Rang in der Staten rij vra om gelees te word

  • 0


Titel: Rang in der Staten rij
Skrywer: Dot Serfontein
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869194543
Prys: R160

Klik hier om Rang in der Staten rij te koop by Kalahari.com.

Hierdie roman oor die ervarings van Vrystaatse burgers tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 het die eerste keer in 1979 verskyn. Dit vorm deel van die reeks boeke rondom die oorlog wat die afgelope twaalf jaar of wat die lig gesien het. ’n Mens kan jou wel afvra of die boek nog iets te sê het, of dit ná ’n lang stilte van 32 jaar herpublikasie regverdig. Die antwoord is dat die tema van oorlog en die morele en etiese vraagstukke daarrondom so deeglik daarin belig word dat dit die lees die moeite werd maak.

Daar is beslis nie ’n tekort aan aksie in die loop van minder as drie jaar van die oorlog nie. Twee jong vriende, Michal Ras en Frank Ingram, albei teologiestudente aan die kweekskool op Stellenbosch, besluit om die republieke in hul stryd teen Engeland te gaan help. Albei is gebore Vrystaters: Frank in die dorpie Patrysdraai, waar sy pa predikant is, en Michal in Bloemfontein, waar sý pa ’n regeringsamptenaar is. Sowel Michal se aanstaande skoonpa, professor Louis Rouwenhorst, as Frank se pa is skepties oor die republikeine van die noorde se onbesonnenheid om die grote Brittanje aan te vat, en Frank se ouers gee Boland toe pad.

Op pad na hul kommando ontmoet Frank en Michal die Ier Cally O’Rourke, wat by hulle aansluit. Onderweg na hul kommando in Natal ondervind hulle dadelik die probleme van ’n lewe te velde, soos Frank wat van die perdry geswelde skaafplekke aan sy kuite en dye ontwikkel wat ontsteek. Hulle ontmoet in die proses ’n klompie medekommandolede, elkeen met sy eie unieke persoonlikheid en agtergrond, en dié klompie deel hul oorlogervarings met hulle. Spoedig leer Frank die reëls van oorlogvoering, soos kommandant-generaal Piet Joubert se opdrag: ’n Mens skiet nie ’n Christen as hy op die vlug is nie.

Teen die tyd dat hulle van Natal na die Vrystaat terugkeer, is daar ontnugtering omtrent die Boere-opperbevel se gebrek aan behoorlike organisasie of ’n uitgewerkte aanvalsplan. “Net ’n klomp jollie ouens wat die volkslied sing en kom Engelse skiet.”

Saam met ander kommandolede beland Frank op die plaas Komplimentsfontein, waar hy verlief raak op die sestienjarige Uys-dogter, Christina, en beloof om haar ná die oorlog te kom haal. Daar is ’n effense ongemotiveerdheid en teenstrydigheid in die gebeure hier, want waar Frankie tydens die dansparty daardie aand sê dansmaats is met die oog uitgesoek maar dat hy nie uitgesoek het nie, klink dit ietwat vreemd dat hy ’n uur later skielik sy hart verloor op Christina, die Hallelujawysie-spelende meisie voor die traporreltjie.

Die ontnugtering met die republikeinse oorlogpoging laat die twee hoofkarakters uiteenlopende besluite neem: die een glo nie meer in nasionale vryheid nie, “net in die vryheid van die enkeling”, en hy begin verraderlik ’n idealistiese wegbreekgroepie met die oog op ’n “nuwe bestel”; die ander bly egter lojaal voortveg, wonder selfs of die geweld van die oorlog nie ’n behoefte aan wreedheid in hom bevredig nie, want hy ontdek dat hy “taamlik gelykmatig bloed kan vergiet”.

Die fassinerendste gedeeltes van die roman is vir my die bespiegelings oor die oorlog en ander kwessies in gesprekke. Dit wissel van O’Rourke se insiggewende ontleding van die oorsake van die oorlog: “En moenie jou verbeel hierdie oorlog kom net van Engeland af nie. Hy kom uit die hart van Transvaal self”, tot die eenvoudige en ongeletterde Theun se belydenis: “Die oorlog … dis vir my lekker. … [E]k voel nou vir die eerste keer in my lewe … [E]k is nie net Sewes Ingelbrecht se voetvel nie. Ek is iemand.” En oor swart mense: “Daar is net een soort gesag wat sulke mense eerbiedig … en dis geweld”, met Hardie se kommentaar daarop: “Overgesetsynde in ou Romeinse terminologie: Laat hulle maar haat, solank hulle terselfdertyd ook vrees. En die Romeine het met daardie beginsel die stryd teen die barbaredom verloor.” Daarteenoor staan die byna profetiese woorde van Frank teenoor Michal se idealistiese “nuwe bestel” waar almal gelyk sal wees: “Die samesmelting waarvan jy droom, was nog nooit moontlik nie. Die groep met die fynste beskawing – en gewoonlik het hulle ook die minste fisiese weerstand – word net deur volgehoue slagting geabsorbeer.”

Dit dien ook as stof tot nadenke wanneer Frankie, toe hy gevra word om te lees en bid voordat die makkers uitmekaar gaan, wonder: “Durf ek vir hierdie mense by my ’n heilstaat van oorwinning voorhou as alles in die stryd besig is om te verkrummel?”. Dit laat ’n mens dink aan Paul Kruger wat in ’n laat stadium van die oorlog nog sy volgelinge met behulp van Bybelstekste probeer besiel het met versekerings dat die oorwinning steeds vir hulle wink en dat God hulle met wonderwerke sal help soos Hy in 1881 by Majuba gedoen het. Was dit werklik wys om die oorlog so lank met guerrilla-taktiek uit te rek terwyl duisende in die stryd en in ballingskap en konsentrasiekampe beswyk het? En durf ’n mens ’n vergelyking tref met FW de Klerk, wat ingesien het dat oorheersing dalk militêr verseker kan word, maar dat dit nie volhoubaar (en eties verantwoordbaar) sou wees nie?

Die kommandolewe word realisties en onsentimenteel uitgebeeld. In hierdie opsig is die roman feitlik op dieselfde vlak as PG du Plessis se Fees van die Ongenooides. Waar Kay de Villiers se magistrale werk in twee dele, Healers, Helpers and Hospitals, ’n enkele kort paragrafie oor tandtrek op kommando in breë trekke bevat, beskryf Dot Serfontein dit in die fynste besonderhede in drie bladsye. En dit lyk beslis nie of die besonderhede uit die duim gesuig is nie.

Ná vredesluiting en oorgawe kom daar uit die nederlaag, lyding en dood ’n belofte van lewe voort, maar nie voordat menslike feilbaarheid en broosheid in al sy aaklige én verblydende besonderhede oopgevlek is nie. Selfs die verteller, Frankie, is nie ’n simplistiese ongenuanseerde karakter nie.

Dis ’n boek wat vra om gelees te word, veral deur mense wat oorlog verromantiseer, want die oorlog van 1899-1902 het diep kollektiewe wonde op die Afrikanergemoed gelaat wat die politieke landskap van Suid-Afrika ingrypend sou beïnvloed.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top