Skoon wasgoed: Is ons almal Zimbabwiërs?

  • 4

Van poësie gepraat. Tweeuur een oggend miskien ’n jaar gelede kry ek, waar ek salig slaap in my kooi in my huis op die eiland Lesbos ver weg in die Egeïese See, ’n stemboodskap. Iemand het hom beweeg gevoel om vir my ’n gedig te lees. Die stem het ek goed geken, al het die konsonante gegly soos die uitgewerkte clutch van ’n ou motorkar. Ek het ook geweet die eienaar van die stem, ’n briljante man, word deur onstabiliteit getreiter.

Izak de Villiers het my iets grappigs op soortgelyke trant vertel. Hy het ’n huis in Johannesburg verkoop om elders in die stad in te trek. Die nuwe eienaar bel hom en sê iets vreemds het gebeur. In die middel van die nag lui die foon. Aan die anderkant van die lyn is ’n grinterige stem met die basfrekwensie van ’n dieselboot, en dié stem begin, sonder groet of aanhef, ’n gedig voordra die oomblik toe hy die foon optel.

Die Engelssprekende huisbewoner het vergeefs in sy eie skedel rondgetas vir ’n konneksie met iemand wat vir hom ’n Afrikaanse gedig sou wou lees, laat staan nog in die klein ure. Toe tref dit hom: maar dit is die minister van buitelandse sake! Pik Botha. Ook nie honderd persent nugter nie.

Hoe dit gekom het, was dat die nuwe eienaars die Viljees se foonrekenening met nommer en al oorgeneem het. Pik het die gewoonte gehad om laatnag gedigte te skryf en hulle dan op die daad vir Izak oor die foon te lees.

Beide is nou ter siele, en dalk weet hulle iets meer van die oerbronne van waaruit die beeldende woord ontspring.

***

Op ’n dag in die laat jare tagtig ontvang ek ’n manuskrip by JL van Schaik Uitgewers. Op die posstempel staan die naam Leeukop Gevangenis. Binne-in is daar ’n pak netjies uitgetikte gedigte en ’n dekbrief. Aan die gedigte was daar oomblikke van roering, maar nie wat ek beweging in die rigting van publikasie sou noem nie.

Maar dis die dekbrief wat my aandag in arres gehad het. Daarin het die aspirantdigter, gevangene nommer so-en-so, verduidelik dat hy vir moord in die tronk is. Ek dag: Hoe sal ek hierdie afwysing bewoord sonder dat ek gevaar staan dat daar jare later, na die vrylating op parool van hierdie verworpe digter, een nag hard aan my voordeur geklop word?

Die volgende keer dat ek met ’n manuskrip uit die tronk in my hande gestaan het, was dit ’n heeltemal ander storie. Die roman was goed, maar die storie ágter die storie was ’n veel groter storie as die storie ín die storie.

Laat ek verduidelik.

In die jare tagtig was ek saam met die Durbanse Mannekoor op ’n konsertreis in Amerika. Toe ons teen die westelike soom van Kalifornië afreis, stop ons in die heuwels bo ’n plek met die naam San Simeon, rofweg in die middel van die mooi kusroete tussen San Francisco en Los Angeles. Daar staan ’n konfeksie van ’n kasteel in sestien en ’n half boustyle.

Dit is ingerig met artefakte van antieke Griekeland en Rome tot Middeleeuse Europa tot Transilvanië. Die werk van ’n bevange versamelaar met soveel geld dat hy geen snars hoef om te gee vir die intrinsieke waarde van die skilde, die wapens, die tapisserieë, die mosaïeke en marmerbeelde nie, en nog minder vir die konteks waaraan hulle ontruk is. Net maar vir hom die pronkkrediet wat dit hom in die oë van nog minder ingeligte mense gee. Dit is die nalatenskap van ’n negentiende-eeuse koerantmagnaat genaamd William Randolph Hearst.

