Sizzlers: The hate crime that tore Sea Point apart
Skrywer: Nicole Engelbrecht
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9781990973826
Haar stem is reeds sinoniem met waremisdaad-podsendings in Suid-Afrika, soos met Showmax se Devilsdorp oor die afspraakmoorde in Krugersdorp. Ook ’n boek oor die Samurai sword murder: the Morne Harmse story (2022) speel in dieselfde plek af as waar sy by sy Krugersdorp Hoërskool ingestap in 2008. Met haar Nicole Engelbrecht boek, soos met die vorige een, vestig sy haar stem luid as waremisdaadskrywer.
Sy eer elke vermoorde. So goed as wat sy kan. Sekswerkers, ’n kliënt en eienaar. Hulle is wreed om die lewe gebring deur mense wat hulle geken het. Nie vir ’n oomblik is daar oordeel vanuit die oord van die skrywer nie. Inteendeel. Sy het probeer om elkeen as ’n volronde mens te teken; met soveel as moontlik geliefdes gepraat. Daar sal kritiek wees dat sommiges se lewens meer ingekleur is as ander s’n.
Uit ervaring met navorsing vir my boek Gert en Joey: nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar en my gereelde deelname aan DStv-kanaal VIA se Huisgenoot ware lewensdramas weet ek as mense nie met jou wil praat nie, moet jy ander bronne gebruik wat nie die ware of volle prentjie gaan skets nie. Die besonderhede wat Nicole wel kon insamel, is indrukwekkend, om die minste te sê: “With 10 direct victims and countless secondary and tertiary victims, there is no way every person will support or even like this book ...” verwoord sy dit in die voorwoord (11).
Wat my hart veral verbly, weens my belangstelling in die trauma waardeur misdaadverslaggewers gaan, is dat sy met verslaggewers wat die Sizzlers-moorde moes dek, tot die einde van vonnisoplegging, gesels het. Sy kon dalk een of twee joernaliste van kleur ingesluit het. Maar dis nou maar my eie voorkeur.
.......
Sizzlers spook by mens; dit meld aan in jou nagmerries om soveel redes: die gruweltonele waar nege mans geskiet en met messe gemartel is; die besonderhede van outopsies; die veiligheid van die oorlewende en die ooggetuies – veral met die moontlikheid van die parool van die monster Adam Woest.
.......
Sizzlers spook by mens; dit meld aan in jou nagmerries om soveel redes: die gruweltonele waar nege mans geskiet en met messe gemartel is; die besonderhede van outopsies; die veiligheid van die oorlewende en die ooggetuies – veral met die moontlikheid van die parool van die monster Adam Woest.
Oor Quinton Taylor, die enigste oorlewende van die bloedbad op 20 Januarie 2003, skryf sy op bl 228: “Although he has put the fear of that night behind him, he admits that the worst nightmare is one day walking through a shopping centre seeing Adam Woest. If the parole board decide Woest is cleared for release, that nightmare might not ne too far off.”
Die boek kom uit in ’n tyd wanneer baie geliefdes (die skrywer noem hulle ook tereg “victims”) dieselfde wakker nagmerries ervaar. Soos Leigh Mathews se mense, wat nog gespaar is. En Reeva Steenkamp se familie wat reeds deur hierdie hel is met haar moordenaar se suksesvolle paroolaansoek.
Van die oomblik toe die voornemende klant Mark Hamilton 3.14 vm by Sizzlers in Grahamweg 4 aankom en die “horrors too much for him to process” ervaar, voel dit asof die bloed en petrol waarmee hulle wou martel, aan mens kleef. Die pas word volgehou tot waar Quinton en Leigh Visser, een van die slagoffers, Warren, se sussie, van aangesig tot aangesig kom met Adam Woest as deel van die paroolproses.
Die skrywer sleur die leser mee soos in ’n goeie Crime & Investigation-reeks, veral om uit te vind waar die slagoffers vandag is. En om te verneem Woest se medepligtige, Trevor Thys, is in die tronk dood. En met die skokkende outopsieverslae, gedeeltelike transkripsies van die moordenaars se bekentenisse, en die getuienis in die hof.
Soos ’n lykskouer dissekteer sy hierdie waansinnige massamoord (meer as drie slagoffers), sodat dit oop en bloot voor die lesers lê om ’n ingeligte besluit te neem oor hierdie tragedie wat die LGBTQ+-gemeenskap in Seepunt én Kaapstad vir altyd verander het. Sonder twyfel. Dit was in die vroeë 1990’s toe bomme by gaykroeë ontplof het.
Ek woon sedert 2003 in Seepunt. Main Rd was besaai met gayklubs en kroeë; sekswerkers en dwelmsmouse was op byna elke hoek. Huurjongens was ’n bekende gesig op die promenade. Maar die sogenaamde Yellow Bibs – lede van die gemeenskap – wat saam met die polisie die straat begin patrolleer het, het klante en kliënte verwilder. Die smouse en werkers het weggetrek noordelike voorstede en Weskus toe. ’n Paar is suidelike voorstede toe.
Prostitusie moes na agter geslote deure verdwyn in plekke soos Sizzlers en Knights.
