Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895 deur Heinie Heydenrych: ’n lesersindruk

  • 4

Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895
Heinie Heydenrych
Uitgewer: Imprematur
Pretoria
2017
ISBN: 9780620775809
Bestellings: https://www.imprimatur.co.za

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895 deur Heinie Heydenrych handel oor Paul Kruger en werp lig op aspekte wat minder bekend is en tot op hede bykans verswyg is. 

Die laaste paar dekades is ’n ommeswaai in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing te bespeur waarvolgens met ’n kritiese oog na sogenaamde volkshelde van die verlede gekyk word. Met hierdie stelling sou geargumenteer kon word dat dit vanselfsprekend is dat ander taal- en kultuurgroepe as die Afrikaners hulle tot so ’n benadering sou wend. Dit is egter uit die pen van Afrikaanssprekende historici dat dieper as ooit in die heersers se lewe gedelf word en hulle uit die ingebedde verheerliking van voorheen gelig word. En boonop het ’n nuwe uitgewery hierdie brawe stap geneem.

Die skrywer Heinie Heydenrych is ’n voormalige universiteitsdosent van die Universiteit van Pretoria en hoof van toegepaste geskiedenisnavorsing by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Vir LitNet het Heydenrych reeds onder meer JS Bergh se Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900, (Protea Boekhuis, 2017) geresenseer en sy top leesgoed met LitNet Akademies gedeel. Verder sal lesers waarskynlik dit in herinnering roep dat Heydenrych reeds “Die staatsdiens van die ZAR, 1890–1895”,”Paul Kruger se verhouding met die pers in die ZAR, 1890–1895” en “Die Uitlanderstemregkwessie” vir LitNet gepubliseer het.

Paul Kruger was vir vier termyne die staatshoof van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), vanaf 1883 tot 1900. Die publikasie handel oor Kruger se presidentskap tussen 1890 tot 1895, met ander woorde tot net voor die Jameson-inval van Desember 1895/Januarie 1896. Heydenrych dui aan dat hy die kanonisering van Kruger wil vermy en poog om ’n beeld van sy loopbaan tussen 1890 en 1895 te gee. Die doel is om Kruger se beperkings as staatsman aan te toon en hoe dit in samehang met die Britse imperiale ambisies uiteindelik tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 gelei het.

Heydenrych skryf in sy voorwoord dat groot historiese figure se tekortkominge en mislukkings ook erken moet word. Hier sluit hy aan by vroeë stemme wat teen die praktyk van kanonisering gewaarsku het, soos die negentiende-eeuse historikus Thomas Carlyle wat aangevoer het dat groot figure geëer, maar dat hulle gebreke ook erken moet word. Voorts wys Heydenrych op AN Pelzer se vroeë mening dat Kruger herwaardeer moet word en dat FA van Jaarsveld byvoorbeeld krities teenoor Kruger se stemregvereistes van die Uitlanders gestaan het. In DW Kruger se tweeledige biografie van 1961 en 1963 het ’n meer geskakeerde beeld van Kruger se presidentskap na vore getree.

Heydenrych was ’n navorser of medewerker aan JS Bergh se projek, Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 (Protea Boekhuis, 2017). Heydenrych se onderhawige publikasie het uit dié projek voortgevloei en dit was sy taak om koerante en Volksraaddebatte van die ZAR deur te werk, veral die redaksionele kommentaar in tydgenootlike koerante.

Die Nederlandstalige koerant De Volksstem was Kruger deurgaans goedgesind, terwyl Land en Volk veral onder die redaksie van Eugène Marais skerp kritiek teen Kruger en sy regering begin uitspreek het. Met die afhandeling van sy navorsing vir Bergh se projek, het Heydenrych alle uitgawes van Land en Volk van Oktober 1890 tot November 1896 vir sy eie projek deurgewerk en op alle wetenswaardige redaksionele artikels gefokus. Die skerp kritiek in laasgenoemde koerant op verskeie kwessies en op die persoon van die president het fassinerende leesstof opgelewer. Die gebruik van sekondêre bronne deur Heydenrych het nie agterweë gebly nie. As oorkoepelende motivering vir sy publikasie voer Heydenrych aan dat daar egter steeds ruimte vir ’n herevaluering van Kruger se presidentskap bestaan en om weer ’n slag na Kruger se staatmanskap te kyk met die gebruik van meningsvormers soos in die Transvaalse pers weerspieël. Vervolgens formuleer Heydenrych die kernvraag waarom sy publikasie draai: Waarom was daar so baie skandale, korrupsie en onbekwaamheid in die landsadministrasie gedurende die vroeë negentigerjare van die negentiende eeu?

Die vraag word in die verloop van tien hoofstukke uiteengesit. In hoofstuk een “Paul Kruger se lewensloop, 1825–1890” word hoofsaaklik op sy lewe tot en met 1890 gefokus en die doel daarmee, volgens Heydenrych, is om die leser ’n beeld van die man te gee wat die ZAR se lotgevalle in die laaste dekade van die negentiende eeu moes hanteer. Die vraag is waarom is Kruger se lewe nie tot en met sy dood en begrafnis hanteer nie? So ’n benadering sou nie afbreuk aan die bundel gedoen het wat net op die jare 1890 tot 1895 fokus nie.

In hoofstuk twee, “Paul Kruger se vertrouelinge: hulp of hindernis?” word die rol van AH Nellmapius, Bension Aaron, Gerrit Ribbink en Leo Weinthal geskets. In Nellmapius se geval het die President toegelaat dat sy vriendskap met hom gelei het tot die aanvegbare poging om in die regspraak in te meng. Vir Kruger moes dit voorts ’n skok gewees het dat iemand soos Aaron, wat so na aan hom beweeg het, dat hy selfs by hom in Johannesburg tuisgegaan het, die vernedering van tronkstaf moes ondergaan. Ribbink was op sy beurt nie ’n vooraanstaande persoon nie en is tog in Kruger se verkiesingskomitee opgeneem. Weinthal het weer Kruger in verband met die spoorboukontrak mislei.

Hoofstuk drie, “Twee skandale: die Eloff-waterkonsessie en die spaaiderskandaal” handel oor Kruger se optrede met die Selati-spoorwegskandaal en die spaaider-geskenke. Die leser kry ’n beeld van ontvangers van geskenke en hulle eggenotes wat in die strate ry en op hulle goue horlosies kyk. Niks het van die Eloff-konsessie (FC Eloff, skoonseun van Kruger) gekom nie, maar dit het volgens Heydenrych van 1890 af die spilpunt geword waaromheen die kritiek teen Kruger se konsessiebeleid saamgetrek is. 

Hoofstuk vier “Die standplaasskandaal: Paul Kruger as pleitbesorger vir sy amptenare” handel oor die standplaasskandaal van 1892–93. Kruger het volgens Heydenrych sy bes gedoen om die Departement van Mynwese se swak hantering van die aansoeke vir standplase goed te praat. Kruger het nooit die belangrike feit raakgesien of erken dat die standplase volgens die Goudwet vir die delwers bedoel was om huise of winkelhuise te bou en nie vir die algemene publiek nie. 

In hoofstuk vyf “Die staatsdiens van die ZAR, 1890–1895” word die staatsdiens ondersoek wat in die jare negentig onder fel kritiek deurgeloop het wanweë die swak administrasie van die staatsdepartemente. Volgens Heydenrych is nog min oor die staatsdiens onder Kruger se bewind geskryf. Heydenrych voer aan dat ernstige tekortkominge in die staatsdiens voorgekom het. Die Kruger-regering was geneig om “landzoons” , met ander woorde gebore Transvalers, in die staatsdiens aan te stel. Die probleem is dat hulle weens ’n gebrek aan voldoende onderwysgeleenthede, nie opgewasse vir hulle taak was nie. So was die Departement van Mynwese onder Christiaan Joubert, Kruger se vriend, ’n goeie voorbeeld van swak bestuur en omgeef van skandale. Voorts was die polisiediens gebrekkig asook die verkiesingsadministrasie.

Hoofstuk ses “Kruger se Hollander-amptenare”, handel oor die vooroordeel van die Transvalers teenoor die Nederlanders in Kruger se regering. Ironies genoeg het die Transvalers se houding teenoor die Nederlanders na die mislukte Jameson-inval van 1895 verander omdat hulle ’n spontane diens op kommando gelewer het. 

