Dot Serfontein (1925–2016)

  • 1


Sêgoed van Dot Serfontein

“Ek dink die mens se omgewing het ’n baie groter rol te speel in jou karakter as wat ’n mens elke dag besef, veral as jou wortels diep in ’n sekere landskap ingeweef is, dan laat die nuwe wortels nuwe blare te voorskyn bring. Maar dit is maar dieselfde boom.”

Oor die liefde: “Al wat ek weet, is dat die liefde soos die natuur is. Hy het sy seisoene. Dis vir jou om aan te pas by die seisoen. As jy gedurig die liefde in die lente verwag, sal jy teleurgesteld wees. As jy die liefde in die herfs wil beleef, sal jy nog meer teleurgesteld wees. Jy moet die liefde se seisoene herken.” (Volksblad, 4 September 2016)

“Ek probeer vreeslik hard om ’n gewone mens te wees – dan eers het ander die vrymoedigheid om hulle mooiste eienskappe tot jou rykdom te ontbloot.” (Kakkerlak, 2006)

“’n Wyse ou man kan nog altyd ’n jonge dwaas herken en met ’n enkele sin hom van die wal in die sloot stamp.” (Insig, Oktober 1997)

Uit Systap onder die juk: “En teruggekeer na myself, het ek my maar net voorgeneem om nooit twee stene wat deur ’n Afrikaanse skrywer in die Afrikaanse taal opmekaar gelê is, af te breek nie, al lê hulle hoe skeef op mekaar. En ek het gebid dat my hand sal afval voor hy iets skryf waarmee ek vir myself roem probeer inoes ten koste van my volk of ten koste van wat vir hom deur die jare van trane en bloed byeengebring is; dat ek altyd sal onthou dat om in Afrikaans te skrywe nie ’n reg is nie, maar ’n voorreg wat duur gekoop is en waarvoor betaal is en wat geweldige swaar verantwoordelikhede oplê.”

“Ek weet presies aan watter liggaamsgebreke my kleinkinders eendag gaan ly van al die televisiekyk en kaaskrulle kou. Ek weet presies wat gaan word van hierdie geslag Afrikaners wat as gevolg van fisiese en geestelike luiheid toelaat dat ’n beskawingserfenis van honderde jare se bloed en trane onder hulle uitgeruk word met ’n paar holle slagspreuke van onderdrukking en askies dat ek leef. ... En ek doen niks daaraan nie. Ek is tevrede dat die Here mense in my plek sal stuur wat vir my lewe, soos Kus en Seba vir Jesaja. Toe ek jonger was en minder geweet het, het ek die wêreld probeer versit. Anders as nou dat ek aan die bedonnerde kant van sestig aankarring – as niemand vir my kyk nie – heeltemal skeef, maar nes ek luskry.” (Onderhoud met Marietjie Smith, 13 Maart 2006)

“’n Skrywer is uitgelewer aan uitgewers, boekwinkels en kritici, maar daar is min beroepe wat binne die beoefening daarvan – ongeag die resultaat – soveel innerlike rykdom bring, soveel heerlike spanning, soveel kommunikasie sonder teenspraak.” (Rooi Rose, 29 Julie 1992)

“’n Mens is nooit tevrede met wat jy geskryf het nie. Die lewe is vol ongebruikte kanse.” (Volksblad, 11 Desember 1992)

“Die lewe vat jou waarheen jy gaan. Jy berus jou maar daarby. Jou aanpassingsvermoë en jou humor dra jou.” (Volksblad, 17 Maart 2005)

“Ek het opgehou skryf voor ek uitgeskryf is. Dis die groot geheim – om op te hou. Liewers ’n paar ongeskryfde dinge vir jouself as ’n verveling vir ander. Ja, daar is nog ongeskryfde dinge. Hulle is vir my plesier, om my te bewapen teen die dood.” (Volksblad, 17 Maart 2005)

“Ek dink nou nog dit is wat jy nodig het om tot skryf te kom: Jy moet eensaamheid kan hanteer en leer om dit te bevolk. Dan moet jy ’n medium kry om dit te beliggaam. Derdens moet jy met deursettingsvermoë tyd maak om dit te doen. Jy moet bereid wees om te gaan sit. En vierdens moet jy vir iets wil kompenseer.” (Insig, Augustus 2005)

“Op tagtig neem mens kennis van die ouderdom se bedryfsrisiko’s – en neem dan vir lief daarmee dat selfs die Bybel stilbly oor wat ná tagtig met ’n mens gaan gebeur.” (Uit Vrypas)

 “Digters het nie vriende nie, net vyande. Skrywers het baie vriende, maar ook baie kritici. Joernaliste het baie vriende, op voorwaarde dat hulle hulself nie skrywers noem nie. Ek het baie vriende hier. Ek hoop dat julle my nie as ’n skrywer sal tipeer nie. Ek is sommer maar net ’n joernalis. Die goeie Vader wat my geseën het met ’n sterk fisieke liggaam wat kon swem en hardloop, het my ook geseën met die gawe van stilte en alleenwees.” (Volksblad, 19 November 2012)

In Vrypas oor die vrouetydskrif Sarie: "Die Sarie is mos juis begin om die moderne geletterde vrou wenke te gee oor hoe om haar loopbaan professioneel by haar opdrag as tuisteskepper in te pas, sodat sy ongekende hoogtes van selfvervulling kan bereik.” (Sarie, 13 Mei 2009)Gebore en getoë

Susanna Jacoba Serfontein is op 30 April 1925 gebore, die derde kind van Kootjie Serfontein en sy vrou van Erfdeel. Haar vader was ’n bekende Afrikanerbeesboer in die Kroonstadse distrik in die Vrystaat. Sy vertel dat sy gedurende ’n besonder koue winter in haar ouma Serfontein se huis in die ou verwaarloosde deel van Kroonstad gebore is.

As kind kon sy nie “dogtertjie” sê nie, maar net “dottertjie” – vandaar die naam Dot.

“Op negejarige ouderdom kon ek darem al ’n opstel skryf oor die plaasbedrywighede soos die eerste vroeë perskes in September, die vinkneste wat bo in die wilgertakke swaai, die akkers vol wuiwende mielies, die seep kokery van my ma, my pa wat die jong osse leer, rieme sny en brei, die groot perske droëry elke Februarie, die turksvylaning met sy ryp vrugte, die geruis van die watervalletjie en so meer. Dis dinge wat maar altyd daar was en wat die skool my leer opmerk het. En moenie dink ek kom nie agter dat die juffrouens só vrek oor my skryfwerk, dat hulle glads my hopelose somberekenings miskyk nie! Vir die eerste keer in my lewe is ek sigbaar voorgetrek," vertel sy aan Toetie Hattingh in Kakkerlak van 2006.

Sy voltooi haar skoolopleiding aan die Hoërskool Kroonstad, waar sy in die koshuis gebly het. Dot het haar eerste skryfinspirasie hier op skool gekry, veral by die geliefde en alombekende meneer Jurie Swart van die Hoërskool Kroonstad.

In Insig (Augustus 2005) vertel Dot aan haar dogter, Antjie: “Ons was ’n geletterde gesin met boeke wat elke maand gekom het. My pa self was iemand wat altyd die onbetreklike raakgesien het – wat natuurlik baie moeiliker is om te formuleer. So het ek grootgeword in ’n huis waarin mense met taal geworstel het om die ongewone gesê te kry.

“Afrikaans was vir ons ’n reddingstaak. Jy wou dit gebruik so goed jy kan om jouself en ander Afrikaners van armoede en ellende te red. Onderwysers het gesorg dat jy wetenskaplike en klassieke Afrikaans onder die knie kry. Ons moes Afrikaanse gedigte en Bybelstukke uit ons koppe leer en so is suiwer sinskonstruksie en woordeskat in ons ingebed. Anglisismes was soos vloek. Jy het ’n behae gehad in vertellers wat met die taal kon speel. Hulle is oor en oor aangehoor en dan so dikwels oorvertel dat die taal deur unieke uitdrukkings uitgebrei is.

“As kind het ek my eie stories aan myself vertel en denkbeeldige maatjies gehad met die name van Piet en Ralie. Jy kan dan die Afrikaans wat jy in boeke lees, gebruik as ’n alledaagse speelse omgang met taal.”

Verdere studie en werk

Haar pa wou gehad het Dot moet by Rhodes gaan studeer sodat sy beter as ’n Engelsman word, maar sy het gesê: “Stuff dit, ek gaan Tukkies toe.”

