Ek het as kind ná aan die veld grootgeword. Ons plaashuis was knus tussen die Langeberge se voetheuwels ingewikkel en ’n deeglike liefde vir die natuur het van kleins af in my hart tot stand gekom. Tog het ons nooit herwin nie. Dis eers gedurende my studies as ekoloog dat ek gereeld met die impak van rommel en die herwinning daarvan te doen gekry het.
By byna elke winkelsentrum staan daar herwinningsdromme rond, en vele kosverpakkings adverteer vandag hulself as “ten volle herwinbaar” of “uit herwinde materiale geproduseer”. Maar so eenvoudig is dit ook nie altyd nie. Het jy gedink plastiek is plastiek is plastiek? Toe nie. ’n Oneindige aantal plastieksoorte word vandag gebruik, en sommige daarvan kan nie herwin word nie. Selfs die edele glas kan nie altyd herwin word nie. Dit alles dra by tot die oorvol en onveilige stortingsterreine in die omgewing van stede soos Kaapstad.
Die Stad Kaapstad het twee groot stortingsterreine waarheen ons huishoudelike rommel vervoer word. Die Kuspark-stortingsterrein is naby Muizenberg met ’n uitsig oor die see, terwyl Vissershok naby Table View vlak langs die N7 lê. Ons almal ken die vullislorrie wat die inhoud van ons vullisdrom kom haal. Ons kleuters hardloop opgewonde hek toe om na die groot lorrie te kyk, en kinderverhale sit graag ogies by om aan dié trok persoonlikheid te gee. Min van ons weet egter waarheen die lorrie gaan. Solank hy sy werk doen en ons rommelvry kan aangaan met ons lewens, gee ons, om nou eerlik te wees, ook nie eintlik om nie.

Prent: ©Christian Dorn from Pixabay, gepubliseer 16 Augustus 2016.
Die vullislorrie kom haal weekliks die inhoud van ons vullisdromme
Alhoewel Kuspark of Vissershok die eindbestemming van die meeste van ons vullis is, gaan die vullis nie direk soontoe nie. Sodra die lorrie vol is, gaan hy na die naaste oordragstasie om die rommel af te laai. Verskillende oordragstasies is regoor die stad versprei. Hier word die rommel soms gesorteer en dan gekompakteer voor dit na stortingsterrein geneem word. Deurdat die rommel gekompakteer word, kan ’n groter hoeveelheid op ’n slag op ’n trok of trein pas om verder vervoer te word. Meer rommel kan dan ook op die stortingsterrein pas. Beide Kuspark en Vissershok is oorvol, en hierdie stap in die stortproses is dus van kritieke belang.
Daar word voorspel dat Vissershok teen 2036 sy volle kapasiteit sal bereik. Kuspark is reeds vol en sy oorloop word ook na Vissershok vervoer. Die beplanning tans is om toestemming te kry om die terreine nog hoër te mag vul, eerder as om ’n nuwe stortingsterrein op ’n ander plek te bou. Die omgewingsimpak van sulke stortingsterreine is iets ysliks, en dit is beter om dit so lank as moontlik tot bestaande gebiede te beperk.
Die mees ooglopende omgewingsimpak van stortingsterreine is dat die rommel rondwaai. As jy al ooit verby enige stortingsterrein gery het, sou jy gou opgelet het hoe ver van die terrein items soos plastieksakke en skyfiepakkies nog steeds rondlê. Heinings word gewoonlik rondom die area opgerig om dit te keer, maar wanneer jy ’n berg van meters en meters hoog bou, is dit maar moeilik vir ’n heining om ’n verskil te maak. Wanneer die stortingsterrein sy kapasiteit bereik het, word dit toegegooi met ’n paar lae sand en grond. Dit voorkom dat die rommel verder wegwaai, en ook dat mense en diere daarby kan uitkom om dit nog meer te verstrooi.
Uitloogwater vorm wanneer reënwater deur die rommel op die stortingsterrein syfer en dan in die grondwater of by laagliggende gebiede uitloop. Terwyl die water deur die rommel syfer, neem dit allerhande oplosbare stowwe saam en word dit ’n baie giftige mengsel. Stortingsterreine moet met ’n dik laag plastiek uitgelê word om te voorkom dat hierdie uitloogwater in ons grondwater beland en mense wat stroomaf van die stortingsterrein woon, siek maak. Die uitloogwater word dan opgevang, en in die geval van Vissershok in staaltenke gestoor of met trokke vervoer na Borcherds Quarry Rioolwatersuiweringsaanleg, waar dit behandel word.
