Silwerskerm Filmfees: "Die filmbedryf lê vir kykNET nog altyd baie na aan die hart"

  • 0

Vanjaar vind die Silwerskerm Filmfees vanaf 3 tot 5 September by The Bay Hotel in Kampsbaai plaas. Nico Nel, bemarkings- en publisiteitskoördineerder van kykNET, MK en Koowee, beantwoord 'n paar vrae oor die fees.

Wanneer en hoe het die Silwerskerm-filmfees ontstaan? Wat was die inspirasie daaragter?

Die Silwerskerm Filmfees het in 2011 ontstaan. Die filmbedryf lê vir kykNET nog altyd baie na aan die hart, en kykNET se betrokkenheid, veral by Afrikaanse produksies, is sonder twyfel een van die belangrikste maniere om die behoud van Afrikaans op ons televisiestelle te verseker.

Die fees is in 2011 op Prins Albert aangebied. Vanjaar is dit nader aan die stedelike gebiede geskuif (aanvanklik by die Spier-wynlandgoed, met die venue wat nou later aangekondig sal word). Wat is die motivering hieragter en wat probeer julle vanjaar anders doen as verlede jaar?

Vanjaar vind die fees van 3 tot 5 September by The Bay Hotel in Kampsbaai plaas. As deel van die drie-dag-fees spog dit met vier wêreldpremières, tien plaaslik-vervaardigde kortfilms en dan ses bestaande "ongepubliseerde" films. Daar sal ook verskeie werkswinkels aangebied word sodat jong aspirantfilmmakers kan gesels en leer en 'n beter en meer objektiewe insig oor die filmmaakproses kan formuleer. 

Die fees het twee bene: die fees self en dan die vertoning van 'n uitgesoekte verskeidenheid van die films in Nu Metro-teaters. Watter films sal by die "fees" vertoon word en watter films sal in die teaters te sien wees? Wanneer vind die onderskeie feeste plaas?

Die Silwerskerm-fees is trots om Die Wonderwerker, Wolwedans, Lien se lankstaanskoene en Verraaiers bekend te stel, asook die tien finaliste in die Silwerskerm-kortfilm-kompetisie. Die ses beste kortfilms sal dan vanaf 21 tot 27 September as deel van die Willie Esterhuizen-filmfees by uitgesoekte NuMetro-teaters vertoon word.

Die fees word deur kykNET geborg. Wat presies is kykNET se belang by die fees? In watter mate vind “kruisbestuiwing” tussen Afrikaanse televisie, spesifiek kykNET, en Afrikaanse films plaas?

Soos genoem, is die voortbestaan van Afrikaans en Afrikaanse produksies vir kykNET besonder belangrik. In samewerking met NuMetro het kykNET as deel van die Silwerskerm-fees 'n kortfilm-kompetisie geloods. Uit die honderde inskrywings is daar op tien kortfilms besluit. Daar is aan elke produksie R120 000 beskikbaar gestel om hul kortfilms te laat realiseer, en dié word dan by die filmfees bekendgestel. Die ses beste kortfilms sal dan in Oktober op kykNET uitgesaai word.

Hoe word die keuse van films wat vertoon word, gemaak? Watter kriteria word ingespan om die films te kies?

Die Silwerskerm-fees bied vanjaar 'n diverse groep genres, van films met minimale en beperkte begrotings (bestaande films en kortfilms) tot vollengte-wêreldgehalte-prèmieres. Die oorhoofse en oorkoepelende kriteria wat wel bepaal het watter films vertoon word, is die kreatiwiteit, relevante tema en produksiegehalte wat te siene is in die onderskeie projekte.

Is daar voorwaardes vir sukses in die Afrikaanse filmbedryf? Lyk die toekoms van Afrikaanse films, en Afrikaanse filmfeeste, meer soos Liefling of meer soos Skoonheid?

Sukses in die Afrikaanse filmbedryf is 'n besonder moeilike ding om te voorspel. Die verskille tussen films soos Liefling en Skoonheid is juis die katalisator wat nuwe produksies van alle genres die kans gee om die honger Afrikaanse rolprentbedryf te voed. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top