
Foto: https://www.litnet.co.za/huldeblyk-ena-murray/
Ek was opgewonde toe ek in 1989 ’n aanstelling as redakteur by Tafelberg-Uitgewers kry. Ek was toe elders in die land ’n assistentuitgewer van akademiese boeke, en dit was ’n stappie ondertoe in rang. Maar die vooruitsig om naby die vuur te staan van Tafelberg se luisterryke fiksieskrywers en digters, weg van die steriele veld (vir my, altans) van droë akademiese boeke, het my die kans laat aangryp. En dit alles in die skadu van Tafelberg, in daardie betowerende stad Kaapstad, soveel kultuurryker as die staatsamptenaarlike Pretoria.
Ek praat hier met die tong in die kies, en wel wetende dat die geskiedenis dié soort nostalgiese praatjies nie gedoog nie. Maar nou is nou en toe was toe. Ek het uitgesien na die lig wat straal uit Hennie Aucamp, Anna M Louw, Petra Müller, Elsa Joubert, Klaas Steytler, Chris Barnard en hoeveel ander wie se boeke ek verslind het.
Aangekom in Kaapstad, word ek deur die maatskappy in ’n hotel net langs die Kompanjiestuin gesit terwyl ek na ’n plek soek om in te woon. Daarvandaan was dit ’n flink stappie van tien minute kantoor toe langs historiese witgekalkte mure en geboue en onder eikebome deur tot by die art deco-elegansie van die Waalburggebou wat ons kantore gehuisves het. Alles – die omgewing, die mense, die manier, die soort boeke – was net soveel anders as wat ek geken het. Ek het soos provinsiale royalty gevoel wat dit tot in die hoofstad gebring het.
Selfs my kantoor het my bekoor: afgeskort met dun droë mure en gemeubileer met ’n stokou lessenaar, ’n tiksterstoel, tamaai meganiese tikmasjien en ’n greinhoutboekrak wat eenmaal nuut was. Ek dag ek gaan nou daar agter my tikmasjien sit en wag vir die volgende meesterstuk in die pos. Ek sou op ’n elegante brief vir die skrywer uittik waarvan my letterkundige insigte die boek in ’n nog hoër wentelbaan sou lanseer.
Wat Charles Fryer, die hoof van fiksie, op my tafel kom sit het, was ’n manuskrip van Ena Murray. Toenmalig was sy die koningin van romantiese fiksie. Ek moes in die nering ingewy word, en dit was hoe ek moes begin.
In my adolessensie het ek gehou van die uiterste romantiek van Elmar Steyn se ou-Kaapse stories, die ene skeepkapteins met swaarde en swymelende vroue van kop tot tone in valletjies. Maar dit was van korte duur, en so ook die bestek van my ervaring in romantiese fiksie.
Let wel, ek maak Ena – nou reeds vyf jaar ter siele – nie as ’n mindere skrywer af nie. Dalk was die belangrikste ding wat ek deur hierdie opdrag geleer het, dat mens dit moet weerstaan om in hiërargieë van hogere tot lagere letterkunde te dink. Vir uitgewers veral is so ’n benadering ydel. Ena Murray was vir Tafelberg ’n baie, baie belangrike skrywer.
Ek weet jy sal wil sê ja, dis net omdat sy die geldkoffers gevul het. Dit is nie onwaar nie, maar die groter saak was dat talle duisende mense danksy haar boeke gekoop en passievol gelees het. En waar daar eenmaal boeke in ’n huis is waar kinders grootword, is die fondament gelê vir lees en lees agter jou interesse aan, en eendag lees jy Herman Hesse. Of relatiwiteitsteorie, as Einstein reg was. En ek dink hy was.
Deur Ena Murray was daar dus ’n ongeëwenaarde venster oop op die literêre skatte van huis Tafelberg. Ek weet ook vir seker dat Ena met dieselfde deernis en agting as al ons ander skrywers behandel is, van wie baie intellektuele en artistieke reuse was.
Die hantering van Ena se boeke was egter ’n eiesoortige prosedure, anders as die meeste ander. Terwyl dit ’n heilige reël is dat niks in druk mag verskyn wat ’n skrywer nie afgeteken het nie, het Ena glad nie omgegee wat met haar manuskripte gebeur na sy die laaste vel uit die tikmasjien gerits het nie.

’n Foto van die jongste van Tafelberg se Keur-reeks
Sy was ’n harde werker en ’n fenomenaal produktiewe skrywer. Sy het elke kwartaal ’n boek geskryf. Met háár vlak van verkope kon die klein Afrikaanse mark hierdie frekwensie van nuwe titels met gemak absorbeer. Maar sulke produksie vra ’n haas industriële produksielyn.
Aan die skeppende kant was dit Ena. Die meeste van haar stories het op bekende Suid-Afrikaanse grond afgespeel, hoewel sy soms avontuurlik gevoel het. Dan spin sy die aardbol en waar sy haar vinger blindweg druk, plaas sy haar volgende storie. Ek jok nie. My eerste boek van haar was juis ’n verhaal waarin wilde vrouevegters in ’n Suid-Amerikaanse oerwoud rondhardloop. Ek vermoed dit was deur die Amasones van die Trojaanse oorlog geïnspireer.
Sy het die temas van haar verhale uit die lewe om haar, stories in die koerante gehaal. Stories wat haar ontroer het. En sy het huiswerk gedoen, veelal met die hulp van haar man, Jacques. Sy het inligting versamel en ’n raamwerk aangeteken. Dan het sy by die tikmasjien gaan sit en die storie uitgetik, sonder hersiening. Wanneer sy klaar is, is daar 60 000 woorde en ’n gawe struktuur met begin, middel en einde.
Dan kry ek die manuskrip, lees dit deur en pos dit aan Denise Ohlson in Prince Albert. Denise het ’n vry hand gehad. Sy het stukke doodgetrek wat herhalend of oorbodig was. Sy het stukke verskuif waar dit beter pas. Ander stukke het sy self ingeskryf om haperings en kontinuïteitsfoute reg te stel. Dit alles nog buiten die nasien van taal en spelling. Wanneer ’n manuskrip in die pos van Denise af terugkom, was dit ’n bad rooi ink.
Dermate, terloops, kon jy destyds die poswese vertrou. Niks het weggeraak nie.
Dan moes die geredigeerde manuskrip gaan na ’n tikster wat die redigeermerke verstaan en die duisternis strepe en pyle en omruilings kan ontsyfer en die manuskrip in sy geheel oortik. (Ek is seker daar moet by Naln voorbeelde van haar manuskripte wees.) Dan moes dit weer geproeflees word, en pas dan kon die manuskrip na die setter gaan, wat sekerlik nog in die hardloop tikfoute reggestel het. Ek kan my nie herinner dat Ena drukproewe gesien of gelees het nie.
Die boek moes deur die produksiemeule gaan om betyds beskikbaar te wees vir Leserskring, ons groot vennoot in die verkope van haar boeke, saam met CNA en die klein Christelike boek-en-skryfbehoefte-winkeltjies wat jy nog wydverspreid oor die land gekry het.
Laasgenoemde was belangrik, omdat dit in effek naas Leserskring die grootste verspreidingsnetwerk vir boeke was, mits hulle stigtelik was. Ena se boeke, hoewel altyd met ’n liefdesverhaal daarby ingeweef, was nooit eroties nie. Die laaste woord in ’n toneel sou miskien “laken” wees, dan sny dit weg na iets anders. “Ek hou van vry,” het sy op haar kenmerkend reguit manier in ’n onderhoud gesê. “As dinge begin warm raak tussen my held en heldin, tik ek kolletjies.”
Die Christelike toon in haar boeke was een rede vir hulle sukses, maar daar was meer aan. George Louw was verhaleredakteur van Huisgenoot voor hy na Tafelberg gekom en Ena vir dié uitgewery gewerf het. Hy het gesê hy kon nooit sy vinger sit op die geheim waarom haar verhale so gewild was nie. Baie het haar dit probeer nadoen, maar nooit met haar soort sukses nie.
Nie dat daar nie ’n patroon, of noem dit nou maar ’n resep, aan haar boeke is nie. Iemand – ek vergeet wie, en kon dit nie opspoor nie – het in die jare tagtig, meen ek, ’n magisterverhandeling oor haar werk geskryf. Ek het dit gelees. Die navorser het twee strategieë in haar boeke uitgewys.
Die eerste was die sigsagpatroon. Afgesien van tema en lokaliteit was daar altyd ’n manlike held, stil en sterk en onafhanklik. Dan kom die heldin van elders daar aan. Sy is ’n verpleegster vir die held se verlamde broer (wat tipies “aan ’n rolstoel vasgekluister is”), of goewernante vir sy moederlose kinders, of die nuwe skooljuffrou op die dorp, of iets dergeliks. Hulle ontmoet mekaar en daar is dadelik ’n vonk tussen hulle.
Die heldin is egter ook ’n hardkoppige entjie mens, en kort voor lank bots hulle twee. Dié botsing gebeur tipies weens die toetrede van die wulpse rooihaarmerrie van die buurplaas. Sy raak mos alte eie met die held. Dan beweeg die held en heldin weer nader aan mekaar weens, sê, ’n onbaatsugtige daad van die held. Maar dit is nie lank voor hulle weer stry kry nie. So verloop die verhaal in ’n naby-ver-naby-patroon tot die twee uiteindelik verloof is of trou of ten minste alle verskille opsy skuif en die liefde met ’n kus verseël.
Hierdie verloop is die perfekte materiaal vir naelbytintrige. Die wete dat jy nog meer daarvan in Ena se volgende boek gaan kry, het grootliks tot die lojaliteit van haar lesers bygedra.
Die ander strategie wat die navorser beskryf het, kom naby aan daardie onpeilbare X-faktor. Ena het ’n manier gehad om intiem in die binneoor van die leser te praat. Asof die verteller in haar boeke ’n groot geheim met net jou, die leser, deel. Dikwels het dit ’n skindertoon aangeneem, wanneer sy van die skandalige optrede van die een of ander karakter vertel.
Ons praat van strategieë, maar as jy sou dink Ena het alles gesit en bereken, is dit ’n fout. Haar enorme en konstante opbrengs – daar moet in die omgewing van 120 romans wees – doen wat my betref aan die hand dat die boeke natuurlikerwys uit haar gevloei het. Daarom ook dat die stem in die boeke so trou gebly het. Ena was in haar boeke niks anders as haar eie romantiese, besorgde self nie.
As ek ooit ’n pretensielose mens geken het, was dit sy, Karookind van Loxton se distrik, Mosselbaaier in haar latere lewe. Kinderloos ná twee huwelike en twee miskrame, opreg en uit eie ervaring empaties met mense in pyn. In Jacques het sy egter haar ware maat gevind.
Wanneer sy en hy die Kaap besoek het, was dit in hulle woonwa. Hotelle het hulle nie geval nie. Die woonwa is dan in die Hardekraaltjiewoonwapark in die heuwels bokant Parow getrek, daar onder die hoë bloekombome. Daar het ek hulle saam met Charles gaan opsoek.
Ons skuif by die nou sitplekke weerskant die opslaantafeltjie in. Ek aan die muur se kant, Charles langs my. Jacques sit die bottel brandewyn in die middel van die tafel neer, en vier glase. Daar word nie gevra wie is in en wie is uit nie. Ek wat nie ’n groot drinker is nie, veral nie van hardehout nie, bewe in my broek, want ek weet hier gaan gekuier word. Die mense is joviaal en gemeensaam en sonder seremonie. Mens wil nie ’n sedepreker in die sirkus wees nie.
