- Frederik de Jager skryf tweeweekliks ’n boekerubriek vir LitNet.
Philip de Vos vertel die storie hoe hy vir sy manuskrip ’n verjaarsdagkaartjie gestuur het toe hy ’n jaar na die insending daarvan nog niks van die uitgewer verneem het nie.
Dit is ’n voorbeeld aan die uiterste kant, maar dit is nie altyd vir uitgewers moontlik om blitssnel te reageer nie. Nog verder aan die uiterste is dat ’n manuskrip geheel en al verlore raak in die uitgewerskantore. Ek dink nie so iets het ooit gebeur by Tafelberg waar ek was nie, maar as jy die plek moes sien in die Waalburggebou in Kaapstad, destyds, sou jy dit moontlik dink.
Dit was ver van ’n chaotiese kantoor, ingeval jy dié indruk kry, maar dit was ’n doolhof van hokkies wat vir redakteurs ingerig is oor die oppervlak van die tweede verdieping met sy krakende houtvloer. Dit was die dae voor die verskriklike idee van besparing deur oop kantoorruimte posgevat en, voorspelbaar, weer gediskrediteer is.
Dit was ook die dae voor elektroniese tekste, toe dit saak gemaak het dat die fisieke manuskrip – of dan tikskrif, soos sommige daarop aangedring het om te sê – bewaar bly. Een van die instruksies oor indiening van ’n manuskrip was altyd: sorg dat jy ’n afskrif hou. Ingeval die gebou afbrand, byvoorbeeld. En dis nie so ’n vergesogte moontlikheid nie.
Nie lank voor ek my in 2012 by Penguin Books in Johannesburg aangesluit het nie, het die dak van hulle gebou ingeval. Wonder bo wonder was daar geen lewensverlies of erge besering nie, maar ’n aantal onvervangbare foto’s uit ’n skrywer se versameling het in die slag gebly.
Ek wil nie die onverskoonbare verskoon nie, maar boekredakteurs het dit selde maklik. Ek het ’n vorige keer hier verduidelik hoeveel ongeworwe manuskripte by uitgewerskantore instroom, maar die eintlike werk begin eers na die sifting en keuring van die toegestuurde berge teks.
Redakteurswerk is monnikewerk (daarom my grimmigheid oor die afdwing van die oopplanfilosofie, selfs waar ek maatskappydirekteur was). Dit vra ure van stilsit en konsentreer, veel meer ure as waarvoor jou dienskontrak voorsiening maak. Niemand sou op oortydbetaling aandring nie. In werklikheid subsidieer boekredakteurs – nooit die hoogs betaalde tekswerkers nie – die boek se winkelprys deur ’n hoop onbetaalde arbeid en, sonder om nou melodramaties te raak, soms met hul gesondheid. Iets om aan te dink as mens oor ’n boek se prys wil kla.
Maar steeds, alle vertragings is nie verantwoordbaar nie, en u rubrikant is allermins in elke opsig te verskone. Mens vergeet soms skoon van ’n manuskrip in die stapel, of jy kom nie daarby uit nie en versuim om die skrywer ’n gerusstellende nota te stuur. Een van my vergrype het ’n gelukkige einde gehad. Of twee gelukkige eindes.
Toe sy later geen raad meer het oor die lot van haar manuskrip waarin sy die boek van haar lewe geskryf het nie, vra Marita van der Vyver ten einde raad of Danie van Niekerk, die hoof van Tafelberg-Uitgewers, nie kan help nie. Die manuskrip was by my, en ek nog onbewus van wat op daardie blaaie staan. Ek vergeet hóé lank al, maar dit was te lank en Marita geregverdig in haar frustrasie. Danie kon kwaai wees, maar ook diplomaties. In hierdie geval was hy beide.
Ek het my tafel skoongemaak en in die manuskrip ingeklim. Dit was duidelik hier was iets buitengewoons aan die gang. Die titel was Griet skryf ’n sprokie. Dit was 1992. Marita was toe reeds ’n gerekende jeugverhaalskrywer, maar hier het ’n groot deurbraak in die volwasse letterkunde op haar gewag. Hoe groot die deurbraak sou wees, kon nie een van ons maar naastenby raai nie.
Selfs nie toe ek en Marita een oggend in my piepklein huisie in Observatory in Kaapstad saam aan die boek sit en werk en daar iets buitengewoons gebeur nie. Iets soos ’n teken of ’n voorspooksel, goed waaraan ek nie glo nie. Van die tafel waar ons gesit het, kon mens op my Noddy-tuintjie uitkyk. Rondom was daar ’n agt voet hoë muur.
Skielik vra Marita, maar hoe is dit dan dat daar mense deur my tuin loop? Ek antwoord, maar dit kan nie, daar is mure om. Die ou buurte in Kaapstad het ’n nou diensgangetjie tussen die agtertuine waarlangs vroeër die vullis, en ek raai, ook die slopemmers verwyder is. Marita het moontlik gedink dit was ’n verdwaalde vrou in dié stegie wat sy gesien het. Mense het die stegie egter lankal begin opeis en ek weet nie wat die kaart en transport sê nie, maar my erf het oor die stegie tot teen die agtererf geloop en was rondom toe.
Bietjie gesteur het ons aangehou werk. En jou wragtig, sal ek nie daardie selfde agtermiddag toe ek die skottelgoed was die vrou deur die kombuisvenster sien waar sy doodluiters oor my grassie loop en agter die badkamer verdwyn nie. ’n Vrou naamlik wat presies aan Marita se beskrywing voldoen: ’n jaar of twintig, skraal, skouerlengte bruin hare, met jeans en ’n grys T-hemp aan.
