Skoon wasgoed-rubriek: Daardie goue naald in die hooimied

  • 0

Inskrywings vir die tweejaarlikse Groot Romanwedstryd van Tafelberg-uitgewers het onlangs weer gesluit. Dit trek van die grootste name, maar is ook ’n aansporing vir beginners, vir wie daar ’n spesiale prys opsygesit word. So het dit ’n ware dinamo vir Afrikaanse fiksie geword.

Die wedstryd was ’n inisiatief van Annari van der Merwe. Tafelberg se webwerf sê dit was in 1990 en dis seker reg, want ek onthou die datum nie self nie. Annari se portefeulje was kinder- en jeugboeke en spesiale projekte. Sy het ’n prysborg gekry, en so is ’n sterk en ryk tradisie gebore wat nou al ’n groot aantal eersteklas skrywers en boeke opgelewer het.

Ek was ’n jong fiksieredakteur met ’n paar swaargewigte op my kerfstok, maar steeds begerig om myself te bewys. Toe die baas, Danie van Niekerk, my dus vra om met die beoordeling te help, was ek soos ’n pyl uit ’n boog.

Daar was ’n stuk of veertig inskrywings. Daar kon nie van die drie hoofbeoordelaars verwag word om alles te lees nie. Hulle was almal hoge bome met baie werk en die inskrywings moes uitgesif word. Dit was toe nou my opdrag.

Danie het my vir twee weke huis toe gestuur om die manuskripte te lees, ’n kort diagnose van elk uit te skryf en hulle in drie klasse te orden: definitief, moontlik en beslis nie. Elders in die redaksie, meen ek, sou daar ’n langlys uit die eerste twee uitgesuiwer word, en dié is aan die keurderspaneel deurgegee.

Twee weke van tuis werk was ’n vreemde, vreemde konsep. Wie sou kon raai dat dit 25 jaar later vir ’n groot deel van die wêreld skielik algemene gebruik sou word? Die tegnologie wat so iets sou moontlik maak, was buitendien ook skaars voorstelbaar in 1995. Dit was die jaar van die groot sprong vorentoe met Windows 95.

Waarmee ek egter tuis gesit het, was ’n analoë toring om te bestorm. Ek het die manuskripte almal in ’n prekêre hoop opmekaar gestapel, en dit was byna skouerhoogte hoog. Tuisrekenaars was in, tikmasjiene uit. Die groot gerief van uitvee sonder Tipp-Ex en die gladde vloei van die woorde onder jou vingers op gevoelige toetse het duk manuskripte tot gevolg gehad. Etienne van Heerden het in 1991 die rekord vir Afrikaans geslaan met Casspirs en Campari’s – 644 bladsye.

Ek het egter nog lank nie my eie rekenaar tuis gehad nie, en die inskrywings moes buitendien in papierformaat wees – vandaar die toring. Daardie stapel beskrewe bladsye, ’n hiperboliese simbool van boekeredakteurswerk, moes van bo af verteer word. Om dit in twee weke te doen, moes ek drie van die romans per dag lees. Een in die oggend, een in die middag en een in die aand.

Ek het op universiteit ’n kursus in spoedlees gevolg en ek kan vinnig lees as ek moet, maar ek verpes dit. Jy sou moontlik uit vorige rubrieke in hierdie reeks kon aflei dat ek ’n stadige skepsel is. As ek lees, wil ek elke klank van elke woord in my binneoor laat eggo, elke nuanse van betekenis sien, al die bevredigende kadense van ’n skrywer se frases en sinne beleef.

Ek glo gewoon nie dat mense wat so blitsvinnig lees, dit alles waarneem nie. Die beste skrywers verhul hul mooiste draaie agter sluiers soos skadudansers, en dit loop jy mis as jy met koorsige spoed deur ’n boek tier. Maar daardie keer moes ek.

Dit was dalk die vreemdste twee weke van my lewe. Ek het gou in ’n zombieagtige dwaaltoestand gekom. Ek het skaars van die buitewêreld kennis geneem. Ek moes met die hond gaan loop en soms uitskiet om voorraad aan te koop. Ek moes die deur af en toe gaan oopmaak vir die pizzaman. Maar die TV het in die muur weggesmelt. Die radio het ’n kissie sonder betekenis geword. Die bed ’n rituele altaar. Al waar ek gefunksioneer het, was in die lamplig oor my lessenaar; al sin wat my wêreld gemaak het, was my uitasem jaagtog agter die stories aan; al bevolking van my werklikheid was die karakters in die manuskripte.

Snags het hulle oor die drempels van my drome gestroom. Sodra ek my oë teen middernag sluit, het ’n maalkolk van bisarre intriges my ingetrek en my ligdag weer uitgestoot na my lessenaar en die stadig krimpende toring. Maar hoe laer die toring hoe meer intens en makaber was my drome en hoe meer verdwaald my wakker ure. Wat sou gebeur as my leesverslae agterna blyk te wees soos die onleesbare geskribbel van iemand wat in die middel van die nag vinnig ’n droom opteken en verder slaap?

Gelukkig het ek die onderkant van die toring bereik en my sinne behou. Daar was ’n verslag oor elke manuskrip.