’n Paar jaar voor die massamoord het ek my skripsie vir my BPhil in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch gedoen. Ek het bevriend geraak met die rolspeler, Zack, ’n sekswerker wat ek ’n onderhoud mee gevoer het (die oortreding van ’n oorywerige joernalistiekstudent) en onthou goed dat mense soos die 32-jarige “Zack” vertel het dat die eienaar van die bordele hulle baie mooi opgepas het. “Maar enigiemand kan hom voordoen as ’n kliënt en ons almal doodskiet. Daar is nie wagte wat die kliënte deursoek vir wapens nie. Omdat ons so onder die radar moet werk,” het Zack my toe vertel.
“Mense dink dis net vroulike werkers wat kwesbaar is, maar wat gaan ek nou kan doen met my spiere en al as iemand my vasbind en skiet ... Ons word beboet as ons nie ’n ereksie kan kry nie. Dit gebeur nie maklik as mens bang is vir iemand nie.”
Dis hierdie balanseertoertjies tussen lewe en dood wat sekswerkers tot vandag toe moet verduur. Dit sou vir my gaaf gewees het as dit ook bygeklits kon gewees het in die boek. Net omdat mens dit nie meer op straat sien in Seepunt nie, beteken dit nie dis nie daar nie.
........
Dis tyd dat sekswerk ook ’n boek moet hê. Met alles wat aanlyn gebeur, is daar ’n behoefte aan menslike aanraking.
........
Dis tyd dat sekswerk ook ’n boek moet hê. Met alles wat aanlyn gebeur, is daar ’n behoefte aan menslike aanraking. Selfs net iemand wat jou net kan vashou of geselskap kan hou. Gaan loer op plekke soos Tinder wat die behoeftes is.
Maar soos sy in die voorwoord erken, is Nicole se fokus die slagoffers van Sizzlers en dis mooi so.
Seker die mees hartverskeurende slagoffer-impak-verslag buiten Quinton s’n is wat Leigh Visser gelewer het by die Woest se paroolverhoor: “Unable to breathe, unable to think, unable to formulate full sentences to you, Mr President, after hearing of this gross injustice ... You see Mr President, at just 14 years old, my perfect vision of the world and humanity was shattered ... Today, the boogyman comes back to haunt me ... a monster physiologically inclined towards barbaric violence, a monster whose name is Adam Woest.”
Sy pak ook die verskillende teorieë uit oor wat die motief vir die slagting kon gewees het: geld, bendebedrywighede, haat, ’n ene “Jason” en sy politieke party – en wie was aan die ander kant van die telefoonoproep wat Woest beantwoord het?
Daar is nog baie onbeantwoorde vrae oor die Sizzlers-moorde. Die skrywer erken dit self. Is so ’n bloedbad weer moontlik? Net voor die pandemie het bendedreigemente en geweld daartoe gelei dat talle gayklubs soos Bronx, Crew Bar, Amsterdam en Bar Code verdwyn het. Legendariese plekke. Byna vergete.
Genadiglik ontruk die skrywer die verpletterende misdaad aan die vergetelheid. Sy boekstaaf die impak op ’n indrukwekkende manier en sluit kollegas in wat destyds daaroor moes skryf. Die grootste pluimpie wat ek wil gee, is dat sy vir die prokureur, Tania Koen, erkenning gee vir die wonderlike werk wat sy grootliks pro bono doen om families by te staan met paroolverhore.
.......
Kan hierdie boek uiteindelik lei tot die omvorming van paroolwetgewing? Eerder vroeër as later. Hoeveel moorde, verkragtings en ander geweldsmisdade moet nog plaasvind waar misdadigers op parool weer oortree?
.......
Kan hierdie boek uiteindelik lei tot die omvorming van paroolwetgewing? Eerder vroeër as later. Hoeveel moorde, verkragtings en ander geweldsmisdade moet nog plaasvind waar misdadigers op parool weer oortree?
Kan hierdie boek die LGBQT+-gemeenskap herinner aan die tyd toe die polisie, aanklaers en regters vir lede van hierdie groep geveg het? Vir geregtigheid.
Dis weer tyd vir ’n behoorlike Pride in Kaapstad. Nie net om te vier hoe ver ons gekom het nie, maar ook om diegene wat gesterf het in aanvalle op die Blah Bar, Bronx en Sizzlers te gedenk. Waar is die Gay & Lesbian Film Festival?
Nicole se boek is ’n begin om weer aan die LGBTQ+-geskiedenis te skryf. Ook die tyd voor wokeness toe daar nie tientalle voorname was nie. Maar name van slagoffers, soos:
Timothy Boyd
Sergio Castro
Stephanus Fouché
Johan Meyer
Travis Reade
Warren Visser
Gregory Berghaus
Aubrey Orgaar
...
Lees ook:
Kommentaar
Christi van der Colff het in 2023 haar eerste Pride-fees van stapel gestuur. Die proeflopie was positief en sy bied dit weer die jaar aan in McGregor. Gaan loer gerus na Love Life Festival. Datums vir 2024 is reeds bekendgemaak.