Skoon wasgoed: Dot Serfontein se rang in die ry van skrywers

  • 2

Daar is name wat ’n mens soos jy grootword opgetel en geassimileer het sonder dat jy presies weet waar en wanneer. Tog het hulle deel geword van jou uitdyende bewussyn, die eter waarbinne jy uitbeweeg in die wêreld, ’n vanselfsprekendheid soos die Here en die regering.

Ek bedoel name (vir my geslag) soos Esmé Euvrard, dr Verwoerd, Die Du Plooys van Soetmelksvlei.

Nog so ’n naam was Dot Serfontein. Vra nie hoe nie. Ek twyfel of ek op laerskool haar boeke gelees het. Dit moet die radio wees, daardie onontbeerlike vormer van jou hart en verstand. Stories deur haar oor die radio voorgelees moes ’n blywende indruk op hierdie kind gemaak het. Of ’n boek in die huis, of ek dit nou self gelees het of nie.

Dit is een van die vreugdes van ’n jong boekredakteur dat mense jou pad kruis wie se boeke jy op skool of pas maar op universiteit bestudeer het, boeke wat jou straks gehelp trek het na die beroep. Jou helde, die legendes, kry menslike gestalte, word stem en persoonlikheid. Die profiel word ingevul met alledaagse, menslike bedrywigheid en sorge: ’n hond wat soek is, ’n motor wat gediens moet word, ’n pakkie afgelewer.

My eksemplaar van ons Queillerie-uitgawe van Vertel! Vertel! is gehawend weens klein hondjies met jeuktand

Op ’n dag in daardie epogmakende jaar 1994 bel Antjie Krog my by Queillerie en vra of ek wil kyk na stukke van haar ma se skryfwerk. Watse stukke? Allerhandes – kom kyk self.

Daar sou nie nee dankie gesê word nie, het ek geweet voor ek hulle nog gesien het. Dot Serfontein! Daardie kenbaarste onder skrywersname. En boonop die ma van Antjie Krog. Was daar ’n punt toe die skaal gekantel het van Antjie as “dogter van Dot Serfontein” na Dot as “ma van Antjie Krog”? Ek glo van nee. Daarvoor was Serfontein te diep gevestig in die letterkundige landskap van Afrikaans, sy en Antjie elk so klinkend hul eie stem.

..........

Dit was ongelukkig – is dalk steeds – die geval dat hierdie skrywer ver onderskat is. Sy het pryse en eerbewyse ontvang, maar nie konstant nie, en nie die groot pryse waarvan almal weet nie. Van haar vroeë boeke, party onder skuilname, is geskryf in die meer populêre register van die tydskrifverhale waarmee sy begin het. Sarie Marais het ‘n groot rol hierin gespeel. As dit die oorsaak was dat ’n verminderde reputasie haar bly aankleef het, is dit ’n aanklag teen literêre snobisme.

........

Dit was ongelukkig – is dalk steeds – die geval dat hierdie skrywer ver onderskat is. Sy het pryse en eerbewyse ontvang, maar nie konstant nie, en nie die groot pryse waarvan almal weet nie. Van haar vroeë boeke, party onder skuilname, is geskryf in die meer populêre register van die tydskrifverhale waarmee sy begin het. Sarie Marais het ‘n groot rol hierin gespeel. As dit die oorsaak was dat ’n verminderde reputasie haar bly aankleef het, is dit ’n aanklag teen literêre snobisme.

In die groot projek om die Afrikaanse letterkunde in tandem met die Afrikaner op te hef en groots te maak het ons miskien verby die mikpunt geskiet. Ons het ons laat verlei deur die idee dat akademiese letterkunde, werke waarop geleerdes met groot woorde inboor, van groter waarde is as die groot veld van stories oor en vir mense in die daaglikse dieptes en hoogtes van hulle bestaan.

Ironies genoeg ís Dot Serfontein onder die literêre swaargewigte gereken. Haar groot, diepsnydende roman oor die Boereoorlog, Rang in der staten rij van 1973, behoort in dieselfde asem genoem te word, sê Hilda Grobler in Hoofstad van 13 September 1973, as Die swerfjare van Poppie Nongena van Elsa Joubert en Kroniek van Perdepoort van Anna M Louw. (Laasgenoemde is toegejuig as die uiteindelike aankoms van die sogenaamde Groot Afrikaanse Roman.)

