Sing ’it-kunstenaar is plesierig (en dis aansteeklik)

  • 0

Woordfees 2012 en by Spier-wynlandgoed val die volgende kombinasies op: vroeg in die fees was dit eers Lize Beekman en Vusi Mahlasela. Op Woensdagaand 7 Maart is dit Karen Zoid en Zolani Mahola se beurt.

Volgens die Woordfeesprogram:

Zolani Mahola is die supergewilde voorsanger van die Grammy-bekroonde Freshlyground. Karen Zoid is die SAMA-wenner met die ysterstem, leerbaadjie en warm rock-snare. Hulle kom lewer ’n dubbelloopsarsie briljante musiek wat begin en eindig met ’n Z!

’n Mens wil-wil amper ’n geleentheid wat verpak is met so ’n ooglopende politieke samestelling en met ’n uitroepteken teen die einde met ’n knippie sout benader.

Twee kitaarspelers open met Spaans-klinkende deuntjies. Vanuit die skadu’s verskyn ten eerste rooi hoëhakskoene, dan Karen Zoid aan wie se voete die skoene sit en, langs haar, iemand wat haar nie eens volkome tot by haar skouer pas nie. Zolani Mahola is ’n pikkie.

Hulle gaan sit langs mekaar op die verhoog en dis waar hulle die hele vertoning lank bly. Gaan hulle nodig hê om opsy te skuif vir mekaar se ego’s? Gaan hulle stemme mekaar s’n komplementeer? Want hulle vat elk hul eie mikrofoon vas en dis duidelik dat hierdie twee nie beurte gaan maak om te sing nie.

Hulle open gesamentlik met ’n gewilde liedjie van Freshlyground. Ek het die liedjie al dikwels gehoor, maar dit vang my onkant dat iemand so klein van postuur soos Zolani Mahola so ’n soet en ryk klank kan voortbring. En Karen Zoid vul aan, of wissel af, nes dit hoort. Karen Zoid vertel die gehoor ná die nommer en direk na haar "goeienaand, Stellenbosch!" dat hierdie betrokke liedjie haar gunsteling-lied van dié groep is en dat dit vir haar lekker is om saam met Zolani ("hard-working chick") op te tree. Zolani komplimenteer: "I’ve always been a fan, Karen." Karen skerts: "Liar ..." En Zolani lag: "I’m not lying ... I love the way you sing."

Twee toneelspelers op ’n verhoog, maar mens het klaar begin inkoop - daar is warmte in hul stemme, die gesprekke oor en weer kom natuurlik en nie geforseerd nie.

Hierna volg ’n rits liedjies van ander mense, veilige keuses vir albei sangeresse se stemme. Maar op ’n kol begin mens twyfel of daar enigiets is wat hulle saam kan sing wat níé sal werk nie. Zoid se stem is soms daardie sagte kitaarstreel-fluweel soos sy klink in die liedjie wat sy vir Sanlam en LitNet se Sing ’it-kompetisie getoonset het – “Bonnie and Clyde” (download – dis heeltemal gratis hierso).

Aanhangers van die kunstenaars: Frank Louw (Sanlam), Amanda Gouws, Elrena van der Spuy, Zolani Mahola, Yvonne Muthien (Sanlam), Karen Zoid, Andre Kearns (Sanlam)

 

En Zolani Mahola se stem blaas mens weg. En enige Afrikaner wie se hart haar stem  nie raak nie, verower sy deur ’n Afrikaanse kwinkslag of twee.

Hoogtepunte is Zolani Mahola se warm vertelling van die "I met a boy on a bus and we talked and talked all night back to my res and halfway back to his and then I turned back and at midnight I realised that I wouldn’t be able to sleep, so I got up and I wrote this song ..."

Waarop sy begin sing aan ’n liedjie wat almal in die gehoor al gehoor het, maar nog nooit met soveel hart nie:

What would you do if I kissed you?
What would you do if I held your hand and laid you down?
Would you find me overly unkind to you?
Would you call me insensitive, and say that I deserve to die?
What do I do with all these feelings tearing me up inside?
What do I do with all these wasted hours dreaming of you at night?
I’ d like to call you sometime …"

Karen Zoid volg haar op met die mees humoristiese nommer van die aand, iets te doen met ’n kredietkaart en die Waterfront se winkels.

Teen die tyd dat Zoid die volgende lied insit, eet die gehoor uit albei sangers se hande:

I’d like to introduce myself Johanna Ertjekollo
And this is the alternative, You was so saf ’n molo
Haai jy loop verby Is mos dekadent
Peace brother, give me five of suig jou peperment
Jy’s cool, jy spoel jou mond met Aquafresh
En leer mos al van hip-hop in jou ma se crèche
...

Afrikaners is plesierig
Dit kan julle glo
Hulle hou van partytjies
En dan maak hulle so
En dan maak hulle so
Babe is jy nog lief vir my? (x3)
Ek gaan iemand anders kry ...

Mahola los Zoid af met die tweede vers:

Luister hier jou yuppie scum
Jou preconceived millennium man
Ek maak jou kwaad want ek weet ek kan
Gee my nog ’n vatlap government plan
En die bedelaar staan met sy uitsteek hande
En vra my vir net nog twee rand ...

Maar dis die refrein wat die gehoor laat juig:

amaXhosa, vuyisana ... (sic?)

Agterna vertel ek iemand van hierdie oomblik: toe die Xhosa-vrou “Afrikaners is plesierig” op sy kop keer en dit in Xhosa vertaal. Die reaksie is ’n siniese: "Afrikaners is darem so dankbaar vir strooihalms."

Mag wees, mag wees.

Maar in die “amaXhosa vuyisana”-oomblik is daar vir my ’n eggo van die lied “Walking in Memphis”: "Tell me, are you a Christian, child?" And I said: "Man, I am tonight ..."

’n Ander webwerf praat oor die betekenis van hierdie frase, verwys na "both spiritual transformation and professional growth".

Teen die tyd dat die twee kunstenaars die derde keer by die refrein kom en saam "Afrikaners is plesierig" sing, is die sirkel voltooi. ’n Oomblik lank het transformasie vir die gehoor plaasgevind, ’n groen takkie by ’n Woordfees met ’n groen tema, iets besonder hoopvols.

Die laaste medley van liedjies vermeng Freshlyground en allerlei ander, met Zolani wat ook nog uitbundig "Kaptein, span die seile" sing.

Spier het vel om en dis niks anders by vanjaar se Woordfees nie. Ek vermoed selfs die twee kunstenaars by Spier se velle was nie dieselfde kleur nie. Want so lyk hulle name op die program. Maar op die ou end was dit nie waaroor dit gegaan het nie. Dit was op die ou end die belangrikste spier van almal wat die hardste geklop het. ’n Vertoning met hart, wat almal met warm harte huis toe stuur.

Nes die optrede van Zolani Mahola en Karen Zoid, word die liriekkompetisie Sing ’it ook deur Sanlam geborg. Lees nog oor die kompetisie (daar is volgende jaar nog een) en download sommer gou die nege gratis liedjies terwyl daar nog kans is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top