By Kuspark is daar gedeeltes van die stortingsterrein wat in werking gestel is voordat dit algemene praktyk was om die terrein met plastiek uit te voer. In hierdie gebiede loog die water uit tot in die ondergrondse akwifers. Tot voordeel van die gebied is die grond hoofsaaklik kalkhoudende sand, en hierdie kalk verhoed dat te veel giftige metale verder uitloog. Studies het egter bevind dat die ondergrondse water naby Kuspark steeds hoë vlakke van ammoniak bevat. In die gedeeltes van Kuspark wat wel met plastiek uitgelê is, word die uitloogwater opgevang.
Al hierdie hope vullis wat stadig afbreek, laat ook giftige metaangas vry. Dit is natuurlik ’n groot euwel vir aardverwarming, maar gelukkig het die Stad Kaapstad die slim besluit geneem om dit te gebruik om elektrisiteit mee op te wek.
Tog bly die omgewings- en gesondheidsimpakte van stortingsterreine kritiek en moet ons ernstig besin oor hoe ons reeds by ons huise daarmee kan help.
Die maklikste manier om jou vullis minder te maak, is deur kompos daarvan te maak. Kaapstad se munisipale bestuur deel selfs komposdromme gratis uit. Kompos vorm wanneer organiese materiaal afbreek en in voedingstofryke humus verander. Al jou groenteskille en vrugtestronke, asook koerantpapier kan op jou komposhoop gegooi word. Dit is egter belangrik om nie vleis- en melkprodukte op die komposhoop te gooi nie, aangesien dit rotte en vlieë lok en dus ’n gesondsheidsgevaar vir jou huishouding inhou. Tuinvullis, soos droë blare en grassnysels, is ook ideaal vir die komposhoop. Die insekte en organismes wat verantwoordelik is vir die afbreek van die organiese materiaal op jou komposhoop sal sommer vanself daar aankom. Hulle het egter suurstof nodig, dus is dit goed om die komposhoop so nou en dan ’n bietjie te roer. Die res gebeur vanself, en binne ’n maand of drie het jy heerlike kompos om gratis in jou tuin in te werk. Boere betaal duisende rande om dieselfde produk in hulle landerye in te werk. En boonop help jy om die druk ’n klein bietjie van die openbare stortingsterreine af te haal.

©Raquel Candia op Pixabay, gepubliseer op 18 April 2024
Herwinningsdromme
Herwinning kan reeds by die huis gebeur, deur bakkies, blikkies en bottels skoon te maak en weer te gebruik. In die meeste gebiede is daar ’n herwinningstrok wat een keer ’n week almal se herwinbare rommel kom oplaai. Jy kan ook jou herwinbare materiaal gratis gaan aflaai by verskillende aflaaipunte regoor die stad. Deur hierdie materiale reeds te sorteer in glas, papier, plastiek en metaal, word die werk van die mense by die herwinningsaanlegte heelwat vergemaklik en die hele herwinningsproses raak makliker en vinniger. Papier kan ook gesorteer word in blink papier soos tydskrifte en ander papier soos vir kantoorgebruik.
Herwinbare materiale wat reeds gesorteer is, word dan in bondels bymekaar gedruk en aan vervaardigers verkoop wat die materiaal weer kan gebruik.
Metaalprodukte kan gesorteer word in aluminium en staal. Aluminiumblikkies kan terugverkoop word aan Collect a Can. Daar word al klaar ’n uitstekende 72% van koeldrankblikkies in Suid-Afrika herwin en weer in nuwe blikkies verwerk. Aluminium kan op hierdie manier oor en oor gebruik word, en hoef nooit op ’n stortingsterrein te beland nie. Metaal kan weer en weer herwin word, selfs al is dit geroes. Dit moet net nie met kos, verf of olie besmet wees nie. Die verf of olie kan die kwaliteit van die herwinde metaal verswak en moet liefs nie in die herwinningsdrom gegooi word nie.
Glasbottels moet gewas word voordat dit herwin word. Die glas word gesmelt en dan weer in nuwe produkte verander. Glas breek glad nie af op ’n stortingsterrein nie, en dit is daarom belangrik om dit so ver moontlik weg van die stortingsterrein af te hou. Glas kan ook vir altyd weer herwin word. Dit is goedkoper om glas te herwin as om nuwe glas te maak.
