Skoon wasgoed: Die invloed van lunch op letterkunde

  • 6

Daar was ’n tyd toe dit van literêre agente en redakteurs by uitgewerye verwag is om weekliks faktuurtjies in te dien van middagetes by die trendy eetplekke van Londen. Doen jy dit nie – met ander woorde as jy nie geëet het, úitgeëet en góéd geëet het op die maatskappy se rekening nie – beland jy in die sop oor lyf wegsteek by die werk.

Vir geselskap had dié literêre pompjoggies die talentvolste en belowendste skrywers van hul dag. En dié dag was hier, in die jare sestig en sewentig en tagtig, en dalk nog negentig. Dis nie so erg lank gelede nie, hoewel sulke dae nou vanuit ons bevange tyd soos die hersenskim van ’n verromantiseerde verlede lyk.

Daar is geclichéde frases wat in die idiolek van boekemense rondswem soos goudvissies in ’n tenk, frases soos “wine and dine” en “a legend in his lunchtime”. En nie sonder rede nie. Groot geeste en die onthaal van skrywers en van kollegas onderling is nie los te dink van die uitgewersbedryf waarin ek grootgemaak is nie, dit wil sê in die jare negentig. Nota bene, nie eens naastenby op die Londense skaal waarmee ek hier bo inlei nie, maar nogtans. Daar is vermaarde figure in ons bedryf wie se geleerde tafels hul faam versprei het tot selfs buite die kring van dié wat by enige spesifieke geleentheid saam sou aansit. Oorlede Koos Human was so iemand met akklamasie. Die pas gestorwe Jonathan Ball was een, so ook my geliefde baas by Random House, die eweneens nou saliger Stephen Johnson. Dankbaar nog met ons is Kerneels Breytenbach, sonder twyfel ’n lid van daardie klub.

Anders as wat dit mag klink, is die toegangskriterium van dié klub nie smulpapery nie – dit sou die kring wesenlik groter gemaak het – maar persoonlikheid, gulhartigheid, intelligensie, belesenheid, nuuskierigheid, skinderlus en, boweal, rakonteurskap. As jy storiemense wil onthaal, moet jy kan stories vertel. Jy moet ’n tafel kan kommandeer soos ’n skeepskaptein sy vaartuig. Jy moet kan konsert hou voor ’n ingeligte en kritiese gehoor vir wie die ervaring onvergeetlik is.

Ek wil glo dit is ook eienskappe wat sulke mense na hierdie beleërde nering van ons aangetrek het. Omgekeerd, hoewel nie altyd nie, sou ek vermoed dis ook wat ’n skrywer na ’n spesifieke uitgewery toe kan aantrek: die moontlikheid dat jy, in die figuurlike én letterlike sin, by so ’n ryk tafel kan aansit.

Stephen was ’n groot man in enige dimensie. Hy was ook groot van hart en verstand. Hy kon teatraal vertel, skandaliglik skinder, mense naboots, passasies voordra in Shakespeareaanse Engels met ’n Wagneriaanse stem. Én hy kon sing. Dit was onmoontlik dat jy ’n armer mens en, al was dit net vir ’n wyle, ’n gelukkiger een van sy tafel sou wegstap.

Ek weet nie wat sy onthaalbegroting was nie (in Engels heet dit in die boekhouding gepas “entertainment”) – as hy hoegenaamd tot een beperk was – maar hy het nie gehuiwer om ’n skrywer of ’n kollega vir ete uit te neem nie. Om ’n boek of net ’n nuwe manuskrip of selfs net die ondertekening van ’n kontrak te vier, of om met ’n konkurrent notas te vergelyk, om ’n knoop met ’n werknemer deur te haak. “Ek gaan my pad eet na ’n vroeë graf toe,” het ek hom eenkeer gehoor sê, Robert Baratheon van Game of thrones parafraserende. (Sy veels te vroeë graf het hy gekry, maar dit was nie van eet nie.)

