Skadujagter: 'n onderhoud met Dihanna Taute

  • 0

Foto van Dihanne Taute: Brenda Veldtman

Skadujagter
Dihanna Taute
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177290

Dihanna Taute praat met Naomi Meyer oor Dihanne se boek Skadujagter.

Dihanna, waarom het jy Skadujagter geskryf? Was daar 'n spesifieke prikkel of inspirasie, of iets of iemand se situasie wat jy gesien het en wat jou laat voel het: hieroor moet ek skryf?

Ek was nog altyd gaande oor ’n sielkundige riller, een wat mens onverwags tref, een met ’n twist. Die inspirasie agter Skadujagter was meer ’n plek as ’n persoon: ’n godsvergete stuk grond – houthuise, ’n stofstraat en ’n droë graspol wat oor die pad rol. Heibrandt en sy situasie het eers later in die storie kom klim en toe sommer oorgevat.

Vir 'n ma soos ek is dit 'n moeilike tema om te lees: dwelmgebruik by jong volwassenes. Hoe moeilik was dit vir jou, ook 'n ma, om hieroor te skryf?

Ek moes ’n paar keer die pen neersit, verlof vat, iets lekker saam my gesin doen om die donker van Skadujagter af te kon skud, dan asemhaal voor ek weer kon voortskryf. Maar daar is ’n hele paar moeilike temas om oor te skryf, soos dwelmgebruik, selfmoord en gesinsgeweld, om net ’n paar te noem. Maar iemand moet.

Vertel asseblief kortliks die storie sonder om te veel van die intrige te verklap.

Skadujagter sny soveel dieper as dwelmgebruik en ’n seun met daddy issues. Dis ’n reis in die skoene van ’n ongewone tiener, sy soeke na antwoorde, na doel in die lewe, eie identiteit, liefde en aanvaarding.

Dwelms is natuurlik 'n uiters belangrike tema. Nee, dis meer as net 'n tema. Dis 'n gegewe in baie mense se lewens. Hoe skryf mens so 'n boek sonder om dit in 'n lessie te omskep, sonder om jou lesers te laat voel al wat jy doen is om te waarsku? Hoe hou mens dit 'n storie, net 'n leesboek, soos wat jy dit goed reggekry het?

Ek probeer my werk lees uit die leser se perspektief. Ek druk dan die grense tot net voor iets vir my te prekerig voel.

Jy het stewig in jou hoofkarakter se vel ingeklim: 'n jong volwassene, 'n jong man. Half-seun, half-man. Sy stem was helder en duidelik. Hoe het jy dit reggekry om in sy vel in te klim? Help dit dat jy ook kinders het, om iets te weet van hoe hulle koppe werk?

Ek dink dit help meer dat ek ook eenmaal ’n tiener was – nou wel nie ’n seun nie, maar tog nog die omgang van half-mens, half-volwassene moes deurmaak. En natuurlik om soos hulle te probeer dink en te redeneer. 

Jy is bekend vir boeke vir jonger lesers, soos die Lehandi-reeks. Is dit vir jou moeiliker of makliker, lekkerder of meer uitdagend om 'n boek te skryf vir jonger of vir ouer lesers? En ook: wie is jou ideale lesers? (Ek wil byna vra: is dit jou kinders? En: hoe oud is hulle?)

My kinders is 8, 9, 10 en 11 jaar oud, wat my baie gehelp het met die manewales van Die legendariese Lua Verwey, maar nie so seer met Skadujagter nie. Ouer lesers is vir my so ’n bietjie moeiliker om voor te skryf, maar ek hou vreeslik baie van ’n uitdaging. 

Julle het onlangs landuit getrek. Vertel asseblief ’n bietjie van jou lewe in Nieu-Seeland.

Die trek na Nieu-Seeland het ons soos sneeu in die middel van die somer bekruip – onverwags. Dit voel soms nog of ek droom dat ons hier is. Ons lewe het verander; skool en ons kinders se sport is soveel anders: als harde werk, maar op ’n rustige speel-speel-noot. En so tussen die wind en die reën deur is die lewe hier baie duur, maar lekker. Dis net Facebook-profiele van braai, biltong, beskuit en Mrs Ball’s Chutney wat die verlange soms moeiliker maak.

Wat is jou gunstelingboeke, of wat het jy onlangs gelees?

Dis vir my moeilik om ’n gunstelingboek te kies, aangesien daar so baie waardige kandidate is, maar ek het onlangs Karen McManus se One of us is lying en Kara Thomas se Little monsters gelees en dit baie geniet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top