En daar sou die geskiedenis hom vasgepen het, met sy fortuin en bedenklike smaak, en hom uiteindelik in rang ondertoe afgeskuif het. ’n Honderd jaar na die oprigting van sy kasteel in 1919 was daar immers ’n veel groter instansie van sy soort vulgariteit in die Withuis.

Maar lank na sy dood gebeur daar toe iets wat sou maak dat ’n mens hom om ’n heeltemal ander rede onthou. In 1974 gryp ’n groep radikale idealiste vir Patricia, sy kleindogter. Die ontvoering van Patty Hearst deur die Symbionese Liberation Army was die sensasioneelste storie van die dekade. Die San Franciskaanse Baaigebied was ’n kruitvat in die jare sewentig. Die reuk van revolusie het in die lug gehang en jong mense wat meer wou hê as die onbevredigende opbrengs van die 1968-opstande het meegesleur geraak in radikalisme. Weg met die kapitalistiese staat!

Een van hulle, letterlik meegevoer, was Patty Hearst. In een van die beste voorbeelde van die Stockholm-sindroom het sy haar ontvoerders se saak volledig haar eie gemaak. Op 21 April 1975 bestorm sy en drie ander, agter ski-maskers en tot die tande toe gewapen, die Crocker National Bank in Sacramento. Een van hulle met ’n gretige vinger trek ’n skoot af, en so sterf Myrna Opsahl op die ouderdom van 42 jaar.

Reg agter Myrna het James Kilgore gestaan, nog ’n jong man wat nie uit die revolusionêre maalkolk kon bly nie. Myrna se seun Jon het later wrang opgemerk sy ma het die bankrower se lewe gered. Die bendelede het gevlug maar is later gearresteer. Net Kilgore het weggekom. Die FBI het hoog en laag gesoek, maar hy was skoonveld. Op die TV-program America’s most wanted is sy gesig oor die jare gereeld gewys, algaande ouer gemaak soos die tyd aanstap. Die maande het jare geword en die jare dekades.

***

Fast-forward nou. In November 2002 staan daar ’n vrou voor die deur van John Pape en sy lewensmaat, Theresa Barnes, waar hulle in Claremont, Kaapstad met hul twee kinders woon. Terri is dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, John is mededirekteur van die International Labour Research and Information Group aan die Universiteit van Kaapstad.

Hulle is beide gewilde en gewaardeerde akademici van die Left. Beide het doktorsgrade met die werkersklas as onderwerp. Theresa s’n van Brown University in Rhode Island – Ivy League – en John s’n van ’n Australiese universiteit, oor die probleme van huiswerkers. Hulle het in Harare ontmoet, waar beide klas gegee en navorsing gedoen het, en is later saam na Suid-Afrika om uiteindelik in Kaapstad tereg te kom. Hulle is aangename bure. John vat sy seuns krieket toe.

Maar die oomblik toe die vrou voor die deur ’n bottel wyn in sy hand stop en sê sy doen marknavorsing vir die wynbedryf, het hy geweet: Daardie bottel gaan met sy vingerafdrukke op by die FBI uitkom. Weke later is hy gearresteer, onder meer op aanklag van manslag vir die dood van Myrna Opsahl, byna 27 jaar na die gebeure in Sacramento.

Niemand was meer verbaas as Terri en die seuns nie. James Kilgore, die lewensmaat en vader wat hulle as John Pape geken het, het dertig jaar tevore ’n vals identiteit ontleen aan die geboortesertifikaat van ’n gestorwe babaseuntjie in Kalifornië.

Kilgore het nie sy uitlewering teengestaan nie, al sou hy kon. In die Suid-Afrikaanse reg word jy beskerm teen uitlewering vir politieke misdade. In Amerika is hy tot tien jaar gevangenskap gevonnis. Hy het ses en ’n half hiervan uitgedien.

Iewers in 2008 kry ons by Umuzi ’n brief uit Australië van ene Stephen Morrow. Sou ons ’n manuskrip van hierdie karakter, James Kilgore, oorweeg? Hy sit nog in die tronk in Kalifornië, waar hy ’n roman geskryf het. Annari van der Merwe, destyds aan die hoof van Umuzi, laat weet van ja. Die manuskrip arriveer, netjies gedruk, en dit is ’n propperse stuk prosa van iemand wat duidelik talent het.