Deur plastiekbottels plat te druk voor dit herwin word, word spasie bespaar. Verskillende tipes plastiek word op verskillende maniere herwin. Deur jou plastiek ook te sorteer kan jy die proses by die herwinningsaanleg nog vinniger laat gebeur. Daar is gewoonlik onder op plastiekprodukte ’n driehoek met die syfers 1 tot 7 binne-in. Hierdie syfers dui die tipe plastiek aan, en dit kan daarvolgens gesorteer word. Plastiek kan eintlik net een keer herwin word om sintetiese materiaal te maak waarvan klere gemaak word. Sulke kledingstukke kan dan ook nie verder herwin word nie.
Papier- en kartonprodukte kan aanvanklik gebruik word vir nuwe karton, maar na die tweede of derde keer kan slegs koerantpapier en eierhouers daarvan gemaak word. Hierna moet dit komposdrom toe gaan.
Dit is belangrik om seker te maak dat al jou herwinbare produkte skoon en droog is voordat dit herwin word. Indien nie, kan dit veroorsaak dat al jou moeite heeltemal verniet is en jou hele besending in elk geval na die stortingsterrein gestuur word. Die rede hiervoor is grootliks dat nat en vuil karton en papier nie herwin kan word nie. Wanneer dit nat word, begin die paper reeds afbreek. In die proses word die papiervesels al korter en word die kwaliteit van die produk wat gemaak kan word, swakker. Die masjinerie waarmee die papier gesorteer en verwerk word, kan ook nie nat papier hanteer nie. Nat papier is te swaar en die masjien sorteer dit nie reg nie. Die nat papier kan ook ’n pulp vorm wat die masjiene verstop. Jy kan wel jou nat papier eers laat droog word en dit dan steeds in die herwinningsdrom gooi. Nat en vuil papier is ook baie welkom in jou komposdrom.
Wanneer ander materiale in jou herwinningsdrom nat en vuil is, kan dit die papier ook nat of vuil maak. Hoewel vuil plastiek, glas en metaal steeds herwin kan word, is daar die risiko dat dit die papier en karton in jou herwinningsdrom kan kontamineer. Hou ook in gedagte dat dit regte mense is wat jou herwinningsdrom se inhoud sorteer. Wees dus bedagsaam. Ek sou nie graag deur iemand anders se rommel wat vol dae-oue kos is, wil krap nie. En ek glo jy ook nie. Hierdie mense bewys ons ’n geweldig groot guns deur te help om ons aarde ’n bietjie skoner te hou. Die minste wat ons kan doen, is om die werk vir hulle ’n bietjie aangename te maak.
Ongelukkig is daar ook ontsettend baie produkte wat nie herwin kan word nie. Enige papier of karton wat uitgevoer is met produkte soos was (waspapier), foelie, gom (soos kleefnotas) of gelamineerde papier kan nie herwin word nie. Sneesdoekies en toiletpapier, is gekontamineer en kan ook nie herwin word nie. Dieselfde geld vir babadoeke. Skyfiepakkies kan nie herwin word nie, omdat die produk uit lae plastiek en aluminiumfoelie bestaan. Herwinningsaanlegte kan nie die lae skei nie. In Suid-Afrika kan die sagte plastiekhouers waarin aarbeie en toebroodjies verkoop word, ook nie herwin word nie. Daar is ook ’n verskeidenheid glastipes, soos keramiekware (koppies en pierings), spieëlglas, vensterglas en gloeilampe, wat nie herwin kan word nie.
Daar is alternatiewe beskikbaar vir baie van hierdie materiale. Met ’n bietjie (of baie) meer moeite kan wasdoeke of sakdoeke dieselfde funksie verrig as die nieherwinbare alternatiewe. Sommige materiale kan heeltemal vermy word – niemand het regtig skyfies nodig nie. En stukkende koppies en pierings kan hergebruik word om die mooiste mosaïekwerke mee te skep.
Al hierdie inligting is algemeen beskikbaar en aktiviste maak gereeld ’n groot bohaai daarvan. Hoekom is daar dan steeds produkte wat nie herwin kan word nie?
Wêreldwyd word eenmalige verpakking steeds algemeen gebruik om kos vars te hou tot dit verkoop word. Hierdie tipe verpakking is goedkoper om te produseer as herwinbare materiale. Hoe edel ’n saak ook mag wees, geld bly steeds die beperkende faktor. Om “groen” te lewe en te herwin bly ’n rykmansbesigheid. Sommige mense moet kies tussen een varsgebakte brood in ’n papiersak (R40) en ’n standaard brood in ’n plastieksak teen R20 tesame met ’n liter melk en ’n bietjie kleingeld. Dit is hul maaltyd vir die dag, en herwinning speel geen rol in die besluitnemingsproses nie. Wat verder met daardie plastieksak gebeur, is natuurlik ’n ander saak …
Lees ook:

