
Bewoording: https://www.youtube.com/watch?v=_Nk8TrBHOrA&t=5s
- Leon van Nierop skryf ’n gereelde TV- en filmrubriek vir LitNet.
Skermgreep: Train dreams
’n Netflix-film
Met Joel Edgerton en Felicity Jones
Regisseur: Clint Bentley
........
Dit voel of jy oopoog droom. Hierdie visuele gedig met verskeie strofes in prentjies is manjifiek in sy onderspeelde, rustige introvert-styl. Dit streel die oog, maar prikkel die brein om subteks raak te sien wat gewoonlik vervlietend verbyglip, omdat daardie elemente nie vir die algemene kyker noodwendig belangrik is nie. En selde tevore het subteks so stewig tussen die pragtige, soepel beelde, spaarsamige woorde en vernuftige, subtiele spel gelê.
........
Dit voel of jy oopoog droom. Hierdie visuele gedig met verskeie strofes in prentjies is manjifiek in sy onderspeelde, rustige introvert-styl. Dit streel die oog, maar prikkel die brein om subteks raak te sien wat gewoonlik vervlietend verbyglip, omdat daardie elemente nie vir die algemene kyker noodwendig belangrik is nie. En selde tevore het subteks so stewig tussen die pragtige, soepel beelde, spaarsamige woorde en vernuftige, subtiele spel gelê.
Die welgevormde drama betreur op subtiele wyse die vooruitgang wat ’n spoorlyn bring wat deur ’n kosbare rooihoutwoud gelê moet word. In die hart van die delikate storie staan ’n stoere houtkapper (logger) wie se werk dit is om bome af te kap en dikwels met riviere af te voer na ’n volgende bestemming.
Maar in hierdie gevalle word ’n spoorlyn gelê en ’n houtbrug gebou wat ’n roof op die natuur vorm. Die bedaarde Grainier moet hierdie bosreuse help uitkap wat meer as 500 jaar oud is, maar in die pad van ’n spoorlyn staan. Die bome is soos die protagonis. Ferm. Sterk. Formidabel. Regop. Trots. Maar ook weerloos teen die kap van ’n byl. Hierdie beskeie man se innerlike wroeging, terwyl hy hierdie taak moet verrig, word in sy stil spel beklemtoon. Hy is die toeskouer van aftakeling ten koste van vooruitgang. ’n Treffende paradoks.
Ons sien hom ook dikwels vanuit lae kamerahoeke waar ons van onder af met ontsag na die boomberge kyk, en in een kosbare toneel selfs uit die lug uit aanskou. ’n See van statiese, welgevormde reuse strek onder die kyker uit. Soos ’n boom-slagaar wat uitgesny word, kap die manne die pad oop vir vooruitgang ten koste van die natuur. Hier word bome vernietig wat so heg verweef is met die gemeenskap, die grond en die mense, dat ’n paar stewels wat al lank daar hang, deel vorm van die boom se bas. ’n Gevalle houtkapper maak sy merk. Hensop.
Robert Grainier (die opregte, feitlik woordelose protagonis in Denis Johnson se roman) kyk. En kyk. En kap. Kyk toe hoe eeue se groei binne sekondes gestuit word met die kloof van ’n byl diep in die rooi hout. Maar dis deel van sy werk. Hierdie innerlike konflik word in uitstekende kameraskote verbeeld. Al is sy gesig stoer en op die oog af uitdrukkingloos, sien jy pyn, hulpeloosheid, maar ook vasberadenheid iewers huiwer, om sy werk so goed moontlik te voltooi. Die komposisie is deeglik gechoreografeer. Dán lê hy met sy kop soos op ’n kussing rustig teen ’n stam, dán loop hy deur die bos en kommunikeer woordeloos met die bome soos met ou vriende. Dan sit hy by ’n vuurtjie en staar na die bome wat die maan verdoesel, terwyl die vlamme oor sy gesig speel.
Maar sy nomadiese bestaan verander dramaties wanneer hy ’n pragtige meisie, uitstekend gespeel deur Felicity Jones, ontmoet en hulle later ’n kind het. Die toneel waar hulle hul voorgenome boshuise aftree, tussen geel blomme wandel (in teenstelling met loop) en die manier waarop die beligting verander, amper asof dit ’n stralekrans om hul koppe gooi, is opmerklik. Ook die wyse waarop ’n geslote gesig skielik verhelder en oë ’n toekomsvisie kry. Maar tog leef hy ook vir die oomblik. Is hy net.
Hier word die drome uitgeleef waarna die titel verwys. Die droom van ’n trein wat Amerika verbind en geld laat instroom. Maar wat ’n nagmerrie kan word.
Sommige tonele word gejukstaponeer met ’n yster-en-staal-gedoente wat toets hoe sterk die spore is en dawerend daarop ry. Ook om seker te maak dat die houtbrug waaraan Robert help bou het, ’n trein en lokomotief sal kan akkommodeer. Enersyds vooruitgang, andersins ’n pynlike opehartoperasie op die natuur en op Robert Grainier se siel.
Maar dan, gedurende een van Robert se vele reise waarin hy lank weg is om geld te verdien, is daar ’n dramatiese verwikkeling wat nie verklap kan word nie. Alles verander. Die man, wat nie eintlik van geweet wil wees nie, beland in die kollig. Sy nomadiese bestaan word oopgekloof soos die bome wat hy afkap.
Die briljante regisseur Clint Bentley het erken dat hy soveel respek vir die aanvanklike rustige bestaan van die onvergelyklike Joel Edgerton as Grainier gehad het, dat hy die storie vertel het met spaarsamige woorde en ekonomiese, gevoelvolle beelde wat deur sy vingers glip. Dit vloei amper soos sand deur sy hande. Hierdie stelling deur die regisseur som die klein meesterstuk effektief op.
’n Beeld soos ’n houtbrug-monstruositeit wat grotesk oor ’n rivier span, en dan die rustige bosreuse wat langs en oor die brug troon, is potente beelde wat die krag van die visuele narratief onderstreep.
Train dreams is nie die soort rolprent waarna jy kyk indien jy met jou afstandbeheerder kaperjol oor plakkate en name nie. Jy moet gereed wees daarvoor, jou brein toelaat om alles, selfs die fynste detail, in te neem sodat jou siel deur die rolprent gestreel kan word. Jy droom oopoë, verkieslik alleen, en verwonder jou daaraan. Dat sogenaamd “niks” so baie kan sê op so ’n tydsame manier.
Jy kyk nie daarna nie; jy asem dit in, soos ’n Amerikaanse resensent dit so raak gestel het.
Droom saam. Treur saam. En soos in ’n Terrence Malick-film: Vier die krag van film saam met die storie.