Na skool is Dot na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1947 haar BA-graad behaal het en daarna haar Hoër Onderwysdiploma. “Oupa Kootjie het al die geld wat hy as Afrikanerbeeskeurder verdien het, vir my gegee om by die fakulteit te gaan inbetaal. Die resep was: om onder te begin en deurgeneuk word tot bo uit! En dit het gewerk.” (Kakkerlak, 2006)

Na universiteit, in 1948, word sy aangestel as onderwyseres in Engels en liggaamsopvoeding aan die Sentrale Hoërskool in Bloemfontein. Sy kon ook onderwys gee in Duits, Suid-Sotho, Afrikaans en Nederlands.

 “Tydens my skoolhou jare op Sentraal het daar ’n weeluisplaag uitgebreek en moes ons van verblyf verwissel. Ek beland toe by die Mentze in ’n groot ou herehuis. Ons was ses wat daar geloseer het, onder andere Willem Krog. Die eerste boek wat ons saam gelees het, was Eric Rosenthal se African Switzerland. Ons het ook saam plate geluister op my grammofoontjie met die garingboomnaalde.” (Kakkerlak, 2006)

In 1949 word Dot aangestel as vroueredaktrise van Die Volksblad. Hulle was net vyf in die redaksie: sy, Wiets Beukes, Annie de Swardt, Heinie Otto en Piet Wessels. “Ek was veronderstel om op Dinsdae ’n volblad met verskeie artikels te doen en ’n sosiale dubbelblad van troues en ander vrouebyeenkomste. Die uitleg daarvan was ook my verantwoordelikheid. Dit klink nie na veel nie, maar dit was ’n swaar drag vir iemand wat nog net in haar drome met joernalistiek te doen gehad het. Dan moes ek dikwels op aanbeveling van Skakel Kriek na funksies gaan waar een of ander belangrike persoon sou wees. Stigtelik aangetrek moes ek en die fotograaf elke funksie deursit sonder om ’n druppel alkohol te gebruik. Ek was aanvanklik nog dom genoeg, maar het later die slenterpaadjies leer ken. Ek sal nooit dankbaar genoeg kan wees vir die tyd wat ek by Die Volksblad gewerk het nie. Om onder druk, soos ’n duiker in die winter, net in te duik en te skryf. Om te weet dat een goeie woord die werk van tien kan doen.” (Kakkerlak, 2006)

In 1951 is Dot en Willem Krog getroud en gaan boer hulle op Middenspruit, haar ma se familieplaas in die Kroonstad-distrik. Vyf kinders – twee dogters en drie seuns – is uit die huwelik gebore: Antjie (die bekende Afrikaanse digter), Pennie, Vyver, Kootjie en Willem. Hulle het tot 1999 geboer, waarna hulle op Kroonstad afgetree het. In 2002 is Willem Krog (senior) aan nierversaking oorlede.

Na hulle troue het hulle in ’n sesvertrekhuisie, sonder badkamer of koolstoof, met ’n sakplafon, ingetrek. “Die enigste water het ons aangery met ’n stootwaentjie van die handpomp in die vlei. Ons het ’n worshond, Pompie, drie Jersey-koeie, twintig merino-skapies, ’n tikmasjien en 3 000 pond kontant gehad. Maar ons was sielsgelukkig. Ons vermaak was ’n opwengrammofoon, ons planne vir vooruitgang het tot aan die oneinde gestrek.” (Kakkerlak)

Tydens ’n kuier van Marlize Leyden aan Dot vertel sy dat sy met Appaloosa-perde geboer het. “Dié ding met perde kom van kleins af. Ek en my niggie Tientie was van daardie kinders wat vas geglo het ons is perde. Ons het soos perde gehardloop en gestap. Ons het ons kos met ons lippe ingestoot soos perde, ons het gerunnik as ons mekaar sien. My oudste broer het gesê as ons langer aanhou om perde te wees, gaan ons later in merries verander. Vandag is daar steeds ’n paar Appaloosas op Middenspruit.” (Taalgenoot, Oktober 2005)

Dot vertel aan Toetie Hattingh in Kakkerlak (2006) dat daar sekere goed is wat sy onthou van die tyd wat na hulle troue gevolg het: “Ek dink aan Njarra, ons mak graatjiemeerkat, Nok, die skattebol van ’n kraai, dik, halfslyt ooie wat skelm werf toe kom en die wasgoed van die draad afvreet en Drosbek die kalkoen. (Hy is per abuis onder ’n ganswyfie uitgebroei en ek moes hom meer as een keer half versuip uit die gansdammetjie gaan red, want hy het geglo hy is ’n gans en moet kan swem!) My grootste vrees was toe steeds klein babatjies. As daar mense met klein babatjies by ons stilgehou het, het ek die veld ingehol. [...] Niemand sou my daardie tyd kon oortuig dat ek vyf van hierdie wesens eendag liewer as die lewe sou kon kry nie.”

In ’n onderhoud met Marietjie Smith (Rooi Rose, 29 Julie 1992) sê Dot dat sy as boervrou “uit beginsel” gebak, geslag, seep en konfyt gekook, koffie gebrand, vrugte, honde, katte, hoenders en bye “beboer”, perde mak gery, twee sandkliphuise met gewone arbeiders gebou en vyf kinders grootgemaak het – “alles min of meer op die beginsel van werk hard, neuk sinvol, vrees die Here en moet op prinse en ’n wit vel nie vertrou nie”.

Na haar troue was daar darem gelukkig nog tyd oor om te skryf en bevind sy haar in die gelukkige posisie dat sy vroeër ’n kollega was van mej Burger, destyds die subredakteur van die tydskrif Sarie Marais. Deur hierdie kontak het sy gereeld verhale vir Sarie geskryf. Aanvanklik was dit meestal kortverhale, maar nadat Sarie tweeweekliks in plaas van maandeliks begin verskyn het, het sy met die vervolgverhaal Liefde in die kwepertyd begin. Hierdie resep was so suksesvol dat haar ander ligte romans dieselfde paadjie geloop het voordat dit in boekvorm gepubliseer is.

Sy het bekend geraak vanweë haar verhale en ander skryfwerk wat gedurende hierdie tyd in tydskrifte verskyn het. Marietjie Smith skryf dat dit die aardsheid van haar werk, asook die humor en die deernis vir ander is wat haar so gewild gemaak het. “Met haar vars aanwending van die skets-, essay- en kortverhaalvorm het sy ’n nuwe stroming in die Afrikaanse literatuur ná 1969 begin en in die streekliteratuur – kontreiverhale – het sy ’n nuwe ontwikkeling met Systap onder die juk gebring.” Ten opsigte van haar kortverhaalkuns het sy gesê: “Met die begin van die sestiger beweging weet ek dat ek nie só sal kan skryf nie. Ek sal eerder oor my eie mense en persoonlike ervaring kan skryf.”

Haar eerste kortverhale wat in tydskrifte verskyn het, het sy onder die skuilname SJ Nasau en Luca Fick in 1950 geskryf.

Liefde in die kwepertyd is in 1960 deur Tafelberg gepubliseer en later ook in grootdruk deur Makro en in 2014 deur Protea Boekhuis. Vir M Scribante (Gereformeerde Vroueblad) is die verhaal ongelukkig onlogies en ongemotiveerd, veral omdat Martiens, ten spyte van sy sterk karakter, darem te maklik sy beginsels vir die eerste die beste meisie oorboord gooi.

Tiendes van anys is in 1962 gepubliseer. In hierdie verhaal leer die leser vir dominee Chris Grobler ken. Hy raak verlief op Elba Maritz, een van At Maritz se dogters. In die distrik van die dorpie Allerbes staan At bekend as ’n vrydenker. Sy dogters het na sy dood op die plaas aangebly. Behalwe oom Sagie, ’n ouderling op die dorp en vriend van hulle vader, het die res van die mense van die dorp egter nie met hulle gemeng nie. Ook keur die gemeente nie Elba se ongewone gedrag en haar buitengewone lewensopvattings goed nie en beskou hulle haar as ’n onvanpaste keuse vir hulle predikant.

FH (Transvaler, 2 September 1063) beskou Tiendes van anys as aangename en verrykende leesstof wat op ’n hoër vlak as bloot ontspanningsleesstof beweeg. “Dot Serfontein het met dié werk werklik ’n onderhoudende roman gelewer. Dit ly geen twyfel dat daar die afgelope tyd weinig in Afrikaans verskyn het, wat dié een ewenaar. Dis werklik lewende mense wat sy vir ons voorskilder en sy verval nooit in valse romantiese soetsappery of oppervlakkige karakterbeelding nie. Haar styl is sober en direk, sy vertel haar verhaal sonder ’n groot omhaal van woorde en haar taalgebruik is suiwer en soepel.”

