Siende blind – te ooglopend

  • 0

* Die rubriek is gebaseer op die loodsepisode.

Die nuwe kykNET-drama Siende Blind handel oor ’n profielsamesteller van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat die grendeltyd saam met haar man, haar seun en haar skoonma deurbring. Kort voor lank bevind sy haar op ’n paadjie wat kronkel soos sy ou wat sake herbesoek en ontdek dat daar ’n reeksmoordenaar veel nader aan haar is as wat sy ooit sou kon gedink het.

ʼn Loodsepisode moet jou asem wegblaas, of jou ten minste nuuskierig genoeg maak om episode twee te probeer. As regisseur en skrywer het jy dus een kans om jou gehoor te behou voor hulle die kanaal verander.

Siende blind verspil daardie kans.

Eerstens is ons oor die laaste paar jaar gebombardeer met reekse en films, en dus informasie, oor reeksmoordenaars. Tweedens, wat betref die gehalte van hierdie produksies, kyk byvoorbeeld na Mindhunter — is fenomenaal. As jy hierdie onderwerp aanpak, moet jy dus weet jou gehoor is gewoond aan uitstekende-kwaliteit-TV, maar is ook ingelig oor die (TV-) sielkunde agter hierdie moordenaars. Siende blind se storielyn is te ooglopend, en die twee monoloë oor die sielkunde agter reeksmoordenaars is vervelig. Ooglopend en vervelig is nie ʼn goeie kombinasie nie.

Rolverdeling gaan oor watter akteur die reikwydte het om die karakter uit te beeld (Cate Blanchett as Bob Dylan), maar tog ook of hulle min of meer dieselfde ouderdom is (behalwe nou Cate Blanchett as Bob Dylan, want die film vereis iets anders). Kyk na Siende blind se plakkaat. Die drie akteurs lyk min of meer dieselfde ouderdom – in die reeks is Roelof wel “veel jonger” as sy vrou, Lena, maar is hy ook die pa van die tienerseun in die foto. Die akteurs is uiters bekwaam, maar Pietie Beyers lyk nie oud genoeg om ʼn pa te speel nie. Liezl de Kock lyk nie veel ouer as Pietie nie, en Christopher van der Westhuizen het duidelik lankal sy skooluniform agtergelaat. Van meet af is hulle dus visueel nie geloofwaardig nie.

Die eerste episode spring baie heen en weer tussen karakters en tonele. Mens wonder later of twee of drie dae al verloop het, net om te besef dit het als in een dag gebeur. Jy word nie tyd gegun om te belê in die karakters of die storie nie.

Die draaiboek is voorspelbaar. Die oomblik wat die (letterlike en figuurlike) rooi vlag verskyn, weet jy dadelik die stuk lap (en die simbool) is belangrik. Dieselfde geld vir die foto van die "lieflingskind" wat te voorskyn kom, die foto van die pa wat weggesit word, ens.

Jy sien die geykte konflik met die skoonma op ’n myl — Lena kan nie kook nie, sy breek ʼn erfstuk, Marinette vang haar op die bank slaap. Die skoonma drink te veel, kritiseer almal, vry jong latte …

Ons ken hierdie karakters. Ons het hierdie storie al gekyk. Ons verwag meer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top