We are all Zimbabweans now is die verhaal van ’n Amerikaanse aktivis wat hom vir die opvoeding en ander belange van die werkersklas in Zimbabwe beywer. Weldra begin hy egter ontgogel raak met die vergrype van die vroeër gevierde bevryders. Die verrotting wat uitkring totdat Robert Mugabe se gulhartige uitroep aan die begin van sy bewind oplaas beteken: Hierdie korrupsie het ons almal betrek.

Kilgore vertel hoe hy in die gevangenis in Amerika toegang tot ’n antieke Olivetti gekry het. Die tiklint was egter uitgewerk en voos. ’n Medegevangene het raad gehad: sit baba-olie op die lint, dan sal jy weer ink daaruit kan slaan. Baba-olie was makliker bekombaar as ’n nuwe tiklint.

Die truuk het gewerk, en die eerste weergawe van die boek is uitgetik en na ’n vriendin in Zimbabwe gestuur. Na haar fel kritiek moes hy die boek met die hand oorskryf omdat hy na ’n ander gevangenis oorgeplaas is waar daar geen tikmasjien beskikbaar was nie. Die tweede hersiening het hy gestuur na sy vriend Stephen Morrow in Australië. Morrow het ’n tikpoel van kennisse versamel wat gesamentlik die 570 handgeskrewe bladsye oorgetik het. Die manuskrip wat by Umuzi uitgekom het, was die sesde weergawe, wat iets sê van deurdruk in moeilike omstandighede.

Toe ons die manuskrip aanvaar, moes ons die publikasiekontrak met Terri aangaan omdat Kilgore onder gevangeniswet nie kontraktant kon wees nie. Alles, trouens, moes indirek gebeur. Drie rondtes redigering en korreksies tussen ons en die skrywer is via Morrow herlei, wat ook die skrywer se korreksies op die elektroniese kopie aangebring het. Die laaste keer het die reëls verander en gevangenes is nie meer toegelaat om meer as tien bladsye van enigiets in een koevert te ontvang nie. Kilgore se skoonma, Pat, in Michigan, het die bladsye verklein en twee aan ’n kant, weerskant, uitgedruk gekry en die manuskrip in tien koeverte aan hom in die tronk gepos.

Maar die moeite daargelaat: Die boek het in 2009 verskyn, besonder treffend ontwerp deur Michiel Botha, en die kritiek was goed. Verkope, soos dit met die meeste plaaslike fiksie in Engels gaan, was teleurstellend. James is op parool vrygelaat, maar hy was vir ’n vasgestelde tyd beperk tot Michigan waar hulle tuisgegaan het. Ons het gedoen wat ons kon om die boek te bemark, selfs ’n video-onderhoud probeer voer, maar weens sy paroolvoorwaardes moes die skrywer ’n lae profiel hou.

’n Mens sou dink die sensasionele agtergrond van die skrywer sou mense nuuskierig maak en verkope stimuleer. Dalk het die etiket “terroris” kopers afgeskrik.

Teen daardie tyd het hy lank reeds die kru ideologie en gewelddadige metodes van die Symbionese Liberation Army agtergelaat. Hy was ’n gerespekteerde akademikus, skrywer vir geakkrediteerde tydskrifte. Hy het sy lewe gewy aan ondersteuning van die vertraptes op die onderste range. In sy verklaring voor die hof sê hy: “For more than three decades I have attempted to move beyond those acts, to chart a different road, working through nonviolent means as an educator in the cause of social justice.”

Vakbonde en sy UK-kollegas het vir hom ingetree, asook aartsbiskop Desmond Tutu, wat vanuit die Waarheid-en-versoeningskommissie ’n koppeling gesien het tussen amnestie en ’n politieke misdaad wat ten volle bely is. “[L]et us take this opportunity,” het hy aan die hof geskryf, “to return a good man to his family, his adopted community, and to a productive future as quickly as possible.”

