Skep die koronamaatreëls ’n nuwe klas burgerlike ongehoorsaamheid?

  • 7

Bettina Wyngaard (Foto: Izak de Vries)

In 1849 het Henry David Thoreau een van sy mees invloedryke essays, "Civil disobedience", geskryf.

Thoreau was tronk toe gestuur nadat hy geweier het om belasting te betaal aan ’n dorp wat die Meksikaanse oorlog ondersteun het. Die oorlog het al in 1846 begin, en hy het dadelik ophou belasting betaal, maar daar is eers teen hom opgetree toe hy in die openbaar begin uitpraat teen die oorlog. Die essay was sy reaksie en sy aktivistiese manifes. Sekerlik die bekendste aanhaling uit hierdie essay is die volgende: "If the law is of such a nature that it requires you to be an agent of injustice to another, then I say, break the law. Let your life be a counter friction to stop the machine."                        

Die Oxford-woordeboek definieer burgerlike ongehoorsaamheid as volg: "action taken by a large group of people in which they refuse to obey particular laws or pay taxes, usually as a form of peaceful political protest".

Die woordeboekdefinisie swyg dus oor die element van ongeregtigheid wat vir Thoreau so belangrik was. Tog is die belangrikste voorbeelde van mense wat aan burgerlike ongehoorsaamheid deelgeneem het, voorbeelde van mense wat teen ongeregtigheid protesteer het: Mahatma Gandhi, Martin Luther King jnr, Nelson Mandela, en vele meer.

Wat ons die afgelope paar weke in Suid-Afrika waarneem, is anders. Hier is daar mense wat aandring op hul individuele vryheid deur hare te sny, boeke te koop, in groepe bymekaar te kom om sosiaal te verkeer, na 20:00 op straat te wees, buite die voorgeskrewe tydperke te oefen, sigarette en drank te koop, ens, in weerwil van voorskrifte deur die regering. In Maart was geen van daardie handelinge krimineel strafbaar nie. Twee maande later kan gehoorsaamheid deur die weermag en polisie afgedwing word, dikwels met geweld.

Is dit gekoördineerde verset? Waarskynlik nie, maar dan is protes soms die spontane opwelling van ontevredenheid met die handelinge van ’n bepaalde regering.

Word daar teen ongeregtigheid geprotesteer? Dis moeiliker om te beantwoord. Sommige regte van individue word wel ingeperk vir die beswil van die groep. Om iemand te weerhou om drank te koop is beslis nie op dieselfde skaal van ongeregtigheid as wat slawerny of apartheid byvoorbeeld was nie. Maar dan word die regte van individue tog gereeld ingeperk. Daar word van almal verwag om by die padreëls te hou. Selfs al besit jy ’n Porsche, word daar van jou verwag om te hou by 120 km/h op ’n nasionale pad, maak nie saak hoe graag jy wil weet wat daai kragtige enjin kan doen nie. Dis om die paaie veiliger te maak vir ander padgebruikers.

Wat nie regtig gebeur nie, en wat nader sou kom aan die Thoreaanse definisie van burgerlike ongehoorsaamheid, sou protes wees omtrent die toenemende hongersnood in arm gemeenskappe. In die townships word baie mense ook weerhou daarvan om ’n inkomste te verdien, en die COVID-noodleniging kom nie by almal uit nie. Dit is ongeregtigheid, die tipe wat grootskaalse protes verdien. Maar die protes gebeur nie.

Die protes wat ons tot nou toe sien, gaan eerder oor die gemaksone van ’n relatief klein groep bevoorregtes wat dalk net verveeld is.

Om die hongersnood te verlig, sien ons eerder vindingryke oplossings. In Potchefstroom byvoorbeeld is daar ’n pap-"OTM" opgerig waar mense met ’n PIN pap kan ontvang. Die beginsel is nie regtig nuut nie. In Viëtnam en Indonesië voed rys-OTM’s alreeds derduisende elke dag. Die verwagting is dat dit teen die einde van Mei ook in Kambodja en Timor in gebruik sal wees, waarna dit na ander lande uitgerol sal word.

Om pap of ander noodsaaklike kosgoedere op hierdie manier te versprei, kan ’n groot verskil maak aan die manier waarop ons regering op honger reageer, nie net tydens hierdie krisis nie, maar in die tye vorentoe. Dit kan ’n reuseverskil maak aan die wyse waarop ons hulpbehoewendes se waardigheid behoue bly terwyl hulle van dienste voorsien word.

Die groter vraag is egter: Hoekom word daar nie protes aangeteken teen konkrete ongeregtigheid nie, maar ongerief word teen geprotesteer? In hierdie tyd waar poverty porn, die tendens om iets aan ’n arme te gee en dan dadelik ’n foto op sosiale media te plaas, nie meer so gemaklik plaasvind nie, is daar nie ’n uitroep oor die groterwordende groep hongeres nie. Kan dit wees dat selfs in 2020 die Facebook-krygers steeds nie die armes as konkreet sien nie? Kan dit wees dat die poverty porn nie regtig ’n uitdaging was aan ander om ook te help nie, maar eerder ’n vanity-projek?

