Skermslim deur Estée Cockroft en Christine van Aardt: ’n resensie

  • 0

Titel: Skermslim
Skrywers: Estée Cockroft en Christine van Aardt

ISBN: 9780637009508
Uitgewer: LAPA

Die wyse man wie se gesin langs ’n groot besproeiingskanaal woon, die watergraf van talle kinders in ’n wêreld wat snikheetwarm in die somer word en geen openbare swembad het nie, weet van beter as om sy kinders die water te verbied. Die “verbode”-etiket het reeds met Adam en Eva misluk; dit sal besonder naïef wees om dit as die enigste voorkomende maatreël teen ’n potensiële tragedie in te stel. Daarom leer die wyse man eerder sy kinders swem, en demonstreer hoe hulle met veiligheid die steil walle kan navigeer.

Dis die situasie waarin kinders hulle vandag bevind ten opsigte van die internet en sosiale media; Om die gebruik daarvan te belet, is gedoem tot mislukking; om hulle skermslim te maak is beter. Rebellie vlam op sodra ouers die woord “moenie” gebruik, en daarbenewens word ouers selde as ’n geloofwaardige bron van kennis ten opsigte van tegnologie geag – hulle is immers self nuwelinge in hierdie vinnig veranderende ruimte.

Gidse vir ouers en tieners se gebruik van die digitale ruimte is al ’n geruime tyd beskikbaar. In 2014 het Don’t film yourself having sex and other legal advice for the age of social media deur Emma Sadleir en Tamsyn de Beer, uitgegee deur Penguin Random House South Africa, verskyn. Sadleir, ’n prokureur wat spesialiseer in elektroniese en sosiale media, het hierdie gids in 2017, met medeskrywer Lizzie Harrison, opgevolg met ’n gids vir tieners getiteld Selfies, sexts and smartphones: a teenager’s online survival guide, ook uitgegee deur Penguin Random House South Africa. In 2025 het haar bygewerkte gids, in samewerking met Rorke Wilson, deur dieselfde uitgewers, How not to mess up online: a teenager’s guide, verskyn.

Die waarde van hierdie publikasies kan kwalik oorbeklemtoon word. In ’n wêreld waar kommunikasiemetodes bykans daaglikse metamorfoses ondergaan, is dit noodsaaklik vir verbruikers om ingelig te bly – iets wat vir Jan Alleman bykans onmoontlik is in die afwesigheid van spesialisadvies en -riglyne. Die basis van hierdie gidse was om dit wat vanselfsprekend behoort te wees, maar dit nie noodwendig is nie, te benadruk. Konsepte soos onsigbare gehore, die rillergedagte dat die internet nooit vergeet nie en dat privaatheid ’n illusie geword het, die herinnering aan die afwesigheid van konteks en toon, die invloed van aanlyn aktiwiteite op breinfunksies en -ontwikkeling, fopnuus, en vryheid van uitdrukking teenoor haatspraak en boeliegedrag, is in besonderhede bespreek. Die werklikheid van slaggate wat steeds deur hierdie veiligheidsnette kan glip, is nie ontken nie, en daarom is riglyne vir slagoffers van sodanige gebeure ook ingesluit.

Die olifant in die vertrek was egter die jonger kind – want gebruikers word inderdaad al hoe jonger.

Daarin lê die waarde van ’n gids soos hierdie. Eerstens aanvaar die skrywers dat tegnologie hier is om te bly – en dit boonop met die aanloklikheid van koel water op ’n warm somersdag waarin die meerderheid alreeds vrolik swem. Tweedens is die aanbieding in die intieme tweedepersoonnarratief met die skrywer as spreker wat reeds met die openingsinne toegee dat die ontvangs daarvan hoogstens louwarm sal wees: “Hier is ons nou. Jou ma het vir jou hierdie boek in die hand gestop en nou dwing sy jou om dit te lees” (bl 8).

Hierdie invalshoek is besonder effektief – die basis van ’n vertrouensverhouding tussen die jong leser en die skrywer word sodoende gelê, met die duidelike subteks dat die generasiegaping tussen kind en ouer erken word, maar dat die skrywer die gaping kan en wil oorbrug.

Dan word dit ’n uitdaging: “Maar wag net so ’n bietjie voor jy dit neersit en jou tablet gaan soek. Wat as ek vir jou sê hierdie boek is cooler as wat jy dink?” (8) En die troefkaart volg: Een van die vertellerkarakters is ’n (fiktiewe) KI-bot genaamd Nova. Vermaaklike verbale skermutselings tussen Nova en die skrywer-verteller in spraakborrelformaat vorm gereelde tussenspele in die teks en verseker ’n volgehoue speelse atmosfeer:

Julle, ek is jammer oor Nova. Ek het hom geraadpleeg om die boek te skryf, min wetend dat hy sommer ’n eiertjie gaan lê wanneer hy ook al lus is. Hy is baie goed met feite, maar vertel die flouste grappe. (9)