In hoofstuk sewe “Paul Kruger se verhouding met die pers in die ZAR, 1890–1895”, word Kruger se houding teenoor die pers onder die soeklig geplaas. Artikel 19 van die Grondwet van 1858 het die vryheid van die pers gewaarborg. Marais se uitgesprokenheid het hom uiters ongewild by die President gemaak. Die uiteinde van die kwessie was die aanvaarding van die Perswet van 1893 wat tot die beperking van die persvryheid gelei het.

In hoofstuk agt “Die Loveday-insident van 1894”, word ’n insident beskryf wat minder bekend is. RK Loveday, Volksraadslid vir Barberton, is vir een dag uit die Volksraad geskors. Dit het op ontstellende neigings in die Kruger-regering se hantering van kritiek gedui.

Hoofstuk nege “Die onverdraagsame Paul Kruger”, handel oor die feit dat Kruger outokraties kon optree. Hy het selfs mettertyd so seker van sy posisie as staatsman geword, dat dit in verwaandheid en selfvoldaanheid oorgegaan het.

Die strydvraag van die stemreg vir die Uitlanderbevolking in die ZAR word in hoofstuk tien “Die Uitlanderstemregkwessie” bespreek. In dié lywige hoofstuk word die kwessie deeglik bekyk.

Elke hoofstuk beskik oor ’n besonder goed geskrewe en verhelderende slotgedeelte waar Heydenrych perspektief op die raakpunte van die voorafgaande hoofstuk gee. Ten spyte hiervan eindig die publikasie ietwat stomp en sou ’n oorkoepelende slotbeskouing waarin die koerantbronne geëvalueer word en die bevindinge saamgevat word, van waarde gewees het. Dit sou kon aansluit by die vermelde doel van die outeur, soos in die voorwoord uiteengesit, dat die koerantbronne benut is om tot Kruger se presidentskap deur te dring.

Elke hoofstuk in die bundel word hoofsaaklik van endnotas voorsien en die bibliografie asook register toon die wetenskaplike werkswyse van die outeur aan. Dit val egter op dat die titel van Bergh se publikasie nie by die eerste vermelding daarvan in die “Voorwoord” in die teks op bl 10 of in die voetnote genoem word nie. Boonop ontbreek dit as bron in die bibliografie. Voorts is die “Voorwoord” van voetnote voorsien en nie endnotas nie. Hoofstuk 1 “Paul Kruger se lewensloop, 1825–1890”, beskik voorts nie oor voet-of endnotas nie, wat dalk afbreuk aan die wetenskaplike werkswyse doen. Die leser moet bloot aanvaar dat Heydenrych die algemene oorsig oor Kruger se lewensloop uit bewese sekondêre bronne verkry het. Die skrywer kan nie aanvaar dat alle lesers so vertroud met Kruger se lewensloop is dat die gebrek aan bronneverwysings nie saak maak of ’n rol speel nie. Vanaf hoofstuk twee “Paul Kruger se vertrouelinge” hulp of hindernis?” tot en met hoofstuk tien “Die Uitlanderstemregkwessie” geld endnotas. So hier en daar is ’n setfout opgemerk, soos met die plasing van voetnootnommer 10 op bl 42.

Tipografies val die publikasie maklik op die oog en die illustrasies is goed gekies. Dit is egter jammer dat ’n illustrasielys ontbreek, deels waarskynlik daaraan toe te skryf dat die illustrasies ongenommer in die publikasie opgeneem is.

By die lees van elke hoofstuk word die leser se verstomming al hoe groter. Skermutselings, skandale, korrupsie, nepotisme, omkopery en die aan die bande lê van die vryheid van spraak. Daar is niks nuuts onder die son nie, behalwe as ’n mens met ’n skok besef dat dit inderdaad ook met groot Afrikanerfigure die geval was.

  • 4

Kommentaar

  • bargain books

    Goeie dag,

    Een van ons kliënte stel belang om Skermutseling & Skandale te koop. Kan u asb kontakbesonderhede stuur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top