Sewe-en-sestig leesminute vir Mandela op 18 Julie 2025

  • 2

Sertifikate vir KidsCan! in Kleinmond se 67 leesminute vir Mandela op 18 Julie 2025 (foto: verskaf)

Die skoolvakansie was amper verby en die kinders van die KidsCan Naskool- en leersentrum in Proteadorp, Kleinmond, al effe moeg gevakansie na ’n stewige vakansieprogram. Maar … toe besluit ons om ’n bietjie meer as net worsrolletjies op Mandela-dag te doen en die vakansie op ’n hoë noot af te sluit deur vir 67 minute te lees.

Tydens die biblioteekuitstappie twee dae tevore moedig ek ’n paar van die kinders aan om my dié Vrydag te kom help lees, omdat my stem dit dalk nie sou hou nie.

Mnr Haas ontmoet mnr Mandela deur Chris van Wyk (Jacana)

Vrydagoggend is daar toe 14 baie opgewonde kinders, onder wie ’n hele paar wat my dadelik daaraan herinner dat hulle my kom help lees het. Voor ons begin, vertel ek hulle die storie agter die 67 minute, blaai ons deur Chris van Wyk en Paddy Bouma se Lang pad na vryheid en gesels oor Madiba. Toe ek die mooi prenteboek Mnr Haas ontmoet mnr Mandela, ook deur Chris van Wyk en Paddy Bouma, oplig, onthou hulle dat ek die boek al tydens een van ons gereelde Vrydag-leesmiddae vir hulle gelees het. “Die een met die geld, Tannie.”

Omdat dit binnekort weer walvistyd is, skop ek af met Die stormwalvis van Benji Davies toe die tyd op ’n groot skerm begin aftel. Hulle geniet dié storie, maar giggel elke keer wanneer ek die hoofkarakter, Noi, se naam lees. En toe Noi die walvis vir sy pa in die bad wegsteek, kritiseer een dat walvisse nie eintlik in varswater mag wees nie. Ons besluit toe maar dat Noi seker ’n paar emmers seewater ook in die bad sou gegooi het voor ek verder lees. Hierna trek ek my magiese boek nader: Helena Lochner se bundel, Kleuterland, wat ’n paar jaar gelede heruitgegee is met splinternuwe Alida Bothma-illustrasies. Ek lees vir hulle “Oupa Padda”, waarin ’n nors padda, die baas van die dam, die ander diere terg-terg dwing om te erken waarvoor hulle bang is. Dis een van daardie stories waarin almal wag om te hoor watter dier volgende aan die beurt kom. “Lekker,” sê ’n paar aan die einde toe die wintie baas van die dam sy moses, oftewel die reier, teëkom.

Nelson Mandela: Lang pad na vryheid, verkort deur Chris van Wyk en geïllustreer deur Paddy Bouma (Pan Macmillan)

Ek sien hulle kyk geïnteresseerd na my helderkleurige hopie Krok en Dil-boeke deur Jaco Jacobs en Nadia du Plessis en vat Ek wens ek was ’n reus raak. Ek verduidelik wat Dil is – ’n klein komkommertjie of ’n gherkin – en ’n paar trek verbaas asems in. Halfpad deur die storie sê een van die graad 4s: “Daar is baie eu-woorde!” Kort hierna maak hulle ook giggelend die krokodilwoordkonneksie van Krok en sy vriend Dil.

Tjoppie gaan skool toe deur Liz de Villiers en geïllustreer deur Vian Oelofsen is volgende aan die beurt, en die name van die verskillende honde lok baie kommentaar uit. “My naam is Bollie. En ek hou daarvan om bal te speel,” lees ek. Gou help hulle my reg: “bol!”

Een van die onderwyseresse, Lucia, neem by my oor en lees vir hulle Martie Preller se, Ek is Simon, ook deur Vian Oelofsen geïllustreer – die perfekte storie om te wys hoe lelik dit lyk as iemand afgeknou of geboelie word. Botter kan skielik nie smelt in daai mondjies wat mekaar soms maar lekker kan slegsê nie.

Kleuterland deur Helena JF Lochner en geïllustreer deur Alida Bothma (Protea)

Daar is nou omtrent 40 minute oor en dis die kinders se beurt om te lees. Kleuterland word na Kyle, een van die ywerige graad 4-lesers, aangegee en hy spring weg met “Die pot”, die storie van die towerpot wat dag of nag kos verskaf aan dié wat weet wat die towerwoorde is. Uiteindelik vind ’n dief egter uit dat dit ewe belangrik is om die towerwoorde wat die proses stop te sit, te ken. “Die uil en die kat in die bos eet nou nog dag en nag van die kos!” Kleuterland word nou na Vanita, in graad, 5 aangegee, en sy lees vir ons “Vis uit die see”, ’n soortgelyke storie waarin ’n pan dié keer die hoofrol speel.  

My magiese boek gaan volgende na Lezario, in graad 3, en hy lees “Ek ook”, waarin ’n dogtertjie en haar oom albei ’n aap probeer vang, en uiteindelik lelik les opsê. Die kort sinnetjie “Ek ook” word 32 keer gebruik soos die dogtertjie alles wat haar oom doen, nadoen. Ek is seker as daar minder oë was op die tyd wat aftel, daar ’n “ek ook-”koor sou ontstaan het. “Oom jaag die aap tot by die bos. Ek ook!”

Dalk moet ek net gou noem hoekom Kleuterland, een van Helena Lochner se tydlose bundels,  my magiese boek is. Kleuterland bevat ses stories waarin nie een woord langer as drie letters is nie; vier stories waarin nie een woord langer as vier letters is nie; en vier stories waarin nie een woord langer as vyf letters is nie … plus nog 24 stories wat korter en langer woorde bevat. Stel jou voor hoeveel selfvertroue dit by ’n graad 3-, of selfs graad 2-leser inboesem om stories uit so ’n “dik boek” te kan lees. Laat hulle met hierdie stories begin. Dikwels is daardie selfvertroue net wat nodig is om hulle aan te moedig om aan te hou lees.