Daar is nie veel geskryf oor die tydperk waarin Dot grootgeword het nie. Dit was dus, volgens haar, ’n braakland wat goed benut kon word, en sy kon begin om ernstige sketse daaroor te skryf.

In 1969 verskyn Systap onder die juk met die subtitel “Sketse van vreeslose Vrystaters”. In hierdie elftal stukke vertel Dot van persone, gebeurtenisse en omstandighede uit die verlede van Vrystaters. Daar is oorgelewerde staaltjies en stukkies oor die Vrystaatse geskiedenis en politiek, maar die stukke bestaan hoofsaaklik uit persoonlike herinneringe van die skryfster aan haar eie mense. R Schutte (Tydskrif vir Geesteswetenskappe) skryf dat "die stukke onderhoudend geskryf is, lewendig en dikwels met humor. Die boek het beslis kultuurhistoriese waarde, hoewel dit geen literêre pretensies het nie."

Na die verskyning van Systap het Hennie Aucamp die volgende aan Dot geskryf: "Jy het ’n deur oopgemaak na die nuwe veld waarop ek sou konsentreer. Dit is ’n ontwikkeling in die Afrikaanse verhaalkuns wat eie is aan die Suid-Afrikaner – dit is volkserfenis."

Dot se volgende bundel sketse en vertellinge rondom die Vrystaat en sy mense, Ek is maar ene, word in 1972 gepubliseer. Vir Henriette Grové (Hoofstad, 5 Januarie 1973) het die stukke ’n "oog vir die situasie en daarby ook die genade van goedige spot, en daarby kom dit tot die leser se oor in rasegte Afrikaans. Haar wêreld is Gestalt, en sy ervaar hom in sy geheel. Hy is nie ’n brokkie dit en ’n brokkie dat nie; sy het g’n bepaalde, eensydige houding teenoor daardie wêreld nie en gebruik hom nie ter wille van die mooi draai of raaksiening nie; sy neem hom nie sentimenteel in beskerming nie en probeer nie van hom literatuur maak nie; kortom sy benader hom nie esteties nie. Gelukkig. Die wêreld is die wêreld.”

Haar volgende bundel sketse oor die Vrystaat, Amper my mense (1974), was vir André P Brink (Rapport, 9 Maart 1975) ’n verkwiklike lees. “Opnuut bied sy hier, in haar heerlik onderhoudende en nooit oordadige styl, ’n galery Boereportrette en ’n reeks taferele wat gesamentlik ’n kleurig geweefde voorstelling gee van ’n geslag en soort Afrikaner waarsonder ons bitter-baielik armer sou gewees het. [...] Onteenseglik Boerekos dié vir die fynproewer wat wil weet waar hy vandaan kom; en wat dit waardeer om te sien hoe daar sin gevind en blootgelê word in ’n mens se saamleef met sy omgewing soos wat dié boek se Oos-Vrystaters dit doen.”

Vir JK (Die Vaderland, 18 April 1975) lê die waarde van Amper my mense daarin dat dit in die toekoms eers waardeer sal word "omdat ons oë nog nie so naby sien dat ons die onskatbare kultuurhistoriese rykdom van hierdie sketse ten volle kan waardeer nie. Maar mens, as Dot eers begin vertel van die mense en die verhaal van haar kontrei, dan is sy ’n rasegte, stoepsit-verteller, ’n familie-uitlêer en pyp-suig-praatjiesmaker.”

Petrus Swanepoel vind in hierdie bundel ’n "samekoppeling van los vertellinge waarin die skryfster reliëf gee aan die mense van ’n landstreek wat die sypaadjies van ons Afrikanergeskiedenis bewandel het. “In meer as een opsig bou die skryfster met haar satiriese benadering, suiwer verwoording en intense meelewing voort aan die ter boekstawing van die grondslae van die eiesoortigheid van die Afrikanerwese.”

Sonder klein trou (1974), ’n vervolg op So min blomme (1966) en Onder skewe sterre (1969), neem die verhaal van die mense van die Vrystaatse dorp Laval verder. Die agtergrond van die verhaal het die atmosfeer van ’n klein dorpie met sy grootdoenerigheid, nyd, baantjies vir boeties en ideale wat nie verwesenlik word nie. “Die skryfster ken mense, en sy skryf oor hulle met ’n innigheid en deernis wat die leser aangryp. Sy het ’n besonder skerp waarneemvermoë, en ’n slag om karakters in ’n verhaal te skep wat eg en realisties is,” skryf Elsa Pelser (Oggendblad, 30 Mei 1974).

Die resensent van Die Volksblad (16 Mei 1974) meen dat Dot die leser laat nadink oor ons hedendaagse lewenspatroon. “Sonder klein trou is uitmuntend geskryf sodat jy werklik integrasie kry tussen onderwerp en styl, en dan in so ’n volgehoue styplpatroon sonder een insinking, dat jy die voortreflikheid nie kan miskyk nie.”

Met die verskyning van Rang in der staten rij in 1979 begewe Dot haar op die terrein van die geskiedkundige roman met die klem wat op die Anglo-Boereoorlog val. Anna van Zyl skryf in Volksblad (26 Julie 1979) dat Dot hierdie bekende geskiedenis oorspronklik en individueel hanteer en dus meer perspektief daaraan verleen: “Afrikaners is nie noodwendig suiwer helde nie, ook nie noodwendig gemaksugtige lafaards nie, maar wel ’n doodnormale mengeling. En sy hou die balans, hoewel ’n mens teen die tyd weet dat sy nooit baie ‘lief’ is vir haar karakters nie, hulle taamlik koel bekyk, hulle nie bejammer nie en nie sentimenteel raak nie.”

Die hoofkarakter in die roman is Frank Ingram, seun van ’n predikant van die Vrystaat en self ’n tokkelok in Stellenbosch wanneer die oorlog uitbreek. Hy sluit saam met sy heldefiguur, Michal Ras, by die oorlog aan en beloof Kath, Michal se verloofde, dat hy vir Michal sal oppas. As Frank by sy tuisdorp in die Vrystaat kom, vind hy dat die mense aan die oppak is om te vlug – ook sy pa en sy gesin. Michal dros later saam met enkele ander krygers, maar Frank bly by die kommando. Hy verloof hom aan Christina. Frank word gevange geneem deur ’n bende veediewe wat hom weer in kontak bring met Michal. Michal het intussen ’n verbond gesluit met Coen, ook ’n voormalige kryger, en Alex Monaheng, ’n swart man. Hulle plan is om te wag tot na die oorlog en dan die land oor te neem met Michal as president en Alex as die bevelvoerder van die leër. Frank slaag daarin om te ontsnap, maar Michal en Coen sterf. Toe Frank uiteindelik by Christina uitkom, is sy swanger nadat Alex haar verkrag het en sy sterf. Na hulle oorgawe keer Frank terug na sy geboortedorp waar hy Kath, die moeder van Michal se seun, aantref.

Rang in der staten rij is vir Hilda Grobler (Hoofstad, 13 September 1979) ’n omvangryke, indringende menslike dokument: “Dit is ’n verwikkelde roman waarin daar talle verrassings, talle onverwagte wendings, talle gedetailleerde karakterbeskrywings en talle ontstellende passasies voorkom. Die skryfster hanteer haar tema, wat so maklik sentimenteel kon word, met ’n besondere virtuositeit sodat die roman met sy breë opset in dieselfde asem as Poppie Nongena en Perdepoort genoem moet word. Maar tog is daar nog iets wat dié roman verhef. Die roman word verhef van ’n gewone verhalende of ontledende roman tot ’n roman wat op dieselfde peil as al die ander ‘betrokke’ literatuur staan. Soos Van Wyk Louw in Die dieper reg, durf die skryfster om die twyfel, die doelloosheid, om die belaglike en oorhaastige en gevolglik ongeorganiseerde verset van die Afrikaner bloot te lê. [...] Rang in der staten rij is een van daardie boeke wat ’n mens nie ligtelik gaan vergeet nie, want dit eis erkenning en herkenning. Die fyn hantering van ’n baie moeilike tema, die simpatieke, maar doelbewuste blootlegging van ’n aspek van die Afrikaner se verlede waaraan hy nog altyd met trots gedink het, die fyn, snydende tekening van die werklikheid en die volgehoue ontleding van al die swakhede van die individuele leier, van die individuele volgeling, van die kollektiewe kryger, word met ’n beheerste objektiwiteit onderneem en word dikwels in terme van understatement aangebied sodat die eindresultaat die leser skud en met ’n gevoel van ’n sombere leegheid laat.”

