Skoon wasgoed: Om uit te gee of nie uit te gee nie

  • 0

Daar is baie beweegredes vir die uitgeebeslissing, soos die proses binne uitgewerye bekend staan wanneer besluit word om ’n bepaalde boek uit te gee of nie uit te gee nie.

Aan die kant van die boekliefhebber lyk dit nie altyd dieselfde as aan die kant van die uitgewer nie. Soms loop sienings hieroor so ver uitmekaar dat jy mense met skok hoor uitroep wanneer ’n manuskrip van die hand gewys is. Eweneens hoor jy die verontwaardiging, soms, oor ’n boek wat wel uitgegee is terwyl Jan Publiek dit merieteloos vind.

In my jare as uitgewer het ek alte seker aan albei kante gefouteer in die oë van die met reg kritiese publiek. Dis te verstane as mense anders as jy oordeel omdat hulle nie toegang het tot die volle, of ten minste dieselfde stel feite nie. Dit is minder verduurbaar wanneer mense bloot stiksienig is of heeltemal onrealistiese verwagtings aan ’n uitgewer stel. Die meeste uitgeebeslissings is rasioneel en gebaseer op ’n goeie balans tussen die gehalte van die boek en die finansiële proposisie wat dit vir die uitgewer is.

In die verhouding tussen skrywer en uitgewer is die skrywer se aandeel om die inhoud te verskaf. Daarin lê vir laasgenoemde ’n risiko in tydsbesteding – die maande of jare wat dit neem om die boek te skryf. Vir die uitgewer, wie se aandeel dit is om die boek te produseer, te stoor en te bemark, is die risiko in hoofsaak finansieel. Dit is nie boosaardig of inhalig van ’n uitgewer om te wil seker maak hy verloor nie sy base se geld in die proses nie. Of so seker as wat dit moontlik is om te maak. Dit is beide kuns en wetenskap, sowel intuïsie as berekening. Nie dat dit party klakouse en liefhebbers van samesweringsparanoia keer om uitgewers aan te val nie.

By die laaste plek waar ek gewerk het, as uitgewer by Penguin Books, moes ons ’n Excel-boek van ruim 20 gekonnekteerde spreistate invul. Die komplekse formules daarin het dan die verpligte bruto winsgrens bereken. Kom jy onder ’n sekere vlak in, is jy nie toegelaat om die boek te publiseer nie. Dit was nie net ’n dag se werk om al die inligting te versamel nie. Produksie-, stoor- en bemarkingskoste moes ingesit word, asook handelskortings, tantième vir die skrywer, glyskale, verkoopprys, voorskot, inkomstestrome, multiboekkontrakte … Al die Penguin-uitgewers wêreldwyd het volgens dieselfde stelsel gewerk.

In die ou dae kon jy die som maklik op die agterkant van ’n sigaretboksie maak of op die servet van die restaurant waar jy die skrywer onthaal agter wie se volgende boek jy aan is. Dit wil sê indien daar hoegenaamd somme gemaak is. Dit word van JD Pretorius – die kleurryke stigter van Tafelberg-Uitgewers in 1951 – vertel dat hy ’n manuskrip in sy hand geweeg en dan op grond van die gevoel ’n verkoopprys vir die boek uitgeroep het.

Die verskil tussen die twee metodes toon die toenemende verkorporatisering van die uitgewersbedryf oor die afgelope vyf dekades. Dié proses het hand aan hand geloop met die aanswellende golf van samesmelting van uitgewerye wêreldwyd, van die eenman- of familiesake van die 17de tot in die 20ste eeu, tot algaande groter en groter korporasies.

Ek was self verskeie kere midde-in sulke aankope en samesmeltings, die laaste keer toe Penguin en Random House wêreldwyd saamgesmelt het en verreweg die grootste algemene uitgewery in die wêreld geword het. En laat verlede jaar het Penguin Random House (PRH) ook Simon & Shuster ingesluk, een van die laaste van vyf oorblywende grotes in die VSA. Hier te lande het PRH ook laas jaar vir Lapa opgekoop – stellig om hulle Afrikaanse lys uit te brei, Afrikaans synde ’n ver beter proposisie vir plaaslike uitgewerye as enige van die ander landstale, finansieel gesproke.

Maar terug na die uitgeebesluit. Stel jou voor daar is ’n skaal van oorwegings waarvan die een uiterste (A) die kuns verteenwoordig – die suiwer intuïtiewe uitgee van boeke waarvoor jy ’n estetiese of ander waardering het. Aan die ander uiterste (Z) is die suiwer berekende kriteria, waar Excel blindweg bepaal of ’n boek uitgegee kan word. Sedert die begin van boekuitgewery het die uitgeebeslissing al verder met die skaal van iewers naby A in die rigting van Z aangeskuif. Ons is nou heelwat nader aan die tweede uiterste.

Iets wat saam met hierdie beweging in die rigting van die korporasie gaan, is dat jou baas as uitgewer al hoe meer van ’n abstraksie word. Aan die een uiterste is die baas jy self of iemand in jou familie of iemand wat jy ken. Vandag is die base die gesiglose aandeelhouers in wie se naam – en in wie se belang, of onder wie se dwang – alle besluite geneem moet word.

