare van my toneelstuk Ching Chong Che aan grootkoppe in die SAKP verkoop, hoewel hulle maak of hulle my nie ken nie.

Dis ’n klein wêreld, ja. ’n Vriend van een van die slagoffers, Mortimer Williams, het my gehelp met my komposisies vir my toneelstuk The good candidate. Skuins oorkant Poppy’s is Xai-Xai en Nuno’s ou drinkplekke vir joernaliste en skrywers.

Maar ek weet nie so mooi van kameras nie. Dit het nie die moordenaars gekeer nie, net goeie video verskaf vir sosiale media. Ons wag word partykeer in die middel van die nag wakker in sy hut. Dan begin hy bel op die telefoon wat hy aanhou as noodinstrument, maar wat niemand nog ooit gebruik het nie. Nugter weet met wie hy so praat, maar dit stel my vreemd gerus.

Dis seker wensdenkery, maar iets laat my voel ’n skurk met kwade bedoelings gaan ’n straat waar ’n eksentrieke wag sy geliefdes drie-uur in die oggend wakker bel, dalk net oorslaan. As iemand in die strate langsaan iets oorkom, nou ja, dan sal my eksentrieke gewete my maar moet ry.

Lees die ander bydraes hier: 

Skote in die nag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top