Dot ontvang in 1983 die FAK en die Kaaplandse Helpmekaar-prys vir goeie ontspanningsliteratuur vir haar kortverhaalbundel Die laaste jagtog, wat in 1982 verskyn het. Anna van Zyl skryf (Volksblad, 20 Oktober 1982): "Sedert Dot Serfontein se eerste romans, toe sy redelik onsimpatiek teenoor haar karakters gestaan het, het daar deur die jare deernis met die mens bygekom het wat haar humor milder maak. Sy kom naby ’n mens met haar realistiese prosa en aardse karakters wat in ’n oortuigende milieu geplaas is en met haar humor wat ’n mens aan die hart gryp. Behalwe die titelverhaal, word baie van die verhale in hul gestaltgewing ’n laaste jagtog: die laaste jag na ’n huweliksaansoek, die jagtog na die misterie van ’n stad se naglewe, die soeke na huweliksgeluk en die gejag na louere."

Vir MC Botha (Die Vaderland, 25 Novenber 1982) is daar genoeg bewyse dat Dot Serfontein die insig het om met die sjirurg se mes te ontleed eerder as om net met te veel woorde te beskryf. Sy het in sekere stories, soos in die titelverhaal en in “Roozekrantz en Tipperary”, klassieke stories oor Afrikaanse Boeregemeenskappe geskryf.

In 1985 het ’n geskil tussen Dot en Makro Boeke ontstaan nadat Makro Tiendes van anys in grootdruk uitgegee het. Sy en Daan Retief Uitgewers het in die hofaansoek beweer dat Makro sonder haar toestemming een van haar manuskripte in boekvorm uitgegee het terwyl sy ’n skriftelike kontrak met Daan Retief gehad het om die boek ’n tweede keer in grootdruk uit te gee. Makro het beweer dat hulle ’n mondelinge kontrak met Dot gehad het, wat sy baie beslis ontken het. Die hof het later in Dot se guns beslis.

Dot keer met Galery vir reënmakers (1986) terug na die kontreikuns. Cecile Cilliers (Finansies & Tegniek, 20 Augustus 1986) meen dat dit reg so is dat Dot Serfontein as een van Afrikaans en Suid-Afrika se voorste skrywers van kontreiverhale beskou word, aangesien sy nie alleen ’n goeie storie vertel nie, maar insig in haar karakters toon en hulle met deernis beskryf. En daarby het sy ook ’n oor vir die taal en ’n slag met die woord. In Galery toon sy ’n ander, ewe aangename faset van haar kuns. Uit ’n rykdom van persoonlike herinneringe en onderhoude, van familievertellings, boeke en navorsings, teken sy ’n dosyn of wat portrette en hou sy vir die leser ’n groep interessante mense voor."

In 1992 publiseer Human & Rousseau Deurloop: keur uit die essays van Dot Serfontein, wat deur haar dogter, Antjie Krog, saamgestel is. Antjie vertel aan Alta Beetge (Volksblad, 11 Desember 1993) dat dit haar persoonlike gunstelinge is. Dit was egter nie die enigste rede vir die bundel nie. “Die essays het ’n bepaalde invloed, maar het in verskeie boeke versprei gelê. Ek wou die bestes saambind. As maatstaf het ek die sketse wat ná die vierde en vyfde keer se lees steeds fassinerend bly, gekies. Dit is ’n deurloop van verskeie ervarings. ’n Deurloop deur ’n Afrikaans wat vandag min gebruik word; deur ’n stuk geskiedenis én die mense – hoofsaaklik vroue – wat dit beleef het, maar veral ’n deurloop deur humor.

“Destyds en tot vandag toe nog is dit die enigste prosa wat ’n mens kon laat uitkreun van die lag, en jou laat opstaan om iemand te soek om dit voor te lees,” vertel Antjie. “Ek het veral bewondering vir my ma se skryfstyl. Sy het ’n ontspanne, dog meesterlike greep op taal. Met haar weersin in oordadigheid, plaas sy die regte woord op presies die regte plek in die sin. Op skool het ek altyd minderwaardig oor my opstelle gevoel. Ek kon net nie in sulke vol sinne dink nie.”

Volgens Dot was daar in daardie tyd nuwe belangstellings in haar sketse waarvan die bundels jare reeds uit druk was, en dit was ook een van die redes vir Antjie se keuse.

Dot het in die dekade sedert haar laaste boek verskyn het, haar skrywershorison verbreed deur ’n volwassene-roman in Sotho, Tjhao Thiane, uit te gee. Hoewel sy Sotho vlot kan praat, is die roman om die beurt in Engels en Afrikaans geskryf en dan vertaal. Die vertaling is met behulp van ’n Sothosprekende gedoen. “Jou eie skryfstyl is ondergeskik aan die vertaling – die inhoud moet die leser in sy eie idioom bereik,” sê Dot. Sy het dit in samewerking met haar niggie Bets en Ada Rasentsoere geskryf.

Oor Deurloop skryf Henriette Grové (Insig, 28 Februarie 1993) dat die skryfster se belewenis van haar wêreld van ’n direktheid en onbevangenheid is wat jy moeilik in vandag se hiperbewuste en selfuitrafelende relase bekentenisse vind. Maureen Joubert (Die Burger, 20 Julie 1993) vind Dot se styl en taal vars en oorspronklik en meen dat haar kontreikuns van die verlede vertel met ’n nuutheid wat vandag nog helder klink. Vir JC Kannemeyer (Transvaler, 11 Februarie 1993) is Deurloop een van die genotvolste boeke wat hy nog gelees het, sowel in die geestige as in die ernstiger gedeeltes geskryf met ’n onvernietigbare drif vir die lewe en dit wat aan dié lewe sy sin en waarde gee.

Dot was nooit iemand wat weggeskram het van omstredenheid as dit gekom het by sake waaroor sy baie sterk gevoel het nie. In 1989 het sy as lid van die Afrikaanse Skrywersgilde bedank weens besluite wat op die skrywersberaad met die ANC by die Victoriawaterval geneem is. Haar bedankingsbrief het gelui: “Gesien in die lig van die besluite wat die voorsitster en haar alliansie geneem het op die ‘beraad’ by die Victoria-waterval – sonder ledemagtiging – dien ek hiermee my bedanking in as lid van die Skrywersgilde. Aangesien die gilde nou waarskynlik ryklik deur die ANC gefinansier sal word, het hy in elk geval nie meer die ondersteuning nodig van skrywers wat nie deur dese en gene knapies uit die bosse voorgesê wil word oor hoe hulle Afrikaans moet skryf nie; en nie Afrikaanse baanbrekerskrywers wil laat aantas deur mense wat eie politieke, persoonlike en letterkundige magsposisies deur middel van die ANC wil verwerf nie. Tot hierdie uiterstes behoort geen skrywer hom ooit te laat dryf nie, maar indien hy dit wel doen, moet hy hom voorberei op die veragting van sy eie sowel as die aangehangde gemeenskap.”

Jeanette Ferreira, wat destyds voorsitter van die Skrywersgilde was, het op Dot se bedanking gereageer en dit onomwonde gestel dat Dot se feite nie korrek is nie. In Beeld van 27 Julie 1989 sê Ferreira dat geen besluit namens die Gilde geneem is nie, dat die Gilde nie deur die ANC gefinansier is nie, en dat dit ook nie in die vooruitsig gestel is nie.

In 1993, terwyl die samesprekinge vir ’n nuwe grondwet in Kemptonpark aan die gang was, praat Dot soos volg met Joe Venter in Rapport (18 Julei 1993): “Etikette van linkse of regse radikale maak geen sin nie omdat dit ’n groot middelpoel van tevrede wittes en swartes veronderstel met ’n paar warse elemente langs die kante. Dit is doodgewoon nie waar nie. ’n Mens sou byna kon sê dat die warse elemente ’n klein groepie binne die politieke besluitneming is, terwyl rondom links en regs magtige opstuwings van ontevredenheid net-net in toom gehou word.

“Dit is irrelevant om van linkse en regse radikale te praat, want die aanduidings is daar dat die Marxistiese oorname van Suid-Afrika teoreties vir die Kommuniste reeds voltooi is. Daar word lankal nie meer onderhandel nie, net afgehandel. Kommunisme is iets van die verlede, sê ons regering. ’n Ou leeu wie se tande uitgetrek is. Dit is nie ter sprake nie. Ons is met demokrasie besig. Kan dit wees dat hulle nie besef dat Kommunisme nie ’n regeringsvorm is nie, maar ’n lewensfilosofie. Dit sal tot in lengte van dae die belangrikste aktiewe kollektiewe ontvlugting wees teen die individuele verantwoordelikheid en eise van die Christendom. [...]

