Silwerskermfees 2015: Kortfilms

  • 0

In 2011 het kykNET die eerste Silwerskermfees in Kampsbaai aangebied met een speelfilm, ’n Saak van geloof, en ’n briljante plan wat die bedryf op loop gesit het: die kortfilmprojek. Vier jaar later sit ons met ’n rak vol uitstekende kortfilms, met vanjaar se vyftien die beste aanbod nóg. 

skerm1

Marcel van Heerden se Vryslag, wat eers op radio uitgesaai is, se bekroning as beste kortfilm was welverdiend. Dis ’n fyn uitgewerkte ars poetica van die vermaakbedryf, met Gérard Rudolf se prys as beste akteur net so welverdiend.

Om ’n naaswenner te kies, sou vir my lê tussen die tegnies feitlik perfekte Foto en Skewe Reënboog (beste regisseur, Wim Steytler), ’n aangrypende blik op die verwording van die Reënboognasie. Skitterende toneelspel deur Antoinette Louw en Roeline Daneel in eersgenoemde en Gavin van den Berg in laasgenoemde.  

Konneksies is ’n vars komedie oor soek-’n-maat-op-jou-slimfoon, veral as die maats (Melt Sieberhagen en Chanelle de Jager) nou nie meer so jonk en slank is nie. Dis aangewys as die gehoorgunsteling. Van lyn af bekyk op ligte maar indringende wyse die fenomeen van sosiale media en verslawing daaraan, en veral die invloed wat dit op verhoudings het. Puik spel deur Stian Bam, Milan Murray en Martelize Kolver (beste aktrise).

skerm2

Dominee-truuks (’n spel op dominatrix) is ’n heerlike klug oor ’n skoonheidsterapeut (Rojean Serek) wat soggens ’n rooi rapspakkie aantrek sodra die voordeur agter haar man toegaan. Sy en haar span verdien ’n pluimpie – dis nie so maklik vir ’n vrou om ons komediemark te betree nie, wat nog te sê met so ’n tikkie Fifty Shades of Grey. Die Snelweg Sluiper sluit tematies hierby aan, hoewel dit ’n baie donkerder fliek is. Nogmaals goeie werk deur ’n jong span.   

Die klein komedie Kleingeld bevestig dat 2015 Edwin van der Walt se jaar is: eers in Ballade vir ’n enkeling en Hollywood in my huis, en binnekort in die speelfilm Die Pro. Ná Nommer 37 verlede jaar was dit lekker om Shamilla Miller weer in ’n kortfilm te sien.

Wat dramas betref, is daar Melusine van Arcadia, ’n hiperrealistiese (dink lelike woonstel in ’n afgeleefde buurt) sprokie – magiese realisme met iets werklik besonders daaraan. Die uitstekend verbeelde Van agter die deur wys waansin as ’n reaksie op trauma en herinner sterk aan Pedro Almodóvar se The skin I live in. Johan Baird en Desiré Gardner lewer kragtige spel.

skerm3

Nog steeds by dramas: Hartloop, met uitmuntende spel deur Jana Strydom, gooi jou midde-in die vreessituasie van ’n motorkaping en wys die uitkringeffek daarvan op ’n huweliksverhouding. Ook in Beurtkrag (beste draaiboek, Stiaan Smith) kom ’n verhouding onder druk, maar soos ’n kommentator uitgewys het, gaan hierdie films nie primêr oor die maatskaplike of buitefaktore nie, dit draai die fokus binnetoe, wat op sigself dui op tematiese groei in ons filmbedryf.    

Sweisbril en Tekkies vir Trevor is soos broers, die een uit die wit onderdorp en die ander uit die bruin onderdorp. Al twee films gaan ook oor die stryd tussen broers. Eersgenoemde, met ’n briljante Neels van Jaarsveld, laat jou die stof van mynhope ruik en proe en voel; die ander slaan jou asem weg met sy lieflike openingstoneel en energieke hiphop-passies. Hou maar die oë oop vir die talentvolle jongelinge Caylin Benting en Earl Goodman.

Jan Umkhwetha is in sy eie kategorie – ’n pragtige crossover tussen die Xhosa- en Afrikaanse kultuur. En Ian Roberts kan sowaar vlot Xhosa praat!

Met dié soort gehalte het die Silwerskermfees in vier kort jare volwassenheid bereik. Ek meen dis tyd dat die fliekpubliek ook die voorreg kry om tydens die fees die kortfilms in deelnemende teaters te sien.             

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top