Ses Kannas vir Hanekom se Babbel

  • 0

 

Die omgewingspesifieke teaterproduksie Babbel is die groot wenner by die twaalfde Kanna-toekennings van die Absa KKNK en het in ses van die van die tien kategorieë geseëvier.

 

Babbel, uit die pen van die teatergenie, Nicola Hanekom, is bekroon met die Absa Kanna vir Beste Debuutwerk en die Absa Herrie Kanna vir Kopverskuiwende werk, asook die ATKV Kanna vir Beste teateraanbieding. Hanekom is vir die derde jaar agtereenvolgens in die kategorie vir Beste Regie bekroon, na Lot (2011) en Betésda (2010). Tinarie van Wyk Loots het die Sarie Kanna vir Beste Aktrise ontvang vir haar spel in Babbel, terwyl Brendon Daniels met die Windhoek Lager Kanna vir sy spel in Babbel en Rooiland bekroon is. Babbel is die laaste in Hanekom se trilogie, wat oor die afgelope drie jaar  twaalf Kannas ingepalm het.

 

Die orrelis Winand Grundling het die Slurpie Kanna vir die Beste Opkomende Kunstenaar ontvang vir sy uitvoering van 14 Stasies van die Kruis. Dié produksie is ook bekroon met die kykNET Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering. Emo en Loukmaan Adams se My broetjie, my bra is as Beste Musiekproduksie bekroon. Emo Adams is deur die Kannapaneel uitgesonder as ’n gevestigde kunstenaar wat in verskeie produksies uitgeblink het. Die Visuele Kunsuitstalling, Vrees en verlies deur Katie Barnard du Toit, is bekroon met die Kanna vir die Beste Visuele Kunsaanbieding.

 

Die Spesiale Kanna vir Vertolking is toegeken aan teaterveteraan, Louis van Niekerk. Vanjaar is daar ook erkenning gegee aan Louis von Zeuner, Adjunk Uitvoerende Hoof van Absa, met ’n Spesiale Kanna vir Diens aan die Kunste. Die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir Lewensbydrae gaan aan Abraham H de Vries; en Ronelda S Kamfer is die eerste ontvanger van die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Nuwe Stem.

 

Die Kanna-toekennings is in die Mount Nelson Hotel in Kaapstad aangebied met Vicky Davis as gasvrou. Vanjaar se Kanna-beelde, die Grand finale, ook in die volksmond bekend as Klein Karoo Oscars, is vanjaar vir die sesde (en laaste keer) deur Marieke Prinsloo-Rowe gemaak.

 

Die Kannapaneel wat vanjaar al die produksies oorweeg het vir die Kanna Toekennings sluit in: Erns Grundling (sameroeper), David April, Charl Bezuidenhout, Willemien Brümmer, Chrisna du Preez, Eduard Greyling, Hylton Nel, Robert Pearce, Laetitia Pople, Pieter Redelinghuys, Martjie Roos, John Theodore, Wim Vorster, Hein Willemse en Celeste Williams.

 

Die 19de Absa KKNK vind vanaf Vrydag, 29 Maart tot Saterdag, 6 April 2013 in Oudtshoorn plaas.

Sien ’n videogreep van Babbel.

Kyk na foto’s van Babbel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top