“Niemand sal vir ’n Sotho vra waarom hy meen hy is ’n nasie nie. Niemand sal dit vir ’n Zulu vra nie, of vir ’n Engelsman na sy geheime organisasies in ons land nie. Maar ons as Afrikaners, wat ’n taal, ’n kultuur, ’n eie staatsvorm help ontwikkel het, wat dit ontworstel het aan die juk van kolonialisme en meer bloed daarvoor gegiet het as enige ander inheemse groep, moet deurentyd rekenskap van alles gee. Maar ek vind dit goed. In ’n heterogene land moet ’n mens deurentyd rekenskap gee, mits dit om kennis gaan en nie om verdagmakery nie. Ek glo die Afrikaner sal uit sy selfmoordsindroom ontwaak.”

Nadat haar dogter Antjie by die ANC aangesluit het, het Dot só gereageer: “Ek wil nooit, ooit met my dogter in konfrontasie kom nie. Sy het haar lewensbeskouinge en ek myne. Ons het baie in gemeen soos ons letterkunde. Sy is ’n dierbare kind vir my. Ons politiek het niks met mekaar te doen nie. Skryf iets wat ons laat bots en ek bid jou dood!” skerts sy met Joe Venter.

Vertel! Vertel! (Queillerie 1995) bevat 14 stories “uit andermansmond – sommige direk getranskribeer – jeugervarings wat ’n sekere tydperk weerspieël, kortverhale en sketse. Sentraal aan die bundel staan Dot Serfontein self, joernalis wat nuuskierig was, wat uitgevra het, geluister het, oorvertel het en daarmee die leser ook tot luisteraar maak” – aldus Cecile Cilliers (Beeld, 11 Desember 2009). “In die beste vertellings is Dot Serfontein, skrywer én joernalis, triomfantelik aan die woord.”

Petra Müller skryf (Insig, Februarie, 1996): “Daar staan geen maakselwoorde en bladsy-verlep tussen jou en haar skryfwerk nie. Dis ene evokasie, ene primêre kommunikasie. Sy slaan die brug tussen die vertelwoord en die geskrewe woord sonder om eers te weet dat sy dit doen – o, nooit volprese natuurlikheid, die grootste stilistiese deug wat daar is, so maklik vir diegene met natuurlike stylgevoel, so moeilik om te fabriseer vir diegene daarsonder. [...] Ek lees die boek as ’n prent van Dot, waarin kortverhale, vertellings, sketse en byna woordeliks herhaalde anekdotes saamklont om haar as registreerder en voortplanter. Die mens wat hier na vore kom, staan boer-groot voor jou, en sy gebruik die boer-taal. Sy sê bek en stront waar dit pas, dws as deel van ’n genuanseerde en deurvoelde herinneringstroom wat, soos die rivier van haar dorp, verlede en hede saamsleur. Sy hou haar stories aan die beweeg, van mensknoop tot mensknoop, en oplaas strik sy dit met die noodlot vas. Daar is min uitkomkans. [...] So lyk léwende letterkunde: wanneer die skrywer wegraak, en die skepping self praat. Die boek verdwyn, die tyd vergaan, die deure van die ewigheid knars oop, en weerloosheid kom soos Shakespeare se nakende nuutgeborene deur die storm aangeloop. Sulke verhale het ons nodig, en daar is maar min van hulle, selfs in die oeuvre van goeie skrywers. Vasvat, sintese en ’n goeie sin vir die absurde is deel van Dot Serfontein se gereedskap.”

Dot was verantwoordelik vir die opstel van die Serfontein-familie se genealogie en in 1990 skryf sy in opdrag van die Stadsraad van Kroonstad Keurskrif vir Kroonstad: ’n kroniek van die ontstaan, groei en vooruitsigte van ’n Vrystaatse plattelandse dorp – ’n lywige stuk werk van oor die 600 bladsye. Sy het meer as vyf jaar navorsing vir hierdie werk gedoen.

In 1997 skryf Dot vir Juta twee boekies in hulle beginnersboekiereeks.

In 2000, met die eeufeesherdenking van die Anglo-Boereoorlog, het Dot ’n lesing oor die ABO-digters by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) gelewer. “Die meeste Afrikaanse digters het op ’n sekere tydstip hulle in hul skryfwerk met die Afrikaner se stryd om voortbestaan vereenselwig, want taal en volk was emosioneel en geskiedkundig een. Die Anglo-Boereoorlog was vanselfsprekend ’n hoekpaal in dié stryd en is vrylik gebruik. Die vier digters wat die oorlog beleef het, ontroerende verse daaroor gedig en terselfdertyd die taal tot kommunikasiemiddel help bou het, was Jan FE Celliers, JD (Totius) du Toit, Eugène Marais en C Louis Leipoldt.” (Die Burger, 22 April 2000)

In 2003 tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein het Marga van Rooy ’n program saamgestel getiteld Só het Dot Serfontein vertel­. Hierin vertel sy van Dot Serfontein se onvergeetlike manier van skryf oor die Vrystaat en sy mense – van die begin af; en almal wat Dot se lewe aangeraak het, kry ’n beurt. Dit is ook in 2007 by die Stellenbosse Woordfees aangebied.

In 2005, met die herdenking van Dot se 80ste verjaardag, publiseer LAPA So min blommeOnder skewe sterre en Sonder klein trou in een volume. Elize Botha (Beeld, 19 September 2005) beskryf die tot stand bring van dié kompendium as “’n gelukkige inval omdat dit die belangrike rol benadruk wat gesinstydskrifte gespeel het in die vorming van skrywers én lesers, 30, 40 jaar (en langer) gelede. Dit word daarnaas vir die hedendaagse leser voorbeelde van die duursaamheid van goeie, gewilde prosa. Dit skep, bowenal, toegang tot die rykgeskakeerde vermoëns van hierdie voorste verteller.

"Die drie verhale handel oor wit Afrikaanse mense uit die tydperk toe die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens die grootste indiensnemer van wit arbeid was, teen die middel van die 20ste eeu. Die vertrekpunt is die huis van Dawid McClaglan naby die stasie van ’n fiktiewe plattelandse dorp, Laval, tussen Bloemfontein en Johannesburg. Hiervandaan sal, oor meer as 14 jaar, die lotgevalle van Dawid en sy bure in die ‘spoorwegkamp’, maar ook van die rykes en magtiges van die dorp wat hul lewe beïnvloed, nagetrek word, totdat hy self by die rykes en magtiges aansluit. Dit is verhale waarin klasseverskille tussen Afrikaners skerp geteken word, waar ‘stand’ ’n gedugte wapen is. [...] Dit is een van die groot vreugdes van hierdie bundel: om mee te maak hoe tuis Serfontein is by die maniere en idioom van spoorwegwerkers, kinders, perdeboere, skrootwerfbestuurders, dorpspolitici, skoolmeesters, koerantskrywers, haarkappers. Sy kan haarfyn die geknoei binne ’n stadsraadsverkiesing beskryf. Sy skep byeenkomste met ’n trefseker sin vir die teatrale wat soms aan die dorpslewe ’n soort karnavaleske aard gee, sy skram nie weg van bloederigheid, rampe of slapstick nie – ou treffers vir die tydskrifleser. Ek hoop dat hierdie publikasie ’n wegspringplek is na Dot se kortkuns toe wat klassieke tekste insluit.

“In Dot Serfontein se jubeljaar kan ons opnuut, jubelend, haar lesers word, en ons verbly dat sy hierdie ambag deur soveel jare, so vreesloos beoefen het.”

Ook in 2005 is Dot op die OVV (Oranje Vrouevereniging) se kongres met ’n oorkonde vereer. Die OVV het haar gehuldig omdat sy met navorsing die Vrystaat se geskiedenis oopgekap en bekend gestel het: “Met groot integriteit en vlymskerp waarneming het u u passie uitgeleef: die bewaring van die eie. In juksta-posisie is die Sotho-geskiedenis eerlik en met die nodige respek aangeteken. Dot verdien ’n plek in die galery van ons voorste essayiste en romanskrywers.” Dot was minstens 45 jaar lank ’n OVV-vrywilliger en het die oorkonde aan dié vereniging opgedra vir sy uitmuntende gemeenskapsdiens.