Vandag is James Kilgore navorsingsgenoot by die African Research Centre aan die Universiteit van Illinois. Benewens nog twee romans wat hy in die tronk geskryf het, publiseer hy akademiese en leke-artikels, immer die sosiale aktivis. Daar was ook ’n nie-fiksieboek oor die gevangeniswese.

Ek dink aan ’n film oor Charles Dickens waarin sy dogter van hom sê: Hy is net ’n goeie man wat probeer om ’n goeie man te wees.

  • 4

Kommentaar

  • Dankie, Frederik. Ek kan net beaam wat Renée hierbo sê.
    Ek onthou as kind in die sewentigerjare hoe ek taamlik gefassineerd was met die rykmanskind wat tot bankrower "gebreinspoel" is. Ek onthou ook hoe verras ek was toe ek destyds gelees het dat Kilgore vir jare onder n nuwe identiteit heel gemaklik hier aan die suidpunt van Afrika vir hom en sy gesin n goeie bestaan gemaak het.
    Ek het ook die staaltjie oor Pik se laatnag gedig-lesery terdeë geniet.

  • Avatar
    Annelize van Rooyen

    'n Brokkie verlangs verwante inligting.
    Orson Welles se rolprent Citizen Kane (1941) is losweg gebaseer op die lewe van William Randolph Hearst, 'n persmagnaat en vele ander dinge. Hy was natuurlik Patty Hearst se oupa. Sy is in 1954 gebore en hy is in 1951 oorlede. Hulle het mekaar dus nooit geken nie.
    Citizen Kane was baie lank beskou as die beste rolprent wat ooit gemaak is. Baie kritici dink trouens vandag nog so. Welles was 'n groot bewonderaar van John Ford en hy het in Citizen Kane baie stylelemente van Ford nagevolg - het glo een prent van Ford meer as 40 keer gekyk. By daardie jaar se Oscars, het Ford die een vir beste prent gewen. Citizen Kane het, ondanks nege nominasies, net die een vir beste draaiboek gekry.
    Hearst was so kwaad oor die voorbarigheid en oneerbiedigheid van die pipsqueak van 25 dat hy al sy publikasies verbied het om advertensies vir die prent te dra. Die prent is ook eers in die sewentigs vir die eerste keer in 'n Hearst-koerant geresenseer.
    Die 'Hearst Castle' is in die prent Xanadu genoem.
    Oor Patty Hearst self is ook 'n rolprent gemaak, Guerilla: the making of a terrorist (?). Dit het egter nooit enige lys van 'bestes' gehaal nie.

  • Avatar
    Annelize van Rooyen

    'n Brokkie verlangs verwante inligting.
    Orson Welles se rolprent Citizen Kane (1941) is losweg gebaseer op die lewe van William Randolph Hearst, 'n persmagnaat en vele ander dinge. Hy was natuurlik Patty Hearst se oupa. Sy is in 1954 gebore en hy is in 1951 oorlede. Hulle het mekaar dus nooit geken nie.
    Citizen Kane was baie lank beskou as die beste rolprent wat ooit gemaak is. Baie kritici dink trouens vandag nog so. Welles was 'n groot bewonderaar van John Ford en hy het in Citizen Kane baie stylelemente van Ford nagevolg - het glo een prent van Ford meer as 40 keer gekyk. By daardie jaar se Oscars, het Ford die een vir beste prent gewen. Citizen Kane het, ondanks nege nominasies, net die een vir beste draaiboek gekry.
    Hearst was so kwaad oor die voorbarigheid en oneerbiedigheid van die pipsqueak van 25 dat hy al sy publikasies verbied het om advertensies vir die prent te dra. Die prent is ook eers in die sewentigs vir die eerste keer in 'n Hearst-koerant geresenseer.
    Die 'Hearst Castle' is in die prent Xanadu genoem.7
    Oor Patty Hearst self is ook 'n rolprent gemaak, Guerilla: the making of a terrorist (?). Dit het egter nooit enige lys van 'bestes' gehaal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top