Skilpadklip

  • 0

Foto: Skrywer

Skilpadklip

Ek is ’n klip, vir donkiejare al. ’n Besembos leun teenaan my met sy wortels stewig aan my vasgewoel. Rondom my groei Karoobossies – ankerkaroo, bitterbossies, kapokbossies, kriebosse en immergroen besembosse. Sommige bossies laat ’n skerp, heerlike geur. Naby my is daar onlangs met gekapte klip, sement en hout ’n kliphuisie met ’n sinkdak gebou waarin mense soms bly. Toe hulle die eerste keer hier kom, het hulle rondom my geloop. Een van hulle sê: “Kyk hier julle, kyk wat ’n snaakse rots is dit hierdie. Dit lyk kompleet soos ’n groot bergskilpad.”

 “Awesome,” merk ’n dogter op.

Ek het honderde skilpaaie gesien en my verwonder aan die stadige, moeisame pas van bergskilpaaie. Ek het nie besef dat ek soos ’n reus vergeleke met bergskilpaaie lyk nie. Voëls, veral spreeus, het op my kom sit. En kon hulle skinder!

Lank gelede het Khoi en San naby my teen die hange van hoë rante in grotte en klipholtes gewoon. Hulle het my die khoerob, hulle naam vir ’n skilpad, genoem. Ek het geluister na hulle gesprekke wanneer hulle saans om die vuur met tong- en lipklanke sit en gesels, sing en eet. Vroue het rondom die vuur gedans: die ghaaisa, hondekrap en askoek. Mans het musiek gemaak met ’n ghoera, ’n geboë windsnaar-musiekinstrument, rietfluite en tromme. Die hoo-tee-too, ’n vrolike dansrefrein, het saam met die gedans in die naglug opgeklink. Die mense het hoë wangbene en ligbruin velle gehad met kort krulhaartjies op hulle koppe. Hulle was klein van postuur.

Wanneer die mans na jagtogte, met pyle, boë en gooikieries gewapen, suksesvol was, het hulle met wildsbokke, meestal springbokke en steenbokke, teruggekeer. Dan het dit gegons van opgewondenheid. Nadat hulle die bokke met skerpgemaakte klippe afgeslag het, het die Boesmans die velle oor my rug gespan om droog te word. Sodra die velle droog was, is dit gebrei. Die velle is gebruik om lendeskorte, hooftooisels en boklere vir vroue te maak. Ghaaivelle, skorte vir verberging van die skaamdele, is vir mans gemaak. Die Boesmans het op matjiesgoed en in die winter onder karosse geslaap. Hulle was rustige, vriendelike mense. Ek het gekyk hoe kunstenaars kleurstof van plante en klei maak. Hulle het daarmee tekeninge in grotte geverf. Dit het hulle as Boesmans, jagters met styfgespanne boë, asook bokke soos elande en springbokke uitgebeeld. Die kuns was bestand teen die elemente.

Met verloop van duisende jare het dassiefamilies hulle intrek onder my geneem. Bedags kruip hulle uit en sit op my in die son en bak, prooi vir arende en roofdiere. Ek het dikwels gesien hoe arende op hulle afpyl, hulle vang en met die bruin diertjies wegvlieg.

Bedags, wanneer die manne, al draffende, op jagtogte weg is, het jong seuns en vroue veldkosse versamel. Ronde groen-en-geelgestreepte karkoere was volop na goeie reëns in die voorjaar. Die mense het die sade van ghagras gepluk. Op die vlesige vetplante, die ghaap en aroena, kon hulle veral in tye van kwaai droogte vir kos staatmaak. Baroe, ’n klein, melkerige knol, is met skerp klippe uit die harde grond gegrawe. Die melkbos en gannabos was gewilde kosbronne. Die mans en seuns het vlak watergate, gorras, in sandspruite gegrawe. Hulle het genoeg drinkwater, water vir kosmaak en om hulself mee te bad uit die gorras gewen. Water is met kalbasse en uitgeholde volstruisdoppe woonplekke toe gedra.

In die winter het kapok soos spierwit donsveertjies neergesif op alles – my rug, die klippe, die kranse, die grond en die plante. Dit was koud. Dan het ek na die somerson verlang. Die Boesmans het heelnag vuurgemaak. Hulle het rondom die vuur teen mekaar gebondel geslaap. Bedags het die jong vroue, onder wie hulle wat hul kleintjies abba, vuurmaakhout versamel. Seuns het hulle gehelp.

Ek was die stom getuie van droogtes. Sterk westewinde het maande lank gewaai. Stofstorms en dwarrelwinde het droë tolbosse rondgewaai. Ek het gras en bossies sien verdor en diere wat van honger en dors gevrek het.

Na deurdringende reënbuie die veld benat en die spruite laat loop het, het die Boesmans prysliedere, ghares, gesing en gedans.

Daar het een dag groot konsternasie onder die Boesmans uitgebreek. Haastig het hulle hul besittings bymekaargemaak en gevlug ...

’n Dag later het eienaardige mense en diere om die punt van die verste rante te voorskyn gekom. Die mans was lank van gestalte, sommige met baarde, lang hare en wit velle. Die Duusmanne het hoede en die vroue wit kappies gedra. Hulle het klere aangehad. Hulle het met hulle beeste, skape, boerbokke, honde en perde naby my kamp opgeslaan en vuurgemaak. Hulle was pioniersboere wat plase kom uitsoek het. Beeste het hulle by die Kobonas, die Swartes, buitgemaak. Swart mense het ek nooit gewaar nie.

Omdat die area ’n halfwoestyn is met skraps weiveld en skaars waterbronne, het die meeste boere verder noord getrek. Net enkeles en hulle families het hulle in die omgewing gevestig en huise en veekrale met klippe gebou. Hulle het op groot stukke grond geboer. Die mans het op perde gery en met gewere, die kaboes, wild gejag. Die volstruise, ammi, wat vinnig kon draf, het hulle flou gejaag en doodgeskiet. Volstruisvleis en -biltong was gesogte lekkernye. Hulle vere en velle was waardevol. Dit wat die boere nie self kon gebruik nie, is vir negosieware soos tabak en lap verruil.

’n Skaapwagter het ’n entjie van my af vir hom en sy hond ’n klipskuiling gebou. Hy het ’n kraal van klip gebou – ek binne die kraal. Die skape het snags daar geslaap, beskut teen die yskoue suidewinde wat lammers en pasgeskeerde skape maklik in die oopte kon laat verkluim. Laatmiddae, nadat die skaapwagter sy skape in die kraal geja het, het hy soms op my gesit, sy pyp opgesteek en op sy mondfluitjie gespeel. Sy skaaphond het die skape sorgsaam opgepas. Die skaapwagter het saans vuurgemaak om hom warm te maak, kos te kook en om die vee teen roofdiere te beskerm.

Ek wou nog altyd soos ’n bergskilpad beweeg, maar van my klipheid kon ek nie ontslae raak nie. Daarmee het ek vrede gemaak. Ek is vas en veilig, nooit verveeld of eensaam nie.

 

*Bron van Kaaps-Khoitaal in benaderde, hedendaagse Afrikaans: Jan Rabie, Die groot anders-maak (1964)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top