As deel van haar 80ste-verjaardag-vieringe en om hulde te bring aan Dot se bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde het NALN ’n oorkonde aan haar oorhandig. Sy het ook by hierdie geleentheid, wat aangebied is in samewerking met Dames Perspektief, oor haar lewe en werk gesels. “Ek het in die jare negentig laas geskryf. Nou voel ek soos die teruggekeerde soldaat, die een wat, ongeag van of die oorlog gewen of verloor is, die stryd oorleef het en nou teruggekeer het na ’n wêreld wat heeltemal anders lyk. Die teruggekeerde soldaat is nie net militêr nie, dit kan ook literêr wees. Wanneer jy aktief skryf, skryf jy oor wat in daardie stadium van belang is. In die periode wat hierop volg, vind die skrywer egter dat hy die tydvak nie meer verstaan nie, en dat die tyd hom nie meer verstaan nie. Toe ek begin skryf het, het ek vir myself en my maats geskryf. Ons het die wêreld se selfvertroue gehad – die gevolg van toegewyde Afrikaans-onderwysers en ’n era waarin taal en kultuur die norm was.” (Die Burger, 24 Februarie 2007)

Haar bundel kontreikuns, Amper my mense, is in 2009 deur Protea Boekhuis heruitgegee. Stoffel Cilliers (Volksblad, 17 November 2009) skryf dat danksy die welkome herdruk van hierdie bundel hoofsaaklik verhalende sketse, ’n nuwe geslag lesers nou onder die indruk kom van dié geliefde Vrystaatse skrywer se deeglike navorsing, haar kragtige styl, haar eiesoortige humor, haar raak segging en haar vermoë om heroïese karakters te skep. “Serfontein omskep plat Vrystaatse vlaktes in ’n Wagner-operaverhoog met onvergeetlike, legendariese helde daarop.”

In 2009 verskyn Dot se outobiografiese vertellinge, Vrypas, by Protea Boekhuis. In haar memoires vertel sy presies wie sy is en was. Die titel verwys na die reg wat ’n mens miskien bo 80 kry om te doen en te sê wat jy wil “sonder dat dit teen jou opgeteken staan”. Saartjie Botha skryf (Huisgenoot, 11 Junie 2009) dat die meer as 60 sketse ’n outobiografiese oorsig bied op ’n ryk en vol lewe, geskryf met piëteit en drif wat tegelykertyd yster en Belgiese kant is, deur iemand wie se fut nog lank nie uit is nie. “Haar eiesoortige perspektief op die verlede is ruim genoeg dat Vrypas ook ’n kultuurhistoriese dokument word. Nostalgie word behendig met ironie gebalanseer, sy spot goedig met haarself en ouderdom.”

Leana Lategan (Beeld, 29 Junie 2009) skryf in haar resensie: “Wat [Serfontein] vertel, is uiteenlopend, met die self-ironiserende verteller as die intrigerende bindingselement. Ons leef saam met haar deur politieke, sosiale en kultureel belangrike momente, leer die Krog-Serfonteinfamilies en hul (on)hebbelikhede ken en word voorberei vir groter begrip van die skrywende persoonlikheid Dot Serfontein. Want as daar één stuk waarheid deur die vertellings en herinnering van Vrypas loop, is dit dat die mens produk word van die vormende invloede wat rondom hom of haar bestaan. En omdat Serfontein die kuns vervolmaak het om wyer as persoonlike hoogtepunte, ellendes en prestasies te kyk, word deur die intiem-persoonlike blik ook die verhale van geslagte Afrikaners vertel. [...] Vir jonger lesers sal die vertellings uit die ervare hand bekoorlik, interessant en uitdagend wees, want daar is min skrywers wat ’n saak so kan beredder dat alkant vir jou na die regte kant lyk.”

Dot meen haar sukses is te danke aan die streng eise van die joernalistiek wat haar geskool het. ’n Joernalis is nie so bevoorreg om in sy dakkamertjie te sit en wag op goddelike inspirasie nie. Hy moet elke dag in die mensestroom om hom induik en rekenskap gee van diegene wat hy aanraak. Haar gulde reël is harde werk en die benutting van geleenthede.

In ’n onderhoud met Charles Smith in 2009 (Beeld, 6 Julie) vertel Dot dat sy Herman Charles Bosman as haar mentor beskou. Haar man, Willem, het haar aan Bosman bekendgestel toe hy in 1948 vir haar Mafeking Road present gegee het – iets wat haar lewe verander het.

Sy vertel verder aan Smith: “Hendrik Verwoerd het vir my ’n missie vir die Afrikaner gestel. Ek het geleer om dit uit Herman Charles Bosman te kry. Nie sy karakters nie, maar sy essays. Sy manier van essays skryf. Ek is ’n essayis. Baie min Afrikaners was – dit is nie destyds beskou as letterkunde nie. Dit is latertyd dat mense dit probeer namaak en gesien het, maar, my hel, dit is ’n verskriklik verfynde tipe kuns en jy kan dit eintlik nooit doen sonder dat jy ’n joernalistieke agtergrond het nie. Want dit is om die karigheid van jou bron so te omskep dat dit ’n groter waarheid vir jou daarstel. Dit lê orals versprei. Jy moet dit soek en jy moet in die lewe self ervaring gehad het, van die slae en die teenslae en die oorwinnings in die werklike lewe.”

Dot het nooit gedink dat sy so gou op die plaas sou gaan bly nie, maar “ek is glad nie spyt oor ek dié lewe gekies het nie. Ek is net jammer ek het nie méér van die lewe gehad nie. Ek is seker die skrywer met die minste bitterheid in my. Om ’n skrywersgesin aan die gang te hou, is niemand se bleddie maat nie. Maar die ervaring van jy hét dit, jy is in beheer daarvan, is ’n wonderlike gevoel. As ek aan die skrywers dink wat, liewe vader man ... soos ek ook seker ’n glorie herroep wat nie daar was nie, dan is ek bly as die boek (Vrypas) iets vertel van die lekker daarvan. Hoe jy die probleme oorwin en tot jou wins aanwend. Want as jy jou huisgesin verloor, die Here weet, jy kan dit nooit terugkry nie.”

Andries Samuel, Dot se oudste kleinkind, vertel (Rapport, 9 Junie 2009): “My ouma kan ’n storie vertel sonder om te lag. In my kinderjare – baie daarvan deurgebring in haar huis – kon ek my altyd hieraan verkyk. Maar sy het nooit gelyk of sy dink wat sy sê, is nié snaaks nie. Die vermaaklus in haar oë was tog so duidelik soos die bulderende gelag om die tafel. Sy lyk soos een met te veel ervaring en gesag om sommer so te lag en ek wonder altyd of dít dan die merk van die meesterverteller is.”

Susan Samuel bring ook hulde aan haar ouma (Die Burger, 8 Augustus 2005): “My ouma dra velskoene. Nie bruines of rooies soos David Kramer nie, maar ligbloues. Dis nou wanneer sy wel skoene dra. Sy loop eerder kaalvoet. Haar voete is breed en hard, effe knobbelrig van die ouderdom, maar sterk soos wat verwag word van voete wat meer gewoond is aan die rooibruin grond van die Vrystaat as aan die binnekant van ’n skoen.

“Haar voete is soos sementblokke, ’n anker vir die res van haar lyf – haar sagte skoot en breë borskas, haar sterk voorarms en hande wat die meeste konfytbottels kan oopdraai en sekuur die vleis van ’n hangende beeskarkas kan afsny.

“Haar hare is wit. Soms is dit spierwit en elektries wanneer sy soggens die koffiesak vol moer gooi. Ander kere is dit geelwit en sag, soos karringbotter, wanneer sy laatmiddag in die sonkamer sit en lees. Haar gesig is uitgekerf uit die sagte bas van ’n wilgerboom, met haar oë twee swart korrels wat stip enige teëpraat stilkyk, en laggend kan wegraak onder oogbanke wanneer die Serfontein-humor skielik kop uitsteek by een van haar kleinkinders.

“Sy het ’n plaaswerf met ’n ysterhand geregeer. [...] Sy kon onverwagse kuiermense met goeie kos en heerlike koffie versorg. [...] Sy kon boer met Appaloosa-perde en tot laatnag redeneer met enige van die vele intellektuele wat gereeld kom kuier het. [...] Sy kon haar saak stel met ’n sekerheid wat spruit uit ’n ingebore aristokrasie. En bowenal kon sy skryf.”