Teen die tyd dat ek die vraag: “En het jy dan nie ’n meisie nie?” moes kolf, was my swaai geolie. Daardie karavaan onder die bloekombome, het ek geweet, was nie die plek en tyd om uit die kas te val nie. Ek was gelukkig genoeg geskool in Ena se romantiese idioom om die terugbal so te spin dat g’n mens my sou kon uitvang nie. En ek was teen daardie tyd boonop vol jenewermoed.
Anderkant die lang middag uit moes ons die slingerende paadjie bergaf vat in die werk se Corolla. Dié was op sigself nie die stabielste van karre nie. Ek het myself eendag op die De Waalpad byna afgeskryf met daardie einste voertuig. Toe ons deur die tweede draai is, waar daar by my venster uit niks te sien was tussen my en Bellville doer ver onder nie, sê ek vir my baas agter die stuur: “Stop! Klim uit!”
Charles het gedwee gestop en uitgeklim en ek het die wiel gevat, net-net merkbaar vaster op die pad. Dit was nie die laaste keer dat ek geswael van ’n skrywer af sou vertrek nie. Dit neig om so te gaan. Ek weet nie hoe maak uitgewers deesdae nie.
Liewe Charles, liewe Jacques en Ena, almal nou onder die langbome. Maar Ena se werk leef voort. Van die 40 omnibusse, elk met ’n driestuks boeke in, is daar meer as ’n dekade gelede al iets soos 350 000 verkoop. Nou is daar ’n nuwe Keur-reeks, elke volume met drie boeke. Dié trek al weer by nommer 19. Die vraag na haar boeke is so onversadigbaar soos dié na die Maasdorp- en Keurboslaan-boeke, hoeseer ons tydsgees hulle al agtergelaat het.
Daar is ’n X-faktor aan sekere boeke. Harry Potter. Spud. ’n Man genaamd Ove. Ena Murray. Niemand kan jou sê presies wat dit is nie. En ek vermoed dis beter so. As ons geweet het, was die betowering dalk gebreek.
Lees ook:


Kommentaar
Het nog nooit 'n Ena Murray gelees nie, maar Frederik se beskrywing van die produksielyn en die storie agter die stories is onderhoudend en vermaaklik - gee nog meer!
Die mense wat nog nie haar boeke gelees het nie het n groot gemis in hulle lewe
Frederik, kan jy nou meer? 'n Familielid met rakke vol ou Afrikaanse boeke het een Ena Murray. Haar pa het van elke boek wat by die uitgewers waar hy gewerk het uitgegee is 'n kopie gehou. Soos hierdie een.
MURRAY ENA BRUID VAN DIE HEERENGRACHT 1966 AFRIKAANSE PERS-BOEKHANDEL HAYNE & GIBSON
Mooi loop.
Lees dit, Chris!
Beste Mnr de Jager. Dankie dat jy hard en duidelik vir die lesers van Litnet vertel dat lees en passievol boek na boek lees iewers begin. Nie by die literati van die wereld nie, maar in hierdie geval by Ena Murray. Om elke kwartaal 'n boek te kan produseer wat werk, wat publiseerbaar is en wat soos soetkoek verkoop, beteken net een ding. Sy kon skryf. Nie lang sinne vol bysinne, bywoordelike sinne, sonder kommas en sommer nonsens, wat selfbewustelik 'n byna hele bladsy lank voortsleep nie. Sy het onopgesmuk die Karoo laat leef en daarin die mense en hulle dinge laat leef. Laat ons haar eer vir haar noodsaaklike bydrae tot mense en veral stadsmense se verbeeldingswereld. Ons kan by haar gaan leer. RIP Charles Fryer en Ena en Jacques Murray.
Ek sê dankie vir al hierdie kommentare en bydraes.