Die reeds genoemde oubaas JD Pretorius het glo gesê een boek in die jaar gee hy “vir die Here” uit. Daarmee het hy ’n verdienstelike boek bedoel wat nie noodwendig ’n goeie verkoper sou wees nie. Daar is boeke wat in die belang van die letterkunde of byvoorbeeld in landsbelang uitgegee behoort te word, al maak hulle nie geld nie. Die sakeontleder sal jou van wanpraktyk beskuldig as jy kruissubsidiëring toepas, waar ’n goeie verkoper ’n swakker boek dra. Dit word in ons dag al hoe moeiliker, omdat elke titel individueel die winsberekening moet slaag.

Onder die druk van die vereistes van voogdyskap van andermansgeld (oftewel vertrouens- of fidusiêre plig; in Engels “fiduciary duty”) kan jy besluite neem wat nie heilsaam uitwerk nie. Twee dae nadat ek in 2012 by Penguin begin het, roep die direksie my in met die opdrag om die omset binne ’n jaar so min of meer te verdriedubbel. ’n Mondvol, as jy in ag neem dat dit ’n goeie ses maande of meer vat om een titel te publiseer, en dit sluit die werwings-, voorleggings- en besluitnemingsproses uit. Die prestasiedruk was skielik aansienlik.

In dieselfde week het ek saam met my baas, Alison Lowrie, ’n vergadering met twee skrywers. Peter Piegl en Sean Newman het toe pas hulle boek oor die vermoorde ontkleeklubbaas Lolly Jackson elders uitgegee en het hulle nou gereed gevoel vir groter visse: ’n boek oor ’n Johannesburgse lord van die onderwêreld, Glen Agliotti, met Penguin as uitgewers. Ons het besluit om die manuskrip aan te vra. Dit sou byna vir seker ’n sterk verkoper wees.

Die Vrydag van daardie reeds hooggestemde eerste week roep Alison my in met die nuus dat dit haar laaste dag is. Ek sou in die interim rapporteer aan die groepshoof van Penguin in die Statebondslande. Hy was in Delhi gestasioneer en dus ek was prakties op my eie. Ek het die Agliotti-boek deur die interne besluitnemingsprosesse gestuur (waar die bemarkers ook ‘n sê het). Die boek is gekontrakteer en ons het dit gepubliseer.

Op die volgende jaar se Sunday Times-prysfunksie dam Jacques Pauw my by. Hoe kon ek Penguin se naam assosieer met so ’n skurk deur so ’n swakgeskrewe hagiografie? Ek was gebelg, maar Pauw was bekend vir sy goeie kontakte en diep navorsing en sterk skryfwerk. Sy opinie was die aandag werd. Nietemin, die koeël was deur die kerk, en die boek is nou nog in die handel beskikbaar.

’n Ander keer toe ek van onoordeelkundigheid beskuldig is, was toe ons – ook by Penguin – ’n biografie oor ’n bloedjong sportster uitgegee het. Dit was ’n sensasie toe Chad le Clos vir Michael Phelps in die Londense Olimpiese Spele van 2012 uitgeknikker het. Dit was in die vlinderslag. Phelps, een van die gevierde Olimpiese helde, was verreweg die gunsteling. Le Clos was 20 jaar oud.

Bert, Chad se pa en ook sy bestuurder, was oor die wêreld heen beroemd vir sy opgewonde reaksie voor TV-kameras toe sy seun die goue medalje wen. Ons was almal nog in die ban van dié Olimpiese glorie toe Myan Subryan die idee van ’n biografie oor die swemmer na ons toe bring. Myan is van Indiese afkoms, en ’n toegewyde Christen. Hy was geestelike raadgewer vir sportlui, onder meer die Springbokke, en hy het ook met die Le Clos’s saamgewerk.

In daardie selfde jaar, 2012, het Myan ook by Penguin ’n boek oor die Springbok Pierre Spies gepubliseer (More than rugby). Hy was dus baie goed geplaas vir ’n boek oor Chad le Clos. Ek het afgesit Durban toe om Myan, Chad en Bert te ontmoet en is met ’n getekende kontrak in my tas terug na Johannesburg. Intussen is Stephen Johnson, my ou baas by Random House, aangestel as tussentydse hoof van Penguin. Stephen was so opgewonde oor dié aankoop dat hy my net daar vir ete in die beste soesjirestaurant in Johannesburg uitgeneem het.

So het ons onsself begeester oor ons boeke. Meer oor sommige as oor ander. Die Le Clos-boek is gepubliseer onder die titel Unbelievable!. Die titel is ontleen aan sy pa se uitroepe op TV in Londen. Op die voorblad was daar ’n foto van Chad in swemdrag voor die Suid-Afrikaanse vlag. Die manipulerende hand van die uitgewer in hierdie ensemble kan maar erken word. Ons het vertoon wat sou verkoop: die vlag en die swemmer se physique, wat die oog geen geweld aangedoen het nie.

Die boek self was aan die dun kant, want soos te verwagte is daar ook net soveel te vertel oor so ’n jong lewe. Dit het iemand wie se opinie ek ag, op sosiale media laat uitroep: Maar dis te vroeg! En sy was reg. Hoe kan jy ’n biografie hê as jy nog so jonk is, maak nie saak hoe hoog jy reeds gepresteer het nie.

Dit wás opportunisties van ons. En dit is nie te ontken dat omsetdruk bygedra het tot die uitgee van die boek nie. Maar agternawysheid kom maklik. En ek kan sowaar nie na dié boek kyk en skaam daaroor voel nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top