*

Verder onthou ek min. Nóg wie die beoordelaars was, nóg die wenners. ’n Paar boeke uit die stapel is gepubliseer. Ek bedoel nie dat dit vergeetbare boeke was nie, net dat ek nie meer onthou wat wanneer verskyn het nie. Maar één daarvan onthou ek, want dit was die begin van iets merkwaardigs. En ook nie direk nie, want in my kop het ek die manuskrip eers in die rubriek as “onwaarskynlik” geliasseer. Dit mag ook wees dat dié spesifieke manuskrip vir ‘n latere wedstryd ingeskryf is.

Ewenwel, ek het die verslaggies aan al die skrywers gepos en voortgegaan om my werk wat intussen in die kantoor opgedam het, te pak. Een van die skrywers vir wie ek nie bra moed gehad het nie, wou sy manuskrip kom afhaal en ’n woordjie daaroor met my wissel. Dit was ’n dunnerige boekie, ’n relaas van drie jong Bellville-latte wat vir ’n avontuur na Londen uitwyk. Dit het nie uit die verf gekom nie en die verhaal het homself in knope vasgetrek.

Ek het aan die skraal, skaam skrywer verduidelik waar dit volgens my te lank en waar te kort is. Hy het my stip aangekyk met skerp blou oë, maar weinig gesê. Hy is daar weg. Tyd het verloop, tye het verander. Ek is weg by Tafelberg om my by Hettie Scholtz se Queillerie aan te sluit.

Ek was nie lank by Queillerie nie, toe kom daar ’n manuskrip aan. Dit was van daardie skrywer, en dit was dieselfde manuskrip, maar ook nie. Die boek – elke redakteur se grootste vrees – was drie keer dikker. Maar dit was ook omtrent sewe keer beter. Dit was, om die waarheid te sê, ’n boek van heeltemal ’n ander orde. Nou het die verhaal behoorlik ontwikkel, iets gesê gekry, skaduwee gemaak.

Drie jongens van Bellville kom in Londen aan. Twee wil jol, die derde een soek God. Dit is of sy verbete dagboekhouery oor alles wat hy beleef, juis belewenisse inspireer, en hy word by al wat offbeat is, ingetrek. Die slot van die boek kap Kafka se yspik in jou toraks in.

Elize Botha, een van die gesaghebbendste figure in die Afrikaanse literêre wêreld, het die manuskrip vir my gelees. Sy was vir werk in Kaapstad en het op die Groentemarkplein tuisgegaan. Sy het wyn na haar hotelkamer bestel en haar sigbaar reg gewikkel vir lekker oor ’n boek gesels. Want sy het waardering vir die boek gehad.

Daar was iets in van die Groen Man (Graham Greene). In die boek se sewedaagse rite was daar iets van Etienne Leroux se Silbersteins. En daar was meer as net ’n kniebuiging in die rigting van Colin Wilson se The Outsider van 1954 oor die nuwe eksistensiële kondisie van die vervreemde 20ste-eeuse mens. Verder kon hierdie skrywer sinne maak. Jy kon jou verloor in sy elegante sinskonstruksies. En hy kon waarneem, en weergee.

Een ding het haar gepla. Hy maak die tipiese fout van ’n eerste roman deurdat hy “al sy goed in die een boek wil sit”. Daar het waarheid in gesteek, maar wat sy nie toe kon geweet het nie, is dat ’n produktiewe oeuvre sou volg, en dat die skrywer nog baie goed gehad het vir sy ander boeke.

Die publikasie van Jaco Fouché se debuutroman, Die ryk van die rawe, het ’n sonderlinge nuwe skrywerskap in Afrikaans aangekondig. Ons het so wat  aangevoel en wou dit met die voorblad demonstreer. Tog het ons ’n bietjie geskrik vir die ontwerp van Piet Grobler, wat vrye teuels gehad het. Piet se lees van die boek was nogtans raak, soos hy dit in die vervalle blou gesig uitgebeeld het.

Ek weet nie of mens vandag so ’n melankoliese voorblad verby die bemarkingspan sal kry nie (wat by Queillerie een persoon was). Hulle sal sê dit skrik mense af. Tog, as ek nou daarna kyk, ’n kwarteeu later, sou ek sê Piet het ’n ontwerp vir die dekades gemaak wat net sowel vandag geskep sou kon wees.

Jaco was nie maklike bemarkingsmateriaal nie. Hy is ’n vriendelike mens, maar geen joviale kletspaneellid nie. Hy het aandag van homself afgestoot soos ’n magneet met ’n eie pool maak. Hy was moeilik om ’n onderhoud mee te voer en ongeneë tot ’n fotonemery. Toe ons hom oorreed kry om voor die kamera te staan, was dit op sy voorwaarde: Hy wou op die Bellville-stasie afgeneem word.

As dit klink na die klassieke elemente van ’n kultusfiguur, is dit omdat dit waar is. Daardie status het Fouché boek vir boek sedertdien bevestig. Hy het, kan jy byna sê, sy eie subgenre geskep: Bloukraag-Bellville. Hy het in sy werk so dikwels teruggekeer na die strate van hierdie stad, die stil, ryk innerlike lewe van sy nederigstes so wyd oopgeskryf, dat mens Jaco Fouché maar, sonder om hom te reduseer, die profeet van Bellville kan noem. Of die metafisikus wat verby al ons gekondisioneerde oordele kan kyk en iemand, byvoorbeeld ’n karwag, in sy volle opgetoë menslike waardigheid kan teken.

En so byna was ons hierdie skrywer kwyt. Was dit nie vir sy eie vasberadenheid nie, was hierdie goue naald nooit uit daardie hooimied in my voorkamer gewan nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top