Shaka rising deur Luke W Molver en Mason O’Connor: ’n lesersindruk

  • 0

Shaka rising: A legend of the warrior prince
Luke W Molver en Mason O'Connor

Uitgewer: Story Press Africa
ISBN: 9781946498984

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Luke W Molver en Mason O’Connor se grafiese roman Shaka rising: A legend of the warrior prince (2018), vorm deel van ’n reeks Afrikaverwante grafiese romans. Pragtige visuele, maar effens gewelddadige, illustrasies word deur Molver behartig. Die roman vertel die legende van koning Shaka Zulu en hoe hy aan bewind gekom het. Dit begin waar ’n ouer vrou (ouma) die storie aan haar kleinkinders vertel.

Die skrywers roman het die verhaal gegrond op verskeie bronne en weergawes van die legende om ’n gebalanseerde en geloofwaardige vertelling te verseker (70–1). Weens die gebrek aan geskrewe of objektiewe bronne is daar dele van die legende waar die skrywers hul eie gevolgtrekking gemaak het. ’n Voorbeeld hiervan is die onsekerheid of Shaka en sy ma uit die Zoeloe-gemeenskap gevlug het en of hulle verban is (71). ’n Ander spekulasie is of Shaka werklik ’n vrou gehad het of nie. Die karakter Nobuhle, is deur die skrywers geskep om hierdie moontlikheid in Shaka se lewe voor te stel (71).

’n Unieke eienskap van die roman is dat daar kort beskrywings van die Zoeloe-kultuur agter in verskaf word. Hierdie beskrywings verskaf bykomende inligting oor:

  • die ligging van die Zoeloe-kultuurgroep
  • die historiese tydperk waarin die verhaal afspeel
  • die Zoeloe politieke strukture
  • die rol van ’n leier in die Zoeloe-gemeenskap
  • hoe die sosiale struktuur in die Zoeloe-gemeenskap werk, byvoorbeeld die rol van vrouens, broers, susters, familie en die groter gemeenskap
  • aspekte van die Zoeloe-kultuur, soos beeste en rykdom, krale, kleurvolle simbole, hoede en status, gelowe en die taal. (69–90)

Die roman is met ander woorde nie net ’n poging om die publiek en jeug oor die Afrika-geskiedenis te onderrig nie, maar dit wil hulle ook oor die Zoeloe-kultuur inlig. Molver en O’Connor het die roman so opgestel dat lesers eers die legende van Shaka moet lees en vertroud moet word met sy verhaal. Daarna word die bykomende inligting aan lesers verskaf wat hulle dan sal help om die legende van Shaka beter te verstaan. (III)

Die bykomende inligting word meer ter sake omdat al die aspekte in die roman geïdentifiseer kan word, byvoorbeeld die historiese ligging en tydperk van die verhaal. Dit word verduidelik wanneer daar vertel word hoe een etniese groep ander groepe ingeval het en die mense as slawe aan die Europeërs verkoop het (2, 6, en ook 72):

Delagoa Bay had become a cruel confluence for the slave trade ... Here, the most avaricious of leaders would sell their countrymen into chains for the glint of copper. (2)

“We are building more wealth from this blossoming slave trade than we ever did bartering cattle and skins ... The pale foreigners need you, my King. Everyday they come with more ships, hungry for cargoes of flesh ...” (6)

In die roman word die rol wat vrouens in die Zoeloe-gemeenskap speel, ook duidelik uitgebeeld. Aan die einde van die roman word daar verduidelik dat dit in ’n patriargale gemeenskap afspeel, dus het die mans in die Zoeloe-gemeenskap meer mag en gesag oor die vrouens en kinders gehad. Dit is duidelik sigbaar in die feit dat mans meer as een vrou gehad het en hoe die vrouens verantwoordelik was vir die versorging van die kinders en die instandhouding van die huis (78–9):

“Nandi! Go and fetch more water! And take Shaka with you.” (5)

Dit kan verder ook gesien word wanneer ’n koning sy dogter of suster aan ’n ander koning gee as ’n teken van vrede en vriendskap:

“When the new moon rises, you will marry Mayandewa of the Mthethwa. This will solidify relations with his clan, a small but strategically placed area that will be advantageous in our battels against the Ndwandwe.” (65)

Daar word egter ook verduidelik dat die vrouens óók as belangrik gesien is en belangrike rolle gehad het om te vervul. Telkens was dit die vrou se verantwoordelikheid om leiding aan haar man of ander te verskaf:

“I would seek further counsel with my wife.” (11)

“You counselled me. Well my sister. I remember your words, your advice ... I still learn from those words everyday.” (55)

en ook om die gemeenskap van die geskiedenis van hul voorvaders te vertel:

“Tell us a tale, Gogo (grandmother)!” (1)

Daarom is hierdie roman eintlik ’n gepaste bron wat vir skoolvakke of -onderwerpe soos geskiedenis of kultuur gebruik kan word. Feitelike inligting oor die kultuur en geskiedenis word met behulp van die legende verskaf, toegepas en uitgebeeld. Verder word daar langer oop vrae aan die einde van die roman verskaf wat die leser dwing om verder the dink.

Hiermee slaag Molver en O’Connor in hul doel om Afrika-stories meer toeganklik vir die jeug van die wêreld te maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top