Sielsmokkelaar
Leon van Nierop
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306566
Aanhangers van Leon van Nierop sal nie teleurgesteld wees met hierdie boek nie. Nuwe lesers sal besef waarom hy een van die topverkopers is en hoekom Sielsmokkelaar ná 20 jaar herdruk is.
Ramón is 16 jaar oud en swerf al van kleins af saam met sy ma, ’n sigeuner, van plek tot plek, al vlugtend voor haar verlede en die man met die mantel uit. Met hul laaste vlugtog maak die seun kennis met die skimfiguur en word moeder en kind geskei. Hy beland dan by sy pa, Marnus, wat ’n plaasboer is en deur sy ma as oorlede aangegee is.
Die verhaal is vol bonatuurlike verskynsels en gebeure wat kort-kort van Ramón se brein besit neem. Die gevolg is dat hy voortdurend in vrees leef vir die mantelman, die karakter wat "die niemandsland tussen hemel en hel bewaak en verlore siele vir ewig daar opsluit". Tussendeur word Ramón geteister deur onverklaarbare drome, hoofpyne en angsaanvalle en wil die mantelman ook van sý siel besit neem.
Op die plaas ontwikkel hy gou ’n goeie verhouding met Marnus, wat aan hom vertel dat sy ma pas na sy geboorte die pad gevat het. Hy herstel sy ma se blomtuin en help om die plaas op die pad terug na sy eertydse glorie te boer.
Ramón gaan skool toe vir sy matriek. Die dorp weet van sy ma en hy moet maar gedurig walgooi teen sy andersheid, maar hy is gewild onder die meisies en knoop ’n hegte verhouding aan met Nicolene, die buurdogter. Hier is die skoolhoof ’n vreesaanjaende geweldenaar wat ereksies kry wanneer hy seuns vir eenvoudige oortredings met sy rottang looi. Lesers sal later sien wie hy regtig is.
Tussendeur kry Ramón steeds sy vreesaanvalle en ontmoetings met die bonatuurlike – soos stemme, die sielsoeker se laggie en gloeiende rooi oë en ’n bewegende jas in die gang – maar daar is ook konkrete gebeure, soos wanneer hy dreunsange uit ’n murasie hoor en voetspore op die solder vind.
"Die enigste ding om te vrees, is vrees," sê dit ook op die boekomslag en Ramón besef spoedig dat vrees die groot vyand is wat hy moet oorwin.
Die buurplaas kry nuwe intrekkers – ’n man en sy seun – wat hulle heeltemal eenkant hou totdat hulle gedwing word om ná ’n vernietigende storm met Ramón te kommunikeer. Ook hulle figureer weer in die storie.
Sielsmokkelaar is nie resepmatig nie en is verweef met donker, magiese elemente. Van Nierop slaag meesterlik daarin om die spanningslyn dwarsdeur die verhaal styf te hou. Die leser word gedwing om enduit te lees hoe die skrywer die web wat hy geskep het, geloofwaardig ontrafel.