Maar dis om al wéér die sonde van letterkundige klassestratifikasie te pleeg. Dot Serfontein se grootste prestasie, waarin sy skaars haar gelyke het, was in hoe goed sy konkrete ervaring en vlieënde verbeelding in taal kon uitdruk en op papier kon neersit sodat die leser soos in ’n panorama kon deel in die skouspel van die groot drama wat so oud soos die mensdom is. Niemand stel dit beter nie as Petra Grütter, ’n Overbergse eweknie van die Vrystaatse Serfontein, en dis die moeite werd om haar uitgebreid aan te haal uit Insig van Februarie 1996:

Die mens wat hier na vore kom, staan boer-groot voor jou, en sy gebruik die boer-taal. Sy sê bek en stront waar dit pas, dws as deel van ’n genuanseerde en deurvoelde herinneringstroom wat, soos die rivier van haar dorp, verlede en hede saamsleur. Sy hou haar stories aan die beweeg, van mensknoop tot mensknoop, en oplaas strik sy dit met die noodlot vas. Daar is min uitkomkans. [...] So lyk léwende letterkunde: wanneer die skrywer wegraak, en die skepping self praat. Die boek verdwyn, die tyd vergaan, die deure van die ewigheid knars oop, en weerloosheid kom soos Shakespeare se nakende nuutgeborene deur die storm aangeloop.

Protea se mooi uitgawe van Vertel! Vertel!

Hierdie woorde het sy uitgespreek in reaksie op Vertel! Vertel!, die boek wat gevorm is uit ‘n klomp los stukke in stapels papiere uitgewaaier rondom Antjie waar ek haar plat op die vloer van haar kantoor in Woodstock, Kaapstad, aangetref het. Sy was destyds redakteur van die politieke tydskrif Die Suid-Afrikaan.

Ek is daar weg met die papiere in, as ek my verbeelding die oorhand gee, ’n plastieksak. En ek het dit gaan sit en lees. En lees en lees. Dit is ’n versameling wat min samehang het, maar ook weer alle sin só saam maak. Daar is gewone kortverhale, daar is fragmente, transkripsies van ander se vertellings, flardes vertellings wat, was hulle nie so deeglik en selfversekerd geskryf nie, jou sou kon laat dink hulle kom met die wind aangewaai. Maar wat hulle gemeen het, wat hulle uiteindelik tot boek laat bind het, is dié onomstootlike feit: ’n Meesterlike verteller is aan die woord, en sy het iets om te vertel. En een van die vermoëns van so ’n verteller is om selfs die geringste van dinge met substansie en waardigheid te beklee, en dit boonop ligvoets te doen, en met humor.

So verskyn toe in 1995 die enigste boek van Dot Serfontein wat dit my voorreg was om uit te gee, en om in die proses ’n rafelpuntjie beet te kry van die ryk weefwerk wat hierdie vrou se lewe was. Ek het haar op haar plaas Middenspruit buite Kroonstad gaan opsoek. Dit was voor die boek uitgekom het, en ons moes praat oor die inhoud en die omslag.

Wat ek op die plaas aangetref het, was geen weduwee in sak en as nie, maar iemand wat, in haar eie woorde (in ’n onderhoud met Marietjie Smith in Rooi Rose van 29 Julie 1992) sê “dat sy as boervrou ‘uit beginsel’ gebak, geslag, seep en konfyt gekook, koffie gebrand, vrugte, honde, katte, hoenders en bye ‘beboer’, perde mak gery, twee sandkliphuise met gewone arbeiders gebou en vyf kinders grootgemaak het – ‘alles min of meer op die beginsel van werk hard, neuk sinvol, vrees die Here en moet op prinse en ’n wit vel nie vertrou nie’.” Sulke praktiese verstandigheid het ek ook elders by skrywers teëgekom, veral as hulle ’n landelike herkoms het. Nie alle skrywers is dromerige boheme nie. Jy moet eet, jy moet kan ry, en jy moet ’n dak oor jou kop hê.

Dot was aan die vleis werk en bak toe ek daar aankom. Die sproeiers was aan in die tuin; daar het ’n hopie onkruid by die rose gelê. Ek herinner my nie ’n arbeidsmag werksaam om haar nie. Sy was besig, en byna saaklik, maar sy het my vriendelik en ferm ingebring. Hier was sy in beheer.

Eers koffie en beskuit. Op die stoof was sy ons middagete aan koke. Koffie, beskuit, en gesels. Sy was ingelig en nuuskierig. Haar intelligensie het aan haar geskitter soos ’n juweel wat jy in die son draai. Die saaklikheid het gou deursigtig geword: Dit is die wandel van iemand wat werk, wat besig is, die wêreld ernstig opneem, maar nogtans ruim reserwes wellewendheid het. Hartlikheid, as sy van jou begin hou. Mens gaan nie goedkoop om met toegeneentheid as jy iemand soos Dot Serfontein is nie.

