Silwerskermfees 2022-kortfilms

  • 1

...
Genres met hulle sementreëls en onbuigbare strukture (dink aan film noir, Westerns en romantiese komedies) laat skrywers soms te min vryheid of inisiatief toe, alhoewel daar briljante uitsonderings is. En hier word gerebelleer! ’n Groepie talentvolle filmsoldate het die meeste reëls met die drein afgespoel en  stories op hulle manier probeer vertel.
...

So leer vele skryfghoeroes en handleidings ons dat daar omtrent net sewe soorte stories is, waarvan Romeo en Juliet en Aspoestertjie die prototipes is.

Maar tydens die 10de verjaarsdag van die kykNET Silwerskermfees, wat einde Maart 2022 in Kampsbaai geëindig het, het ’n warboel filmmakers daardie roereiers deurmekaargekrap sodat dit genres se reëls moerland toe stuur. Roereiers is nie meer vervelige roereiers as jy iets anders as eiers gebruik nie.

Juis daarom dat rolprentteaters sukkel, want Hollywood is te bang om te waag, sodat selfs die gemaksoners gaap.  

Genres, het buitelandse resensente al erken, is, soos graderings, lastig en dikwels onnodig. En die 17 kortfilms wat gehore se stoele laat brand het (wel, die meeste van hulle), het dit bevestig.

Genres met hulle sementreëls en onbuigbare strukture (dink aan film noir, Westerns en romantiese komedies) laat skrywers soms te min vryheid of inisiatief toe, alhoewel daar briljante uitsonderings is. En hier word gerebelleer! ’n Groepie talentvolle filmsoldate het die meeste reëls met die drein afgespoel en  stories op hulle manier probeer vertel. Wat jy as kyker daarmee maak, is jou saak. Hier word nie voorgeskryf nie.

Onthou, hulle is vir twee jaar deur Covid in ballingskap geplaas. Boonop val hul land uitmekaar, terwyl die spookasem-Oscars (met die uitsondering van daardie klap) ook voorskryf watter soort films pryse wen. Dit lei ongelukkig tot ’n oormaat nabootsings.

Nie hier nie! Silwerskerm-kortfilms word rigtingaanwysers wat nie by padpredikante stop nie. Uitgesproke en wispelturige eksperimente prikkel jou tot reaksie.

Waar hierdie veerpyltjies die boerpot tref, is onder andere in natuurlike, praatbare dialoog waarin mense soos mense kommunikeer met temas wat die kyker eers op ’n gemaksonepaadjie lei en daarna kaalvoet op warm kole plaas. Temas soos misdaad op die Kaapse Vlakte of huwelike wat verbrokkel word aangespreek, maar so parmantig dat die meeste films uitklophoue gee. Natuurlik moet ’n rolprent steeds professioneel  gemaak word, maar die monde waaruit die stories kom, basuin hul boodskappe luidkeels uit, al maak hulle soms vingeroefeningfoute.

Die woord “hoogtepunte” word hier vermy, want ’n oorgrote meerderheid kortfilms was “hoogtepunte” of sou die voosgeryde cliché “grensverskuiwend” akkommodeer. Hier is ’n groep dapper filmmakers wat waag én wen, al moet die leisels soms ingetrek word.

Morné Strydom se Twintig tone in ’n hangkas met Pietie Beyers, Emma van Heyn en Eden Classens skeur nie alleen die Valentyn uit jou reëlboekie nie, maar vlieg oor romkomclichés. Hierdie tone pas nie in enige skoen nie.

Twee verlore siele ontmoet mekaar, hul tone raak aanvanklik verlief op mekaar en ’n wapenbeneukte perfeksionis wil hulle straf. Lanklaas het die ontstaan van ’n verhouding met ’n tandeborsel ’n fees só verryk. Dit was ’n spontane romanse wat vir ’n hangkas vlerke gegee het.

Die bekroonde Baber deur Jerome Overmeyer met onder andere Monique Rockman het ’n klap van Tim Burton weg, maar daar eindig die ooreenkomste. Bendegeweld, anargie en vergelding trek ’n nuwe baadjie aan en vra op ’n byna surrealistiese manier: Watse doel dien wraak?