Na 2010 het die akkolades vir Dot se bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur ingestroom. In 2011 het die Dameskring van Kroonstad ’n oorkonde aan haar toegeken ter erkenning van haar besonderse skryftalent en taalvaardigheid waarmee sy tot die Afrikaanse taal en kultuurgeskiedenis bygedra het.

In 2011 is haar handafdrukke in beton verewig by Foxwood House in Houghton. Die seremonie was deel van die TV-program Sandra op ’n drafstap, wat deur die aktrise Sandra Prinsloo aangebied word.

Volgens Jan Groenewald, wat saam met Prinsloo die vervaardiger van die program is, het hulle die geleentheid in opdrag van Karen Meiring, hoof van kykNET, gereël. “(JC) Kannemeyer het so ’n paar jaar gelede gesê sy (Serfontein) is ver onderskat,” het Groenewald gesê. “Sy’t dinge geskryf soos dit werklik is. Sy het die lewe ingekleur.” (Volksblad, 19 November 2012)

Prinsloo was die gasvrou van die geleentheid. “Ons almal, of ten minste mense van my ouderdom, het grootgeword met Dot se wonderlike stories,” het sy gesê.

Willem Krog, Dot se seun en self ’n skrywer, het as deel van sy huldeblyk ’n uittreksel voorgelees uit sy nuwe, nog onvoltooide manuskrip. Dié uittreksel is uit die oogpunt van ’n plaasseun wat ’n paar herinneringe aan sy ma deel. Hy het ook gesê Dot Serfontein is ’n mens wat ruimtes oopmaak waarin jy jouself kan soek en kan vind.

Aan die einde van die seremonie het Serfontein se kleinkinders vir haar ’n roosboom geplant.

Sy is ook een van die vroue wat in 2011 deur die Solidariteit Helpende Hand-fonds vereer is vir haar uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaner-erfenis. In 2012 het sy die Kuns Onbeperk-toekenning ontvang vir haar lewensbydrae en is daar ook aangekondig dat daar tydens die ABSA KKNK 2013 ’n woordkunsproduksie getiteld My mense oor Dot Serfontein aangebied sou word. Dit is uit die pen van Juanita Swanepoel met Antoinette Kellerman. Ook tydens die Woordfees op Stellenbosch in Maart 2013 is Serfontein vereer.

In 2012 is Ek is maar ene en Systap onder die juk deur Protea Boekhuis uitgegee. Oor hierdie besluit het Jeanette Ferreira van die uitgewers die volgende gesê: “Daar is lesers wat veral aanklank vind by haar politieke en ­sosiale standpunte. Al haar lesers stem egter nie daarmee saam nie. En tog bly haar werk vir oud en jonk onweerstaanbaar. Dis haar styl. Nie net haar unieke skryfstyl nie – daardie onnavolgbare sinskonstruksie! – maar ook Dot Ser­fontein, die mens, se leefstyl wat in al haar werk neerslag vind. Haar ­familie en land se geskiedenis ken sy soos haar landkaart. Van eerbaar leef en harde werk weet sy ­alles, daarvan getuig haar memoires ­getitel Vrypas in die ­besonder.” (Volksblad, 4 Mei 2010)

Ferreira het voortgegaan: “­Ser­­fon­tein is belese soos min ander mense, wat Afrikaans sowel as ­buite­landse literatuur betref. Goethe en Breyten Breytenbach kan sy in een sin aanhaal soos ’n mens koffie en beskuit saam sal noem. Dit was my voorreg om van haar vroegste liefdesverhale, waarvan al in die vyftigerjare in Sarie ­verskyn het, weer by Human & Rousseau uit te gee. Ek het dit soos ’n ou meubelstuk ­restou­reer, want ek moes plak en knip uit fotostatiese afdrukke daarvan wat ek nog by Naln gekry het. As liefdes­ver­hale tydloos kan wees, dan is hare dit. Terwyl ek haar daaroor gebel het, het sy juis lang ‘beskuide’ gedroog en ek moes aanhou, nogal lank, terwyl sy dit eers uit die oond gaan haal. Só is sy, ­hierdie vrou wat met die woord en met ’n beskuit ewe keurig en ­eer­biedig omgaan.

“Hoewel ouer lesers haar werk goed ken, meen ek die heruit­gawes van haar werk het meegebring dat sy nou eers die groot lof inoes wat haar lank gelede al moes toegekom het. En dit wil gedoen wees om oor die ouderdom van 80 weer ­gesog te wees by leeskringe van ­oraloor en in ­aanvraag by kunstefeeste. ’n Mens noem dit kwaliteit.”

Leon Rousseau, stigterslid van Human & Rousseau en ouduitgewer, vertel dat toe hy jare gelede van Serfontein se boeke uitgegee het, “het ons hulle as hoërang-middelmoot beskou, êrens tussen Tryna du Toit (met ­alle respek vir dié knap skryfster van liefdesverhale) en (alfabeties) Brink, ­Leroux en Schoeman ­andersyds. Sedertdien het sy heelwat van ­belang geskryf. John Kanne­meyer het my onlangs gesê dat haar werk dikwels onderskat is.

“Verlede jaar was dit my voorreg om haar outobiografie, Vrypas, te resenseer, en daardeur het al my aangename herinneringe aan ­­be­soeke aan Middenspruit, Dot en haar gesin se plaas, weer nuut ­geword. Onderskatte skryfster (of skrywer as sy wil) en warm, hart­like mens-mens. Maar dan ook nog: Een van daardie ‘vreeslose Vry­­­sta­ters’ (’n bietjie soos haar dogter, Antjie Krog) wat nie huiwer om ­omstrede menings met uitdagende hartstog te verkondig nie.”

Oor Vrypas skryf Rousseau (Die Burger, 8 Junie 2009): “Van die ontroerendste onder­werpe in die boek is vir my die verhou­ding met haar moeder, waaraan haar verhouding met ­Antjie ’n ekstra dimensie verleen. Dit was immers Antjie wat in die dae van haar jonkheid aan haar ma ­geskryf het: ‘jou moesie-oor is my enigste telefoon’.”

Oor die invloed van haar ma op haar ­skry­werskap sê Antjie Krog: “Ek sê so iets nie maklik nie, maar dit is in dié geval waar: Jy vra my die onmoont­like. In elke boek wat ek skryf, is daar ’n poging om ­­ver­antwoording te doen van haar ­invloed op my. In ’n Ander Tongval was dit byna ’n derde van die boek self, in die laaste, Begging to be Black, is dit ’n stel briewe. Ook in die voorwoorde wat ek gedoen het van haar werk, is daar pogings. Ek kan nie ’n paragraaf daaroor skryf nie. Ook nie ’n boek nie.”

Susan Samuel-Van Rooyen bring ook hulde aan Dot Serfontein as haar ouma: “As iemand wat tans worstel met die uitdagings van kinders en ’n huishouding, is ek veral onder die indruk van my ouma se vrees­lose en meedoënlose bestuur van haar eie huishouding tesame met haar skryfkuns. ’n Mens moet onthou dat dit als plaasgevind het in ’n tyd toe die samelewing se verwagtinge van ’n vrou waarskynlik ­lynreg gebots het met my ouma se behoefte om haar as skrywer uit te druk. Vyf kinders en ’n plaaswerf is nie ’n grap nie. So onlangs soos 10 jaar gelede moes ek nog Juniemaand op die plaas in Kroonstad gaan help slag, met ’n voorskoot en ’n skerp mes regstaan om ’n bees te verwerk, die fladdering van my ouma, my ma en my tannies se gesprekke, terwyl ek en my niggies die pakkies vleis in bokse verpak vir die terugrit Kaap toe. Dis moeilik om te glo dat my ouma tussen dit als deur nog tyd gemaak het om te skryf. Ek sal my ouma altyd dank­baar wees vir daardie ongelooflike plaas­herinne­ringe wat ek as kind op­gebou het.”

In Die Laaste Afrikaanse Boek skryf Karel Schoeman: “Tydens die ­be­soeke aan Dot Serfontein en haar man op die plaas terwyl ek nog in Johannes­burg gewoon het en in die gesprekke by lamplig oor ­genea­logie, geskiedenis, boeremusiek en die politieke dadigheid van Dot se familie het ’n meer genuanseerde bewustheid van Vrystaterskap be­gin ontwikkel, besef ek nou, wat ek in ’n Lug vol Helder Wolke ­probeer ver­woord het: Sy sal my by lamp­lig die mense se verhale ­ver­tel, het Dot eens opgemerk, en ek moet dit op­teken; en wie van ons kon raai hoe dit sou eindig? Eers in die loop van my eie historiese ­na­vorsing het ek egter ten volle leer besef wat die ­begrip ‘Vrystaat’ eens beteken het, en deur die besef is my verhouding tot die gebied on­noem­lik verander en verdiep.”