Stephen het dit gelukkig getref dat een van die twee Britse direkteure op ons raad, Simon Littlewood, eweneens ’n bon vivant is. Simon is in Stellenbosch gebore en hy bly gek na die Kaap. Die minstens een keer per jaar dat hy hierheen gekom het, het hy volle gebruik gemaak van die kans om kollegas en ander in die Kaap se eetplekke te onthaal. Hy het my ook gul een keer in Londen vir ete geneem na ’n boekbekendstelling die aand, waarna hy nog die trein huis toe in Oxford moes haal. Onthalers is wellewende mense.

Toe Stephen aftree, was daar in Londen ’n afskeidsete met ’n groep van sy oudste vriende onder boekmense van Engeland en verder. Ek was ook daar. Die bonhomie onder al die ou kêrels – bemarkers, boekillustreerders, uitgewers – was om jou hart aan op te hang. Ek onthou die vreugdekrete om ons tafel wat die hele restaurant se koppe na ons toe laat draai het.

Die onlangse aanlyn onderhoud met Marita van der Vyver ter viering van haar jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, was vir my simbolies van hoe alles, tot ons feestelike gemeenskap met ander, tot ’n skerm met die afmetings van ’n A4-bladsy verskraal is. Die glas wyn in die hand van ’n afgesonderde skrywer op die blou skerm het my triest gestem. Maar in die precovidwêreld kon boekgeleenthede uitkring tot groot affêres.

Terug na Stephen Johnson met sy vermoë om die groot gebaar moeiteloos te laat voorkom. Hy het een maal per jaar die groot saal by die Mount Nelson in Kaapstad gehuur waarin hy die jaar se komende boeke met ’n skouspel van beeld en klank aan verslaggewers en boekhandelaars bekendgestel het. Die saal het volgepak gesit. En nie net vir die boeke nie – na die vertoning het die buffet en die kroeg oopgemaak en “’n goeie tyd is gehê deur almal”, om dit in mooi Engels te stel.

In wat hy self genoem het Johnson’s Folly, het Stephen eenkeer die hele Metropolitan Hotel in Langstraat vir ’n nag gehuur. So is Fab bekend gestel, ’n aanskoulike boek met foto’s van die Mother City Queer Project. Die MCQP was ’n tamaai jaarlikse kostuumpartytjie in Kaapstad waarheen mense van oor die wêreld gestroom het – nog ’n groot sosiale geleentheid wat nou ter siele is. Daar was bands op drie vloere van die hotel, lewende tablo’s van foto’s in die boek, welgevormde kelners in budgie smugglers … Sowat van ’n boekbekendstelling sal nie ek of jy ooit weer beleef nie.

Maar die indrukwekkendste gedoente waarby ek ooit was, was ’n boekparty in Frankfurt. Tydens die groot internasionale boekebeurs elke jaar in Oktober is daar ’n paar groot funksies deur die magtige titane van die industrie aangebied. Een van die mees gesogtes was dié van Kodansha, die grootste uitgewery in Japan. Hulle is ook die borge van die Noma-prys vir die beste boek in Afrika, wat Marlene van Niekerk toe pas met Triomf gewen het. En so kry ek, van die piepklein uitgewerytjie Queillerie, in Frankfurt met ’n lendelam, ylbevolkte deelstalletjie, toe ’n kaartjie.

Die partytjie was op die dak van (ek meen dit was) die Intercontinental Hotel teenaan die Mainz, met ’n pragtige uitsig oor die stad en die rivier. Daar was ’n duisternis mense. Op die skeptafels het die kos soos in reliëfkaarte van ryk wêrelddele heuwels en dale gemaak. En dit was nie chips en dips, nie gepiekelde uitjies en miniviennas nie. Dit was soesji. Dit was kaviaar. Tussen die mense deur het kelners geswiep met kanapees en fluitglase. Fluite, want op die dranktafels het daar magnumbottels Moët, Veuve Clicot en Tattinger in rye ingepak gestaan. En toe eers, na ’n uur of twee, is die warm kos uitgebring.

