Sigeuners, feessprinkane – en Wim Vorster se toneelskool

  • 0

Wim Vorster was jare lank betrokke by die voormalige SUKOVS (streeksraad van die uitvoerende kuns van die Vrystaat) in Bloemfontein. En in 2013 gaan hy sy eie toneelskool in Heidelberg – oop vir enigeen wat ouer as twaalf is – begin. Naomi Meyer het hom oor hierdie projek uitgevra.

Hallo Wim, dankie vir die geleentheid om te gesels. Jy het ’n indrukwekkende CV en ek sien jy was jare lank betrokke by die destydse SUKOVS. Vertel kortliks vir ons lesers wie jy is.

Gits, dis nie vir my so maklik om oor myself as mens te praat nie. Moontlik is die maklikste antwoord die Engelse spreekwoord “Jack of all trades, master of none”. Ek is 63, is gebore in Kimberley, het grootgeword in Warrenton en het toe by UP gaan studeer. Eers BSc (drie jaar!) en toe drama. Ek speel ’n bietjie toneel (mees onlangs my eenmanstuk Kuifman oor my eie lewe en vanaf 8 Maart 2013 is ek te sien in die rolprent To The Power of Anne). Ek doen graag regie en is nogal goed (mees onlangs my eie stuk Kruispad by die Grahamstadfees in 2010); ek skryf bitter graag (van my kortverhale is op LitNet – soos hierdie een); ek teken (swak); ek is baie liberaal in denke en glo ek is ’n vrye gees (wat my verblyf in Heidelberg finaal en volkome aan my bied). Oor politiek en godsdiens bly ek stil – elke mens na sy eie denke en behoefte. Ek kook. Ek het ’n verslawende persoonlikheid. Dus leef ek my lewe met wilskrag en dissipline, want ek doen alles obsessief: praat, eet, drink, koop. Ek het drank opgegee omdat ek ’n alkoholis is, ek het rook opgegee omdat nikotien uiteraard skadelik is, ek het rooivleis opgegee omdat ons familie wriemel van cholesterol, ek het kaffeïene opgegee omdat dit te veel adrenalien pomp, wat angs veroorsaak, en seks het my opgegee, so ek is ’n non.  Die res is in my CV, dink ek.

Waarom ’n toneelskool en waarom ’n toneelskool in Heidelberg?

My vriend van 1974, akademikus en digter Chris Lombard, het hier in Heidelberg in sy ouerhuis afgetree. Hy en Jannie Gildenhuys, akteur en regisseur, was van standerd 1 af vriende en Jannie het sy laaste jare by Chris gewoon. Ek het gereeld kom kuier en ná Jannie se dood ten minste een keer per jaar by Chris kom kuier met vragte kunsrolprente.  Eers op video en toe DVD. Chris is op 8 Augustus vanjaar oorlede en het sy huis aan my bemaak. Dit klink soos iets wat mens net in stories lees. Ek het halsoorkop getrek, sak en pak. Oor die toestand van die huis, die opruim en inrig, sal ek nie veel uitbrei nie. Ek moet net noem dat hier engele in die omgewing woon wat besluit het die huis moet binne geverf word. Op hulle onkoste. Die werkers is reeds vier weke besig omdat die huis so verwaarloos is. Ons moes eers ontslae raak van “apartheidstof” – omdat ek reken die huis is voor 1994 laas skoongemaak! Chris het egter nie vir my geld gelaat in sy boedel nie – te verstane – en my druppeltjie pensioen van DALRO kan my nie aan die lewe hou nie. Daarom begin ek toe die toneelskool. Kairos, die toneelgroep verbonde aan die een skool hier, het verskeie akteurs opgelewer wat te siene is in onder andere 7de Laan en Isidingo, maar Kairos het net bruin kinders en ek wil die brug oor die pad bou. Ek wil nie vir hulle opposisie wees nie – ons moet saamwerk – maar ek hoop om studente uit al die gemeenskappe te trek. Ek werk baie lekker met jongmense en het ook dikwels met amateurs gewerk.  Dus is ’n toneelskool vir my die voor die hand liggende oplossing tot brood op die tafel. Een van my doelwitte is om mense te laat lees.

Het jy onlangs teaterstukke bygewoon wat jou opgewonde gemaak het? Of talent raakgesien wat jou geïnspireer het?

In Johannesburg het ek vanjaar Kickstart van Durban se uitstekende Cabaret gesien en uit Kaapstad Mary & The Conqueror, met die skitterende Diane Wilson as skryfster, Mary Renault en Armand Aucamp as Alexander die Grote. Hy is ’n speler om dop te hou. ’n Jong akteur wat my geweldig beïndruk, is Gideon Joubert. Ek is spyt ek is nie nou in die Kaap om sy nuutste werk te sien nie. Vir drie jaar lank was ek op die Kunstekabinet én die Kannapaneel van die KKNK en vir my is my vriendin Nicola Hanekom (ek is ook ’n obsessiewe name dropper) koning Midas: alles waaraan sy raak, verander in goud. En sy is ook besonder knap in die keuse van spelers. Tinamarie is dinamies. Maar ballet en kunsmusiek maak my net so lighoofdig en ek is jammer dat ek Lady Gaga misgeloop het.

Ek sien jy nooi enigiemand vanaf die ouderdom van twaalf jaar om betrokke te raak by jou toneelskool. Beoog jy ’n afdeling vir skole én vir volwassenes, onderskeidelik?

Afhangende van die getal studente wat ek kry, sal ek hulle in ouderdomsgroepe opdeel vir klasse. Maar almal gaan presies dieselfde opleiding kry. Ons sal leer asemhaal, projekteer, artikuleer, beweeg – die hele kaboedel. Ek wil minder kompetisiegerig wees, maar as studente voel hulle wil inskryf vir Eisteddfods en so aan, sal ek hulle bystaan. My doel is om ten minste een keer per jaar al die studente in ’n volwaardige produksie aan te wend, van die jongste tot die oudste. Bes moontlik sal ek self die teks moet skryf, maar dit is nog lekkerder. Ons gaan nie verskeidenheidskonserte hou nie – ons gaan toneelspeel.

Glo jy in die toekoms van toneel en drama in hierdie land?

Daar is onuitputlike bronne van talent in ons land. Ongelukkig het die Streeksrade wat vir akteurs, regisseurs en tegnici ’n infrastruktuur gebied het, ontbind en almal is deesdae weer sigeuners: feessprinkane. Een, net een, politikus moet gaan opstaan en sê die kunste in Suid-Afrika moet, soos in Europa, deur die regering ondersteun word. Ja, droom voort. Soveel geld word deur soveel instansies gegee as borg vir die sovele feeste. As hulle al daardie geld in ’n kietie sit, kan ons een magtige toneelorganisasie hê waaraan almal (wat wil) kan behoort, met twee hoofkwartiere – een noord en een suid – en die hele land word bedien en akteurs en regisseurs en tegnici het salarisse en mediese fondse en pensioenskemas en ons doen toneel en ballet en opera en simfonie van Beitbrug tot Kaap Agulhas en ja, droom voort, want hoe gaan jy ooit ABSA en Standard Bank en FNB en Clover en wie ook al nog laat saamspan?  Jamie Uys het destyds die rolprent gemaak Maar Doodkry is Min. Só voel ek oor teater en oor Afrikaans, in weerwil van die nuwere geslagte se kreools.

Lees nog 'n onderhoud met Wim Vorster.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top