
Titel: Skattejag en skadukante
Skrywer: Malene Breytenbach
ISBN: 9781779871800
Uitgewer: Romanza
Ek het sommer baie lekker aan Malene Breytenbach se jongste Romanza, getiteld Skattejag en skadukante, gelees. Dit word deur Lapa se Romanza uitgegee onder die vaandel: modern. Ek het die storie verfrissend gevind, selfs leersaam. Dit is ook deurspek met ’n ordentlike skoot avontuur en gevaar. Wie sou nou kon raai dat ’n vergane skip 50 meter onder die seeoppervlak daartoe sou lei dat ’n geskiedenisdosent se paaie met ’n marine-argeoloog s’n sou kruis?
Die gedagte dat daar in ons hedendaagse tyd nog skeepswrakke gevind word waarop fabelagtige skatte is, het my omtrént gefassineer. Dit is duidelik dat Malene haar huiswerk deeglik gedoen het om die wetlike prosesse waaronder hierdie tipe operasies geskied, weer te gee. Sy vervleg ook die uitdagings rondom die uitduik van waardevolle items in haar storie.
Die held, die marine-argeoloog en wewenaar Rowan Carter, is die eienaar van ’n maatskappy met die naam Ocean Ventures. Hy soek na skeepswrakke langs die kus en duik dan daarheen, natuurlik in die hoop om iets waardevols te herwin. Omdat hy ’n man van integriteit is en ook ernstig oor sy beroep is, dra hy sorg dat sy bemanning, toerusting en manier van doen op ’n etiese wyse bestuur word. Hy verkry die nodige permitte en hou boek van elke vonds om dit aan die owerhede te verklaar. Bo en behalwe die historiese en kulturele waarde, is daar natuurlik ’n ruim finder’s fee ter sprake. Hierdie proses is fassinerend en Malene weef dit slim in haar storielyn. Sy verduidelik aan die hand van Rowan se verduideliking aan sy bemanning op bladsy 55 hoe hierdie proses werk.
Wanneer Rowan die wrak van ’n legendariese Britse handelskip, die Eclipse, uit die agtiende eeu opspoor, stel hy vir Dante Kuhn, ’n duikinstrukteur, aan om saam met hom te duik. Dante het ’n verhouding met Nora, ’n maltrap vir wie hy saam met haar suster, die ernstige Elara, leer skubaduik het. Nora nooi vir Elara saam op die duikekspedisie en só beland sy ook op die Nightshade, Rowan se jag. Dit is van die begin af duidelik dat Rowan Elara se teenwoordigheid teen sy sin verduur, maar toe hy ’n asemrowende skat ontdek, het hy geen keuse as om haar in sy vertroue te neem nie.
Met bogenoemde as agtergrond dek Malene die spreekwoordelike tafel vir ’n liefdesverhaal wat soos ’n spanningsroman lees. Daar is selfs elemente van smokkelary, spioenasie en ontvoering in.
Die items [...] moet [...] onder streng geheimhouding uit die skip [gehaal word]. Die artefakte wat ons vind, moet uit die hande van mense gehou word wat met sulke goed smokkel en dit op die swartmark teen astronomiese pryse verkoop. Dit moet vir veilige bewaring na museums gaan. (20–1)
Daar is juis ’n spul gewetenlose skattejagters wat onder die dekmantel van ’n bergingsmaatskappy heeltemal te na aan die Nightshade anker gooi.
Daar word Engelse woorde in die dialoë gebruik, byvoorbeeld sponsor, salvage, dodgy, sleazy, drone en wow. Natuurlik kan daar geargumenteer word dat dit funksioneel en getrou aan werklike gesprekke is, maar sommige lesers mag dit dalk steurend vind. Veral wanneer daar moeite gedoen word om sekere woorde, soos watervaste (sak) pleks van die meer algemene waterproof, te gebruik. (182)
Wat is ’n Romanza nou sonder ontluikende liefde en lyflike aantrekkingskrag? Malene stel nie teleur nie. Kyk net hoe mooi beskryf sy hierdie passievolle oomblik tussen die held en heldin:
Hy lag, lig haar ken met een vinger en laat kom sy mond op hare neer; soekend, proe-proe. Die soen word inniger, verkennend, hartstogtelik. Sy gee haar oor, want sy kan nie anders nie. Raak heeltemal verlore. Proe die port op sy tong en geniet sy krag. Sy voel hoe sy lyf reageer en haar aan die brand laat slaan. (133)
Nè?! Dit is net ’n skrywer wat haar lesers se romantiese harte verstaan, wat ’n soen só kan beskryf dat hulle sowaar ook die smaak (en reuk) van port kry.
Skattejag en skadukante eindig op ’n wyse wat my laat hoop op ’n opvolgboek – beslis ’n teken van die sukses van die verhaal. Malene laat val genoeg krummels om ’n verdere storie te regverdig. Daar is immers sprake van ’n skip wat saam met die Eclipse gevaar het en ook iewers onder die golwe lê en wag om ontdek te word.
Malene beskryf die onderwatertonele baie goed. Soveel so dat ek, wat by die see bly, my afvra waarom ek nog nie ’n duikkursus gedoen het nie.
Malene het aan die Universiteit van Pretoria die grade BA en BA(Hons) (Engels) behaal. Sy het later jare na Stellenbosch getrek en haar grade honneurs, magister en DPhil in Joernalistiek, MA (Ou Nabye Oosterse Studie) en MPhil (Antieke Studie) behaal. Malene is ’n bekroonde en ervare skrywer en het meer as 50 boeke op haar kerfstok, waaronder romanses (modern, medies, histories, Romanza en SuperRomanza), romans en historiese fiksie.