Ek sou weet as iemand oor die agtvoetmuur, skaars twee meter van my af, gespring het. Dié vrou het nie. Sy was net skielik daar.
’n Paar maande later is daar iemand in my woonvertrek wat sê hy het die gesiente, en daar is ’n jong vrou in die kamer. Jy kan maar raai hoe hy haar beskryf het. Sy vertel hom, die siener, sy is ’n verpleegster by Groote Schuur, nie ver daarvandaan nie. Sy was in ’n motorongeluk, is al wat sy onthou. En nou verstaan sy nie hoekom daar ander mense in haar huis woon nie.
Dit wat betref dinge waarin mens nie glo nie. Ek en Marita en die spook. Toe ek jare later eers die film The Sixth Sense (1999) en toe The Others (2001) sien, moes ek beaam. I see dead people.
Maar terug na die boek. Die oorspronklike geel omslag verdien aandag. Die reaksie van boekhandelaars aan wie die manuskrip vooruit gestuur is, was so oorweldigend dat daar besluit is die boek moet uitkom in hardeband met ’n stofomslag. Dié behandeling was toe reeds gereserveer vir die groot kanonne. Alle ander boeke is in sagteband uitgegee om koste te bespaar. Hierdie uitsondering sê die uitgewery het besluit om al die registers oop te trek om ’n wenboek te laat gebeur.
Die prent op die voorblad is ’n houtskool-en-pastelskets deur Jacqui Colley. Ek en my destydse redaksiehoof, Charles Fryer, het in Lang- of Breestraat afgestap na ’n kunsuitstalling. Daar was so ’n buurt waar daar heelwat kunsgalerye was. Op pad steek Charles by ’n venster vas. Daarin uitgestal was hierdie prent in ’n uitstalling van Jacqui, van wie ons nie geweet het nie. “Daar is Marita se omslag!” het Charles uitgeroep. Hy was nie verkeerd nie.
Die geel kleur is gekies teen Marita en ander se sin vir estetika in, maar op die oortuiging af dat geel die eerste kleur is wat jou opval as jy in ’n vertrek instap. Dit was in elke geval die slotsom van Amerikaanse navorsing. Vir die boekhandel is dit belangrik, want ’n klant stap by ’n winkel in waar tienduisende titels om haar aandag meeding.
Jürgen Fomm, die produksiehoof, wou hê daar moes ook ’n spreuk op die voorblad staan, iets wat in daardie tyd net in gebruik begin kom het in die groot noordelike markte. Vandag sal jy skaars ’n boek sien waar iemand nie oor die kwaliteite daarvan aangehaal word nie, of met ’n klinkende reël wat die redakteur en bemarkers saam geskep het. Griet het uiteindelik sonder spreuk uitgekom, ek vermoed omdat niemand ’n beter een kon uitdink as Herr Fomm se half-ernstige voorstel nie: Kyk hoe naai hulle! Maar dít kon duidelik nie.
Ek het nie die verkoopsgeskiedenis van die boek voor oë nie, maar dit was ’n fenomeen. Ons kon keer op keer nie gou genoeg herdruk nie. Laaste wat ek onthou, was vyftigduisend, maar haar verkope moes intussen al ver daar verby gaan draai het. Praat van ’n aar raakboor. ’n Senuwee. Marita het vir die eerste keer, altans sedert Hettie Smit se rokerig romantiese schmaltz van die jare dertig, aan vroue ’n stem in Afrikaans gegee om hul seksualiteit in uit te druk. Nie die seksualiteit onder verdrukking van kerk en staat nie, met die nawerking van die broers Vorster, die een eerste minister en die ander NG Kerk-moderator, nog duidelik voelbaar.
Nee, dit was juigend en vry en verbeeldingryk, ’n viering eerder as ’n skandalisering. ’n Nat vinger, wysende na mans, beide beskuldigend en uitnodigend. Dit was die seksualiteit van Erica Jong se “zipless fuck”. En dit was ’n dekselse knap stuk letterkunde.
Die res is geskiedenis. Marita het een van die gewildste en produktiefste skrywers in Afrikaans se geskiedenis geword, met ’n oeuvre wat tot by kosboeke gaan draai het.
’n Kwarteeu later woon ek en sy beide in Europa. Marita toe al lankal in Frankryk met haar Franse man en gesin. Ek en my maat pas in Griekeland waar ons ’n soort toeristebesigheid begin het waar mense saam woon, eet en gesels. Dit was 2016. Ons reël met die tydskrif Sarie dat Marita na ons sou kom op die eiland Lesbos, ’n naweek saam met ons en ander vriende deurbring vir ’n oefenlopie van ons idee, en ’n artikel daaroor skryf. Waar sou jy beter promosie kry?
Aan die einde van ’n gesellige tydjie vra Marita my hoekom bied ek en sy nie saam ’n werkswinkel vir skrywers aan nie. Die gedagte groei. Toe ons dit adverteer, word ons oorval. Dis nou al vyf sulke werkswinkels later en hulle bly steeds gewild. 2020 s’n moes uitgestel word omdat COVID-19 alle planne tersyde gestel het. Dit is ’n slag vir beide, maar is niks teen die vriendskap en lang trajek wat begin het by ’n versuim aan my kant, en wat soveel anders sou kon verloop het as Marita ’n minder vergeeflike mens was.
Voorin my eksemplaar van Griet het Marita in 1992 geskryf: “Mag ons dit weer doen.” Ek sê mos van die gesiente.
Kommentaar
Boeiend. Dankie, Frederik.
Frederik, daar het wel 'n manuskrip by Tafelberg weggeraak. Die skrywer het dit oorweeg om die voorval te omskep in 'n speurverhaal. Hy het nog nie, maar dit kan dalk nog.
Dit was nou lekker!
Lekker!