Die stormwalvis in die winter deur Benji Davies (Protea)

Volgende lees Deulin, ook in graad 3, Benji Davies se ander walvisboek: Die stormwalvis in die winter. Sy hou dit ewe kordaat na elke twee bladsye vir die ander op om die illustrasies te bewonder.

Die tyd stap vinnig aan, maar ’n graad 2-dogtertjie, Azeefa, wil ook nou ’n beurt hê. Ek sien hoe ’n paar van die groter outjies hulle oë wil rol, maar ek gee vir haar een van die eenvoudiger Krok en Dil-boeke, In die lug, en sy spring moedig en al klankend weg. Die groter outjies kry ’n waarskuwende kyk. Kort-kort vra ek haar ook heel aspris om die prente vir die ander te wys. Een wolk lyk soos ’n vis, een soos ’n bus en ’n ander soos ’n mus. Amper begin ’n gesprek oor wie almal ’n mus op het. Deulin sit darem langs haar en help haar wanneer sy haar plek verloor of vashaak. Toe sy klaar is met die storie, keer die ander haar vinnig toe sy met die woordelys agter in die boek wil wegval.

Daar is vier minute oor en ’n paar is gretig om te lees of weer te lees. Ek deel vinnig sommer nog Krok en Dil-boeke uit en hulle begin. Hulle lees al hoe vinniger. Vanita stop goedgunstiglik halfpad deur haar storie en Kyle laat waai dankbaar met syne.

.......
Met 20 sekondes oor begin Lezario lees. Vinniger en vinniger lees hy en hou aan met lees toe die res begin aftel: “Tien, nege, agt, sewe, ses, vyf, vier, drie, twee, een … Yay!”
.......

Met 20 sekondes oor begin Lezario lees. Vinniger en vinniger lees hy en hou aan met lees toe die res begin aftel: “Tien, nege, agt, sewe, ses, vyf, vier, drie, twee, een … Yay!”

Ek dink nie hulle vreugde was noodwendig omdat die tyd verstreke was nie. In elk geval nie almal s’n nie. Ek dink hulle was trots op hulleself, al was dit net omdat hulle deel hiervan was en sit en luister het. Een sê vir my: “Tannie, dit was cool!” Ons kry almal sertifikate. Ons het 67 minute lank gelees. En daar was nie een “Tannie, hy doen dit”, of “Tannie, sy sê dat” nie. En dít wil gedoen wees.

’n Paar woorde oor KidsCan!

KidsCan! is ’n niewinsgewende organisasie in die Kleinmond-omgewing (Suid-Afrika) wat minderbevoorregte en kwesbare laerskoolkinders help om bydraende lede van die samelewing te word deur ’n veilige naskoolse leersentrum aan te bied waar hulle daagliks ’n maaltyd ontvang, akademies kan verbeter en geleenthede vir selfontwikkeling kry.

Oor my betrokkenheid by hulle

Ek is, as vrywilliger, hulle bibliotekaresse en boeke- en leestannie. Ek gaan lees elke Vrydagmiddag vir hulle stories en is ook by vakansieprogramme en ander spesiale aktiwiteite betrokke.

My boekelys vir 67 leesminute vir Mandela 

  • Nelson Mandela: Lang pad na vryheid, verkort deur Chris van Wyk en geïllustreer deur Paddy Bouma, uitgegee deur Pan Macmillan Kinderboeke SA
  • Mnr Haas ontmoet mnr Mandela, deur Chris van Wyk en geïllustreer deur Paddy Bouma, uitgegee deur Jacana
  • Die stormwalvis deur Benji Davies, vertaal en uitgegee deur Protea
  • Die stormwalvis in die winter deur Benji Davies, vertaal en uitgegee deur Protea
  • Kleuterland deur Helena JF Lochner en geïllustreer deur Alida Bothma, uitgegee deur Protea
  • Ek is Simon deur Martie Preller en geïllustreer deur Vian Oelofsen, uitgegee deur Tafelberg
  • Tjoppie gaan skool toe deur Liz de Villiers en illustrasies deur Vian Oelofsen, uitgegee deur Human & Rousseau
  • Krok en Dil: Ek wens ek was ’n reus deur Jaco Jacobs en illustrasies deur Nadia du Plessis, uitgegee deur Pan MacMillan Kinderboeke SA
  • Krok en Dil: In die lug deur Jaco Jacobs en illustrasies deur Nadia du Plessis, uitgegee deur Pan MacMillan Kinderboeke SA.
Lees ook:

Kinderboeke: Van dansdrome na dansers – na rolmodelle

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

Lees- en leerpret met Bollie: ’n resensie

Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind

Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

  • 2

Kommentaar

  • Dankie, Magdel Vorster, vir jou ongelooflike werk by KidsCan After School Care & Learning Centre.

  • Marthinus Willemse

    Die kommuniste het 'n siekte genaamd Persoonlikheidskultus. Die leier word opgehemel en aan elke hoesie en wind word goddelike interpretasie gegee. Stalin se ophemelings was bv. "tuinier van geluk", "corevaeus van wetenskap". Ons sien dit nou met Mandela: 67 van dit, 46664 van dat. [Onthou net, hy het 6 keer sy vrylating verwerp omdat hy geweier het om gewapende geweld te staak. Sou hy geweld verwerp, kon hy in 1970 reeds vrygelaat word.] Ons moet net versigtig wees dat ons nie ons knders "groom" vir kommunisme nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top