Nog ’n klap deur ’n moesiemondjie was Katvis, waarin die bekroonde Erica Wessels en Stiaan Smith ’n argument rondom kinderloosheid voer. Wanneer verkul jy? Maar wanneer heilig die doel die middel? En dan die kinkel in die kabel wat die kortfilm laat ontplof. Die regisseurs Anton Scholtz en Michael Minnie het rondomtalie-argumente rigting gegee saam met die draaiboekskrywer Igna Botha. Die eeue oue tema van kinderloosheid baar hier briljante storievrugte.

Leemtes & leegheid was deerniswekkend en wen die prys as beste kortfilm. Dit wys twee van Suid-Afrika se grootste akteurs, die immerbriljante Lida Botha en Johan Botha, aan die einde van ’n doodlooppaadjie wat ons almal vrees. Kan liefde die afskuwelikheid van die dood oorwin? Die regisseur, Jordy Sank, en skrywer Terence Makapan (saam met Sank) het die eensaamheid van oudword in ontroerende perspektief geplaas.

Mila Guy lewer met Skyn kommentaar op swangerskap en die gevolge van een nag se pret. Dit maak ’n winkelhaak-omkeer wanneer skrynende dialoog ’n smagting na swangerskap wreed beklemtoon. Carla Smith en Wilhelm van der Walt se spel pas soos die laaste legkaartstukkie in hierdie storie oor kinderloosheid.

Daar is nog vele kortfilms wat met lourierkranse kan wegstap. Chanél Muller se rondomtalie-middelvinger-gee vir ’n swak pa, Sporadies nomadies, wanneer ’n spermsaaier (Laudo Liebenberg) en sy vervreemde dogter, Celeste Loots, in ’n motor vasgekeer raak en ’n lang dagreis na die nag uitvoer, het in die maag getref.

Verveling wat tot lewensgevaarlike obsessies lei, Chadlee Striker se Verstikking, bewys dat nie alle avonture met seksuele ondertone verklaar kan word nie. Bibi Slippers se onder-in-my-whiskeyglas Die horries oor alkoholisme slaan ’n kishou, en die kriewelrige donker komedie Bittersoet deur Zandré Coetzer gooi Alzheimers in trurat.

Die parmantige My beskermer deur die bekroonde DW Smith onderstreep dat jy nie miljoene rande benodig om ’n koel zombiefliek  te maak nie. David Franciscus het die draaiboek help skryf.

Nie heeltemal so suksesvol nie, maar steeds noemenswaardig (foute maak is deel van die leerproses), is ’n kortfilm oor ’n nuwe Suid-Afrikaanse held, Nagvoël, wat bendegeweld aandurf. Die onskuld tref. Asook die vampierplesier Net ons deur Nadine Angel Cloete. ’n Bietjie snoeiwerk is nodig, maar tog vra dit om van geweet te word.

Stories  kry hier ’n fynbosgeurtjie en draai Kaapstad en die res van die land op sy rug om die pens en pootjies te kielie. Dan is daar Jurg Slabbert, draaiboek deur Ernst van Wyk, se Aan/af. Ons vrees hierna almal die dag laat wanneer jou gedagtes en herinneringe op Stickits beland. Marlo Minnaar word aangewys as beste akteur.

Bergie deur Dian Weys lewer in agt minute kommentaar op ’n bergie wat sterf terwyl die publiek apaties reageer. Tekkies vertrap sy enigste oorblywende waardigheid terwyl ’n sekuriteitsbeampte, ’n puik Oscar Petersen, probeer respek betoon.

Nie al die kortfilms werk nie, soos Vrywater deur Liesel Harris Krüger. Welkom eksperimenteel ja, maar wat was die punt?

Een feit staan uit: Die Covid-inperking het aan draaiboekskrywers die geleentheid gegee om meer deeglik te besin oor hoe ’n storie nuut vertel kan word in plaas daarvan om die gemaklike tjoklits-en-tjips-paadjie te volg. En bykomend: Die luukse dat die loket vir eens nie saak maak nie!

  • 1

Kommentaar

  • Daar is 'n aantal kortfilms wat uitstekend is. Daar is ook 'n aantal warin naaktonele voorkom, oor die algemeen kunstig gedoen. Kyk na o.a. na Die Invloed, Oorgang, Meisies wat Fluit, Haatklop, ensomeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top