Die Afrikaanse vertalings vir Engelse terme is nie net vars en beskrywend nie, dit word ook in praktiese terme as metafore aangewend. “Internet surfing” word vertaal as “skermskaats” en word vergelyk met skaatsplankry met die digitale ruimte as skaatspark. Die inleiding word dan afgesluit met:

Die uitgewer van hierdie boek, die skrywer, die illustreerder, die KI-bot en almal anders is nie lus vir ’n hofsaak nie. Ons het boeke om te skryf, prentjies om te teken en digitale inligting om te deel. So, probeer om nie te val nie, jou waaghals! (10)

Die eerste hoofstuk verduidelik die konsepte van digitale voetspore aan die hand van ’n fiktiewe karakter, Mia, se verhaal wat illustreer hoe die internet ’n permanente spoor laat wat in die toekoms ’n meulsteen om die nek kan word. Die tweede hoofstuk sluit hierby aan en verduidelik deur middel van praktiese voorbeelde en illustrasies die permanensie en onmiddellikheid van digitale inhoud. Weer eens word ’n fiktiewe karakter, Marco, ingespan om die moontlike implikasies deur middel van ’n gevallestudie ’n werklikheid te maak.

Hoofstukke 3 en 4 se toon is waarskuwend en verwys na die teenwoordigheid van “dwase karnallies, gevaarlike skurke en walglike kriminele” in die virtuele skaatspark, maar gee ook toe: “So kan ’n skermskaatser per ongeluk op iets afkom wat hy nooit wou gesien het nie” (25). Die fokus is op voorkoming, maar die toegewing dat foute per abuis gemaak kan word, word erken en leiding word verskaf onder die opskrif: “Ek het iets gesien. Wat nou?” (27).

Heelwat ruimte word afgestaan aan kuberboeliegedrag, en met goeie rede. Die tragiese uitkomste van die 15-jarige Amanda Todd (Kanada, 2012) en die 16-jarige McKenna Brown (Texas, 2022) is immers permanent in baie mense se geheues vasgelê. ’n Fiktiewe feitestel met ’n karakter, Jerome, verpersoonlik hier ook die abstrakte begrippe. Die teks volg ’n drievoudige aanslag: Voorkoming is voorop, maar riglyne vir slagoffers volg en word uitgebrei na die bemagtiging van die leser om as ondersteuner van ’n slagoffer te kan optree.

Die verskyningsvorme van digitale interaksie word opgedeel onder die hoofde Facebook, kletsgroepe en aanlyn speletjies. Twee waarskuwings word ten opsigte van al drie gegee: eerstens dat dit swak plaasvervangers vir werklike menslike interaksies is wat, in kontras met die oënskynlike doel, gevoelens van isolasie en angstigheid kan veroorsaak; en tweedens word daar op amusante, maar realistiese wyse, na die realiteit van vals profiele verwys.

In die digitale era is sluipjagters nie meer ooms met lang jasse wat lekkergoed by skoolhekke uitdeel nie. Vals profiele kan sodanige persone aanloklik en skadeloos laat voorkom. Die skrywers verwys na hierdie moderne sluipjagters as tunamanne en verduidelik as volg:

Verbeel jou: Daar is ’n man in sy kelder in Pretoria. Hy het ruie swart hare, wat van sy kop af met sy nek langs tot op sy rug groei en hom soos ’n kleed bedek. Hy sit heeldag voor sy rekenaar of op sy slimfoon en kyk na kinders se foto’s en video’s. Hy eet tuna met sy vingers uit ’n blikkie. Van tyd tot tyd bring hy ’n wind op, wat die kokkerotte in sy huis laat omkap van die stank. (41)

Die jong leser se eie verbeelding word hier ingespan om waaksaamheid te verseker, en die waarskuwing fokus op gril, eerder as om oormatige vrees en agterdog in te boesem.

Die slothoofstukke bevestig die nuttigheid en toenemende teenwoordigheid van kunsmatige intelligensie, maar balanseer dit met wenke en waarskuwings aangaande skermtyd met spesifieke verwysing na oorredende ontwerpstegnieke soos “snapstreaks” (geen Afrikaanse woord word daarvoor verskaf nie), en eindelose onderbrekende kennisgewings en herlaaie, asook die gevolge van oormatige gebruik op liggaamlike en geestelike gesondheid.

Daar is ’n groot verskil tussen ’n handleiding wat op ’n hoogdrawende wyse vanuit ’n posisie van meerdere kennis ’n kind in ’n rigting probeer dwing en een wat poog om met opregtheid die kind op sy eie vlak te ontmoet. Eersgenoemde het meestal rebellie tot gevolg, laasgenoemde is potensiële verskilmakers. Hierdie boek is ’n goeie voorbeeld van laasgenoemde en ’n aanbevole metgesel van ’n kind se eerste slimfoon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top