Toe ons oor die boek se voorblad praat, vertel sy my van die skildery wat haar dogter Penny Krog van haar gemaak het. Terug in die Kaap kry ek dit te siene: ’n vrou met die welige grys hare soos ’n helm om haar kop, die breë, sterk skouers van iemand wat nie lyf kan wegsteek nie, hande voor die bors gehou – nie in ’n rusposisie gevou nie, maar net vir ’n oomblik stil soos dié van ’n snydokter net voor ’n operasie, gereed. En die gesig. Vriendelik maar nie stroperig nie. Die vlakke kan jy maklik soos ’n landskap lees.

Die ontwerp vir die voorblad het Nic de Jager (geen familie!) vir ons gemaak. Dit was ’n hele storie om die skildery sonder ligweerkaatsing af te neem. Die reproduksie het ons ’n bietjie in die steek gelaat deur die diepste lyne en die blou effens te oorbeklemtoon. Nic se konsep was om die skildery en titel asof onder ’n sjabloon te plaas sodat dit lyk asof mens die skildery deur ’n raam beskou. Die raam synde (volgens een afleidingsmoontlikheid) die verhale in die boek wat jou uiteindelik ’n blik op die skrywer self gee.

.......

En wat sien ons so, in die verhale? Vir my was sy iemand uit wilgehout gesny, gehou uit sandsteen. Die Valsrivier waarvoor sy so lief was, het in haar are gevloei, en die Vrystaat was haar asem.

..........

En wat sien ons so, in die verhale? Vir my was sy iemand uit wilgehout gesny, gehou uit sandsteen. Die Valsrivier waarvoor sy so lief was, het in haar are gevloei, en die Vrystaat was haar asem.

’n Stuk of tien jaar later woon ek self in die Oos-Vrystaat en doen ’n bietjie werk vir ’n toeristetydskrif. Ek kry opdrag om Kroonstad te gaan besoek vir artikels oor erfenisgoed en besienswaardigheid. Dot, nou dorpsinwoner, stem in om my rond te vat. Sy neem my na plekke en mense, en sy vertel baie. Sy ken bykans elkeen van die ou Vrystaatse families, veral die Oos-Vrystaat, die Brandwaterkom en die vroue wat in die holkranse geskuil het, waaroor Christoffel Coetzee skryf in sy roman Op soek na generaal Mannetjies Menz wat ek ook uitgegee het sedert ek haar laas gesien het.

Ek is daar weg met ’n groot present: ’n eksemplaar van Keurskrif vir Kroonstad, die magtige boek wat sy in 1990 oor Kroonstad geskryf het. Bykans 650 bladsye in grootformaat met geskiedenisse en foto’s, opgawes van mense en families, anekdotes. Sy is nie net stem van die Vrystaat nie maar ook geheue. Dit is verblydend dat Human & Rousseau, Lapa en Protea Boekhuis van haar boeke in bundels versamel of net so heruitgegee het. Rang in der staten rij by laasgenoemde is seker die belangrikste een, en is ek bly dat hulle Vertel! Vertel! ook heruitgegee het.

Vrydagoggend 4 November 2016 sterf Dot in haar slaap. Ek woon in Griekeland. Ek sien ’n foto van die begrafnis, Antjie half in beweging, haar gesig onleesbaar.

Die Burger vra my vir ’n paragraaf oor haar: “Ons het uit die staanspoor goed oor die weg gekom omdat sy reguit en eerlik was. ’n Skitterende instansie van watter pasmaats vlymskerp intellek en ’n agrariese bestaan is. Sy was die verpersoonliking van ’n nou vergange Vrystaat, ’n kenner van geskiedenis, families en mense, en ’n liefhebber van al drie.”

Dieselfde huldeblyk (5 November 2016) haal Breyten Breytenbach aan: “As ek hoed gedra het, haal ek dit nou in eerbied af by die verbygaan van hierdie moeder. Ek is bly vir haar naastes se onthalwe dat sy op ’n natuurlike manier kon sterwe, en soos dit nou gebeur, sterwe die tekstuur van ’n ryk geskiedenis wat van ver kom, saam met haar."

Vir bronne by hierdie artikel het ek swaar gesteun op Erika Terblanche se deeglik-nagevorste skrywersprofiel van Dot Serfontein hier op LitNet.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top