So kan jy onthaal as jy die uitgewer is van mangatydskrifte in Japan.

Terug op die planeet Aarde het ek, in die dae van dunriemsny by Queillerie, nie die geloof verloor dat boekuitgee ’n sosiale saak is nie, ’n ding van familie, ’n bedryf waar skrywers hulle menslikheid blootstel en uitgewers hulle met ons menslikheid probeer omarm. Iets wat, waar moontlik, uitdrukking vind in ’n ete saam. Selfs al is dit nie in die duurste plek nie. Selfs al is die skrywer menssku en ongemaklik.

Ek het vir ’n skrywer middagete by La Perla in Seepunt gekoop voor ek hom lughawe toe sou neem. Maar ek het nie in ag geneem dat hy OCD is nie. Hy het die hele tyd gemompel en gewriemel en op sy horlosie gekyk. Hy wou twee uur voor die tyd aanmeld, en die hele stad het tussen ons en die lughawe gelê. Ek het ’n ander skrywer probeer onthaal, maar hy het moeite daarmee gehad om in die openbaar met sy boek gesien te word. Toe ek vir hom ’n pas afgelewerde eksemplaar van sy debuut by die werk bring, het hy dit gou in ’n laai gestop voor iemand sien.

In die huise van skrywers het ek egter ook al meer as een feesmaal geniet. Skrywers is meesal nie askete nie. Daarom kry jy soveel romans wat, uitdruklik of onderlangs, met kos te make het. En hul skrywers is uithalerkokke. Tel onder hulle – net in my eie ervaring – Marlene van Niekerk, Marita van der Vyver, Rachelle Greeff, Dalene Matthee. Hulle is voeders. ’n Skrywer het my een keer per jaar uitgeneem vir middagete. Welke ete selde voor een- of tweeuur die oggend klaar was. Die soort aand wat jou die volgende oggend elfuur op kantoor nog in ’n gemarineerde staat het.

My bisarste onthaal van skrywerskant was ongetwyfeld toe ons by Penguin die gaste was van die twee kêrels wat ’n boek oor die Johannesburgse onderwêreldbaas Glen Agliotti geskryf het. Ek het al hier geskryf oor die kritiek wat ek oor die boek moes verduur. Vyf stuks van ons is genooi vir ’n Sondagbraai by ’n groot huis in Bedfordview. Ons het byna begin dink dit is óns wat gebraai moes word, in die son, terwyl ons ure wag vir die gashere om te begin vuurmaak.

Intussen is ons op ’n begeleide toer deur die huis geneem. Daar was verskeie kamers met ’n masseerbed in. Daar was ’n videokamer met ’n verhogie en ’n blink paal wat van die vloer tot in die plafon geloop het. Daar was private stortgeriewe. Ons was in ’n masseersalon!

Die Maandagoggend op kantoor kon ons nie in alle eerlikheid sê dat dit van die son is dat ons so rooi in die gesig was nie. Maar dit was ook ’n ervaring wat opgeneem is en, soos elke ete waar boekemense saam is, tot die een groot nimmereindigende storie bygedra het.

  • 6

Kommentaar

  • Leonie van Rensburg

    Dankie vir hierdie skrywe Frederik! Ek was ook deel van menige uithang ete wat die liewe Stephen gereël het. Mis hom so!

  • Hennie+van+Deventer

    Laat my dink aan 'n beroemde kreefete by Panama Jacks: Freek Swart - wat 'n kuirkampioen was - en Petra Muller. Vertel daarvan in my laaste boek, Koerantkamerade, wat in September by Naledi verskyn.

  • Renée Conradie

    Hoe heerlik was dit. The Talking Table is die mees gepaste voortsetting van dié gebruik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top