Die regering se reaksie op die koronakrisis is nie perfek nie. Die President erken dit self. Foute word gemaak. Dit lei tot frustrasie, niemand ontken dit nie. Dit lei daartoe dat ’n ekonomie wat alreeds sukkel, verder sink. Ons sien dit elke dag.

Is dit ’n verskoning om voort te gaan met wat al meer begin lyk na pseudoburgerlike ongehoorsaamheid? Of is dit inderdaad ’n korrekte reaksie op verreikende vergrype aan regeringskant?

Dis nog te vroeg om regtig te kan sê. Ons word almal voor die "Morton se vurk"-keuse tussen ekonomiese agteruitgang en reuseverlies aan menselewens gestel.

Behoede ons daarteen dat ons profyt bo lewe stel.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Berdéhan Brand

    Klas skep homself - die kern herstruktureer dalk net. Boomgom sal nooit gomboom wees nie, subjektief ook nooit objektief.
    Die gegewe model se toepassingswaardigheid was 'n vinnige vergryp om 'n onsubstantiewe subjektiewe artikel te máák werk. Per defenisie kan die verveeldes waarskynlik boom ipv gom impliseer. Akademiese ballas sit nie altyd in 'n pen nie.

  • Avatar
    Leon de Vries

    Is party van die Facebookreaksies op me. Wyngaard se skrywe nie dalk bietjie kras nie? Me Wyngaard, ek het groot respek vir u. 'n Mens kan maar lees wat u skryf al hoef jy nie met alles saam te stem nie. Dit is beredeneerd en vra ongemaklike vrae. Om billik te wees, ek sien en hoor darem ook baie protes van allerhande organisasies teen die maatreëls waarmee die goewerment voedselhulp wil reguleer. Dan is daar sekere goed wat net nie sin maak nie (en die president het self anner aand gesê dat hulle foute gemaak het), maar dit word ook nie reggestel nie. 'n Mens wil nie onnodig kritiseer nie, maar ek moet vir u sê ek verstaan nie aldag nie. Dit lyk vir my daar is nog steeds faksiegevegte in die ANC wat die regering se funksionering beïnvloed. So is van die inperkingsmaatreëls (en die gebrek aan aanpassing/herroeping) dalk die uitvloeisel van hierdie magspel.

  • Ek stem saam. Bettina sit die pot bietjie mis. Sy is nie van alles bewus nie en besef nie watter magspel agter alles sit nie. Sommige mense se oë is beter oop as ander...

  • Avatar
    Louis van Vuren

    Dit lyk vir my dit gaan oor meer as verveeldheid. Dit gaan oor die sinneloosheid van die regulasies. Die vertrekpunt onder die Grondwet is menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryheid. Daar moet dus baie versigtig omgegaan word met enige inperking van hierdie kernwaardes van die Grondwet. Minister Patel se belaglike voorskrifte oor watter kledingstukke gekoop mag word en wat nie en Minister Dlamini-Zuma se verbod op sigarette lyk darem te veel asof dit gebaseer is op uitgangspunte wat opponerend tot die kernwaardes is. As jy in elk geval in die klerewinkel is, watter verskil maak dit watter soort klere jy wil koop? Logieserwys bereik dit geen groter bekamping van die verspreiding van die virus nie. Hoeveel sin maak dit om oefening buitenshuis tot drie uur per dag te beperk en dit dan nog die koudste tyd van die dag te maak waarvan die eerste uur (en binnekort uur en 'n half) in die Kaap in die stikdonker is. Hoe meer ure beskikbaar is, hoe minder die digtheid van die stappers, drawwers en fietsryers. Daar is mediese getuienis dat mense wat aan ernstige psigoses ly se medikasie ernstige newe-effekte het wat deur sigaretrook verlig word. Wat van hulle? NRO's wat voedselhulp bied maak ook staat op publisiteit om meer fondse te kry om meer mense te kan help. Natuurlik is daar dié wat mal is oor die publisiteit en graag kloppe op die skouer wil hê oor die goeie werk wat hulle doen. Maar om almal oor daardie kam te skeer is net so onlogies as sommige van die regulasies. Sentrale beheer van mense se handel en wandel werk nooit - niemand is slim genoeg om dit sinvol te doen nie. Solank mens probeer om mense soos stommerike te behandel, so lank gaan die meerderheid van hulle soos stommerike optree.

  • Avatar
    Alastair van Huyssteen

    Liewe Bettina. Die werklikheid is ongelukkig anders as jou belewenis. Ek sal probeer om vir jou 'n video te stuur waarin dit verwoord is: "There are no scales whereby pain and suffering can be measured". Geen monopolie met betrekking pyn en lyding is ooit toegeken aan 'n bepaalde groep, ras of sosiale of finansiele klas nie. Einstein se teorieë mbt relatiwiteit is hier ook van toepassing. Ek stel voor jy probeer jou indink in die psigiese pyn en lyding van klein sakemanne, wat hulle personeel beleef as hul eie kinders, maar nie in staat is om hulle in diens te hou nie, en ook die pyn van hulle personeel.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Sy beskryf die Tirannie van Demokrasie van die regerende party. Al nuwe klas wat geskep word is diktators en onderdruktes.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top