Dot Serfontein is op Vrydagoggend 4 November 2016 in haar slaap in ’n selfsorg-aftree-oord op Kroonstad oorlede. Haar seun, Willem, het op sy Facebook-bladsy geskryf: “Vir die familie het die aarde geskuif, onherroeplik. Haar lewe, wat ons kinders was, asook haar kleinkinders, het lengte, breedte, hoogte, tyd en ruimte in beslag geneem. Soos sy was, so sal ons haar onthou." Dot word oorleef deur vyf kleinkinders, 16 kleinkinders en 15 agterkleinkinders.

Huldeblyke

  • Leana Lategan: "Op die Afrikaanse galery van reënmakers sal daar ’n plek bly vir Dot Serfontein. (...) Die skrywer se sekure kyk na en ’n liefdevolle deernis met die landskap waarbinne sy gebore is en grootgeword het, het haar ’n Vrystater in die diepste sin van die woord gemaak. Nee, ’n Vrystaatse Afrikaner, want meer as enige ander skrywer het sy haar unieke skrywerstempel afgedruk op karakters (mens én dier), en gebeure (histories, sosiaal én polities), en altyd teen die herkenbare agtergrond van die Vrystaatse landskap. (...)
    "Haar verfynde en hoogs intelligente, altyd ondersoekende gees, en die vreesloosheid waarmee sy dikwels 'aangekarring en aangeneuk' het, het neerslag gevind in tekste wat vir ’n ieder en elk toeganklik was, wat ’n mens opgeskerp en tot nadenke gedaag het, jou lagtrane laat afvee het, en met verwondering laat besef het waartoe die Afrikaanse woord in staat is. "Sy het nie alleen eiehandig gehelp om ’n kliphuis vir haar gesin te bou nie, maar het ook woordmonumente staangemaak." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Breyten Breytenbach: "As ek hoed gedra het, haal ek dit nou in eerbied af by die verbygaan van hierdie moeder. Ek is bly vir haar naastes se onthalwe dat sy op ’n natuurlike manier kon sterwe, en soos dit nou gebeur, sterwe die tekstuur van ’n ryk geskiedenis wat van ver kom, saam met haar." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Jaap Steyn: " Dot Serfontein was ’n groot Vrystaatse skrywer en miskien die Vrystaatsste van alle Vrystaatse skrywers. (...) Polities korrek was sy nooit, en sy het dit in 1993 tydens die Kodesa-onderhandelings gewaag om skerp maar gegronde kritiek uit te spreek oor die wyse waarop die selfbeskikkingsreg van die Afrikaners prysgegee is." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Frederik de Jager: "Ek is bly die enkele boek verhale van Dot Serfontein wat ek uitgegee het, het Vertel! Vertel! Sy was ’n aartsverteller en ’n meester van die kunste van waarneming, tydsberekening, verhulling en humor. Jy kan maar na haar verhale gaan en jy sal ’n vakkundige met die visie van ’n ou-ou oog vind. As daar ’n persepsie van haar as ’n 'tydskrifskrywer' is, is dit sonder twyfel ’n kru onderskatting.
    "Sy het my gul op die plaas buite Kroonstad ontvang, my laat sit en my gevoer met boerekos en stories. Ons het uit die staanspoor goed oor die weg gekom omdat sy reguit en eerlik was. ’n Skitterende instansie van watter pasmaats vlymskerp intellek en ’n agrariese bestaan is. Sy was die verpersoonliking van ’n nou vergange Vrystaat, ’n kenner van geskiedenis, families en mense, en ’n liefhebber van al drie." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Hettie Scholtz: "Dot Serfontein laat ’n unieke nalatenskap vir Afrikaans. Sy was gewoon ’n meesterlike storieverteller wat respek afgedwing het met haar robuuste gebruik van Afrikaans. Daarby het sy geslagte lank lesers gekweek met die gevoel van egtheid ingebed in elke storie. ’n Vrou wat geweet het wie sy is en waarvoor sy staan, een by wie ons baie geleer het van respek en van waardes met die publikasie van haar bundel Vertel! Vertel! by Queillerie in 1995." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Corlietha Swart: "As daar nou een skrywer is in wie se vrugbare nalatenskap die Afrikaanse kultuurhistoriese geheue, beeldskoon-ontroerende skryfstyl en Afrikaner -adel soos die drie bene van ’n koeksister aptytwekkend vervleg is, is dit in die Vrystaatse skrywer, Dot Serfontein. Van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se kant is ons hartseer oor hierdie formidabele Vrystaatskrywer se heengaan, maar is dankbaar vir ’n produktiewe lewe en ’n boekrak vol onvergeetlike boekemonumente." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die Universiteit van die Vrystaat: "Ons neem met groot hartseer kennis van die dood van een van die Vrystaat se grootste en mees geliefde skrywers. Serfontein was een van die beroemde, sterk, Oos-Vrystaatse vroue, iemand wat sonder skroom en sonder ’n greintjie selfkoestering standpunt kon inneem. Haar skryfwerk was soos haar persoonlikheid: aards en sonder fieterjasies. Sy het ’n besonderse oog gehad vir nie net gewone mense se koddighede nie, maar ook hul milde menslikheid." (Die Burger, 5 November 2016)
  • Eloise Wessels: " Sy het die tradisionele persepsie van ’n vroueskrywer wat in die 1950's bestaan het met grasie deur die krag van haar talent, vermoë en persoonlikheid verbreed en versterk om as ’n belangrike en onafhanklike, gerespekteerde stem erken te word, en het so ’n lans vir latere vroueskrywers gebreek." (LitNet)
  • Andries Wessels: "Moontlik omdat sy aanvanklik as vervolgverhaalskryfster bekendheid verwerf het, het kritiese erkenning van die literêre waarde van haar werk eers later in haar loopbaan gevolg en sy was lank ’n onderskatte dog gewilde skrywer. Eindelik is die hoogstaande kwaliteit van haar werk tog raakgesien en erken – haar onderhoudende, eiesoortige vertelstem, skerp waarneming, komplekse karakterisering, menslike insig, onsentimentele warmte, soms eksentrieke waarnemingshoek – en vele toekennings en erkennings het haar te beurt geval. Haar formidabele persoonlikheid, sterk opinies en vurige betrokkenheid by die Afrikaanse volkslewe, kultuur en ervaring het ook bygedra tot haar sterk openbare teenwoordigheid." (LitNet)

Publikasies:

 

Publikasie

Liefde in die kwepertyd

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1984 (Grootdruk)
  • 2014

ISBN

  • 0868121045 (hb)
  • 9781485302414 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tiendes van anys

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1985 (Grootdruk)

ISBN

0795904398 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Water op Mispah

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Zandberg Jansen

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

So min blomme

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Onder skewe sterre

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Systap onder die juk: sketse van vreeslose Vrystaters

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1982
  • 2012

ISBN

0798113405 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

  • Kontreikuns
  • Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek is maar ene

Publikasiedatum

1972

ISBN

0798102039 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Amper my mense

Publikasiedatum

  • 1974
  • 2009

ISBN

  • 0798104481 (hb)
  • 978869193225 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sonder klein trou

Publikasiedatum

1974

ISBN

0798103361 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rang in der staten rij

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798109173 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste jagtog

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113138 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

FAK/Helpmekaar-prys vir Ontspanningsliteratuur 1983

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Serfontein-atlas

Publikasiedatum

1984

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Tientie van Wyk

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Galery van reënmakers

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119314 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Keurskrif vir Kroonstad: ’n kroniek van die ontstaan, groei en vooruitsigte van ’n Vrystaatse plattelandse dorp

Publikasiedatum

1990

ISBN

0628033125 (hb)

Uitgewer

Kroonstad: Die Stadsraad

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Deurloop: ’n keur uit die essays van Dot Serfontein. Saamgestel deur Antjie Krog

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129808 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vertel! Vertel!

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2013

ISBN

1874901368 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die huis van papier

Publikasiedatum

1997

ISBN

9780702141683 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Beginnerslees

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vis en tjips

Publikasiedatum

1997

ISBN

9780702141690 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Beginnerslees

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

So min blomme; Onder skewe sterre; Sonder klein trou

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334391 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dot Serfontein-omnibus (Tiendes van anys en Onder dieselfde ster)

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798146630 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrypas

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869192976 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur uit artikels oor Dot Serfontein beskikbaar op die internet

’n Keur uit artikels deur Dot Serfontein beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top